Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Gesprek oor R0-vergoeding moenie stilstaan by Dingaan en Retief'

’n Oorvereenvoudigde vraag (moet die Grondwet verander word?) het gelei tot oorvereenvoudigde antwoorde wat moeilik herroep kan word. Elmien du Plessis skryf oor waar ons trek met onteiening sonder vergoeding.

Elmien du PlessisFoto: Murray Louw

Dis al meer as twee jaar ná die ANC se Nasrec-resolusie om “onteiening sonder vergoeding” te gebruik as ’n metode om grond te bekom. Die resolusie het niks genoem van ’n grondwetlike verandering nie.

Dit het die tier geword wat die EFF twee maande later vir die ANC opgesaal het met ’n parlementêre mosie. Die ANC het dié mosie betreklik drasties gewysig voordat dit aanvaar is.

Daardie mosie het die grondwetlike hersieningskomitee met die taak opgesaal om deur die land te toer met die Brexit-tipe vraag: Moet die Grondwet verander word? Ja of nee.

’n Oorvereenvoudigde vraag het gelei tot oorvereenvoudigde antwoorde wat moeilik herroep kan word. Vra maar vir Brittanje.

Die wanpersepsie dat die wysiging van die Grondwet (selfs sonder ’n wete hoe só ’n wysiging sal lyk) ’n kitsoplossing vir die probleme sal wees, het tot die “ja”-antwoord gelei.

Partye en organisasies buit die dubbelsinnige, oorvereenvoudige uitkoms vir eie gewin uit. Onversetlike houdings lei tot ondersteuning: Jy is óf vir ons, óf teen ons.

En wie wil nou nie êrens behoort nie?

Maar as ’n mens fyn na die sittings gekyk het, was dit duidelik dat baie van die mense wat getuig het, gefrustreerd was met die stadige vordering van grondhervorming.

Die wanpersepsie dat die wysiging van die Grondwet (selfs sonder ’n wete hoe só ’n wysiging sal lyk) ’n kitsoplossing vir die probleme sal wees, het tot die “ja”-antwoord gelei. Sonder om te vra “wat van daarna”? Of “hoe”?

Benewens die ja/nee-vraag, het “onteiening” ewe skielik snelskrif geword vir grondhervorming met al sy fasette, waar enige “grondhervorming moet plaasvind” geïnterpreteer word as “die Grondwet moet gewysig word”. Daarteenoor is enige teenkanting ’n teenkanting teen grondhervorming. Die werklikheid is egter altyd meer genuanseerd as dít.

Misverstande en moddergooiery

Onteiening as ’n meganisme om grond te bekom is ’n baie tegniese proses met baie reëls en administratiewe stappe waarvan die onteienings-aspek maar net een is. Maar dis nie waar die misverstand lê nie.

Die misverstande, gevolg deur die oor-en-weer-moddergooiery, se oorsprong is dikwels in die feit dat ons besig is met verskeie gesprekke in een, waarvan die tegniese gesprek net een is. Van die gesprekke gaan oor “Aan wie behoort die land?”, en “Is die Grondwet nog legitiem, want dit kon nie grond voorsien nie?” en “Hoe moet grondhervorming lyk, wie moet voordeel trek, wie moet betaal”?

Hierdie moeilike gesprekke vind plaas in ’n doolhof van wantroue – in mekaar én in die staat – sonder enige duidelike leiding. En tussendeur is daar nog die rompslomp van die regstegniese gesprek wat voortduur onder diegene wat nog nie sat is nie.

Elmien du Plessis: “Die grootste gevaar is nie dat daar ’n klein wysiging aan die Grondwet is nie. Die grootste gevaar is dat daar wel ’n wysiging kom, en dat die staat op dieselfde trant voortploeter as die afgelope 25 jaar, sonder enige merkbare vordering.” Foto: Nasief Manie

Die hersieningskomitee se uiteindelike gevolgtrekking was dat die Grondwet grondhervorming toelaat en dat daar twee menings is wat vergoeding betref: óf geen vergoeding nie óf (in beperkte gevalle en ná ’n oorweging van verskeie belange en faktore) dit regverdig en billik kan wees dat vergoeding R0 is.

Dit word gevolg deur die opdrag dat die Grondwet gewysig moet word om uitdruklik te maak wat implisiet is.

Maar dit is net as daar regtig konsensus is oor wat implisiet behels en is net ’n wysiging aan die bewoording, nie aan die betekenis nie.

R0 verander nie aan die reg nie. Die vergoedingsplig bly, die standaard is steeds “regverdig en billik”, en die staat het steeds ’n plig om R0 te regverdig.

Myns insiens is die R0-opsie (wat vertaal word na nul vergoeding) implisiet, want daar bestaan nie so iets soos “onteiening sonder vergoeding” nie (dit is ontneming of beslaglegging).

R0 verander nie aan die reg nie. Die vergoedingsplig bly, die standaard is steeds “regverdig en billik”, en die staat het steeds ’n plig om R0 te regverdig.

Daarteenoor ontneem “sonder vergoeding” die staat van die plig om te vergoed (alhoewel die staat waarskynlik sal moet aanvoer hoekom geen vergoeding in ’n bepaalde geval “regverdig en billik” is).

Die reg is ’n stelsel, en enige onteiening moet natuurlik steeds voldoen aan die vereiste dat dit vir ’n openbare doel of in die openbare belang is, welke doel en belang in wetgewing vervat en uiteengesit moet word, en welke wetgewing die nodige magtiging moet gee aan amptenare om dit te kan doen.

Dan is daar nog die kwessie van die Onteieningswetsontwerp, wat volgens fluisterstories tot Junie uitgestel is sodat die parlementêre proses afgehandel kan word.

’n Moeilike mandaat

Die huidige ad hoc-komitee se werk is gegrond op ’n amper onmoontlike mandaat en is eng gefokus op slegs die bewoording; om eksplisiet te maak wat implisiet is. Dit is eintlik die werk van wetgewing (soos die Onteieningswet), nie van grondwette nie.

Selfs in die afwesigheid van goeie regsredes vir ’n wysiging, is ’n grondwet tog dikwels die gevolg van ’n politieke geding. ’n Wysiging kan dus deurgaan as die proses soos uiteengesit in die Grondwet gevolg word.

Wanneer die wysiging aanvaar is, kan dit nie vir substantiewe grondwetlikheid getoets word nie (tensy die president dit self na die konstitusionele hof verwys, wat waarskynlik is) en vorm dit deel van die Grondwet as ’n geheel.

As ons eindig met ’n wysiging wat werklik net dit wat implisiet is uitklaar, is die simboliese waarde dat die Grondwet daardeur weer gelegitimeer is ...

Met die skryf van die wysigingswet wat in die politieke drukgang is, is dit verantwoordelik om deel te neem aan die proses wat die bewoording uitklaar.

Dis belangrik om seker te maak dat die komitee nie sy mandaat oorskry nie en dat dit slegs eksplisiet maak wat implisiet is.

As ons eindig met ’n wysiging wat werklik net dit wat implisiet is uitklaar, is die simboliese waarde dat die Grondwet daardeur weer gelegitimeer is – dat Suid-Afrika weer eens bewys het dat nóg die beste, nóg die slegste dinge gebeur.

Ons het dan, met ander woorde, betreklik lig afgekom van ’n binêre stryd tussen woede en vrees wat gegrond is op oorvereenvoudige idees. Ons sal dan vir mekaar kan sê dinge kon baie erger gewees het. En dat die staat nou nog minder verskonings het om nie grondhervorming ordentlik en ingevolge die reg te doen nie.

Die EFF-leier Julius Malema op ’n trekker. Die EFF dring daarop aan dat grond onder die voogdyskap van die staat moet wees. Met ander woorde, onder beheer van die staat wat dit herverdeel onder Suid-Afrikaners. Foto: EFF

Sal die wysiging aanvaar word?

Die wysiging sal aanvaar word as ’n tweederdemeerderheid daarvoor stem, maar dit is nie ’n gegewe nie. Die EFF en die ANC verskil oor wat ná onteiening moet gebeur.

Die EFF dring daarop aan dat grond onder die voogdyskap van die staat moet wees. Met ander woorde, onder beheer van die staat wat dit herverdeel onder Suid-Afrikaners. Die besonderhede van hoe dit gedoen moet word, is nog nie uitgespel nie.

Dit is onseker of hulle ’n opsie sal aanvaar wat net ophelder en nie radikaal verander nie. As hulle nie daarvoor stem nie, is die hulp van die DA nodig om die wysiging deur te voer.

Beduidende staatsinmenging sal tot heelwat skeptisisme aanleiding gee in ’n omgewing waarin daar min vertroue in die staat is.

Die ANC voorsien ’n mengsel van privaat eiendomsreg, staatsbesit en kommunale grond, maar dit alles berus op ’n stelsel van private eiendomsreg – hoewel die mate van staatsinmenging en beheer wat die ANC wil hê meer is as wat die DA verkies.

Beduidende staatsinmenging sal tot heelwat skeptisisme aanleiding gee in ’n omgewing waarin daar min vertroue in die staat is.

Uiteraard is mense skepties teenoor die ANC wat onverantwoordelik omgaan met die woorde “onteiening sonder vergoeding” as hy eintlik “grondhervorming” bedoel, en “sonder vergoeding” wanneer dit in verduidelikings duidelik is dat dit eerder R0-vergoeding is.

Die ANC sal dus waarskynlik nie genoeg vertroue in die DA inboesem om vir ’n opheldering te stem nie, en die DA kan dit nie bekostig om vir ’n wysiging te stem wat hul teikenmark sal sien as goedkeuring vir grootskaalse beslaglegging op eiendom nie.

’n Standbeeld van Piet Retief by die Voortrekkermonument. Foto: Wikipedia

Dingaan en Retief

Want dit is hoe die hele gesprek opgestel is.

Sou die ANC vasberade bly om ’n wysiging deur te voer, sal ronde twee ’n vry na links wees, ’n ongewensde scenario. Die uiteinde is ’n gepolariseerde land, sonder ’n grondwetwysiging ná twee jaar, en grondhervorming wat waarskynlik nog twee generasies gaan neem voordat dit ’n invloed het.

Bowendien, die grootste gevaar is nie dat daar ’n klein wysiging aan die Grondwet is nie.

Selfs al is “grond” nie ’n topprioriteit nie, sal dit altyd vatbaar bly vir politieke uitbuitery solank dit nie getakel word nie.

Bowendien, die grootste gevaar is nie dat daar ’n klein wysiging aan die Grondwet is nie. Die grootste gevaar is dat daar wel ’n wysiging kom, en dat die staat op dieselfde trant voortploeter as die afgelope 25 jaar, sonder enige merkbare vordering.

Ek het vrede gemaak dat die probleme met grondhervorming nie in my leeftyd opgelos gaan word nie – met of sonder wysiging. My kinders weet dat ek my werk doen omdat ek hoop dat húlle generasie dit nie weer hoef te doen nie.

’n Brons-standbeeld van Dingaan by Maropeng.Foto: Wikipedia

Maar hoe verduidelik, en regverdig, ’n mens dit aan die mense wat sit met verwagtinge? Wat al vir ’n leeftyd wag? Hoe boesem ’n mens vertroue in die Grondwet en demokratiese prosesse in sou die wysiging nie deurgaan nie? Want dan is daar nie eens ’n simboliese herbevestiging van die Grondwet nie – hoe hol dit ook al mag klink.

Dit sou sinvoller wees om die verskeie gesprekke wat ons het uit mekaar te hou. Die gesprek oor aan wie die land nou eintlik behoort (wat eintlik ’n stryd oor die geskiedenis is), behoort nie verwar te word met die gesprek wat handel oor die verskil tussen R0 en geen vergoeding nie.

Die gesprek oor die tegniese aspekte van onteiening behoort nie verwar te word met hoe die grond verdeel moet word – en wie moet voordeel trek nie. Die aspekte oorvleuel natuurlik. Tog, om ’n tegniese gesprek te hê oor bewoording en die uitwerking daarvan met mense wat wil baklei oor Dingaan en Retief en van Riebeeck, sorg nie vir ’n produktiewe gesprek nie.

*Prof. Elmien du Plessis is verbonde aan die regsfakulteit van die Universiteit van Noordwes. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.