Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Gesondheid weeg swaarder as skuld

Suid-Afrika moet eerder sy valuta bewaar as skuld diens, sê Patrick Bond.

In sy onlangse rubriek op hierdie blaaie spreek R.W. Johnson kritiek uit teen my argument dat Suid-Afrika onmiddellik alle internasionale betaling van rente, dividende of winste aan die Bretton Woods-instellings staak.

Johnson is verkeerd, en hy mislei lesers herhaaldelik oor die aard van die debat oor buitelandse skuldbeleid. Hy is ook oneties in die wyse waarop hy die korrupte “Zupta”-era se finansiering van Eskom en Transnet beskryf.

Hierdie debat moet handel oor die vraag of Suid-Afrika in die komende weke $5 miljard by die Internasionale Monetêre Fonds en ander multilaterale finansiers moet leen of andersyds toenemende skaars buitelandse valuta moet bewaar deur die terugbetaling van ’n veel groter skuldbedrag te weier – skuld wat voorheen teen die belange van die Suid-Afrikaanse bevolking in aangegaan is.

Die staat, staatsinstellings en die private sektor skuld internasionale leners $185 miljard – ’n geweldige toename van die $22 miljard buitelandse skuld in 1994. ’n Volledige skuldoudit is nodig om te oordeel waarvoor die skuld alles aangegaan is, aangesien die land se buitelandse skuld in 2009 slegs $79 miljard beloop het.

Die debat is nie of die staat moet ophou om plaaslike skuld te diens nie – in teenstelling met wat Johnson beweer.

In 2009 was die buitelandse-skuld-tot-BBP-verhouding 22%. Vandag is dit 67%. (In 1985 het Suid-Afrika ’n wanbetaler geword toe die skuldverhouding slegs 41% was.)

Die debat is nie of die staat moet ophou om plaaslike skuld te diens nie – in teenstelling met wat Johnson beweer.

Suid-Afrika sal moontlik teenoor buitelandse krediteure ’n “force majeure” moet verklaar: ’n onvermoë om ’n kontrak na te kom as gevolg van toestande buite ons beheer.

Eskom het dit in April gedoen teen verskaffers van steenkool en hernubare energie weens die dalende vraag na elektrisiteit.

Buitelandse geld is reeds besig om landuit te vlug.

Sowat $6 miljard het Suid-Afrika tussen einde Januarie en middel April verlaat – wat die SA Reserwebank se buitelandse reserwes, wat in Februarie tot $45 miljard gedaal het, nog verder verminder het.

In dié konteks moet die invoer van gesondheidskritieke toerusting en ander middele mos voorrang geniet bo die terugbetaling van korrupte buitelandse finansiers?

Johnson versuim om lesers daaraan te herinner dat Eskom se twee steenkool-megaprojekte, Medupi en Kusile, so korrup is dat dit die aandag van die Amerikaanse owerheid getrek het. Weens die slordige werk van die Suid-Afrikaanse vervolgingsowerheid het Hitachi, in plaas daarvan om sy boete van R360 miljoen aan die Suid-Afrikaanse belastingbetaler en elektrisiteitsgebruikers te betaal, buite die hof met Amerika geskik en die geld het in die Amerikaanse staatskas beland.

Die steeds wanfunksionerende Medupi-kragstasie is deels gefinansier deur ’n lening van $3,75 miljard van die Wêreldbank. Verskeie vakbondleiers en ander het al geëis dat Suid-Afrika ophou met sy terugbetaling van dié “verfoeilike skuld”.

Die korrupsie by Medupi, die grootste megaprojek in Suid-Afrika se geskiedenis, is so reusagtig en so openlik dat selfs Business Day die Wêreldbanklening daarvoor teengestaan het.

Die lening was destyds die grootste wat die bank tot nog toe op kommersiële voorwaardes toegestaan het en dit is onder die presidentskap van die bisarre neokonserwatiewe Robert Zoellick gedoen.

Geld wat onwettig uit die land geneem word, word meestal met behulp van plaaslike korporasies gedoen.

Waarnemers soos Johnson probeer sulke blatante stelery wegpraat met rassistiese insinuasies soos dat die bank ongetwyfeld geweet het daar is baie korrupsie om die projek, maar dat dit ongelukkig alte gereeld die geval in die Derde Wêreld is en dat reg en orde die verantwoordelikheid van die gasheerregering is en nie die bank nie.

Suid-Afrika se buitelandse skuld is selfs nog vrotter van multilaterale, finansiële bedrog weens geld wat onwettig uit die land geneem word. Dit bedra tussen $10 miljard en $25 miljard per jaar.

Die Washington-gesetelde organisasie Global Financial Integrity raam dat inkorrekte fakturering Suid-Afrika net in 2017 $22 miljard gekos het. In 2019 was die aangetekende netto verlies van wins-, dividend- en rente-oordragte byna $14 miljard.

Geld wat onwettig uit die land geneem word, word meestal met behulp van plaaslike korporasies gedoen.

PwC se 2020-peiling oor ekonomiese misdaad en bedrog wêreldwyd toon Suid-Afrikaanse ondernemings en ons ekonomie in geheel is die derde mees korrupte ter wêreld ná China en Indië en ’n kortkop voor die Amerikaners, Britte, Franse en Iere, almal onder die top-10.

As buitelandse skuld as gevolg van sulke korrupsie nie deur die tesourie en die Reserwebank as onwettig erken word nie, bestaan die gevaar dat die Covid-19-krisis net sal lei tot nog meer lenings by korrupte multilaterale en bilaterale banke om die uitneem van valuta te finansier.

Kortom, dit is nie net duur om weer by hulle te leen as ons die vermindering in die waarde van die rand in ag neem nie, dit sal ook Suid-Afrika se vermoë om die paaiemente op dié twyfelagtige skuld terug te betaal verder verswak.

* Patrick Bond is ’n dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland se skool vir regeerkunde.

Meer oor:  Ekonomie  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.