Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Geslagsgeweld: Leer kinders reg oor gender

Ons sal ons kinders anders oor gender moet kondisioneer as ons wil help om geslagsgeweld te bekamp, skryf Jana Marx.

Betogers het op 29 Augustus van die Durbanse strand tot by die stad se stadsaal gestap as deel van die #EndTheFemicide-betoging. Foto: Getty Images

Vroue is noodsaaklik vir die ekonomiese herstel van gemeenskappe ná die Covid-19-pandemie, lui ’n verslag van die Verenigde Nasies (VN). Trouens, vroue wat sentraal in die ekonomie staan, kan herstel volgens dié verslag selfs bespoedig.

Dieselfde verslag benadruk egter hoe die pandemie geslagsgeweld “eksponensieel” laat toeneem het.

In Suid-Afrika, wat pres. Cyril Ramaphosa verlede jaar as “een van die onveiligste lande ter wêreld” vir vroue bestempel het, was dit ook die geval.

In Junie vanjaar is Suid-Afrika se misdaadstatistiek tydens die staat van inperking bekend gemaak. Die syfers was oor die algemeen laer as ooit omdat mense nie uit hul woonplekke kon gaan nie, maar binne die vier mure van wonings was dit ’n heel ander storie.

Die ministerie van polisie het in ’n verklaring bekend gemaak dat nagenoeg 2 300 klagtes oor geslagsgeweld in die eerste week van inperking (27 tot 31 Maart) ontvang is.

In dieselfde boekjaar is 2 771 vroue vermoor en was daar ’n verdere 3 445 pogings tot moord.

Volgens AfricaCheck het die polisie in die 2018/19-boekjaar altesame 179 683 kontakmisdade teen vroue aangeteken – 82 728 hiervan was algemene aanranding en 54 142 was aanranding met die doel om ernstig te beseer.

In dieselfde boekjaar is 2 771 vroue vermoor en was daar ’n verdere 3 445 pogings tot moord.

Altesame 36 597 sake van seksuele oortredings is ondersoek. Dit sluit in verkragting, poging tot verkragting, seksuele aanranding en seksuele kontakoortredings.

Weg met die patriargie?

Prof. Christi van der Westhuizen. Foto: Felix Dlangamandla

Geslagsgelykheid is volgens die VN ’n noodsaaklike grondslag vir ’n vreedsame, voorspoedige en volhoubare wêreld.

“Geslagsgeweld is naas ekonomiese onderdrukking die belangrikste manier waarop die patriargie in stand gehou word,” sê prof. Christi van der Westhuizen, medeprofessor by die sentrum vir die bevordering van nierassigheid en demokrasie (Canrad) aan die Nelson Mandela-Universiteit.

Dis daarom ’n prioriteit om die patriargale kultuur te pak.

Daar is nie ’n sielkundige model vir seksisme nie.
Prof. Christi van der Westhuizen

Maar Van der Westhuizen benadruk dat ’n mens terselfdertyd ook geslagsgeweld die stryd moet aansê; omdat dit eerstens “soveel skade aan vroue, meisies en nie-konformerende mans en seuns aanrig, en tweedens, omdat dit so onontbeerlik is vir die handhawing van die patriargie”.

Sy beskryf die patriargie as die oorkoepelende stelsel van mans se oorheersing oor vroue, terwyl seksisme die daaglikse praktyke is wat die patriargie in werking stel en handhaaf.

“Die patriargie begin by die geslagsonderskeid tussen man en vrou, wat aan mense ’n sekere identiteit toeken op grond van biologie. Daarvolgens word mense wat as ‘mans’ beskou word, as meerderwaardig gestel teenoor mense wat as ‘vroue’ beskou word,” verduidelik Van der Westhuizen dié stelling.

Daar is nie ’n sielkundige model vir seksisme nie, sê sy. “Dis eerder ’n geval dat mans se oorheersing geregverdig word in die saamvloei van politiek en kultuur in boodskappe.”

Nie net mans is seksisties nie

Melusi Tshabalala, skrywer. Foto: Felix Dlangamandla

Seksisme is nie uniek aan ’n sekere velkleur nie en jy kan net sosiale media dophou om te weet die patriargie stelsel vorm nie net mans nie, maar ook vroue.

Die skrywer Melusi Tshabalala se nuutste boek, Magenge, we need to talk, hanteer kwessies waaroor hy voel swart mans ernstiger moet gesels. Dit sluit geslagsverhoudinge in.

“Die woord ‘patriargie’ is relatief nuut in my wêreld en ek probeer nog steeds om my kop daarom te kry, maar ek kan met veiligheid sê dat die manier waarop die samelewing manlikheid definieer, die wortel van die probleem is. En dit is nie net mans wat ’n toksiese idee het van manlikheid nie, maar ook vroue. As ons regtig vordering wil maak, moet ons vroue ook vra hoe hulle manlikheid sien.”

Invloedryke figure speel ’n belangrike rol om die patriargie as ‘normaal’ te laat voorkom.
Prof. Christi van der Westhuizen

Van der Westhuizen meen patriargie werk deels “omdat dit ook aan vroue as ondergeskiktes ’n sekere mag en status besorg, mits hulle volgens patriargale reëls optree”.

Dan word godsdiens dikwels bygesleep om geslagsdiskriminasie te regverdig, sê sy.

Die invloed van politieke leiersfigure moet ook nie buite rekening gelaat word nie, meen Van der Westhuizen.

“Invloedryke figure speel ’n belangrike rol om die patriargie as ‘normaal’ te laat voorkom. Pres. Donald Trump van die VSA en oudpres. Jacob Zuma se uitlatings is sprekend hiervan.”

Die verband tussen seksisme en ander diskriminasie

Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, op die dag wat die regering sy 16 dae van aktivisme teen geslagsgeweld en geweld teen kinders afgeskop het. Die veldtog strek van 25 November tot 10 Desember. Foto: Getty Images

Volgens Van der Westhuizen word ons identiteit gevorm deur die vertolkings van menslike verskille soos geslag, ras, klas, en seksualiteit.

“Mense wat aan groepe behoort waaraan meer mag gegee word – wit, manlik, middelklas, heteroseksueel – hou dikwels eerder aan daardie mag vas as om dit te wil prysgee,” sê Van der Westhuizen.

’n Deel van hierdie “magsuitoefening” kan plaasvind waar rassisme, seksisme, homofobie en ander vorme van diskriminasie terselfdertyd neerslag vind.

Dit wat maak dat jy swart mense haat, maak nie noodwendig dat jy vroue haat nie.
Melusi Tshabalala

Volgens Tshabalala is mense soms net gewoon naar met ander.

“Maar dit ís meer genuanseerd, omdat mense verskillende ‘lae’ het en die magte wat ons sienings en ons benadering tot die wêreld vorm wissel.

“Dit wat maak dat jy swart mense haat, maak nie noodwendig dat jy vroue haat nie. Jy kan ’n opregte en toegewyde aktivis vir vroueregte wees, maar net omgee vir die regte van die vroue van jou eie ras. Mense is so ingewikkeld dat ’n rassis met ’n swart vrou kan trou, haar baie lief kan hê en steeds rassistiese sienings het. Jy kan die mees verdraagsame persoon in die wêreld wees wat ras betref, maar iemand wees wat ander se lywe kritiseer.”

Die regering se posisie

Op 25 November het die regering sy jaarlikse 16 dae lange veldtog teen geslagsgeweld en geweld teen kinders afgeskop.

Ramaphosa het met die aankondiging van dié veldtog gesê die Suid-Afrikaanse vlag hang halfstok ter nagedagtenis aan dié wat hul lewens verloor het aan twee pandemies – Covid-19 en geslagsgeweld.

Op dieselfde dag het die ANC in Mpumalanga sy besluit verdedig om ’n voormalige LUR in dié provinsie wat van die verkragting van twee kinders aangekla word, weer in sy provinsiale uitvoerende komitee aan te stel. Die saak teen hom duur voort.

Die Ramaphosa-regering het sekerlik meer as enige ander ANC- en natuurlik Nasionale Party-regering gedoen om geslagsgeweld te bekamp.
Prof. Christi van der Westhuizen

Spreek hierdie ironie en ander gevalle wat nuusopskrifte haal, nie boekdele van die regering se onverskilligheid oor geslagsgeweld nie?

“Hierdie regering is nie ongeërg oor geweld teen vroue nie. Inteendeel, die Ramaphosa-regering het sekerlik meer as enige ander ANC- en natuurlik Nasionale Party-regering gedoen om geslagsgeweld te bekamp,” meen Van der Westhuizen.

Sy sê dis die resultaat van harde werk van feministiese aktiviste wat die afgelope jare verskeie groot betogings gehou het en die regering oortuig het om meer geld en beter wette en wetstoepassing beskikbaar te stel.

“Maar die kwessie word ook deur opportuniste gemanipuleer om ANC-vroue in die faksiegevegte te koöpteer, en die ANC sit soos elke ander party ook met ’n patriargale kultuur wat sommiges laat glo geweld teen vroue is van minder belang, of glo dat vroue met geweld ‘op hul plek’ gehou moet word.”

Ouers se rol in kinders se benadering oor gender

“Genoeg is genoeg” lees ’n plakkaat van een van die betogers wat op 29 Augustus van die Durbanse strand tot by die stad se stadsaal gestap het as deel van die #EndTheFemicide-betoging. Foto: Getty Images

“Die mite dat mans bo vroue verhewe is, word eerstens van kindsbeen binne die huisgesin aan mense opgedwing, wat dit normaal, natuurlik of Godgegewe laat voorkom. Ouers en grootouers speel die belangrikste rol in die gender-kondisionering van mense, waarna die kerk, moskee, skool, die media en ander sektore ook bydra om die patriargie soos die enigste aanvaarbare manier van leef te laat voorkom,” sê Van der Westhuizen.

Tshabalala sê hy dink een van die belangrikste dinge is om minder te fokus op manlikheid en seuns wat moet grootword om “goeie mans” te wees en dat ouers eerder “goeie mense” moet grootmaak.

“Dit is waar dit begin. Seuns moet hulself nie anders as meisies sien nie. Vir hierdie doel is dit ook belangrik dat seuns wat rondom meisies grootword, met hulle moet speel en moet kommunikeer soos hulle met ander seuns sou.

Mans moet aktief help om ’n beter samelewing te bou.
Melusi Tshabalala

“Dit is natuurlik nodig om hulle eksplisiet te leer oor respek vir hulself, ander mense en die wêreld. Persone wat hulself respekteer, is waarskynlik altyd respekvol. Dit is ook belangrik om deur voorbeeld te lei. As ouers (manlik of vroulik) het die manier waarop jy optree ’n groter invloed as wat baie van ons wil erken.”

Tshabalala meen ook dat mans wat hulself nie skuldig maak aan geslagsgeweld nie, ook aan die debat moet deelneem.

“As die wêreld uitgeroep het: ‘Mans is fantasties!’ sou ons almal die kompliment aanvaar het, of dit nou op ons van toepassing is of nie. Daarom moet ons ook kritiek as ’n kollektief kan aanvaar.”

Om anderpad te kyk help ook nie. “Om passief te wees as daar duidelik dinge is waarby jy betrokke moet raak, maak jou nie ’n goeie mens nie – jy moet dinge laat gebeur. Dis soos wit mense wat sê hulle is nie rassiste nie. Dis nie genoeg nie. Jy moet ’n téénrassis wees en rassisme trompop loop waar en wanneer jy dit raakloop. Mans moet aktief help om ’n beter samelewing te bou.”

Herstel

Gauteng het sy 16 dae van aktivisme op 25 November afgeskop. Foto: Getty Images

Die jaar 2020 was volgens die VN bedoel om “grondverskuiwend” te wees wat geslagsgelykheid betref.

Tog meen die organisasie dit lyk asof die pandemie al die pogings van die afgelope dekades ondermyn het.

Hoe gaan ons dit herstel?

“Aktivisme in die strate, wysigings om beleid en wetgewing te versterk, toesig oor wetstoepassing en implementering van regeringsprogramme, asook om die privaat sektor tot verantwoording te roep vir voortgesette genderdiskriminasie wat in die lae syfers van vroue in leiersposte gesien kan word, en ook in die wydverspreide probleem van seksuele teistering in werkomgewings” is alles dinge wat gedoen kan word om geslagsgeweld by die horings te pak, meen Van der Westhuizen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.