Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Grensoorlog: ‘Die leuens wat ons onsself móét vertel’

Sy het ’n broertjie dood aan die verheerliking van die Grensoorlog, sê Marita van der Vyver in ’n openhartige onderhoud oor haar roman Grensgeval aan Willemien Brümmer.

Marita van der Vyver gesels oor haar nuwe roman Grensgeval en “die soldate wat nie aan die engele se kant baklei het nie”. Foto: Jaco Marais

“Ek weet dooie soldate se naasbestaandes wil almal graag glo dat die soldate as helde gesterf het, maar die aaklige waarheid is dat baie min soldate ooit glorieryke dode sterf. Ons sterf onnosele, morsige, bloedige, onnodige dode.”

Só lui twee sinne uit die brief wat die hoofkarakter in Van der Vyver se pas verskene roman, Grensgeval, ná haar eksman se dood tussen sy besittings vind.

En dit is presies hoe Marita voel oor die meeste oorloë – veral oor die tyd toe Suid-Afrikaanse tienerseuns gestuur is na ’n plek en ’n stryd waarvan nie eens hul ma’s geweet het nie.

Sy lyk soos ’n (effe stuitige) engel in wit toe sy ons ontvang in die statige Sir Herbert Baker-gastehuis waar sy tuisgaan terwyl sy in die Kaap is om Grensgeval bekend te stel. Dis haar eerste onderhoud oor die roman en soos altyd voel sy weerloos – “asof ek kaal in Adderleystraat moet gaan dans”.

Sy lag, op 61 ’n sjarmante vrou wat sedert haar eerste volwasse-roman, Griet Skryf ’n Sprokie,al amper volksbesit geword het. (Haar bestaan in Frankryk, waar sy sedert 1999 woon, is steeds relatief anoniem.)

Die sentrale gegewe in haar roman, ter nagedagtenis aan haar eerste man, wyle David Bishop, is dié brief wat ’n Kubaanse soldaat voor sy dood in die Angolese oorlog aan sy kind geskryf het.

Dié brief skeur die hoofkarakter Theresa Marais se lewe oop en lei haar na Kuba – na die mense wat destyds in Angola as “die vyand” gebrandmerk is, maar wat – só leer sy – ook nie as helde gesterf het nie.

Sy kantel haar kop in die rigting van Tafelberg.

“Tydens die Angolese Bosoorlog het albei kante – die Suid-Afrikaners én die Kubane – eintlik maar onnodige en morsige dode gesterf. Want wat het eintlik daar gebeur? Kuba het probeer om Rusland tevrede te stel. Suid-Afrika het aanvanklik daar ingegaan omdat die Amerikaners geld gegee het en op die ou einde het dit maar net die onvermydelike ’n bietjie langer uitgestel. Dit was tog logies dat daar op die een of ander stadium ’n swart regering sou wees – en daar is soveel mense dood om iets uit te stel wat tóg sou moes gebeur.”

Onder ons is ’n panoramiese uitsig op die Molteno-reservoir en die stad wat sy die afgelope 20 jaar “vanuit ’n wyehoeklens” beskryf.

“Ek dink – en ek kan dit seker maar reguit sê, want mense gaan my in elk geval uithaal hiervoor – maar ek voel jámmer vir hulle.”

Dis eintlik baie dapperder – dié ouens wat wél daar was en wat kan erken nee, jy weet, ons is gebreinspoel, ons het nie ’n keuse gehad nie, ons het dinge gedoen wat onvergeeflik was.

Ons praat oor die voormalige troepe in haar geboorteland wat steeds die Grensoorlog verheerlik; wat glo as dit nie vir hulle was nie, het die land in duie gestort.

“Dis amper soos as jou man ’n affair het, jy moet vir jouself sê dis die ander vrou se skuld, as jy in die huwelik wil bly. Ek haal nou ’n beeld hier uit die lug, maar daar is sekere leuens wat ons onsself móét vertel om aan te hou lewe.”

Sy aarsel. “Dis eintlik baie dapperder – dié ouens wat wél daar was en wat kan erken nee, jy weet, ons is gebreinspoel, ons het nie ’n keuse gehad nie, ons het dinge gedoen wat onvergeeflik was.”

Sy dink ’n oomblik na, sê dan in daardie suiwer Afrikaans met net ’n sweem van ’n Franse aksent: “Ek het ’n broertjie dood aan die verheerliking van die Grensoorlog.”

Foto: Penguin

‘Gebreinspoelde 18-jariges’

Net soos Theresa was Marita ’n vurige ondersteuner van die End Conscription Campaign (ECC). Sy dink mooi voor sy praat. “Ek neem niemand kwalik wat gaan baklei het nie, want jy moes verskriklik dapper gewees het, half waansinnig van dapperheid, om nee te sê – ‘ek gaan liewer tronk toe, of ek verlaat die land’. Ek meen, wie van ons het die moed? Jy kom daar in en jy’s ’n gebreinspoelde 18-jarige. So daar is geen beskuldiging by my nie. Ek het simpatie gevoel vir baie dienspligtiges terwyl ek dit geskryf het – en hoe opgemors ’n mens eintlik kan wees daardeur.”

Ek dink dis moeiliker as jy ’n soldaat was wat aan die verkeerde kant baklei het, soos die Duitsers in die Tweede Wêreldoorlog of die Amerikaners in Viëtnam of die Suid-Afrikaners in ons Grensoorlog.

Sy dink na. “Ek dink dis moeiliker as jy ’n soldaat was wat aan die verkeerde kant baklei het, soos die Duitsers in die Tweede Wêreldoorlog of die Amerikaners in Viëtnam of die Suid-Afrikaners in ons Grensoorlog. Jy het nie aan die engele se kant baklei nie.”

Die vonk vir die roman was die Poolse joernalis Ryszard Kapuscinski se aangrypende verslag oor die Angolese oorlog, Another Day of Life (1976), waarin hy oor die “onkommunikeerbaarheid” van oorlog geskryf het.

Op ’n manier, sê sy, skryf sy al 40 jaar lank aan dié roman, waarin sy juis die onmoontlike probeer verwoord.

En dit was vir haar belangrik om ’n bydrae tot die grensliteratuur te maak, wat tot dusver ’n “relatief manlike en macho genre” was. Die eerste keer was in Dinge van ’n kind (1994) toe sy ook oor die politieke leuens en die verminking van jong mans in die Grensoorlog geskryf het.

Sy glimlag. “Wat nou toevallig gebeur het, is dat Dinge van ’n kind ook ’n nuwe lewe gekry het, want dis nou opgevoer as ’n toneelstuk en kykNET gaan nou ’n nuwe reeks daaroor maak. Die kontrak is geteken en hulle werk nou aan ’n draaiboek en so.”

“Dit roer vreemde dinge in jou waarvan jy dink jy vergeet het. Dis soos opdrifsels wat opkom boontoe wat jy dink lankal by jou verbygegaan het,” sê Marita oor die dood van haar eerste man, David Bishop, in ’n inrigting. Haar jongste roman is “ter nagedagtenis” aan Bishop geskryf. Foto: Jaco Marais

Die tweede vonk was toe sy in 2006 die Angolees-Portugese skrywer José Eduardo Agualusa op ’n skrywersfees in Durban ontmoet het.

“My klasmaats is opgeroep om te gaan baklei daar (in Angola) en hierdie mense dood te maak en ons hou van dieselfde boeke, ons hou van dieselfde musiek, ons gesels asof ons ou pêlle is, en toe begin ek dink, maar vir die Kubane was dit net soos vir ons – wat het hulle met Angola te doen? Hulle word uit ’n ander land gestuur om daar op ’n vasteland, ’n plek waar hulle nog nooit was nie, te gaan baklei oor die een of ander ideologie, soos wat ons soldate aan hierdie kant ook maar gestuur is – en dís waarskynlik wat ons laat kliek het.

“En dan draai dit mos maar in ’n mens se kop dat ek Kuba wil inbring op die een of ander manier, en toe begin ek dink ek wil in Kuba uitkom of so.”

Al is sy ’n literêre popster in Afrikaans, het sy, net soos Theresa, nie geld vir ’n “wild-goose chase op ’n afgeleë eiland nie”. Maar toe reël sy en die Kaapse reisagent Kitty Snyman ’n “Kom ontdek Kuba saam met Marita-toer” en sy het die brandstof wat nodig is om die roman op papier te kry.

Marita woon reeds die afgelope 20 jaar in Frankryk saam met haar Franse man, Alain Claisse, en haar twee kinders, Mia en Daniël. Foto: Jaco Marais

Gedeeltelik Bewolk

Die laaste vonk is iets waaroor sy nie sommer praat nie.

Sy is toevallig pas terug uit Kuba toe haar eerste man, David Bishop, in ’n psigiatriese inrigting sterf nadat hy oor jare bietjies-bietjies “weens depressie en smart” doodgegaan het.

Haar goed gemoduleerde stem, wat gewoonlik so beheers is, word skor. “Dit roer vreemde dinge in jou waarvan jy dink jy vergeet het. Dis soos opdrifsels wat opkom boontoe, wat jy dink lankal by jou verbygegaan het.”

Nadat sy met ’n ompad van sy dood gehoor het, het sy en ’n paar vriende ’n gedenk-byeenkoms in die restaurant Societi Bistro in Kaapstad gereël.

“Ek dink dit was ’n baie noodsaaklike closure vir baie mense, want as so iets met iemand in jou vriendekring gebeur, is daar altyd ’n skuldgevoel – by almal.”

Hierna het sy besluit dat “mense sou aanvaar dat ek dele van my en David se lewe gebruik, wat ek nie sou gedoen het as hy nog gelewe het nie”.

David het soos Theresa se “gewese oorlede man”, Theo, as 19-jarige troep oorkant die grens ’n “groot swart gat in homself ontdek” en “dinge gedoen en gesien en gehoor het wat hy vir die res van sy lewe nooit kon vergeet nie”.

“Tydens die Angolese Bosoorlog het albei kante – die Suid-Afrikaners én die Kubane – eintlik maar onnodige en morsige dode gesterf,” meen Marita.Foto: Jaco Marais

Hoewel Marita se roman suiwer fiksie is, is dit moeilik om die ooreenkomste tussen Theo en David te mis: Albei ly aan bipolêre steuring en is by tye “psigoties, katatonies, paranoïes”; albei is joernaliste en taalversorgers. Vir beide Theresa en Marita is hul eks-mans “lankal dood”.

Maar toe verskyn die opspraakwekkende debuutroman Gedeeltelik Bewolk deur Ruan Kemp net ’n paar maande voor Grensgeval en twee boeke word binne ’n jaar aan haar eks-man opgedra. (In die geval van Gedeeltelik Bewolk slegs: “In memoriam: D.B.”)

In Ruan se roman is die biografiese besonderhede skaars verhul (met David as die “fiktiewe” karakter George Moore) en selfs Marita se hoofkarakter in Griet skryf ’n sprokie, Griet Swart, maak haar opwagting.

Maar toe word Ruan in ’n berig in ’n Sondagkoerant (“Het dooie hom gehelp skryf?”) beskuldig daarvan dat David self dele van sy boek geskryf het. Ruan ontken die bewerings van plagiaat.

Die verwarring ontstaan omdat David en Ruan, volgens Marita, omtrent ’n dekade gelede saam ’n manuskrip, Gedeeltelik Bewolk, aan uitgewers voorgelê het. David het destyds beweer dat Ruan dit geskryf het, maar Marita en enkele ander wat die manuskrip gelees het, was oortuig daarvan dat David self die skrywer was. Dis egter om “buite-literêre redes” onpubliseerbaar omdat dit onder meer “rassisties, homofobies” en lasterlik was.

Ek sien uit na Ruan se volgende boek, want dit sal alle twyfel uit die weg ruim. Dis al wat ek wil sê – want as jy só goed kan skryf, moet jy nóg ’n boek kan skryf.

Sy sug, nie regtig lus om haar kop (wéér) in dié byenes te steek nie. “Ek was nie bewus van Ruan Kemp se boek nie en hy was sekerlik ook nie bewus van my boek nie, maar die feit is David Bishop is dood so twee jaar gelede. Ek sou nie die boek aan hom opgedra het as hy nog gelewe het nie – net omdat ’n mens nie ’n lewende mens wil betrek nie.

“My storie is baie méér fiksie, hoewel daar sekere dinge is waardeur ek gelewe het, of sekere emosies wat ek kon beskryf omdat ek weet wat dit is om met iemand getroud te wees wat bipolêr is en wat waansinnig geraak het, terwyl Ruan se boek baie minder fiksie is.”

Haar ken rus op ’n beringde hand. “Ek moet jou eerlikwaar sê ek het dit (Gedeeltelik Bewolk) baie goed gevind en ek het besluit om vir Ruan Kemp die voordeel van die twyfel te gee. Miskien het David net die boek gesub, jy weet, want hy was ’n kompulsiewe sub gewees, en dat dit net David se stem vasgevang het.”

Sy vee oor haar kort, grysblonde hare. “Ek sien uit na Ruan se volgende boek, want dit sal alle twyfel uit die weg ruim. Dis al wat ek wil sê – want as jy só goed kan skryf, moet jy nóg ’n boek kan skryf.”

Marita in die Cape Riviera-gastehuis in Oranjezicht waar sy tuisgaan terwyl sy Grensgeval in die Kaap bekend stel. Foto: Jaco Marais

’n Heining ter herinnering

Die mis stoot oor die berg en dis amper tyd vir haar volgende afspraak. Ons praat oor haar en David se babaseuntjie, Ian Bishop, wat drie dekades gelede gesterf het. Op 26 April 1990, sy eerste verjaardag, ry sy na Bloubergstrand “met ’n kartondosie wat nogal soos ’n geskenk gelyk het”. Binne die boksie is haar kind se oorskot, hoewel sy nie kans gesien het vir daardie laaste vashou nie.

In haar beeldskone essay “Die begin van ’n storie” (uit die bundel Wreed én mooi is die dood, 2019) vertel sy hoedat sy van hom afskeid begin neem het van die oomblik toe hy gebore is. Hoe hy eintlik doodgebore is, “maar met behulp van moderne masjiene het hulle daardie blou babatjie van oorkant die water teruggebring na die land van die lewendes”.

Sy breinskade is só ernstig dat sy hom nooit werklik kan huis toe bring nie.

Veronderstel ek het ’n lewende kind gehad met ’n man wat net só verlore geraak het. Wat net weggeraak het, wat net letterlik waansinnig geraak het sodat jy nie kon kontak hou nie. . .

Met hierdie verhaal bou sy “sin vir sin, woord vir woord, letter vir letter” ’n “heining ter herinnering” aan haar baba met die “seeblou oë en die swart seewierhare”.

Haar stem is sag. “Dit (die essay) was miskien ook weer ’n vorm van closure, want dit is ook iets wat my en David Bishop altyd sou bind, en dit klink nou verskriklik om te sê, maar ek moet seker dankbaar wees dat daai kind nooit gelewe het nie. Veronderstel ek het ’n lewende kind gehad met ’n man wat net só verlore geraak het. Wat net weggeraak het, wat net letterlik waansinnig geraak het sodat jy nie kon kontak hou nie. . .”

Elke jaar met Ian se verjaardag dink sy steeds “stoksielalleen in ’n koue, donker kamer” aan hom.

Sy knik. “Ek dink so in stilte aan hom, heeldag, want dis nie iets waarmee ek my Franse familie wil opsaal nie. Die kinders (Daniël en Mia) is daarná gebore, my man (Alain Claisse) het my ná dit leer ken; hulle wéét daarvan, maar ek wil hulle nie treurig maak omdat ek treurig is nie.”

Ek SMS haar die volgende dag: Was Grensgeval nie ook tot ’n mate, sin vir sin, ’n soort heining ter herinnering aan David Bishop nie?

Die antwoord ping byna dadelik terug.

“Ek moes afskeid neem van my eerste man. Deur fiksie kom mense soms nader aan ‘die waarheid’ as wanneer jy die waarheid probeer skryf. Dis in elk geval my ervaring.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.