Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Godfathers het ook kinderjare

Voor sy misterieuse verdwyning in Januarie 2011 was Ralph Haynes die mees berugte rampokker aan die Wes-Rand, skryf Izak du Plessis/

Ralph, Nick Durandt en die bokser Mikey Schultz.

Daar is ’n kenmerkende tamheid in die komposisie van ’n werklose mens wat op ’n stoep sit.

Een van die bene rus gewoonlik op die stoepmuurtjie. Die effens verhewe been dien as stut vir die elmboog wat die res van die arm staande hou sodat die ken in die palm van die hand kan rus. Die wysvinger en middelvinger hou ’n sigaret vas wat elke dan en wan met ’n smakkie van die lippe stookgemaak word. Die ander hand klem ’n afgematte beker met koffie of tee daarin vas wat op die laer been gebalanseer word.

Dis ’n algemene gesig in baie van die land se dorpe waar die aanvraag na ambagsmanne en ander werkers se vaardighede op en af beweeg saam met die eb en vloed van die ekonomie.

                                                                                                       ***

Die Haynes-gesin van Randfontein se armoede kan nouliks aan ’n willose apatie toegeskryf word. Barney Haynes was ’n bouer wat volgens die mense van Randfontein ’n barshou kon werk. Hy was ook ’n harde man wat die roede nie gespaar het nie. Ma Meitjie, soos die familie haar noem, was ’n parmantige entjie mens wat hand en tand vir haar kinders baklei het.

Wat toe volg, is iets wat die gewone mens net in flieks sien.

Maar die gesin was brandarm. Die een rede het te make met die feit dat die dorp se voorspoed afhang van hoe produksie by die myne lyk. Die ander rede was dat hulle 17 kinders moes grootmaak. Die gesin het in ’n kasarm van ’n mynhuis, gebou van sink, in Robinson agter die ou stadsaal gebly. Menige mens sal vir jou vertel dat die Haynes-gesin dit minder as breed gehad het. Van Ralph se vriende vertel hoe die vuil wasgoed sommige dae sommer kniehoogte deur die huis met vyf slaapkamers gelê het. Van die gesinslede moes sommer op die vuil wasgoed slaap omdat daar nie genoeg beddens was nie. Ralph was een van hulle.

Ralph en Dawie as jong manne op Randfontein.

Dis dié armoede waarin Ralph se toekoms as Godfather vasgelê is.

                                                                                     ***

’n Mens moes jou egter nie met Ralph misgis nie. Hy was ’n mens met ’n uitsonderlike intellek, fotogeniese geheue en ’n oorrompelende oorredingsvermoë. Elke liewe mens met wie ek gepraat het, van die man eenkant in die hoek van ’n kroeg in Randfontein tot die land se bekendste mense, het binne die eerste paar sinne van ons gesprekke groot nadruk geplaas op hierdie uitsonderlike hoedanighede van Ralph. Hy kon die fynste besonderhede van gesprekke onthou en hy het dit dikwels selfs teen mense gebruik. Jy was onvermydelik aan die verloorkant as jy met Ralph sake gedoen het.

Ralph, Joost van der Westhuizen en Eugene Viljoen (Klein Ralph).

Dit was vir mense lekker in sy geselskap. Elke mens wat oor hom praat benadruk sy charisma, sy vriendelikheid en die respek wat hy betoon het as jy in sy goeie boekies was. Maar jy moes maar jou hand oor jou kos hou as daar gebid word met Ralph aan tafel, anders sou jou brood ná die gebed nie meer daar wees nie. En aan planne het dit nooit ontbreek nie.

Ander misdaad het gou gevolg. Van die voorvalle kan met die voordeel van terugskouing as snaaks beskou word, maar eintlik was dit meestal gevaarlike onwettighede wat later hul tol geëis het. Een so ’n voorval was toe Ralph besluit het om die destydse poskantoor op die dorp te beroof. Ralph het aan Jacky vertel hulle het met ’n groot geskal daar ingestorm, net om hulle vas te loop in Ralph se ma, Meitjie. Vir die vrou wat tot die dood vir haar kinders sou baklei, was die oomblik net te veel.

                                                                                      ***

Dit is verstommend hoeveel van die land se bekendste misdadigers en korrupte polisiemanne deel was van hierdie vriendekring. Hy was met elkeen van hulle goed bevriend en hulle het talle misdade saam gepleeg. Maar dis asof elke vriendskap en verhouding wat Ralph gehad het in ’n vakuum bestaan het.

Jacky en Steve Hofmeyr saam met twee vriendinne.

Jy sal selde dieselfde stories uit elkeen van daardie vriende se monde hoor. Dalk dieselfde soort stories, maar elkeen se verhouding met Ralph het op ’n ander vlak bestaan, wat dit daarom moeilik maak om ’n gesinchroniseerde storie van Ralph te vertel en te sorg dat elke karakter tot sy reg kom in die groter verhaal.

Een van die bekendste lede was Ferdi Barnard. Dan was daar die Goosen-broers, Corrie, Johan en Mike, Spook Bothma, Charlie Landman, voormalige hoof van Brixton se moord-en-roof-eenheid, Gert Marais en ’n norring ander mense wat saam met Haynes uit Randfontein kom.

                                                                                      ***

André, wat saam met Ralph in die verbeteringskool was, se broer, Gideon, was een van Ralph se jeughelde. Ralph het dikwels vir Jacky vertel hoe Lama, soos Gideon bekend was, van hom ’n man gemaak het. Lama was ’n aantreklike jong man wat daardie tyd baie aandag onder die jong vroue getrek het. Volgens Ralph het Lama hom geleer hoe om meisies te beïndruk ten einde te score, soos hulle dit genoem het. “Hy is die ou wat my leer naai het,” het Ralph altyd met groot genoegdoening vir enigiemand met ore vertel. Ralph het vir Lama aanbid, sê Jacky.

Daarom was Lama se dood in 1979 ’n groot keerpunt in Ralph se lewe. Die seuns het dikwels by Lama se woonstel onder die brug oorkant Riebeeck Hoërskool gekuier. Daar het hulle saam met die ouer manne gerook, gedrink en soms selfs dwelms gebruik. Hoewel Ralph nooit gerook of gedrink het nie en ook nie in daardie tyd dwelms gebruik het nie, het hy graag saam gekuier.

Ralph Haynes en Jacky op hul troudag.

Dit is so ’n kuiersessie, een agtermiddag in 1979, toe Ralph nog maar net 14 jaar oud was, wat in ’n tragedie geëindig het.

Lama het verveeld geraak met die gekuier en in die woonstel gaan slaap. Hy het die seuns uitgesluit. Mark Francis, wat later jare deur Ferdi Barnard met ’n bofbalkolf in Johannesburg doodgeslaan is, besluit om kaal in die straat te nael. Die bure stel die polisie in kennis. Ene Dorf­ling word uitgestuur om die saak te ondersoek. Hy dring daarop aan om met Lama te praat, maar die seuns sê hy slaap, hy kan nie met hom praat nie.

Dorfling besluit om deur die badkamervenster te klim en hy ruk vir Lama uit die bed. Lama klap vir Dorfling, wat afhardloop na onder om sy hond te gaan haal. In daardie tyd het die groep seuns agter die woonstel by die trappies bymekaargebondel.

Dorfling laat sy hond los en dié byt vir Lama aan die bobeen. Lama gryp die hond vas en slinger hom oor die balkon waar hy hom onder op die sementblad doodval. Hy draai om en slaan vir Dorfling met een vuishou plat. Dorfling spring op en hardloop met die trappies na onder waar die hond lê, Ralph en Lama agterna, maar Dorfling pluk sy pistool uit en rig dit op hulle. Lama stamp vir Ralph eenkant toe en in die proses tref die koeël hom, duidelik noodlottig.

Ralph was histeries. Hy het met Lama in sy arms gesit en huil terwyl die laaste lewe stadig maar seker uit sy liggaam ontsnap. Iemand het vir Lama in ’n kar gelaai en met hom Robinson Deep-hospitaal toe gejaag, van waar hy met ’n ambulans Paardekraal toe geneem is. Maar dit was te laat.

Ralph Haynes

Daar word gesê dat talle mense in Randfontein verlig was oor Lama se dood. Maar daar is ook ander wat sy vriende was en hulle vertel jou van ’n man wat soos Ralph deur dik en dun by jou gestaan het as hy aan jou kant was. Jacky sit vandag nog met Lama se baadjie wat hy daardie dag aangehad het. Ralph het nooit van hom vergeet nie en hom gereeld in sy stories opgehaal.

                                                                                     ***

Sy tydperk in die verbeteringskool het nie Ralph se misdaadbedrywighede tot ’n einde gebring nie. Hy is op ’n baie jong ouderdom van moord aangekla en skuldig bevind. Hy was nog nie 21 jaar oud nie.

Barney het by sy pa gehoor ’n sekere meneer Lowe stuur altyd iemand op ’n Vrydagmiddag met geld om sy werkers te betaal. Die geld is by Lowe se sakeperseel opgelaai en na Cook Reduction Works in die distrik geneem. Ralph, Barney en Mike Goosen, Corrie se broer, besluit om die kar voor te lê en die bestuurder te beroof.

Hulle beplan die rooftog saam met nog twee mans, Enoch Mazibuko en Phillip Tlhapane, tot in die fynste besonderhede. Ralph reël ’n handmasjiengeweer en Mike steel ’n Cortina vir dié doel. Ralph en Barney sorg dat hulle in die nabyheid bly en Mike laai die ander twee manne op om die motor met die geld te volg.

Wat toe volg, is iets wat die gewone mens net in flieks sien. Onbewus van sy naderende einde, laai Charl Marais op 22 Februarie 1985 die geld in ’n Mercedes-Benz en vertrek om die werkers te gaan betaal. Die Cortina met Mike, Enoch en Phillip is agterna. Enoch hanteer die vuurwapen. By ’n kruising jaag hulle voor die Mercedes in om die pad te versper. Enoch, met die vuurwapen, en Phillip spring onmiddellik uit die Cortina. Phillip, ’n bul van ’n man, slaan Charl met een hou op die kennebak katswink en Enoch trek die sneller. Een koeël is deur Charl se skouer reguit na sy skedel, waar dit vasgeslaan het. Nog ’n koeël is deur sy bors.

Tussen die skote deur beweeg die Mercedes vorentoe en bots teen die Cortina. Phillip gryp die aktetas met die geld van die agtersitplek af en hulle jaag weg na ’n afgeleë plek toe. Daar word die aktetas leeggemaak en saam met die kar agtergelaat. Die groep is van daar na Corrie se ma se huis om die geld, sowat R14 000, te verdeel. Hulle word baie vinnig in hegtenis geneem en aangekla van 1. Moord; 2. Roof met verswarende omstandighede; 3 en 4. Die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie; en 5. Diefstal.

Die mans word aanvanklik saam verhoor, maar dit word later geskei. Mike word skuldig bevind aan moord, roof met verswarende omstandighede en diefstal. Hiervoor kry hy onderskeidelik die doodstraf, 12 jaar en vyf jaar tronkstraf. Mike besluit egter om ’n staatsgetuie te word.

Volgens sy getuienis was die vuurwapen nooit bedoel om iemand te skiet nie, maar net om vir Charl te intimideer. Die aanvanklike ooreenkoms tussen die vyf was dat een hou van Phillip genoeg sou wees om Charl buite aksie te stel.

Volgens Barney se inligting het die maatskappy se koeriers opdrag gehad om hulle nooit in die geval van ’n rooftog teen te sit nie. Meneer Lowe het dit in sy getuienis bevestig. Die opdrag was dus om nie te skiet nie.

Ralph Haynes: Godfather van die Wes-Randword uitgegee deur Penguin.

Op pad na die punt waar hulle die Mercedes wou voorkeer, het Enoch die vuurwapen uit ’n sak gehaal. Hy het voor langs Mike gesit. Mike het hom gevra om die stuurwiel vas te hou terwyl hy die magasyn uit die wapen gehaal en seker gemaak het daar is nie ’n koeël in die loop nie. Hy wou seker maak daar word nie geskiet nie, sê Mike. Hy het die vuurwapen toe vir Enoch teruggegee en die magasyn op sy skoot neergesit. Volgens Mike se getuienis moet Enoch die magasyn teruggesit het. Iets wat Enoch aanvanklik ontken het, maar later het hy toegegee.

Ralph en Barney word skuldig bevind aan moord, roof met verswarende omstandighede en diefstal. Hulle kry die doodstraf, maar in 1988 kry hulle verlof tot appèl en word hul vonnis verander na tronkstraf. Kort daarna kry Ralph en Barney presidensiële kwytskelding en word hulle in 1991 vrygelaat. Mike se skuldigbevinding en vonnis vir moord is ook in 1989 tersyde gestel toe hy appèl aangeteken het.

Ralph se innemendheid en sy oorredingsvermoë het gou van hom ’n ster in die tronk onder bewaarders en gevangenes gemaak. Hy word as monitor ingespan wat spesifieke voorregte meebring, onder meer groter bewegingsvryheid. Sy netwerk het ook gou van hom ’n man gemaak wat genader kan word as jy ’n probleem het of iets wil hê. Hy kon van drank tot dwelms vir jou reël.

Jannie Schultz, ’n medegevangene, vertel hoe Ralph gesorg het dat daar ’n groot drankvoorraad in hul sel was. Hulle het selfs elektriese stofies gehad en het ’n koningslewe in die tronk gelei.

Maar die beste storie is hoe Ralph later selfs “naweekpas” gekry het. Roelf du Plessis, bekende renjaer en jeugvriend van Ralph, vertel hoe hy Vrydagmiddae by sy paneelklopperonderneming aangekom het en dan ’n voertuig gereël het om die naweek mee rond te ry. En hy het getrou elke Sondagmiddag weer by die tronk aangemeld soos wat hy en ’n bewaarder afgespreek het.

Op dié manier het hy selfs ’n groep boksers een middag by Roelf aangebring met die versoek om vir hom ’n bussie te leen sodat hy die ouens na ’n toernooi toe kan vat. Alles omdat hy in staat was om mense met sy sjarme te oorrompel.

Boetie Panel Beater, Ralph se broer, het hom in Junie 1991 by die tronk in Krugersdorp gaan haal toe hy vrygelaat is. Ná sy vrylating het Ralph by Dawie Lötter, ’n jeugvriend van hom, op Dawie se plot in Randfontein gaan bly. Hier het hy sy lewe weer stukkie vir stukkie bymekaargeskraap en kort voor lank het hy en sy ou vriende van skooldae ’n skrikbewind aan die Wes-Rand gevoer.

Hy was net 25 jaar oud, maar Ralph Haynes het toe reeds van die magtigste netwerke binne en buite die polisie gehad om hom te help in sy droom om armoede te ontvlug.

* Dié artikel is ’n geredigeerde uittreksel uit Du Plessis se nuwe boek, Ralph Haynes: Godfather van die Wes-Rand.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.