Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Glenn Babb: ‘Ek het nie uitgesluit gevoel’ op US

As Engelssprekende op Stellenbosch weet hy ’n paar goed oor taal wat gebruik word om mense uit te sluit, skryf Glenn Babb.

Een woord slaan jou tussen die oë in die debat oor onderrig in Afrikaans: inklusiwiteit. Dit word beaam as die allesoorheersende grondslag vir die gebruik van die een of die ander taal vir die oordrag van kennis by opvoedingsinstellings. Ja, inklusiwiteit troef alles, selfs die welbekende feit dat jy beter kan leer as jy onderrig in jou eie taal ontvang.

Ek was ’n anderstalige op die Universiteit Stellenbosch. Alle onderrig was in Afrikaans, alle kennisgewings is in Afrikaans oorgedra. Dit is te verwagte. Ek het Stellenbosch juis daarvoor gekies. As ek die Sorbonne-Universiteit sou gekies het (wat ’n moontlikheid was), sou ek verwag het dat alles in Frans aangebied sou word. Ek het al my eksamens in Afrikaans geskryf; al my lesings is in Afrikaans aangebied. Het ek uitgesluit gevoel? Die teenoorgestelde was die geval. Natuurlik het ek moeite gedoen om my karige Afrikaans te verbeter en vooruitgang daarin is deur my medestudente aangemoedig en geprys. Ek is verwelkom in die huise van professore wat nie ’n woord in Engels gerep het nie, soos prof. André Hugo, wat my in die breë hoëronderwysstelsel ingesluit het, anderstalig of te not. Dit is sekerlik so dat ek beter in my eindeksamens sou gevaar het, sou ek Engels gebruik het, maar die bykomende voordele van die kennis van ’n ander kultuur het dit by verre oortref.

Taal is nie nét kommunikasie nie – dit is ’n kompendium van geskiedenis, dit is ’n seremoniële bewaringskluis, dit is ’n simboliese houer van gewoontes en dit is ’n weerspieëling van ’n kultuur. Soos die leiersfigure by die Universiteit Stellenbosch, het die Vatikaan in 1965 by Vatikaan II die groot fout begaan om taal slegs as kommunikasiemiddel te identifiseer en eensklaps die gebruik van Latyn in die Katolieke rites afgeskaf.

Taal is nie nét kommunikasie nie – dit is ’n kompendium van geskiedenis, dit is ’n seremoniële bewaringskluis, dit is ’n simboliese houer van gewoontes en dit is ’n weerspieëling van ’n kultuur.

Kyk ’n bietjie na my ervarings as anderstalige op Stellenbosch: Het ek uitgesluit gevoel? Beslis nie. Trouens, ek het nooit ’n gevoel gekry nie dat ek, weens my moedertaal, nie ’n deel gevorm het van die oorkoepelende gemeenskap nie.

Toe ek op Stellenbosch was, was daar ’n klein minderheid anderstaliges en sommige het uitgeval, maar ek het nooit onder anderstalige medestudente ’n gevoel van uitsluiting gekry nie. Die getalle het later geklim tot 40%, wat vir my ’n brutale aanduiding was van die aantreklikheid van ’n universiteit wat ontvanklik was vir die inburgering van kulture anders as Afrikaans, maar wat genoeg selfvertroue gehad het om voort te gaan met die geskiedkundige beleid om onderrig in Afrikaans aan te bied, en soos ek hierbo gesê het, het die Engelssprekendes en ander anderstaliges nie oor die Afrikaanse aanbieding geredekawel nie.

So, waar kom hierdie aantyging van eksklusiwiteit vandaan? Van persone wat nie ’n poging wil aanwend om die Afrikaner tegemoet te kom nie. Ek het nie by die Sorbonne gestudeer nie, maar ’n hele paar Suid-Afrikaanse studente het wel in my tyd in Parys kursusse daar geloop. Hulle het nie verwag dat hulle in Engels of enige ander taal onderrig sou ontvang nie. Hulle het maar ingeklim en genoeg Frans geleer om die kursusse te kon volg en die eksamens te slaag. Hulle het ook nie uitgesluit gevoel nie – sodra hulle Frans aangeleer het, was hulle meer as welkom. Ek het Senegalese en Madagassiese studente geken wat nie in ’n derde taal klasse geloop het nie. Hulle het aanvaar dat Frans die gemene deler sou wees.

Op Oxford was die ervarings heel anders: Ek het die verwelkoming wat my op Stellenbosch te wagte gestaan het, glad nie op Oxford ontvang nie. Jy is ’n colonial en jy moet geëerd voel om op ons 700 jaar oue instelling te kan studeer. Take it or leave it.

So, waar is die inklusiwiteit in ’n instelling wat nou ’n derde taal (Engels) wil gebruik om dit sogenaamd te bewerkstellig? Om ’n taal te gebruik vir persone wat nie Engels as huistaal gebruik nie, is nie inklusief nie. Dit is ’n kompromis. Dit het niks met inklusiwiteit te doen nie. Afrikaners en nie-Engelssprekendes ontmoet mekaar dus op ’n terrein waar nóg die een nóg die ander heeltemal tuis is. Jy sluit nie die nie-Engelssprekendes in nie, jy skep ’n kunsmatige rendezvous wat nie inklusief is nie. Dit is ’n siellose en onnatuurlike omgewing waar albei partye moeite doen om deur te sukkel ter wille van nie-vyandigheid. Niemand kan ontken dat Engels die taal du jour is nie. Die meerderheid van studente weet dit en berei hulle voor vir die gebruik daarvan in die wye wêreld, maar moet dit gebeur ten koste van ’n taal wat volledig akademies en wetenskaplik gevorderd is? Die teendeel word gewys deur die leidende posisies wat Afrikaners in medisyne, die regte, wetenskap, finansies en handel oor die hele planeet beklee. As leiers nie die groter impak van taal erken nie en so futloos ’n akademiese taal afskaf, verloor hulle ’n innoverende deel van ons beskawing.

Churchill het gesê: “Do not underestimate the importance of a small people’s language.”

*Glenn Babb is ’n voormalige diplomaat, politikus en sakeman.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.