Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Golfoorlog III eers op ys

Dit lyk nie of Kassem Soleimani se dood op ’n oorlog tussen die VSA en Iran afstuur nie, skryf Leopold Scholtz.

Duisende Iraniërs woon die begrafnisseremonie by van genl.-maj. Kassem Soleimani in Teheran, Iran. Foto: Getty Images

Die vuurpyl het uit die niet verskyn. Die volgende oomblik was genl.maj. Kassem Soleimani, bevelvoerder van Iran se Revolusionêre Garde, se konvooi in vlamme.

Hy was in Irak om aanvalle op Amerikaanse teikens te beplan, aldus pres. Donald Trump. Dis onmoontlik om in dié stadium te bepaal of dit waar is, maar uiteindelik maak dit nie soveel saak nie; sy dood kan ’n kettingreaksie aan die gang sit wat kan uitloop op . . . ja, presies wat?

Iran het onmiddellik met wraak gedreig. In die loop van die week het 12 Iranse missiele Amerikaanse teikens in Irak getref. Of dit hiermee sal eindig, en of dit net die begin is, staan nog te besien.

Dalk moet ’n mens begin by ’n antwoord wat die Pruisiese militêre teoretikus genl. Carl von Clausewitz aan die begin van die 19de eeu gegee het. Oorlog, het hy in sy beroemde werk Vom Kriege geskryf, is niks anders nie as die voortsetting van politiek, maar dan met ander middele. Hy gebruik dié metafoor: Die grammatika van oorlog en politiek verskil weliswaar, maar nie die intrinsieke logika waarmee hulle verklaar moet word nie.

Alle state probeer hul eie voordeel nastreef, dikwels ten koste van ander state. In die gepaardgaande wrywing en wedywering kan ’n hele skaal van instrumente gebruik word. Dit wissel van vreedsame diplomasie tot volskaalse oorlog. Tussenin is daar ’n eindelose reeks skakerings; nie elke geskil hoef outomaties op ’n totale konflik soos die twee wêreldoorloë uit te loop nie.

‘Daar is geen aptyt vir oorlog in Iran nie.’

Wat nou tussen Amerika en Iran gebeur, is êrens op daardie skaal tussen die twee uiterstes. Die groot vraag is hoe sake hiervandaan gaan ontwikkel.

Amerika het in sy onmiddellike doel geslaag, te wete die uitskakel van die man wat beskou word as die bose genie agter baie van die anti-Amerikaanse oorlogsdade in die Midde-Ooste.

Iran het eweneens in sy onmiddellike doel geslaag. Met die missielaanvalle het hy Amerika “in sy gesig geklap”, soos die land se religieuse opperleier, ajatolla Ali Khamenei, dit gestel het.

Een van twee scenario’s is moontlik.

Die een is dat albei lande se bloed- en wraaklus bevredig is, dat albei insien dat dinge ver genoeg gegaan het, dat ’n volskaalse oorlog rasioneel gesproke teen hul belange is, en dat hulle dus voorlopig altans hier halt roep.

Dít is die moontlikheid waarop die grootste deel van die wêreld hoop, waarvoor veral Duitsland en Frankryk hulle agter die skerms freneties beywer.

Europa kan natuurlik die meeste onder ’n oorlog tussen Amerika en Iran ly. Dit kan ’n kettingreaksie in die Midde-Ooste aan die gang sit wat weer ’n vloedgolf vlugtelinge in die rigting van Europa laat stroom.

Nietemin, dalk moet ’n mens jou nie deur die verskriklike emosie waarmee die Soleimani-begrafnis gepaard gegaan het, laat mislei nie. Soos die Irans-Amerikaanse joernalis Negar Mortazavi vandeesweek in die Britse Independent skryf: “Daar is geen aptyt vir oorlog in Iran nie.”

Om die waarheid te sê, die Iranse leiers het ná die missielaanval op die Amerikaners moeite gedoen om dit in openbare uitsprake duidelik te maak dat hulle nie uit is op ’n oorlog met Amerika nie en dat hulle hul optrede “voltooi” het.

’n Mens sal natuurlik eers later kan weet hoe opreg hulle hiermee is. Intussen is dit wel opvallend dat Iran Irak (en onregstreeks ook die Amerikaners) enkele minute voor hul wraakaanval gewaarsku het dat die missiele op pad is.

Daarby is dit duidelik dat die Iranse missiele, wat volgens kenners hoogs akkuraat is, spesifiek op leë voorraad-opslagplekke gerig is, en dat moeite gedoen is om lewensverlies te vermy. Dit dui daarop dat Iran ’n gespierde simboliese antwoord op die sluipmoord op Soleimani wou gee – maar nie só dat dit oorlog uitlok nie.

Andersyds is ook die Amerikaners nie juis bloedbelus nie.

Luidens ’n peiling die afgelope week stem 43% van die kiesers saam met Trump se besluit om Soleimani te elimineer teenoor 38% wat daarmee verskil. Daarteenoor blyk uit dieselfde peiling dat 57% dit as ’n eskalasie beskou wat verdere militêre konflik sal aanwakker. Net 8% meen dit sal Iran afskrik.

’n Ander peiling se gevolgtrekking is dat 53% van die Amerikaners Trump se breë beleid teenoor Iran (nie noodwendig die likwidasie van Soleimani nie) afkeur. Dis nege persentasiepunte meer as ’n soortgelyke peiling middel Desember.

Diegene wat “sterk verskil” met Trump se beleid, is 39%, oftewel tien persentasiepunte meer as in Desember.

Wat natuurlik enorm help, is dat geen enkele Amerikaner in die Iranse aanval gesterf het nie.

Trump het altyd gesê hy wil uit die Midde-Ooste kom. Sy dade beteken egter dat Amerika dieper ingesuig word.

Daar is ewenwel ook ’n tweede rigting waarin sake kan ontwikkel. ’n Gewese Amerikaanse minister van verdediging (onder Barack Obama), Leon Panetta, het dit só verwoord: “Ek dink die een les wat ons van die oorloë van die 21ste eeu geleer het, is dat ’n mens maklik daar ingly, maar moeilik kan uitkom.”

Die historiese model hiervoor is die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in Augustus 1914. Toe het Duitsland en Oostenryk-Hongarye enersyds en Frankryk, Rusland en Brittanje andersyds mekaar – op grond van valse vyandbeelde – voortdurend verkeerd verstaan.

Niemand wóú destyds ’n oorlog hê nie. En tog, toe hulle hul oë uitvee, was dit die begin van die verskriklikste oorlog tot in daardie stadium.

Niemand dink ’n konvensionele oorlog tussen Iran en Amerika sal só verloop nie. Amerika is ekonomies en militêr vele male sterker as Iran, en laasgenoemde gaan baie seerkry as hy nie oppas nie.

Maar dit wil nie sê Iran is nié gevaarlik nie. Hy kan sy Sjiïtiese bondgenote in Irak, Libanon, Sirië en Jemen kry om Amerika met terreuraanvalle behoorlik skade te berokken.

Trouens, Iran gebruik die rusie om sy invloed in die Midde-Ooste te vergroot. Die besluit van die Irakse parlement om Amerikaanse troepe uit die land te skop sal, as dit deur die regering aanvaar word, ’n hupstoot vir Iran wees.

Nog ’n moondheid wat sy hande gretig vryf by wat tans gebeur, is pres. Wladimir Poetin se Rusland. Poetin is vandeesweek skielik op ’n onaangekondigde besoek aan Damaskus opgemerk, en blykbaar vlieg die diplomatieke boodskappe tussen Moskou en Bagdad heen en weer.

Moet geen fout maak nie: Soleimani was niks anders as ’n terroris nie. Weliswaar ’n held vir sy eie mense, maar iemand wat Amerika se belange aansienlik bedreig het.

Dat Trump besluit het om hom dood te maak, is op sigself begryplik. Die vraag is wanneer jy al die plusse en minusse bymekaartel, of die uiteindelike antwoord positief gaan wees. Wat die lang termyn sal oplewer, weet niemand. Op kort termyn lyk dit egter of Amerika, rasioneel gesien, swakker uit die situasie kom.

 * Dr. Leopold Scholtz is ’n ontleder in Den Haag.

Meer oor:  Kassem Soleimani  |  Donald Trump  |  Vsa  |  Iran  |  Irak  |  Midde-Ooste  |  Oorlog  |  Sluipmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.