Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Goliat is ook bang

Israel se onderdrukking van Palestyne is gesetel in ’n vrees vir sy voortbestaan, skryf Waldimar Pelser.

Aan die vooraand van volgende maand se “Israel-apartheidsweek”, ’n wêreldwye veldtog wat vir sanksies teen die Joodse staat vra, vat Israel se reputasie as die Midde-Ooste se enigste demokrasie die afgelope weke houe.

Een voorval staan veral uit.

’n Selfoonvideo wys hoe ’n Israelse polisieman die 53-jarige Majed al-Fakhouri, ’n Palestyn, verlede Sondagmiddag in die stad Hebron uit sy rolstoel tiep. Daardie een vernederende daad het baie Palestyne se haat vir Israel se gewapende magte weer laat opvlam en is met skok begroet ook onder Westerlinge wat glo Israel het die reg om as ’n Joodse staat te bestaan.

Maar soos met elke geval van konflik in dié met bloed deurweekte streek was daar ’n aanloop.

En die aanloop vertel ’n deel van die storie oor waarom Jode en Palestyne nie meer soos Suid-Afrikaners soek na maniere van saambestaan nie, maar met al hoe meer drif vir ’n egskeiding vra.

Al-Fakhouri is uit sy rolstoel gegooi toe hy ’n 14-jarige Palestynse meisie wou help wat op die sypaadjie lê en bloei het. Sy is deur Israelse soldate geskiet toe sy een met ’n mes wou steek.

Dis ’n daaglikse ding, dié. Palestyne – soms tieners – val Jode – burgerlikes én soldate – met messe aan. Hulle doen dit in Jerusalem en ook elders in hierdie betwiste repie woestyn waar die Jode in 1948 ná die Jodeslagting ’n heenkome beding en sedertdien ’n florerende, hi-tech-ekonomie met meer burgerlike vryhede as enige ander Midde-Oosterse land gebou het. Hulle doen dit ook in die Wesoewer, wat hulle saam met Gasa as hul tuisland sien. Dit is uit protes teen wat hulle ’n onwettige besetting noem. Maar te oordeel na verkiesingsuitslae is die teenwoordigheid van Israelse vuurkrag in Palestynse gebiede in die oë van verreweg die meeste Israelse kiesers die enigste manier om te keer dat ’n vyandiggesinde Palestynse volk Israel van die wêreldkaart vee.

“Ons moet onsself beskerm teen organisasies wat ons hier wil uitgooi. Maar ons gaan nêrens nie, en hulle ook nie,” sê Tal Elal, ’n politikus in die suidelike Israelse woestynstad Berseba. In 2014, tydens die 55 dag lange Gasa-oorlog, het 183 missiele uit dié Palestynse gebied Berseba getref. ’n Jerusalemse koerantredakteur wie se 18-jarige seun pas sy eerste jaar diensplig voltooi het, voeg by: “Jy voel heeltyd hoe die dood bo jou sirkel. Ons probeer sterftes tot ’n minimum beperk onder mense wat probeer om ons uit te wis.”

Op elke moontlike manier, ook met proteskuns, verset Palestyne hulle teen Israel.

Tog is die sterftes in die oë van Israel se kritici te veel.

Sondag is vyf Palestynse aanvallers deur Israelse veiligheidsmagte doodgeskiet, waaronder twee klipgooiende tieners, en sedert die vlaag mesaanvalle in September begin het, trek die dodetal onder Palestyne al bo 100. In dieselfde tyd is 27 Israeli’s en ’n Amerikaner in steek- en skietvoorvalle hier dood.

Terwyl Israeli’s se angs oor terreur die regse, veglustige partye in dié land se parlement, die Knesset, versterk, voed vergrype deur Israel se magtige weermag en polisie ’n waansin, en sê Palestyne vir die wêreld: “Israel is Goliat, en ons is ­Dawid. Vat die boelie nou vas.”

Israeli’s wat hul geliefde tuisland se reputasie probeer beskerm, sê hul Palestynse vyand word deur Jodehaat gedryf.

Op die Facebookblad van Fatah, die Palestynse owerheid in die Wesoewer, het ’n foto van kopbene met Dawidsterre daarop verlede week verskyn, en ’n foto van vegters by die woorde “Die einde van Israel, die bevryding van Palestina”. Verlede jaar het Fatah beweer Israel se geheime diens, Mossad, het die terreuraanvalle in Parys beplan om die gety teen Moslems te draai. Op Palestynse TV sê jong kinders rympies op waarin Jode “barbaarse ape” genoem word.

“Jong kinders word geleer om ons te haat, om ons in die naam van djihad te vermoor,” sê Elal. Vir hom is die 14-jarige tiener met die mes ’n bewys hiervan.

                                                                                                       *****

’n Ortodokse Jood (links) bid by die Westelike Muur in Jerusalem.

In die Wesoewerstad Ramallah laai Palestynse ongeduld op. Teen die agtergrond van ’n portret van Jasser Arafat, die oorlede leier van die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PBO), voer dr. Husam Zomlot vir Fatah die woord in volmaakte
Engels (sy doktorsgraad is aan die London School of Economics verwerf).

“Nou die dag vra ’n Europeër of ek ’n aanhitser is. Toe sê ek: Ek is aanhitser nommer een! Ek word betaal om aan te hits. Maar hits ek aan teen die Jode? Nee, ek doen dit nie. Hits ek aan teen die staat van Israel? Nee, ek doen dit nie. Maar ek hits ongetwyfeld aan teen Israelse besetting. Dis my werk. Ek hits aan teen Israelse nedersettings. Dis my werk. Ek hits aan teen Israel se ontkenning van ons basiese regte. Dit is my werk.”

Soos talle ander Palestyne en hul goedgesindes, hou Zomlot vol dat hy Israel se reg om te bestaan erken. Maar hy is bitter dat Gasa net drie uur elektrisiteit per dag het. Hy is raadop omdat Israel 62% van Palestynse grondgebied deur ’n kombinasie van militêre en burgerlike administrasie beheer. Hy sien rooi omdat Binyamin Netanyahu, Israel se premier en leier van die Likud-party, voortgaan om Joodse nedersettings op grondgebied te bou wat die internasionale gemeenskap (selfs die VSA) sê deel van die Palestyne se toekomstige staat moet wees.

“Met die bouwerk vernietig hulle enige moontlikheid van ’n samehangende Palestynse staat. Hulle beheer ons grense. Hulle beheer ons fiskale beleid. En dis nie net Netanyahu se skuld nie. Israeli’s het gemaklik geword met die situasie, want hulle het die muur.”

A, die muur: ’n 700 km lange beton- en draadafskorting van tot 8 m hoog wat Israel om veiligheidsredes rondom Palestynse gebiede bou. Gebou om Jode en ­Palestyne te skei.

“Israel was eens die blom in die woestyn. Die enigste demokrasie hier. Israel het die golf gery van die Jodeslagting, die grusaamste misdaad tot nog toe. Ons strategie is nou om die Israelse samelewing ongemaklik te maak. Om ’n krisisbesef tuis te bring, ’n gevoel van dringendheid, maar op ’n niegewelddadige manier. Dit is jammer dat mense fokus op ’n desperate kind wat ’n mes gryp.”

Wat dan van Israeli’s se vrese? Zomlot het min simpatie: “Israel het geen reg om oor veiligheid te kla solank hulle onwettig optree nie.

“Ons is nie onskuldig nie. Ons maak vreeslik baie foute – lukrake moorde van mense op ’n bus? Wat ’n simpel Palestynse fout. Sotlik! Keur ek die simpel, primitiewe gebruik van missiele (uit Gasa) goed? Natuurlik nie! Dit is selfmoord. Dit veroorsaak chaos.”

Maar in Israel se skielike onttrekking 11 jaar gelede uit Gasa, waar die ekstremistiese, antijoodse terreurgroep Hamas vinnig oorgeneem het, sien Zomlot ’n siniese komplot. “Israel het Gasa nie bevry nie, maar wel ’n vakuum daar gelaat. Israel omring Gasa steeds. Die mense van Gasa kan nêrens heen gaan nie. Dis ’n opelugtronk, nege jaar al. En jy vra my waarom die mense van Gasa missiele afvuur? Jy sou dieselfde gedoen het as jy so lank vasgekeer was.”

Om die hoek by die Portland Trust, ’n Brits gefinansierde organisasie wat vir ­Palestynse regte veg, beskryf Nura Treish die greep wat Israel het. “Daar is geen vryheid van beweging nie. Nywerhede met uitvoer as basis is dood of sterwend weens grensbeheer. Konstruksie in Israelbeheerde gebiede van die Wesoewer, van huise of fabrieke, vereis Israel se goedkeuring. Slegs een of twee uit 200 aansoeke word gunstig oorweeg.”

Baie mense vra of ’n Palestynse staat nog realisties is, sê Treish.

“Die sleutelprobleem is kollektiewe straf. Solank jy elke enkele Palestyn as ’n terreurbedreiging sien, radikaliseer jy mense.”

Qaddura Fares, ’n Fatah-lid, aktivis vir die regte van gevangenes, en ondersteuner van die Boycott, Divestment and Sanctions (BDS)-beweging wat sanksies teen Israel eis, stem saam: “Elke nuwe Joodse nedersetting in ’n Palestynse gebied sterk die hand van Hamas,” sê hy. “Tien jaar lank al bou hulle nedersettings en paaie, en maak hulle twee onafhanklike state onmoontlik. Ons sal veg. En dis net ’n kwessie van tyd voordat dit ’n volskaalse konfrontasie word.”

                                                                                                                  *****

Keith Elan Isaacson, oorspronklik van Klerksdorp, woon reg op die grens van Gasa.

Sowat 1,3 km van Israel se grens met die Gasastrook is Keith Isaacson, wat in 1975 saam met sy vrou uit Klerksdorp hierheen getrek het, deesdae in beheer van veiligheid vir die Eshkol-streek waar sowat 15 000 mense op 32 kibboetse woon.

Hulle leef in vrees want Israel se “Iron Dome”, ’n ruimte-eeuse missielafweerstelsel wat die meeste vuurpyle uit Gasa afskiet nog voor dit grondvat, werk nie hier nie.

Die sirenes by die bomskuilings van die bombestande skool wat hy ons wys, is nóú stil, maar die stilte beteken volgens Isaacson net een ding: “Hulle (Hamas) maak gereed. Ons sien hoe hulle opleiding doen. Hulle bou tonnels. Hulle eksperimenteer deur missiele in die see in te skiet. Dis net ’n kwessie van tyd.”

Hy onthou die dag in Julie 2014 toe ­Hamas die gebied aangeval het. Daarna het 4 800 missiele gevolg, en Israelse teenaanvalle wat die lewens van meer as 2 200 Palestyne geëis het.

“Ons leef ’n lewe van selfverdediging. Families vra pal vir traumaberading. Kinders van 15 maak hul beddens nat. Hoe nader jy aan die grens is, hoe groter is mense se vrees weens die tonnels.”

Die terreurbedreiging maak dit al hoe moeiliker om Israel as ’n “demokratiese Joodse staat” in stand te hou, sê Yair ­Lapid, oudminister van finansies.

“2006 (die jaar ná Israel se onttrekking uit Gasa) was ’n nasionale trauma. Ons het alles gedoen wat die internasionale gemeenskap gevra het. Eerder as om hospitale of skole te bou, bou Hamas terreurtonnels en sweep hulle mense tot djihad op. Ons weet 900 tot 1 200 mense grawe tans tonnels onder die grens met materiaal wat óns vir hulle in 900 vragmotors elke dag stuur. Israel loop ’n reusagtige risiko in die belang van demokrasie. En natuurlik sal niemand dit onthou nie.”

Baie “verligte” Israeli’s leef ook in bestaansangs, en staan ’n militêre onttrekking uit die Wesoewer teen. Kyk net wat het gebeur nadat Israel in 2000 uit Libanon onttrek het – die Iran-gesteunde terreurgroep Hisbolla se missiele is van daar op Israel gerig – en kyk na Hamas in Gasa, sê Michael B. Oren, ’n lid van die Knesset vir die Kulanu-party. “Ek weet van geen land in die geskiedenis wat hierdie soort bestaansbedreiging moes trotseer nie.”

                                                                                                   *****

In Palestina kwyn demokrasie onder ’n onverkose regering en is Israelse militêre besetting olie op die woedevuur. In Israel worstel Jode, godsdienstig en sekulêr, met die vraag: Kan ons ’n geliefde demokrasie én ’n veilige Joodse staat wees?”

Goliat se vrees, en soms vreeslike klappe, voed Dawid se haat, en soms hatige dade.

“Anders as Suid-Afrika wil ons nie trou nie. Ons wil skei,” sê Khaled Abu Toameh, ’n Palestyns-Israelse joernalis. “En albei kante stem saam. Ons verskil net oor die terme.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.