Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Gevaar van demokratiese sentralisme

Demokratiese sentralisme kan nie deug in ’n land waar die grondwet mense onder meer teen die regering se magsmisbruik moet beskerm nie, skryf Pieter Labuschagne.

’n Verweerde muurskildery van die Portugese kommunistiese party bykans drie dekades gelede in Lissabon. Dié party was ’n sterk voorstander van demokratiese sentralisme. Foto: Getty Images

Demokratiese sentralisme is die nuwe gonswoord in die Suid-Afrikaanse politiek en is die afgelope klompie weke toenemend deur politici gebruik.

Met onlangse politieke verwikkelinge soos die heftige aanvalle op die regbank en die integriteit van regters wat bevraagteken word, het die verwysing na demokratiese sentralisme gereeld opgeduik.

Dit was duidelik dat veral die valke in die ANC, soos Ace Magashule, sekretaris-generaal, en selfs die adjunk-sekretaris-generaal, Jessie Duarte, demokratiese sentralisme propageer.

Die vraag is of dit moontlik vir demokratiese sentralisme is om te funksioneer in ’n liberale politieke stelsel wat sterk op sy grondwet steun. Is die konsep van demokratiese sentralisme nie in wese ’n teenstelling hiervan nie?

Dié artikel ondersoek die basiese konseptuele eienskappe van demokratiese sentralisme. Die oogmerk is om die potensiële gevaar uit te wys wat dit vir demokrasie, konstitusionalisme, en veral vir minderheidsgroepe in die land kan inhou.

Demokratiese sentralisme

’n Ondersteuner van Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, tydens sy onlangse hofverskyning in Bloemfontein. Foto: Getty Images

In wese behoort die begrip demokratiese sentralisme eintlik vreemd te wees omdat demokrasie en sentralisme sterk teenstrydig is.

Die stelsel van demokratiese sentralisme – met die “demokratiese” sentralisering van besluitneming en “verkiesings” binne die party – staan lynreg teenoor ’n demokrasie.

Demokrasie veronderstel onder meer vrye en regverdige verkiesings en dat die burgerlike samelewing amptenare aanwys.

Dit beteken ook dat alle landsburgers vryheid van keuse het en kan stem vir wie hulle wil.

Die konsep demokratiese sentralisme verskraal egter die basiese demokratiese vryheid drasties en kanaliseer demokratiese deelname deur ’n organisatoriese netwerk, wat van die boonste vlakke beheer word.

In werklikheid is demokratiese sentralisme dus niks anders as (mags-) sentralisasie sonder die teenwoordigheid van die basiese elemente van die demokrasie nie.

In die organisasie en regulering van kommunistiese partye vorm demokratiese sentralisme die sleutelkenmerk en is hoofsaaklik op twee beginsels gegrond:

• Die laer vlakke van die politieke stelsel moet die besluite van die hoër vlak gehoorsaam, wat natuurlik die dominerende sentraliseringsaspek van besluitneming vergestalt.

• Verteenwoordigers op elke vlak word deur die vlak direk onder dit verkies, wat ’n piramide-vorm van indirekte verkiesings beteken.

Die ironie is dat net een persoon vir elke posisie benoem word “en die benoeming deur die hoër vlak gedoen word!”

Op dié voorskriftelike wyse is die vryheid van keuse van kandidate wat sentraal binne ’n demokrasie funksioneer, in die geval van demokratiese sentralisme bloot ’n illusie.

In werklikheid is demokratiese sentralisme dus niks anders as (mags-) sentralisasie sonder die teenwoordigheid van die basiese elemente van die demokrasie nie.

Die allesoorheersende party

In kommunistiese denke, met demokratiese sentralisme as een van die hoekstene, word die party belangriker as die staat/regering en die belange van die samelewing geag.

In werklikheid is daar by demokratiese sentralisme geen onderskeid tussen die party en die staat/regering nie en vorm die allesoorheersende party die oorheersende politieke sentrum.

Vir baie plaaslike waarnemers in Suid-Afrika is dieselfde siening te bespeur in die onvermoë van die ANC- beheerde regering om ’n onderskeid tussen die party en die staat te tref.

In teenstelling hiermee is daar in ’n moderne demokrasie ’n duidelike skeiding tussen die staat/regering en die regerende party. Die regerende party moet in belang van die samelewing in die geheel optree, en dit sluit minderheidsgroepe in wat nie die regerende party ondersteun nie.

Pieter Labuschagne

In die Leninistiese beskouing word die allesoorheersende party as die enigste instelling beskou wat werklik in die belang van die werkersklas kon optree.

In die voormalige Sowjetunie was die sentrale party allesoorheersend en het sterk gesentraliseerde beheer op alle vlakke uitgeoefen. Dit het die verkiesing en aanstelling van partygenote in alle posisies ingesluit, wat ons plaaslik in Suid-Afrika as kaderontplooiing leer ken het.

Die kaderontplooiing het plaaslik ’n dryfveer vir korrupsie geword omdat dit beloning aan die persoon beteken wat die kaderontplooiing gedoen het.

Diegene wat op dié manier aangestel is, meen dat hulle die saak van die party dien en verwerp enige ondersoek deur die staat as korrupte bedrywighede blootgelê word.

Hoe dikwels hoor en lees ons nie van mense wat hul posisies in die regering en op ander vlakke weens korrupsie behoort te ontruim wat eers wil verneem wat die party gaan besluit en hoe hy of sy herontplooi gaan word.

Politieke sentralisme – die Chinese voorbeeld

’n Sitting van China se nasionale partykongres in Beijing. Foto: Getty Images

In China is meer drie miljoen primêre party-organisasies, en bo die laagste party-organisasie is die nasionale partykongres (NPK), wat uit ongeveer 2 000 lede bestaan.

Die NPK delegeer sy gesag in ’n piramide-vorm na 300 lede van die sentrale komitee. Dié instansie delegeer weer gesag na bo na die 22 lede van ’n politburo met sy staande komitee, wat uit nege lede bestaan.

Die magsuitoefening volg egter nie ’n opwaartse trajek nie, maar vind afwaarts plaas – van die staande komitee se nege lede na die 22 lede van die politburo lede en uiteindelik na die drie miljoen takke.

Die Chinese gesagspiramide toon sterk ooreenkomste met die struktuur van die ANC, en dit is veral opvallend hoe die takke gereeld “geraadpleeg” moet word.

Die eenheid en sterk sentralisme verseker kohesie en die beheer van mag binne die party.

In werklikheid is die mag egter veel hoër in die struktuur geleë – in die stelsel van demokratiese sentralisme.

Die piramide en vernouing na bo is duidelik in die ANC se strukture te sien met die 100 lede wat tot die nasionale uitvoerende komitee en uiteindelik die ANC se topses vernou word.

In China is die kommunistiese invloed aan die taan, maar steeds streef en behou die party sy eenheid. Die saambindende faktor is die loopbaan- en finansiële voordele wat vir lede met sterk partypolitieke bande bestaan. Ambisie verskaf die gom; die party is die instelling wat die pad na bo kan verseker.

Die eenheid en sterk sentralisme verseker kohesie en die beheer van mag binne die party.

Konstitusionalisme en demokratiese sentralisme

Die Suid-Afrikaanse Grondwet beklemtoon menseregte en die regte van minderheidsgroepe Foto: Getty Images

Die voorstanders van demokratiese sentralisme beskou die party as die allesoorheersend instelling. Die sentralisering van besluite en aanstellings is die fundamentele ideologiese kernaspek.

Die politieke party word dus organies en ideologies op ’n troon as die hoogste instelling geplaas en word dus belangriker as die staat of regering.

Die miskenning van basiese menseregte en minderheidsregte word as minder belangrik beskou.

Die Grondwet, regters en regslui word verdag gemaak omdat hulle die werking frustreer van demokratiese sentralisme wat die sentralisering van gesag belangriker as die Grondwet beskou.

In wese frustreer die Grondwet en die Handves van Menseregte dus meerderheidsoorheersing.

Die Grondwet vorm immers die kritiek belangrike teenwig teen meerderheidsmagsoorheersing in die land en die konsep van demokratiese sentralisme. Die Grondwet bied beskerming teen die wil van die meerderheid wat in die kleed van demokratiese sentralisme verskuil word en die regte en aansprake van minderhede wil aftakel.

In wese frustreer die Grondwet en die Handves van Menseregte dus meerderheidsoorheersing.

Die Grondwet vorm die objektiewe ewewig in die konstitusionele bestel, wat die subjektiewe politieke wil van die gesentraliseerde meerderheidsparty temper en in toom hou.

Die Grondwet is uit universele geldende waardes en regte saamgestel, wat eeue lank in ander lande die regte van individue en groepe beskerm het. In Suid-Afrika vertolk, beskerm en pas die regters en die regslui die regte van minderhede op grond van die Grondwet toe.

Dit is waarom die Grondwet oppermagtige status het en nie net bloot enige dokument is nie.

’n Optog van die DA waarin gevra is dat die Grondwet beskerm moet word. Foto: Getty Images

Duarte wou vroeër in haar aanval op die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping juis die breër beginsels soos die vryheidstryd en die belang van die party belangriker as die werking van die kommissie beskou.

Die Zondo-kommissie probeer juis om die grondwetlike waardes – soos die stryd teen korrupsie – te eerbiedig.

Parlementslede lê almal ’n eed af waarin hulle onderneem dat hulle die Grondwet sal nakom, maar in werklikheid beskou baie lede van die regerende party steeds die werking van die magspiramide en demokratiese sentralisme as belangriker.

Die Grondwet en die regsprekende gesag vorm die enigste skans wat die allesoorheersende party in bedwang kan hou.

In dié opsig skuil daar ’n groot gevaar vir voortgesette politieke stabiliteit in die land. Indien die kritiek belangrike waghondfunksie van die regsprekende gesag ondermyn word, val die beskermende domino-blokkies die een ná die ander.

Die demokrasie is kwesbaar sonder die beskermende teenwoordigheid van die regsprekende gesag.

Die Grondwet en die regsprekende gesag vorm die enigste skans wat die allesoorheersende party in bedwang kan hou.

Daarsonder sal minderheidsgroepe en individue aan die magsuitinge van die gesentraliseerde meerderheidsparty uitgelewer wees.

• Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Jessie Duarte  |  China  |  Suid-Afrika  |  Demokrasie  |  Kommunisme  |  Grondwet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.