Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Gerugte en wonderkure
Troepe in Adderleystraat, Kaapstad, nadat hulle van die “Groot Oorlog” teruggekeer het. Saam met gerepatrieerde oorlogspersoneel het “die pestelensie” egter ook in Kaapstad aangeland. Foto: Wes-Kaapse Argief- en Rekorddiens

Die Groot Griep van 1918 en die huidige Covid-19-pandemie deel ’n paar kenmerke, veral as dit kom by beloftes van wondermiddels en allerhande samesweringsteorieë, skryf Bun Booyens.

Elke epidemie is uniek, maar het tog een gemene deler: hoe mense daarop reageer.

Aanvanklik maak hulle grappies oor die siekte, dan begin loop die gerugte, dan kom die beloftes van wonderkure, en tussendeur broei daar allerhande samesweringsteorieë uit. Later volg die vingerwysings en beskuldigings.

Só is dit tans met die koronavirus en so was dit ook ’n eeu gelede met die Groot Griep. Dít sien jy duidelik wanneer jy Howard Phillips se interessante doktorale tesis van 1984, “Black October: The Impact of the Spanish Influenza of 1918 on South Africa”, lees.

Toe die eerste mense destyds in Kaapstad die “driedaggriep” begin kry het, is dit as ’n rykmansiekte beskou.

Toe die eerste mense destyds in Kaapstad die “driedaggriep” begin kry het, is dit as ’n rykmansiekte beskou, omdat dit meestal welgestelde Kapenaars se huispersoneel was wat siek geword het.

Medici het toe nog nie geweet dit word deur ’n virus veroorsaak nie en was eintlik maar magteloos om te help. Siekes is aangeraai om te gaan lê, die kamervensters oop te maak en genoeg vloeistowwe in te neem – “ ’n epidemie vir mense wat aan hulself oorgelaat is”, soos daar later voor ’n kommissie van ondersoek getuig is.

Namate die griep tydens “Swart Oktober” teen ’n vreesaanjaende tempo landwyd versprei het, het mense hulle begin wend tot enigiets wat gelyk het of dit kon help, van staatmakers soos kasterolie en epsomsout tot huismedisyne soos Lennon se Duiwelsdrek en Gal-en-Slijmpille.

Of boererate van ouds: perdebos, wilde-als, salie-tee, knoffel, ’n sakkie kamfer om die nek, en selfs deur ’n dooie dier se karkas op die sieke se bors te plaas.

Aspirien, kinien en vars lug

Kaapstad het feitlik oornag ’n spookstad geword. By Die Burger se kantoor in die middestad het talle mense opgedaag met advies om die “longpes” te genees.

Johannes Steinmeyer, die koerant se assistentredakteur in 1918, vertel: “Een oggend stap ’n jong man die kantoor binne. Hy was opgewonde, sy gesig rooi en opgeswel, sy oë verwilder. Hy het geril van die koors en was ylhoofdig.

“Sonder om te groet of hom bekend te stel, gaan hy sit en vertel van sy onfeilbare middel teen die siekte. Die dokters was volgens hom heeltemal op die verkeerde pad. Hy self het longontsteking, maar hy gee nie om nie.

“In die kooi bly is dodelik; ’n mens moet in die vars lug gaan en aanhou diep asemhaal. Hy was self op pad buitekant die stad toe om die regte vars lug te kry. En daarna sou hy gesond en fris terugkeer.

Hy het nie ver gekom nie. Op straat het hy geval en bly lê.

“Die koerant moes tog dadelik die probate middel alom bekend maak. Vars lug, vars lug en diep asemhaal! Dit was die ylhoofdige man se laaste woorde.

“Hy het nie ver gekom nie. Op straat het hy geval en bly lê. Hy was gelukkig om deur ’n ambulans opgetel te word en na ’n hospitaal vervoer te word. Daar het hy gesterf. Heelwat ander siekes moes maar bly lê waar hulle geval het.”

Steinmeyer vertel ook van een van Die Burger se werkers in die settery, ene Wilkie, wat sy “longontsteking” by die werk wou kom genees: “Hy het kom werk, want hy wou die siekte doodbrand. Toe die vuur onder die stoomketel goed brand, het hy die deurtjie oopgeruk, sy bors ontbloot en so na moontlik aan die vuur gaan staan.

“Hy wou die siekte uit sy bors uit brand. Die volgende dag is Wilkie begrawe.”

Binne ’n week of twee het advertensies vir griepmedisyne in die koerante begin verskyn.

Daar was Bishop’s no. 10 Influenza Mixture, vervaardig deur ’n apteker van Kimberley, en Hannah’s Beroemde Geneesmiddelen tegen Longpest (zogenaamde Spaanse Griep), wat jy van Amersfoort kon bestel. Selfs Kommando Brandewyn is aanbeveel vir die verligting van griepsimptome.

Afsondering was op die ou end die enigste opsie vir die meeste mense.

In Die Burger se Vrystaatse susterskoerant, Die Volksblad, het die “siener” Johanna Brandt in ’n advertensie uitgewys dat sy reeds in 1916 ’n groot plaag voorspel het.

Die griep was glo maar net “die begin der smarte”. Groter pestilensies sou kom en mense moes solank haar boek, Die Millenium, aanskaf “voor dit te laat is”. (’n Gedeeltelike sonsverduistering op 3 Desember in Suid-Afrika het nie gehelp om die publiek te kalmeer nie.)

Die mees algemene geneesmiddel was aspirien, dikwels op aanbeveling van amptenare van die departement van gesondheid. Ander medici het dan heftig mense afgeraai om dit te gebruik.

Dr. Robert Broom, distriksgeneesheer op Douglas in die Noord-Kaap (en later ’n wêreldbekende fossieljagter), het ’n veldtog teen aspirien begin. “I took a blue pencil and wrote across the posters that ‘Asperin is certainly highly dangerous and to be avoided’,” het Broom ná die tyd vertel.

’n Ander omstrede kuur – soos tans weer die geval is met die koronavirus – was kinien, ’n teenmalariamiddel wat uit ’n boombas-ekstrak gemaak is.

Afsondering was op die ou end die enigste opsie vir die meeste mense. Ouers het hul kinders wat op Stellenbosch studeer het, laat terugkom huis toe.

Boere het hul plaashekke gesluit. Op Uniondale is wagte op die toegangspaaie na die dorp geplaas en enigiemand wat wou inkom, moes eers drie dae in kwarantyn bly.

Fraserburg het enigiemand verbied om die dorp binne te kom of te verlaat. Sutherland het sy bruin inwoners gelas om die dorp te verlaat. Hulle het later teruggekeer – met die virus. Meer as 30 mense in die distrik het gesterf.

Straf weens broedertwis

Later het vrees en gerugte mekaar begin voed. Daar is vertel die griep sit mense in so ’n diep koma dat party “oorledenes” onderweg na die begraafplaas wakker geskrik het.

Die Burger het berigte ontvang dat bobbejane en varke ook begin vrek, en as vleis aan die kieme blootgestel word, verkleur dit tot swart. Ander het beweer voëls val uit die lug, omdat die kieme in die boonste luglae van die atmosfeer skuil, moontlik weens die gifgasse wat tydens die Groot Oorlog gebruik is.

Maar wie moes die skuld kry vir sowat ’n kwartmiljoen sterftes in Suid-Afrika? Reeds tydens die epidemie het Die Burger geskryf daar is ’n totale “gebrek aan vertrouwen in de bekwaamheid der hoogste landbestuurderen” van die Britsgesinde regering van Louis Botha. In die briewerubriek is die griep dikwels die “kakie-pes” of “imperiale pes” genoem.

Uit die Afrikaanse kerkgemeenskap is bespiegel dat God Suid-Afrika wou straf, soos Israel van ouds, weens die broedertwis in Afrikanergeledere. Een dominee het aangevoer dit is goddelike wraak omdat Barry Hertzog se Nasionale Party van Louis Botha se Suid-Afrikaanse Party weggebreek het. Botha het op sy beurt gesê die land word straks gestraf omdat Boer en Brit nie met mekaar wil versoen nie.

Volgens Die Kerkbode was die griep ’n regstreekse ingreep van Bo, ’n “godsbezoeking”.

Volgens Die Kerkbode was die griep ’n regstreekse ingreep van Bo, ’n “godsbezoeking”. Die kieme was bloot die agent. Suid-Afrika het die kastyding verdien.

Ander het “blinde oorlogsugtigheid” die skuld gegee. “Vandag woed die pestilensie, die uitvloeisel van die oorlog, hierheen gebreng deur die oorlogmakers, onder ons volk,” het Onze Courant geskryf. “Dit is Gods oordeel.”

Ander het uitgewys dat die Groot Griep hoofsaaklik jong mans doodmaak, dalk omdat hulle in verre Europa gaan veg het.

En vandag, 102 jaar later, lees ons dat die koronavirus deur China gekweek is om die wêreldekonomie op sy knieë te dwing, of dalk Bill Gates se plan is om Afrika oor te neem met behulp van entstowwe. Ons hoor (weer) dat malariamedisyne jou teen die virus kan beskerm.

Iemand anders “hoog op” – glo ’n vorige hoof van Vodafone – sê dis die nuwe G5-selfoonnetwerk wat die mense doodmaak.

Toemaar, sê iemand anders, eet net baie knoffel . . . ’n Vrou diep in die Klein-Karoo het in 1918 dalk die beste raad gegee: “Mense moet maar self klaarkom.”

Dis nie elke dag dat ’n mens die woorde “aangrypend” en “doktorale tesis” in dieselfde sin gebruik nie, maar lees gerus Howard Phillips se volledige skripsie. Tik “howard phillips thesis influenza” in op jou soekenjin.

Booyens is ’n vryskutskrywer.

Meer oor:  Bun Booyens  |  Koronavirus  |  Geskiedenis  |  Virus  |  Groot Griep  |  Epidemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.