Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Geskiedenis nooit klaar geskryf’
Louis Botha, skrywer van die boek Die Buffel struikel, met die derde hersiene uitgawe van die boek wat môre op ’n spogdinee in Bloemfontein bekend gestel word. Foto: CHARLES Smith

Die skrywer Louis Bothma van Bloemfontein vier vandeesweek die 10de herdenking van sy treffer Die Buffel struikel, ’n boek oor 32 Bataljon. Om dit te vier word ’n hersiene uitgawe van die boek vandeesweek uitgereik. Charles Smith het met hom gesels.

"Ek het eintlik die Suid-Afrikaanse geskiedenis in ’n groot mate herskryf. Ek het buite die ou paradigmas gegaan,” sê Bothma as hy terugkyk op die afgelope dekade se navorsing en skryfwerk.

Uit Die Buffel struikel het baie dinge voortgevloei. Hy het nog twee boeke die lig laat sien, Vang ’n Boer, oor die Boere se optrede ’n eeu gelede in Ovamboland, en Rebelspoor, oor die Rebellie.

Die drie boeke skakel die Afrikaner- en Ovambogeskiedenis aanmekaar. “Die Rebellie of Boere-opstand was die aanloop tot die Grensoorlog waarin ons generasie was.”

Toe hy ná tien jaar ’n sin herlees, lees hy hy het tóé besef hy is met iets groters as ’n boek besig. “Ek is met ’n daad besig wat die wonde van die oorlog moet heel en ons weer vry moet maak. Ná tien jaar dring dit tot my deur. Nou weet ek ek was werklik met iets groters as ’n boek besig. Ek was met ’n daad besig wat afsluiting vir ouens wat in die oorlog was, bring, maar ook iets wat buite die ou parameters was. Dis vir my geweldig bevrydend – om mense so ver te kry om uit ’n ander bril en ander hoeke na die Grensoorlog te kyk. Dit is vir my die uitstaande ding.”

Hy het pakke en pakke reaksie in die vorm van briewe, e-pos en SMS’e gekry.

Die derde hersiene uitgawe van Die Buffel struikel word môre op ’n spogdinee in Bloemfontein bekend gestel. Hy wil met die dinee ook aan ’n klomp mense wat hom in dié dekade ondersteun het, dankie sê.

Hiermee word ook verskeie geskiedkundige mylpale herdenk. Dit is vanjaar 100 jaar sedert die eerste Suid-Afrikaanse soldate op die Grens gekom het. Dit was in 1916-’17 toe die soldate die sogenaamde Ovambo-opstande gaan onderdruk het.

Vyftig jaar gelede het die Grensoorlog waarby ons betrokke was (die tweede Grensoorlog) in 1966 uitgebreek. Dan is 32 Bataljon, waaroor die boek handel, 40 jaar gelede in 1976 gestig.

“In 1986 het ek begin skryf aan my eerste boek (Die punt van die swaard), dit is dertig jaar gelede. En tien jaar gelede het die Die Buffel struikel die eerste keer verskyn. Ek vier ook tien jaar wat ek heeltemal onafhanklik navors, uitgee en versprei. Dit is tien jaar van onafhanklikheid en selfstandigheid as ’n skrywer, uitgewer en navorser wat saam gevier word.”

Bothma sê hy het die boek hersien want, soos hy in die eerste voorwoord geskryf het: Die geskiedenis is nooit klaar geskryf nie.

Geskiedskrywing is ’n proses. Die Buffel struikel was ’n proses. Nuwe inligtingsbronne is ontsluit en hy moes korrigeer en aanvul. Een van die belangrikste goed wat die afgelope tien jaar gebeur het, is die kontak met die destydse vyand en plaaslike mense aan die Grens.

“Ons storie is ook hulle storie. Ons het saam geveg, soos twee boksers. Ons geskiedenis is hulle geskiedenis. Ons was saam in dieselfde oorlog. Ek moes dit inbring om die boek in balans te bring. Ek moes die foto’s hersien, kaarte oorteken en ekstra kaarte teken om nuwe aksente toe te lig.”

Het van die feite verander en het van sy perspektiewe oor die oorlog die afgelope tien jaar dramaties verander?

“In sekere gevalle wel. Ek dink ek het in ’n groot mate daarin geslaag om die propaganda aan albei kante uit die geskiedenis te haal en baie meer deur te dring na die waarheid.”

“Ek het byvoorbeeld oor ’n sekere geveg van die SA weermag ’n goeie weergawe geskryf, maar ek het nou met die bevelvoerders van die vyand kontak gemaak en kon agterkom hoe hulle gedink en opgetree en troepe op die grond rondgeskuif het; wat was hulle verliese.

“Ek kon deur hulle oë na die oorlog kyk. En baie belangrik, ek kon fisies teruggaan na die terreine waar die gevegte plaasgevind het. Ek het daar, op die terrein, met hulle onderhoude gevoer.”

Een van die slagvelde is Operasie Kropduif. Hy en sy eertydse kamerade noem dit die Slag van Eheke. Die oud-Swapo- en Plan-vegters noem dit die Slag van Onalumono. Hy het meer die aksent op die mense geplaas.

“Oor die Anglo-Boereoorlog het jy volumes en volumes oor die mense. In die Grensoorlog het jy niks. Die mense daar is blootgestel aan geweldige trauma. Die verskroeide-aarde-beleid was geweldig, veral in Angola. Hulle het ’n baie hoë prys betaal.”

Hy sê die beleid van verskroeide aarde was doelbewus om die vyandelike optrede teen te werk, om die vyand kos en inligting te ontsê, net soos in die Anglo-Boereoorlog. Albei kante het hulle skuldig gemaak aan die vergrype. In Ovamboland het dit beter gegaan. Hulle het ’n regering en polisie gehad, hoewel die polisie se arms afgekap is deur die Verdedigingswet.

“Toe die oorlog verby is, gaan Swapo oor die grens en regeer in Namibië en ons gaan terug na Suid-Afrika. En daai mense is die armstes van die armstes. Hul storie is nog nooit vertel nie.”

Nog ’n aspek wat nou belig word, is die afsluiting wat Die Buffel struikel vir mense gebring het deurdat die boek hulle so ver gebring het om te begin praat. Ook die vriendskappe wat begin ontwikkel het tussen hulle en hul voormalige vyande.

Hy het gaan sit met hierdie Plan-bevelvoerders en saam gaan pak aan die legkaart van die geskiedenis. Hy het hulle in Windhoek opgespoor, waar hulle nou in senior poste is.

“Daar is wedersydse respek. Ons het man vir man teen mekaar geveg. Daar is wedersydse respek vir mekaar se vermoëns. Ons is vriende ná die oorlog.”

Hy het een van die plaaslike mense gekry wat hom herken het. Die man het gesê hy het hom gesien voor die Sondagaand voordat hy in 1978 net duskant die Kaplyn aangeval is.

“Wat my opgeval het, is dat die mense aan die Namibiese kant baie gouer afsluiting gekry het as ons ná die Anglo-Boereoorlog. Ek dink dit gaan daaroor dat hulle vir hul vryheid geveg en dit gekry het. Ons het vir ons vryheid geveg en dit verloor.

  • “Dis waar die ding inkom. Hulle was vir 23 jaar aan oorlog blootgestel en alles wat daarmee saamgaan: landmyne, moorde, diefstal, ongerief, verlies van besittings, intimidasie. Maar dis opmerklik hoe hulle aangaan met hul lewe.” Bothma sê hy het 20 000 kopieë van Die Buffel struikel verkoop en ook 3 000 kopieë van die Engelse uitgawe laat druk, wat almal verkoop is. Die boek is al lankal uit druk. ’n Volgende doelwit is om ook die Engelse weergawe te hersien en uit te gee.) Bothma hou ’n glansdinee môreaand­ by Summerwood Estate ter viering van sy boek. Genl. Eddie Viljoen, oudbevelvoerder van 32 Bataljon, hoofkarakter in die boek en verskeie ander karakters sal daar wees. Kaartjies is R200. Kontak 083-2728734 of 076-8324713 vir meer inligting.
Meer oor:  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.