Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Gesoek: Teenmiddel vir die ‘politiek van geweld’

Die soort wetteloosheid wat ons vandeesweek by Clicks-winkels gesien het, het geen ontsag vir die nalatenskap van mense soos George Bizos nie, skryf Heindrich Wyngaard.

EFF-lede betoog voor ’n Clicks-winkel in Johannesburg. Foto: Reuters

In dieselfde week dat Suid-Afrika gekonfronteer is met die opkoms van ’n nuwe generasie “rassistiese en gewelddadige” aktiviste, soos prof. Adam Habib na hulle verwys, het ’n lid van ’n vorige geslag stryders vir nie-rassigheid en universele menseregte ons ontval.

Die ironie moet kommer wek, want hierin word daar geen begeerte bespeur om die intergenerasie-aflosstokkie in ontvangs te neem nie. Dit word eerder doelbewus op die grond laat val.

Wat ons egter ook hierdie week ervaar het en met ewe veel besorgdheid kennis van moet neem, is die “ou spoke” (na Leon Wessels se nuwe boek, Encountering Apartheid’s Ghosts) wat ons kom herbesoek het en wat gekonfronteer móét word.

Dié is naamlik die nagevolge van ons verlede van rasbeheptheid en diskriminasie, wat oorspoel na belewenisse in vandag se demokratiese samelewing.

Jy moet die gebeure van die afgelope week deur daardie historiese lens bejeën as jy wil verstaan waarom die aarde braak gelê het vir die EFF se “rassistiese en gewelddadige” opstand teenoor die kleinhandelgroep Clicks en sy produkverskaffer TRESemmé, ’n handelsmerk van Unilever.

Jou moeilikheid is dat wanneer die vonke oor ’n rasse-voorval in Suid-Afrika spat, word weinig ruimte gelaat vir rasionele denke.

Maar dit kan op geen manier die opstokery tot wetteloosheid deur die leierskap van die ekonomiese vryheidsvegters, gelei en geregverdig deur die “opperbevelvoerder”, Julius Malema, goedpraat nie.

Dit sê wel iets oor die onverklaarbaarheid van ’n aanlyn advertensie vir TRESemmé-haarprodukte op Clicks se webwerf – in die jaar 2020 van ons nie-rassige bestel – wat swart vroue se hare sou afkraak en wit vroue s’n sou verheerlik.

Was dit wel so eenvoudig of is ons dit gemaak glo deur die reaksie daarop?

Jou moeilikheid is dat wanneer die vonke oor ’n rasse-voorval in Suid-Afrika spat, word weinig ruimte gelaat vir rasionele denke.

Dit is ’n mynveld.

Jy kan op die meeste hoop dat wanneer die stof gaan lê het, jy ’n gesprek kan begin oor vrae soos wat die gepaste beskrywing van verskillende haartoestande dan sal wees om geen moontlike ras-landmyn af te trap nie? En of die beskrywing van die wit vrou se hare (“fine & flat”) noodwendig komplimenterend was, soos wat dit deur kritici aan ons voorgehou word, of eweneens op ’n “afkraking” van ’n slegte haartoestand sou dui?

Gebalanseerdheid bly in die slag

’n Lid van die EFF konfronteer ’n polisieman in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Nou is egter nie die tyd om agter die kap van die konteks-byl te probeer kom nie. Selfs nie eens joernaliste het hulself die moeite geag om dit te doen nie.

Die ankers van een spesifieke nuuskanaal het eerder die indruk gewek dat hulle mekaar probeer troef met hul veroordeling van die “rassistiese advertensie”, Clicks, TRESemmé en Unilever – op die lug.

Basta met gebalanseerdheid!

In die proses is die EFF se “rassistiese en gewelddadige” aksie, wat die vandalisering van sekere Clicks-takke insluit, tot ’n mindere mate onder die vergrootglas geplaas, wat opsigself gevaarligte moet laat flikker.

Habib het dit die beste verwoord in sy meningsartikel vir Daily Maverick: “The act was, of course, a blatant power grab by the EFF. It has no formal authority to act in the manner that it did.”

Dit word deur die uittredende rektor van die Universiteit van die Witwatersrand gelyk gestel aan ’n bende wat daarop aandring dat plaaslike besighede hul instruksies moet volg anders word hulle gedwing om te sluit.

’n Mens het begrip (en selfs waardering) vir die spoed waarteen Clicks die situasie probeer ontlont het

Ook die regering se stilte is deur hom gekritiseer – en al wat ons die minister van polisie, Bheki Cele, hoor sê het, was dat die polisie moet sorg dat wetstoepassing geskied.

“And there were many others in civil society including journalists, activists, and other commentators who easily got distracted by the racism and ignored the threats of violence and the extra-legal character of the EFF’s response,” aldus Habib.

’n Mens het begrip (en selfs waardering) vir die spoed waarteen Clicks die situasie probeer ontlont het: Nie net het die uitvoerende hoof van die groep, Vikesh Ramsunder, geen gras onder sy voete laat groei deur onmiddellik skuld te erken nie, maar binne enkele dae is die TRESemmé-produkte ook van die rakke gehaal; laasgenoemde het self verskoning gevra; en Unilever het ná sy eie apologie Donderdag met die EFF vergader.

Die twee rolspelers het ooreengekom dat die produkte vir ’n verdere tien dae in die pakkamers gebêre moet word en dat 10 000 sanitêre doekies en sanitasiemiddels aan informele nedersettings van die EFF se keuse geskenk sal word.

Ander kettingwinkelgroepe – PnP, Checkers, Shoprite, Woolworths en Dis-Chem – het as ’n pasella ook (proaktief) besluit dat hul kliënte vir eers sonder die TRESemmé-produkte moet klaarkom. (Noudat ’n bepaalde presedent geskep is, sal dit interessant wees om vorentoe vas te stel wat studente by besigheidskole, bemarkers en advertensiepraktisyns meen hulle uit hierdie gevallestudie kan leer.)

Gevaar van die ‘politiek van geweld’

Die menseregte-advokaat George Bizos, wat Woensdag dood is, saam met sy groot vriend, oudpres. Nelson Mandela. Foto: Reuters

Maar intussen is daar die onafgehandelde bespreking oor dit waarteen Habib maan: dit is die arbitrêre geweld wat ons in die EFF-optrede gesien het; en daarby kan gevoeg word die vertrapping van maatskappye se reg om sake te doen en werkers se reg om te gaan werk en die intimidasie van kliënte, veiligheidspersoneel en die media. In Habib se artikel roep hy beelde op van wat onder die heerskappy van “sterkmanne” soos Jair Bolsonaro in Brasilië, Narendra Modi in Indië en Donald Trump in Amerika plaasvind.

Terwyl daar in Suid-Afrika ’n mate van gerustheid is dat pres. Cyril Ramaphosa darem nie sommer hierdie soort persoonlikheidsverandering sal ondergaan nie, bestaan daar wel ’n wesenlike gevaar dat die land toenemend deur die invloed van die EFF op bepaald werklose en laaggeskoolde jeugdiges aan die gevaar van “die politiek van geweld” onderwerp kan word.

Hierdie soort wetteloosheid het geen ontsag vir die nalatenskap van mense soos Bizos, wat Woensdag op 92 dood is en op sy dag die regsverteenwoordiger van oudpres. Nelson Mandela en ander bevrydingsleiers was nie. (Bizos was ook, sê oudminister Roelf Meyer op RSG, “een van die argitekte van ons Grondwet”.)

Die Malema-groepering tree volgens ’n ander, ongrondwetlike stel reëls as die Mandela-Bizos-generasie op. Die strydkreet “attack!” word vooropgestel en is veral in só ’n situasie teen sagte teikens gemik; “gewelddadige optrede word (dan) die norm,” sê Max du Preez in sy reaksie.

Heindrich Wyngaard

’n Staaltjie word deur oudpres. Thabo Mbeki gedeel oor hoe Bizos by geleentheid die ANC-leierskap in Lusaka, Zambië kom spreek het nadat hy Mandela in die tronk besoek het.

Dit was in 1987 en die boodskap wat hy moes oordra, was dat die destydse minister van justisie, Kobie Coetsee, aangedui het dat die NP-regering bereid was om politieke gevangenes vry te laat.

Die bekommernis aan regeringskant was egter dat dit tot ’n “populêre opstand” sou lei waardeur die regime omver gewerp kon word.

Dit is 26 jaar ná die demokratiese beëindiging van die apartheidsbestel nie die vrylating van politieke gevangenes wat die huidige regering bekommerd hoef te laat oor die moontlikheid van ’n “populêre opstand” nie.

Dit behoort wel die optrede van die Malema-geleide “rassistiese en gewelddadige” generasie aktiviste te wees wat hierdie week voor die ingange van Clicks-takke toegeslaan het (hoewel ’n handjievol darem in hegtenis geneem is).

Hiervoor behoort daar dringend ’n teenmiddel deur die Ramaphosa-regering ontwikkel te word, terwyl die res van ons fokus op ’n remedie vir die skynbaar rassensitiewe en mensonterende onkunde van bemarkingspraktisyns.

* Wyngaard is ’n aanbieder van aktualiteitsprogramme op RSG en kykNET. Hierdie is sy eie mening.

Meer oor:  Clicks  |  Eff  |  Nelson Mandela  |  Julius Malema  |  Adam Habib  |  George Bizos  |  Demokrasie  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.