Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Goeies wen net-net

Dit is met gemengde gevoelens dat ’n mens na pres. Cyril Ramaphosa se eerste kabinet kyk. Maar op kritieke plekke het hy tog die oorhand gekry met sy skuiwe, skryf Barnard Beukman.

Om, soos wat sommige doen, pres. Cyril Ramaphosa kwalik te neem oor sy “kompromis-kabinet”, is onregverdig.

Van die oomblik dat die leiersuitslae op die ANC se nasionale konferensie bekend gemaak is, was dit ’n voldonge feit dat hy met ’n daaglikse kompromis gaan lei in ’n hoogs verdeelde organisasie.

Daardie uitslag het ook reeds bepaal dat David Mabuza die nuwe adjunkpresident sou word. Selfs in ’n sterk verenigde organisasie sou enige politikus net in werklik buitengewone omstandighede so ’n pos van die hand wys.

Die ANC-kamp wat nog as die Zuma-faksie bekend staan, koester ’n groot wrok teen Mabuza oor sy “verraad” deur op die laaste oomblik
Ramaphosa as leier te steun eerder as dr. Nkosazana Dlamini-Zuma.

Verder was hy nooit werklik deel van al die uiteenlopende groeperinge wat die Ramaphosa-kamp gevorm het nie. Om sy onafhanklike magsbasis te kan konsolideer en laat groei, sou dit ’n fout gewees het om so ’n geleentheid van die hand te wys.

Daar is baie vrae oor hoe korrupsievry Mabuza werklik is en hy word gekoppel aan allerlei Mafia-agtige politieke aktiwiteite in Mpumalanga. Of hy dit gaan oorleef en of dit hom gaan inhaal, sal net die tyd leer.

Die goeie en die groot skuiwe sluit in wie uitgeskop is. Uiteindelik. Weg is Lynne Brown, Mosebenzi Zwane, Des van Rooyen, David Mahlobo, Nathi Nhleko, Bongani Bongo en Faith Muthambi, om die belangrikes op die uitskuiflys te noem.

Benewens dat hulle almal opsigtelik patetiese ministers was, was van hulle direk of indirek handlangers in Jacob Zuma en die Gupta-familie se spel van staatskaping of op ’n ander manier by Zuma se politieke kombuiskabinet betrokke.

Die vier opspraakwekkendste skuiwe wat Ramaphosa gedoen het, is Nhlanhla Nene terug na finansies, Pravin Gordhan by openbare ondernemings, Gwede Mantashe by minerale bronne en Derek Hanekom terug na toerisme.

Hierdeur bult Ramaphosa in ’n mate spiere deur van sy bondgenote in kritieke portefeuljes te ontplooi.

Hierdeur bult Ramaphosa in ’n mate spiere deur van sy bondgenote in kritieke portefeuljes te ontplooi. En om ’n doelbewuste interne politieke boodskap te stuur.

Hanekom het die eerste mosie van wantroue in Zuma in die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) ingestel. En Nene en Gordhan is deur Zuma afgedank nadat hulle as ministers van finansies in verset teen sy staatskaping gekom het.

Pravin Gordhan

Met die laasgenoemde twee het hy die bonus van markvertroue en geloofwaardigheid, wat van kritieke belang in die ekonomiese sfeer is.

Die twee se simboliese waarde oortref by verre enige bekwaamheidsfaktor wat hulle na hul kantoor mag bring of nie en stuur ’n sterk sein van beginselvastheid en beleidsekerheid na die beleggingswêreld.

Soms is simboliek in die politiek van groot belang, soos in dié geval.

Dit is ook ’n mate van ’n regstelling nadat dié drie op ’n manier politieke martelare van die Zuma-era geword het. Dit net omdat hulle rug styf gemaak het teen korrupsie.

Vir die mynbousektor sal Man­tashe se aanstelling ook groter stabiliteit en rede verteenwoordig ná dit wat hulle onder Zwane moes deurmaak.

Dr. Blade Nzimande se terugkeer is waarskynlik ook meer ’n simboliese buiging in die rigting van die SAKP vir sy hulp in die stryd teen Zuma,

Dr. Blade Nzimande se terugkeer is waarskynlik ook meer ’n simboliese buiging in die rigting van die SAKP vir sy hulp in die stryd teen Zuma – en teenoor ’n alliansieveteraan wat ook deur Zuma met ’n afdanking verneder is. Watter bydrae hy werklik tot spoedeisende dienslewering gaan lewer, was waarskynlik nie die oorweging nie. (As hy net kan help om e-tol eens en vir altyd nek om te draai, sal dit reeds ’n goeie bydrae wees.)

Die SAKP was ’n groot faktor daarin dat Zuma die nasionale groeiplan op die rak laat beland het. Nou is dit Ramaphosa se verklaarde groot plan. Maar in terme van verteenwoordiging in die ANC se NUK is die SAKP ná die vorige konferensie erg verswak en sal hy nie noodwendig ’n remskoen kan wees nie.

Zweli Mkhize, voormalige tesourier-generaal, en Dlamini-Zuma, wat Ramaphosa se mededinger was om die ANC-leierskap, moet help om die opponerende kamp, KwaZulu-Natal en vroue gelukkig te hou.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma. Sy en haar ­eksman deel dieselfde vriende en het dieselfde retoriek. Foto: Leon Sadiki

Die portefeulje samewerkende regering en tradisionele sake was tot nou grootliks ’n sitplek vir nuttelose kabinetspassasiers, dit terwyl plaaslike regering in die land bloei. Hopelik gee Mkhize die departement die politieke aansien wat nodig is om moeilike besluite te neem en deur te voer.

Naledi Pandor by hoër onderwys en opleiding is uiteraard ’n versterking in ’n sleutelportefeulje en so ook Lindiwe Sisulu by internasionale
betrekkinge en samewerking. Sy bring beslis ook die nodige aansien na die rol wat so ’n pos wêreldwyd verg.

Ná die naelskraapse leiersuitslag was Dlamini-Zuma se aanstelling ook reeds deur die stand van die planete bepaal. ’n Pos in die president se kantoor belas met monitering en evaluering en sonder ’n departement is in wese ’n skadelose rol waarvan die invloed deur Ramaphosa self gereguleer sal kan word.

Haar voorganger in die pos, Jeff Radebe, moet die geloofwaardigheid van die energieportefeulje verbeter. Dit is ’n besliste verbetering op verskeie voorgangers en staatskapers in die pos.

Hoe sal die land se vroue daarop reageer dat Ramaphosa se beste buiging in hul rigting was om Bathabile Dlamini minister van vroue in die presidensie te maak?

Van vroue gepraat: Hoe sal die land se vroue daarop reageer dat Ramaphosa se beste buiging in hul rigting was om Bathabile Dlamini minister van vroue in die presidensie te maak?

Sy moes tot elke prys uit enige portefeulje gehou word waar sy verdere skade kon aanrig. Hoewel wyd gevra is dat sy uit die kabinet gelaat word, het haar politieke pos as voorsitter van die ANC-vroueliga en lidmaatskap van die NUK en nasionale werkkomitee haar waarskynlik gered. Nog ’n geval van binne dophou eerder as dat sy buite rondhardloop. In die praktyk is dit ook ’n portefeulje sonder ’n departement.

Die grootste skok en baie onwelkome aanstelling is dié van die hoogs omstrede Zuma-rasieleier Nomvula Mokonyane as minister van kommunikasie. Dit sluit uitsaaiwese en kwessies soos mediaregulering in.

Wat het Ramaphosa besiel? Sy het oor haar kop die sogenaamde Watergate-skandaal, waarin die vloei van water van Lesotho na Suid-Afrika vir etlike jare vertraag is. Dit was omdat sy dienskontrakte deur veel duurder kontrakte laat vervang het tot voordeel van ANC-verwante maatskappye. Die kwessie hang nog in die lug.

Maar sy is politiek gesproke sterk in die ANC en het goed gevaar in verkiesings vir gesagsliggame. Hier gaan dit waarskynlik oor die balans tussen die faksies.

Malusi Gigaba se skuif weg van die tesourie was nie ’n verrassing nie en ook nie sy behoud in die kabinet nie.

Malusi Gigaba se skuif weg van die tesourie was nie ’n verrassing nie en ook nie sy behoud in die kabinet nie. Maar ook oor hom is daar nog heelwat vrae as ’n eens vermeende Gupta-bemagtiger.

Nugter weet ook wat Thulas Nxesi weer by openbare werke doen. In sy vorige skof is die Nkandla-bouwerk grootliks deur sy departement ge­koördineer.

Is Bheki Cele nie eens weens probleme met gebouhuurkontrake afgedank as polisiekommissaris nie? Hy was glo lief daarvoor om self sindikaatbase te bel en te sê: “Ons kom vir jou.”

Bheki Cele. Foto: SAPA

Weer eens gaan net die tyd leer wat hy in dié ronde gaan oplewer as minister van polisie. Hy is ’n sterk Ramaphosa-man wat vroeg reeds sy nek teen Zuma uitgesteek het.

Watter waarde Maite Nkoana-Ma­shabane ná buitelandse sake gaan skep op die sensitiewe terrein van landbou en grondsake, is onbekend. Haar adjunk is die staatskapings­ideoloog Sfiso Buthelezi.

Zuma was sterk in beheer van die intelligensie-omgewing en daar is vas geglo hy gebruik dit om vriend en vyand te monitor. Die meer onbekende Dipuo Letsatsi-Duba sal beslis nie so ’n pos kry as die Ramaphosa-kamp haar nie vertrou nie. Sy was in ballingskap ’n lid van Umkhonto weSizwe en het in Zimbabwe en Kuba studeer. By navraag word die voormalige adjunkminister en LUR in Limpopo as ’n harde werker met interne aansien beskryf.

Onder die ander skuiwe en die res van die kabinet wat onaangeraak is, is dit maar die gewone klomp – van swak tot erg gemiddeld en hier en daar dalk effe beter.

Waarnemers mag dalk verskil, maar dit lyk tog of Ramaphosa sterker kan staan ná die skommeling as voor dit, met die goeies wat net-net die posbesetting wen. Veral sy greep op die ekonomiese groepering is van belang.

Die uitdaging bly om al hul planne te kan uitvoer. Met erg verswakte en onproduktiewe staatsdepartemente is die “om dit gedoen te kry”- deel die volgende uitdaging.

Beukman is redakteur van Beeld.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.