Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Gewone mense wil land terughê’
Mark Rutte Foto: Reuters

Nederlanders het na stembusse gestroom omdat “gewone mense hul land wil terughê en ons nasionale soewereiniteit wil herstel”, het Geert Wilders, “Nederland se Donald Trump”, Woensdag gesê.

Die verkiesing in Nederland is die eerste van drie vanjaar in die Europese Unie (EU) waarin nasionalistiese partye hoop op ’n deurbraak. Die ander is in Mei in Frankryk en in September in Duitsland.

28 partye neem aan die Nederlandse verkiesing deel, maar die verkiesing word oorheers deur die gematig-regse Volksparty voor Vrijheid en Democratie (VVD) van Mark Rutte (50), Nederlandse premier, en Wilders (53) se regse Partij voor de Vrijheid (PVV).

Tot 13 miljoen kiesers het gister hul stem uitgebring oor watter party die reg sal kry om ’n koalisieregering saam te stel. Aangesien tot vier uit tien kiesers teen eergister nog onseker was oor vir wie hulle gaan stem, is die uitslag onseker. Wilders het beloof hy sal Nederland “ont-Islamitiseer” en aan die EU onttrek.

Geert Wilders Foto: Bloomberg

Dít sal ’n gevoelige slag wees vir die EU, aangesien Nederland die sesde grootste ekonomie in die unie het. Wilders het feitlik geen kans om ’n regering te vorm nie omdat geeneen van die voorste partye met hom wil saamwerk nie. Sy PVV het voorgeloop in meningspeilings, maar in die mees onlangse peilings begin stoom verloor.

As die PVV die meeste stemme kry, sal dit skokgolwe deur Europa stuur. Rutte en Wilders het in TV-debatte swaarde gekruis oor hoe om immigrasie te hanteer. Rutte het Wilders se plan om grense en moskees te sluit en die Koran te verbied as “valse oplossings” afgemaak.

Wilders het Rutte daarvan beskuldig dat die regering beter gesondheidsorg aan immigrante as aan Nederlanders bied. Lodewijk Asscher van die Arbeiders, die junior vennoot in ­Rutte se huidige tweeparty­koalisie, het Wilders ’n man “met 10 000 kwaai twiets en geen oplossings” genoem.

In eergister se laaste TV-debat het Asscher Moslems wat die wet gehoorsaam, verdedig en ­gesê: “Nederland behoort aan ons almal en aan almal wat hul bes doen.” Wilders het geantwoord: “Nederland is nie vir almal nie. Nederland is vir Nederlanders.”

Rutte het dit baie duidelik gestel dat hy die PVV nie as

koalisievennoot sal aanvaar of op Wilders sal staatmaak om ’n minderheidsregering soos in 2010-’12 saam te stel nie.

“Nee, nooit nie,” sê hy.

“Wat ook al die uitslag van vandag se verkiesing is, die djin sal nie weer in die bottel klim nie en dié patriotiese revolusie sal gebeur, of dit nou vandag of môre is,” het Wilders aan die media gesê nadat hy gister by ’n skool in Den Haag gestem het. Rutte sê ’n oorwinning vir Wilders sal ver buite Nederland gevoel word.

“Ek dink die res van die wêreld sal ná Brexit en die Amerikaanse verkiesing sien dat die verkeerde soort populisme weer gewen het,” sê hy.

In teenstelling met die Amerikaanse of Franse verkiesing sal daar nie ’n volstrekte Nederlandse wenner wees nie, aangesien sowat 15 partye ’n realistiese kans het om ’n setel in die parlement te wen. Geeneen van hulle het ’n kans om 20% van die stemme te kry nie.

Minstens vier partye is nodig om ’n meerderheid in die parlement te verseker. Dit sal die eerste veelparty­alliansie wees sedert die 1970’s, toe dit drie keer gebeur het.

Twee van dié drie koalisies het binne 12 maande in die hek geduik. Die Christen-Demokraat Sybrand Buma en die liberale Alexander Pechtold sal dalk ’n koalisie vorm as Rutte die verkiesing wen.

Ander partye kan ook ’n beslissende rol speel, soos die Groen-Linkse en die Sosialistiese Party. In meningspeilings is bevind dat Rutte se party drie persentasiepunte meer steun as Wilders s’n het. – Reuters, Sky News, BBC

Meer oor:  Geert Wilders  |  Nederland  |  Kiesers  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.