Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Moenie geweld met geweld beveg nie

Suid-Afrikaners steier onder hoë vlakke van geweld, maar die werklikheid is dat geweld nie alleen deur die gebruik van verdere geweld doeltreffend beperk kan word nie, skryf Pieter Labuschagne.

Kinders kyk na ’n soldaat wat op die Kaapse Vlakte ontplooi is om bendegeweld hok te slaan. Foto: Jaco Marais

Die skoknuus dat 58 mense elke dag in Suid-Afrika vermoor word, toon dat die land in ’n afwaartse spiraal van geweld vasgevang is.

Daar is ook groot kommer dat Suid-Afrika besig is om een van die mees gewelddadige samelewings in die wêreld te word.

Wat sou die redes vir die toenemende geweld wees en waarom spoel gewone protes so naatloos oor in gewelddadige optrede?

Die strategie om geweld met geweld te stuit, kan egter net ’n oplossing op kort termyn wees.

Die toenemende bendegeweld op die Kaapse Vlakte was die eerste rooi lig. Dit het die regering gedwing om die weermag in te stuur om moorde op burgerlikes, en veral kinders, hok te slaan.

Die strategie om geweld met geweld te stuit, kan egter net ’n oplossing op kort termyn wees. Dit is duidelik dat oplossings vir die probleem op ’n veel dieper vlak gesoek moet word.

Die gevaarligte het sterker begin flikker tydens die reeks xenofobiese aanvalle en die vigilante-optrede teen dwelmbase in Gauteng, met tonele van brandstigting en geweld in die middestad van Pretoria.

Betogers het onlangs chaos in Johannesburg se middestad veroorsaak. Foto: Felix Dlangamandla

Die land het kort ná die geweldpleging verder gesteier onder die nuus van ’n reeks aanvalle en verkragtings op vroue. Dit het opnuut die soeklig op die endemiese lot en weerloosheid van vroue in ’n paternalistiese samelewing laat val.

Die voorvalle wat aangemeld word, is egter net die spreekwoordelike oortjies van die seekoei. Die tragiese lot van vroue in landelike gebiede, veral plaaswerkers se vroue, is grootliks onbekend omdat dit bitter min aandag kry .

Dit kan met reg gesê word dat Suid-Afrika ’n gebroke samelewing is wat sy morele kompas verloor het.

Bheki Cele, minister van polisie, het bekend gemaak dat die moordsyfers en die syfer vir misdaad en geweld vir die kalenderjaar 2018-’19 met 4% tot 5% gestyg het.

Die toename in moorde tot 21 022 (686 meer as die vorige jaar) en aanrandings met die doel om ernstig te beseer wat tot 170 079 gestyg het, toon die omvang van die probleem.

Dit kan met reg gesê word dat Suid-Afrika ’n gebroke samelewing is wat sy morele kompas verloor het.

Wat het dan verkeerd gegaan?

Geweld teen vroue het duisende Suid-Afrikaners laat saamstaan. Foto: Jaco Marais

Die regering se oplossing vir die bendegeweld op die Kaapse Vlakte was om geweld met staatsgeweld teen te staan. Die onlangse toename in aanvalle op vroue het beloftes van strenger optrede van die regering ontlok.

Die strenger voorgenome maatreëls, soos die weiering om borgtog toe te staan, kan egter die basiese regte van burgers aantas.

Daar is simpatie vir die regering, wat sekerlik radeloos begin raak wat die geweldsprobleme in ons samelewing betref. Die ongelukkige werklikheid is dat geweld nie alleen deur die gebruik van verdere geweld doeltreffend beperk kan word nie.

Die grondoorsake van die geweld en onrus is veelvuldig en kompleks en vereis langtermyn- en komplekse oplossings.

Die toepassing van staatsgeweld kyk net na die simptome en nie die dieperliggende oorsake van geweld nie.

Die grondoorsake van die geweld en onrus is veelvuldig en kompleks en vereis langtermyn- en komplekse oplossings.

Dit is daarom belangrik om eers te probeer om die grondoorsake van die vlaag van geweld te verklaar, wat dan hopelik sal bydra tot oplossings vir die dieperliggende probleme.

Die immoraliteit van moraliteit

Die gebruik van geweld om geweld hok te slaan, is nie ’n goeie idee nie. Foto: Jaco Marais

Die apartheidsera en die bevrydingstryd teen die apartheidsregime se donker skaduwee hang ongelukkig nog steeds swaar oor die Suid-Afrikaanse samelewing. Die psigiese gewelddadige aspekte van die tyd is steeds diep in die siel van die samelewing gewortel en manifesteer in post-apartheid Suid-Afrika in verskillende vorme van geweld.

Die strategie gedurende die vryheidstryd was om woongebiede onregeerbaar te maak, het die samelewing van sy onskuld beroof.

Die apartheidsregering het in reaksie met al sy staatsmag opgetree en nie gehuiwer om geweld te gebruik om die bevrydingsoptrede te stuit nie.

Die ongenaakbare werklikheid was dat die stryd teen apartheid ’n moreel regverdige stryd was, wat met immorele metodes gevoer is. Die immoraliteit het in die kollektiewe wese van die samelewing ingesyfer en moraliteit weggekalwe.

Diegene wat monsters (apartheid) beveg, moet seker maak dat hulle nie ook in monsters verander nie.
Friedrich Nietzche

Die geweld van halssnoermoorde met buitebande toe mense lewendig verbrand is en “sell-outs” tereggestel is, skuil wesenlik steeds diep in die siel van die woonbuurte.

Friedrich Nietzche het in 1886 in sy Beyond Good and Evil geskryf dat diegene wat monsters (apartheid) beveg, seker moet maak dat hulle nie ook in monsters verander nie. Nietzsche het geskryf as mense lank genoeg in die donker afgrond instaar, die afgrond later sal terugstaar.

Is dit moontlik dat geweld of die geneigdheid tot geweld deel van die siel in ons gemeenskappe geword het? Verklaar dit waarom voorvalle soos diensleweringsbetogings so naatloos in geweld omskakel?

Die morele kapitaal van woonbuurte is vernietig toe woonbuurte onregeerbaar gemaak is en vrywillige inwonersorganisasies ontbind of verpolitiseer is. Die kerk en soortgelyke etiese instelling het hul normatiewe invloed in die samelewing verloor, waar protesaksies blitsvinnig in geweld verdiskonteer word.

Die apartheidsregering se geweldsoptrede het die agteruitgang in die woongebiede verder verhaas.

Winkels van buitelanders is tydens onlangs geweldpleging in Gauteng geplunder. Foto: Felix Dlangamandla

Ná apartheid het die verslegtende sosio-ekonomiese omstandighede en werkloosheid in die land die immorele krake in die samelewing verder oopgedwing.

Die invloed en stabiliteit wat funksionerende gesinne in ’n woonbuurt kan uitoefen, is verder deur die verbrokkeling van gesinne afgetakel.

Finweek het onlangs berig dat op 61,7% van die 989 318 babas wat in 2017 gebore is se geboortesertifikate daar geen inligting van die biologiese pa verskyn nie. Dit dui gewoonlik daarop dat die pa nie betrokke wil wees nie.

Die tradisionele beskouing van die gesin wat uit albei ouers bestaan, het grootliks verdwyn. Daar is in studies bevind dat 60% van gesinne ’n afwesige pa het en dat 40% vroue as enkelouers het.

Die verkiesingsbeloftes van politieke partye en die regering het vir meer as 30 jaar verhoogde verwagtinge onder die arm, onderontwikkelde gemeenskappe geskep.

Die basiese respek vir vroue en vir mense in die algemeen, word eerstens in ouerhuise aangeleer.

’n Opname van Ipsos het getoon dat ongeveer 12% van respondente glo dat geweld teenoor vroue aanvaarbaar is. Die ontstellende aspek is dat 63% van die respondente van mening was dat vroue hul mans moet gehoorsaam, wat op die diepgesetelde paternalisme in die samelewing wys.

Dit is duidelik dat die kollektiewe, morele gom wat as eerste verdedigingslinie teen immorele gedrag moet dien, grootliks afwesig is. Dit moet gesinne, groepe, woonbuurte, stede en dorpe saambind.

Die kragdadige optrede van die regering kan hierdie morele gom nooit vervang nie.

Relatiewe deprivasie

Veranderinge in gesinstrukture is een van die oorsake wat tot geweld teen vroue lei. Foto: Jaco Marais

Die spiraal van geweld in die land in die vorm van diensleweringsbetoging word aangevuur deur wat Ted Gurr as relatiewe deprivasie (ekonomiese ontbering) getipeer het. Dit is die verskil of gaping tussen die sosio-ekonomiese verwagtinge van individue en die moontlikheid van die regering om daaraan te voldoen.

Dr. Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies het tereg daarop gewys dat daar ’n direkte verband tussen geweldsmisdade en verslegtende sosio-ekonomiese omstandighede is.

Die verkiesingsbeloftes van politieke partye en die regering het vir meer as 30 jaar verhoogde verwagtinge onder die arm, onderontwikkelde gemeenskappe geskep. Die aanvanklike tydperk van sosio-ekonomiese opbloei ná 1994 het geleidelik gestagneer.

Die huidige gebrekkige ekonomiese groei, die onvermoë om werk te skep of basiese dienste te lewer en die grondkwessie op te los vererger die probleem.

Die relatiewe deprivasie skep frustrasie in die land.

Volgens James Davies se teorie skep dit ’n onhoudbare gaping – tussen dit wat mense kry en dit wat hulle verwag.

Die diensleweringsbetogings in 2005 was nog binne beheerbare vlakke met 34 voorvalle per jaar. Maar in slegs vyf jaar het die syfer tot 111 verdriedubbel en in 2018 het dit tot 237 toegeneem.

Die geweldsfaktor tydens die betogings is die groot probleem. Dit sluit in die gebruik van irrasionele geweld soos die gooi van klippe na onskuldige motoriste.

Die relatiewe deprivasie skep frustrasie in die land. Die gebrek of ondoeltreffendheid van kanale om die frustrasie te artikuleer spoel oor tot geweld.

Die probleme word vererger deur die aanhitsing van politici soos Julius Malema, leier van die EFF.

Die oplossing

Pieter Labuschagne

Dit is duidelik dat die oorsake van geweld kompleks is en die oplossing gevolglik kompleks is.

Die skep van institusionele moraliteit en moraliteit in die samelewing is onlosmaaklik verbind aan die sosio-ekonomiese opbou van die land. Die heropbou-strategie sluit die verskaffing van behuising, basiese dienste en die verbetering van lewenstandaarde in.

Die sosio-ekonomiese herstel is afhanklik van aggressiewe volgehoue ekonomiese groei.

Die morele aspekte moet versterk word deur die gehalte van onderwys wat saam met die verbetering van ekonomiese omstandighede kan help om ’n sterker middelklas te bou.

Die herstel van die gesinsverband en vrywillige samewerking met gemeenskapsorganisasies is belangrike boustene in die herstelproses.

Die Griekse filosoof Aristoteles het eeue gelede al die waarde van ’n middelklas beklemtoon wat in getalle meer tel as die armes en meer materiële middele as die rykes besit. Die middelklas verskaf die broodnodige stabiliteit in die samelewing, iets wat bitter nodig is.

Dit gaan gewis nie maklik in Suid-Afrika wees nie.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Suid-Afrika  |  Xenofobie  |  Bendegeweld  |  Geweld Teen Vroue  |  Apartheid  |  Moorde  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.