Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Gou gesoek: Nuwe leiers vir Europa

Leiers met gesag is nodig om dié ou kontinent uit die kloue van demokratiese agteruitgang te red, skryf Jaco Kleynhans.

Betogings in Amsterdam en Eindhoven in Nederland teen Covid-19-maatreëls. Foto’s: Getty Images

Kort nadat Konrad Adenauer die eerste Duitse kanselier ná die Tweede Wêreldoorlog geword het, het hy oor optrede teen sy eie kabinetslede gesê: “Jy gooi nie vuil water weg totdat jy skoon water het nie.”

Adenauer het op 74-jarige ouderdom in 1949 kanselier van ’n gebroke en verdeelde Duitsland geword. Hy is getaak met die hervestiging van ’n demokratiese staatsbestel in Wes-Duitsland en die herskikking van Duitsland se plek op die wêreldverhoog ná die vernietigende oorlog wat gelei het tot miljoene mense se dood, die grootste vernietiging van infrastruktuur in menseheugenis en die verplettering van ’n hele kontinent.

Teen die tyd wat Adenauer (toe 87) uitgetree het, het hy groot steun in Duitsland, Europa en die Westerse wêreld geniet vir die wyse waarop hy Duitsland se Nazi-wortels afgesny en die land gelei het na herstel en die uiteindelike Wirtschaftswunder, oftewel ekonomiese wonderwerk.

Adenauer het Duitsland weer ’n produktiewe en welvarende land met ’n gesonde demokrasie en goeie internasionale bande gemaak, veral met voormalige aartsvyande soos Frankryk, die VSA en Brittanje.

Rutte sal graag ná vanjaar se verkiesing ’n groter rol in Europa speel.

Sy woorde oor skoon en vuil water het natuurlik verwys na die ongelooflike moeilike taak om ’n regering op te bou terwyl heelwat van jou amptenare op die een of ander manier by die verwerplike Nazi-bedeling betrokke was. Hoe bou jy ’n goeie regering terwyl daar nog nie genoeg skoon water is om al die vuil water uit te gooi nie?

Europa gaan vanjaar te midde van ’n krisis groot politieke veranderinge beleef met die uittrede van Angela Merkel en verkiesings in talle ander lande wat tot regeringsveranderings kan lei. In heelwat Europese lande het hoë steunvlakke met die aanvang van die pandemie in groot ongelukkigheid en selfs opstande oorgegaan, en is daar ’n behoefte aan nuwe leierskap. Maar het Europa politieke leiers wat dié kontinent ’n nuwe era in kan lei?

Die omstandighede in Duitsland en die res van Europa in 2021 kan nie direk met die ná-oorlogse tydperk vergelyk word nie, maar daar is tog parallelle. Weer lê ’n krisis op soveel maniere die Europese vasteland lam; dit beklemtoon sy swakhede en opper vrae oor sy toekomsvisie. Die grootste vraag is of Europese lande die regte leiers het, of die regte leiers gaan verkies, om soos Adenauer in die 1950’s verby ’n krisis te tree en iets beter te bou.

Oral word leiers vervang: Duitsland moet teen Oktober ’n nuwe bondskanselier aanwys, want Merkel tree ná byna 16 jaar uit. In Nederland het die regeringskoalisie weens ’n skandaal tot ’n val gekom en neem ’n tussentydse kabinet onder leiding van die gewilde premier, Mark Rutte, tot die verkiesing in Maart waar. In Italië het die premier, Giuseppe Conte, Dinsdag sy bedanking ingedien nadat hy sy meerderheidsteun in die parlement verloor het – dit was die 69ste regering sedert demokratisering in 1946 . . .

Wankelende koalisieregerings oorleef tans uit nood in België, Ierland, Finland, Spanje en die meeste Oossee­state. Terwyl kiesers nog vanjaar in onder meer Bulgarye, Noorweë en Ysland na die stembus gaan, is sittende regerings in Frankryk en Hongarye reeds bekommerd oor hul steunvlakke voor die verkiesings daar volgende jaar.

Wat verskeie krisisse in Europa die afgelope paar jaar bewys het, is dat Merkel geen Adenauer is nie, en Emmanuel Macron in Frankryk geen Charles de Gaulle nie. Tog het Merkel en Macron sedert Macron se verkiesing vier jaar gelede Europa in ’n groot mate met ’n Frans-Duitse konsensusbeleid help stuur.

As uittredende bondskanselier dra Merkel egter nie meer die mantel as die leier na wie Europeërs kyk om ’n beter Europa ná die pandemie te help bedink nie. Dit verduidelik ook Merkel se minder prominente rol die laaste paar maande in belangrike Europese beleidsvraagstukke.

Daarteenoor voer die jong Macron (43), van wie daar sedert 2017 hemelhoë verwagtinge was, ’n oorlewingstryd en getuig sy optrede op die Europese kontinentale verhoog van ’n desperate poging om aansien te herwin.

Dit beteken nie dat Merkel en Macron nie steeds twee van die belangrikste politici in Europa is nie. Die gesaghebbende Amerikaanse Pew-navorsingsentrum het die afgelope drie jaar bevind Merkel word wêreldwyd as die invloedrykste politieke leier beskou. Dit was die eerste keer in dekades dat die Amerikaanse president nie daardie posisie beklee het nie. Merkel is steeds gewild in Duitsland en die hele Europa, en selfs onder baie Duitsers is daar vrese oor hoe die era ná Merkel gaan lyk.

Merkel is geen Adenauer nie, en Macron geen Charles de Gaulle nie.

Macron het in 2019 met die aanwys van die president van die Europese Kommissie bewys hoeveel mag daar steeds in die Franse presidentskap lê toe hy verhoed het dat die Duitser Manfred Weber president van die kommissie word. In ’n kompromis tussen Duitsland en Frankryk is nog ’n Duitser, Ursula von der Leyen, eerder as president van die kommissie aangewys. Von der Leyen is ’n bondgenoot van Merkel en Macron, maar was nooit die konserwatiewe party in die Europese Parlement se voorkeurkandidaat nie. Von der Leyen se benoeming is in Julie 2019 naelskraaps met 383 teen 374 stemme in die Europese Parlement goedgekeur, wat die beperkte mandaat wat sy uit Europa gekry het en haar status as randfiguur en kompromispresident bevestig het. Weinig Europeërs beskou Von der Leyen as ’n groot leier met die regte visie vir Europa.

Macron sukkel ook om ’n meerderheid Franse van sy toekomsvisie te oortuig. Sedert Macron ekonomiese hervormings in 2018 aangekondig het, het dié land die opkoms van die Geelbaadjie-beweging ervaar en groot betogings teen noodsaaklike ekonomiese hervormings wat beoog om Frankryk meer mededingend te maak. Werkloosheid het verlede jaar tot 9% gestyg, veel hoër as in Duitsland, terwyl Frankryk se staatskuld as persentasie van die bruto binnelandse produk die vyfde hoogste in Europa is en 120% kan haal.

Terwyl Frankryk se probleme nie minder raak nie, het Macron homself tog die afgelope jaar of twee as leier op die Europese verhoog probeer posisioneer. Macron noem sy visie vir Europa “strategiese outonomie” wat grootliks verwys na Europa se vermoë om na sy eie verdediging om te sien nadat oudpres. Donald Trump ernstige vrae hieroor geopper het.

Tog is Macron keer op keer na knaende binnelandse krisisse teruggeruk. Terwyl Frankryk baie hard deur die pandemie getref is, het die voorkoms van wrede terreuraanvalle laat verlede jaar ook weer vrae oor Islamitiese ekstremisme laat ontstaan. Ook hier het Macron probeer om langtermynoplossings voor te stel vir onder meer die probleem van Moslem-enklawes en die uitdagings van radikalisering onder jeugdiges en veral immigrante. Tog steek Macron se steun vas rondom 40%. ’n Baie moeilike verkiesingsveldtog vroeg in 2022 lê vir hom voor.

Anders as Macron, wat sonder veel sukses groot planne en oplossings vir Frankryk en Europa se probleme probeer bied het, het Merkel nooit probeer om ’n leier met groot, langtermynplanne te wees nie. Sedert Merkel in 2005 tot bondskanselier verkies is, het sy ’n versigtige tegnokraat geword wat pragmaties en bestendig optree. Merkel se antwoord op die finansiële krisis van 2008, die immigrantekrisis van 2015 en die huidige pandemie het elke keer beoog om vinnige stabiliteit te herstel, toegewings by verskillende partye te onderhandel of diskreet af te dwing, en in baie gevalle die gevolge van moeilike besluite vir volgende generasies uit te stel. Merkel was die bron van stabiliteit waarna Duitsers 75 jaar ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog steeds bly smag, maar sy was nie die visioenêre leier vir ’n Europa op soek na nuwe toekomsideale nie.

Terwyl 81% van Duitsers met Merkel se leierskap tevrede is, is dit nog onseker presies hoe sy oor dekades van nou onthou sal word.

Een van Merkel se grootste leierskapstoetse gaan eintlik nie oor haar nie, maar oor die leiers wat sy agterlaat in haar regering en haar party, die Christen-Demokratiese Unie (CDU). Sedert Merkel in 2018 haar uittrede as partyleier en haar beplande uittrede as kanselier aangekondig het, het die CDU gesukkel om ’n opvolger te vind.

Merkel se eie keuse, Annegret Kramp-Karrenbauer, is in Desember 2018 naelskraaps teen ’n heelwat meer konserwatiewe kandidaat as partyleier verkies. Teen 2019 was dit egter duidelik dat sy nie die mas gaan opkom nie en sy het weer haar uittrede aangekondig. Die konferensie waar ’n nuwe leier verkies moes word, is herhaaldelik uitgestel en toe dit vroeër hierdie maand virtueel plaasgevind het, is Armin Laschet, premier van die deelstaat Noord-Ryn-Wesfale en ’n Merkel-bondgenoot, met ’n klein meerderheid deur die CDU-elite verkies bo dieselfde konserwatiewe verloorkandidaat van 2019, Friedrich Merz.

Laschet is premier van die deelstaat met die grootste bevolking, maar geniet min steun onder CDU-partylede. ’n Peiling het boonop getoon dat slegs 12% van Duitsers hom as hul eerste keuse vir bondskanselier beskou. ’n Meerderheid van CDU-ondersteuners en alle Duitsers wil eerder hê Markus Söder, leier van die CDU se susterparty in Beiere, die Christen-Sosiale Unie, moet die twee partye se kandidaat vir kanselier in die verkiesing in Oktober wees. Söder is meer konserwatief, dog pragmaties; meer charismaties, dog gedissiplineerd. Hy kan ’n vars nuwe rigting vir Duitsland bepaal sou Merkel hom as haar opvolger kan bedink.

Intussen gaan kiesers in vyf Duitse deelstate voor Oktober se federale verkiesing na die stembus om nuwe regerings te verkies. Dit sal ’n belangrike aanduiding gee of Merkel se gewildheid na haar party se strukture in die deelstate kan deursyfer.

Terwyl Merkel teen die einde van vanjaar uit die Duitse, Europese en wêreldpolitiek sal verdwyn, ontstaan die vraag wie die volgende de facto- Europese leier gaan wees. Macron sal dit graag wil wees, maar hy sal eers volgende jaar se verkiesing moet wen.’n Hollander? Of iemand konserwatief?Met Merkel se uittrede sal Rutte, Nederlandse premier, naas Viktor Orbán van Hongarye, die langsdienende regeringshoof in Europa wees.

Rutte se Volksparty vir Vryheid en Demokrasie (VVD) behoort gemaklik eerste te eindig in die verkiesing van 17 Maart, al is dit met net 25% van die stemme. Rutte is reeds sedert 2010 premier en sal waarskynlik ook daarin kan slaag om ’n vierde koalisieregering saam te stel, al is lang en uitgebreide koalisie-onderhandelinge waarskynlik Nederland se voorland. In 2017 het dit maande geneem voordat Rutte ’n koalisieregering van vier partye kon saamstel. Vanjaar is dit selfs moontlik dat vyf partye vir ’n koalisie nodig sal wees weens die voortdurende versplintering van die Nederlandse politiek met 15 partye wat tans verteenwoordiging het in die parlement met sy 150 lede.

Rutte het in Julie verlede jaar saam met die Oostenrykse kanselier, Sebastian Kurz, die alliansie van die sogenaamde spaarsamige vier EU-lidlande, Nederland, Oostenryk, Denemarke en Swede, in onderhandelinge oor ’n ekonomiese hulppakket gelei. Rutte het Europeërs wat ernstig is oor fiskale dissipline beïndruk met sy aandrang op beter beheermaatreëls met die uitbetaling van geld aan EU-lidlande, en vanweë Rutte en Kurz se volgehoue druk in ’n marathon-onderhandelingsessie van al 27 EU-lidlande se staatshoofde is besluit om ’n kleiner deel van die pakket aan lidlande te gee en eerder lenings beskikbaar te stel.

Rutte sal graag ná vanjaar se verkiesing ’n groter rol in Europa wil speel en sal ook wil sien dat die beginsels van veral fiskale dissipline sterker in die EU toegepas word.

’n Sterk opkomende leier in Europa is Rutte se bondgenoot in Oostenryk, Kurz. Die 34-jarige Kurz was die jongste regeringshoof in Europa toe hy in 2017 vir die eerste keer kanselier van Oostenryk geword het. Ná ’n kort onderbreking in 2019 is Kurz sedert 7 Januarie 2020 weer kanselier van Oostenryk en oor die afgelope 12 maande het hy reeds opslae in Europa gemaak.

Kurz is bekend daarvoor dat hy bereid is om die leiers van groter lande soos Duitsland en Frankryk uit te daag en om koalisies met bondgenote in Europa te vorm om spesifieke doelwitte te bereik. As een van die meer konserwatiewe lande in Europa werk Kurz graag saam met die Visegrád-groep van lande – Pole, Tsjeggië, Slowakye en Hongarye – hoewel Oostenryk nie deel van dié groep is nie.

Kurz het tydens sy drie jaar as kanselier van Oostenryk reeds immigrasie streng beperk en die assimilasie van immigrante probeer afdwing deur verpligte Duits-lesse vir alle immigrante en ’n verbod op die dra van volgesig-sluiers. Kurz het ook in 2018 Oostenryk uit die internasionale migrasiepakt onttrek en het al meermale met Merkel oor immigrasie- en vlugtelingkwessies gebots.

Terwyl Kurz ’n meer konserwatiewe Europa met groter waardering vir identiteit en tradisie wil sien ontwikkel, volg hy ook sterk liberaal-demokratiese waardes wat hom weer met buurlande in Sentraal-Europa laat bots, veral waar hy voel regerings in byvoorbeeld Pole en Hongarye tree te outokraties op.

Terwyl leiers soos Rutte en Kurz ’n groot rol oor die volgende paar jaar in Europa kan en wil speel, bly Nederland en Oostenryk kleiner spelers. Sedert Brittanje se onttrekking uit die EU bestaan daar ’n gaping vir ’n meer EU-kritiese land of blok van lande wat druk op die EU-leierskap plaas om strenger begrotingsbeheer toe te pas.

Dit is veral van toepassing op lande in Suid-Europa soos Italië en Spanje, wat ook politieke onstabiliteit ervaar.

Terwyl die regering in Italië tot ’n val gekom het, het Spanje ’n wankelende koalisie nadat die Sosialistiese Werkersparty in twee verkiesings, in April en November 2019, eerste geëindig het, maar nie ’n volstrekte meerderheid kon kry nie. Die huidige koalisie met ’n links-populistiese party het min langtermyn-vooruitsigte.

Politieke stabiliteit en goeie leierskap gaan kritiek wees as Europa wil herstel van die pandemie-krisis. Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het die afgelope week sy verwagting vir ekonomiese groei in die Eurosone vir vanjaar met 1% afwaarts aangepas tot 4,2%.

Streng inperkings eis ’n ekonomiese tol én is toenemend polities ongewild.

In Nederland word die regering van Rutte reeds vir dae beproef deur ongekende gewelddadige optrede teen ’n aandklokreël wat tien dae gelede ingestel is. In Italië moes die regering noodgedwonge inperkingsmaatreëls aanpas nadat verskeie sakeondernemings soos restaurante in weerwil van inperkingsmaatreëls en uit ekonomiese desperaatheid begin oopmaak het.

Intussen woed ’n verbete stryd om toegang tot entstowwe. Die EU sukkel om die indruk te skep van samewerking en eenheid in die verkryging, toekenning en verspreiding van entstowwe namate EU-lidlande uit desperaatheid begin optree.

Terwyl sommige regerings wil weier dat entstowwe wat in hul lande vervaardig word, uitgevoer word, het Hongarye die oë laat rek deur die eerste EU-lidland te word om die Russiese entstof te koop. Die entstof-stryd raak in sommige Europese lande ’n politieke oorlewingstryd vir wanhopige politieke leiers en regerings.

Europa is steeds die mees stabiele kontinent en ’n wegwyser oor wat Westerse demokrasie en vrye ekonomieë kan vermag. Die vasteland het egter enorme uitdagings met demografiese agteruitgang, massa-immigrasie, ekonomiese stagnasie, politieke versplintering en harder wordende verdelingslyne tussen die suide en noorde, en die weste en ooste van die vasteland.

Leiers met gesag, maar ook ’n duidelike begrip van toekomstige uitdagings, is nodig om dié ou kontinent uit die kloue van internasionale irrelevansie, ekonomiese en demografiese stagnasie en demokratiese agteruitgang te red.

¦ Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit-beweging.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.