Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
G’n taktiek te vuil in magstryd

Die bewerings van seksuele teistering teen Zizi Kodwa is deel van die  interne magstryd binne die ANC, skryf Pieter du Toit

Zizi Kodwa en Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, tydens ’n vergadering van die party se nasionale uitvoerende komitee verlede jaar in Irene, Pretoria. Foto: Masi Losi

Die ANC is nou reeds vir ’n dekade en ’n half in ’n ewigdurende stryd met homself gewikkel.

Afgesien van die kort tydperk van organisatoriese hegemonie onder oudpres. Jacob Zuma tydens die hoogtepunt van die grootskaalse staatskapingsprojek tussen 2011 en 2016, is interne stryd ’n voortdurende kenmerk van die voormalige bevrydingsbeweging wat stadig van binne daardeur weggevreet word.

Onlangse gebeure toon dat hierdie interne stryd self meer wydverspreid en vuig is as wat voorheen gemeen is en dat vyande nou selfs bygekom word met bewerings van seksuele misdrywe.

Die nuus die afgelope week dat Zizi Kodwa, die party se waarnemende woordvoerder, van sy pligte onthef is, was nie onverwags nie. Toe die amptelike woordvoerder, Pule Mabe, van seksuele wangedrag beskuldig is, is hy ook gevra om sy neer pos te lê. En in hierdie land, met sy verskriklike geskiedenis van geslagsgeweld, moet beweerde seksuele oortredings ondersoek word.

Maar die interne magstryd speel ook in ander arenas af.

Kodwa het volgens berigte al die bewerings teen hom ontken. Dié bewerings sluit onder meer wilde partytjies in die Michelangelo-hotel in Sandton, die gebruik van die sogenaamde “verkragtingsdwelm” Rohypnol en ’n beweerde verkragting in. Kodwa het regsadvies ingewin en sê hy glo dat hy die slagoffer van gemene spel en politieke afpersing is.

Die manier waarop die bewerings aan die lig gekom het, was wel ongewoon. Jessie Duarte, wat histories nie in dieselfde kamp as pres. Cyril Ramaphosa sit nie, was besig met ’n mediakonferensie oor pogings om die politieke wanorde in Noordwes die hoof te bied toe sy terloops op ’n vraag erken het dat daar sulke bewerings teen Kodwa gemaak is.

Normaalweg skram ANC-amptenare weg van vrae soos dit, veral op mediakonferensies. In Mabe se geval het die party ’n verklaring uitgereik eers nadat die storie die ronde begin doen het. Maar met Kodwa het Duarte so te sê die besonderhede oor sy beweerde misdryf aan die media aangebied.

Kodwa is natuurlik meer as net die ANC se waarnemende woordvoerder. Hy is ook Ramaphosa se man in die slangnes van Luthuli-huis. Amptelik is hy die hoof van die presidentskantoor in die ANC en is sy taak om die partyleier op hoogte te hou van alles wat in die party se hoofkwartier gebeur.

Gegewe die feit dat Ramaphosa in die Uniegebou besig is om die nagevolge van staatskaping te takel, word Duarte en Ace Maga-shule grootliks aan hulself oorgelaat in Johannesburg.

Dit is dus Kodwa se werk om seker te maak dat niks gebeur sonder dat Ramaphosa daarvan weet nie. En met al die faksiegevegte en mobilisering aan die gang voor die ANC se nasionale algemene raadsvergadering, die middeltermyn-konferensie wat volgende jaar gaan plaasvind, maak dit sin om van Kodwa ontslae te raak.

Maar die interne magstryd speel ook in ander arenas af. Verlede week het die ANC ’n verklaring uitgereik waarin twee Ramaphosa-bondgenote, Pravin Gordhan en Senzo Mchunu, aangeval is omdat hulle na bewering swart beroepslui in hul visier het. Só ’n verklaring word gewoonlik deur die sekretaris-generaal, Ace Magashule, afgeteken, maar dié een is nie onder enigiemand se naam uitgereik nie.

Gordhan was woedend en het aangedring dat die verklaring teruggetrek word en ’n verskoning is aangebied binne 24 uur nadat dit vrygestel is. Kodwa het na bewering eers van die verklaring bewus geword nadat joernaliste hom daaroor begin bel het.

Beteken dit dat Magashule, wat voorheen gesê het dat “hulle” die ANC in 2022 “gaan terugneem” sy kantoor gebruik vir faksiegevegte?

Hy is gekant teen die planne van Gordhan en Tito Mboweni, die minister van finansies, om die personeelkorps van die staatsdiens en semistaatsinstellings te verklein. En hy is baie senuweeagtig oor sy eie vingerafdrukke oral op die staatskapingsmasjinerie.

Een van die drie fronte waar Ramaphosa sy gevegte voer is in die ANC self (die ander twee is in die staat en aan die ekonomiese front). Hy wil die party herstel nadat hy tot die gevolgtrekking gekom het dat die staat slegs kan funksioneer as die party in beter gesondheid verkeer.

Die taak, gegewe wat die afgelope 15 jaar gebeur het, is reusagtig en byna onmoontlik.

Om enige hoop te hê om die ANC te stabiliseer, sal Ramaphosa dit moet regkry om die party te laat saamstaan voor die Mei-verkiesing en dat partylede daarna beter moet saamwerk. Dit is iets wat die ANC vir jare nie kon regkry nie. Interne teenstrydighede, agterdog, gevestigde belange, misdadigheid, patronaatskappe en faksies maak dit haas onmoontlik.

Enigeen wat daaraan twyfel hoef maar net te kyk na die gebeure van die afgelope week.

  • Pieter du Toit is assistent-redakteur van News24.
Meer oor:  Zizi Kodwa  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.