Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Grond: Bedaar, dis nie so erg

Die ontsteltenis oor die ANC se aandrang dat die uitvoerende gesag die som van vergoeding moet bepaal as jou grond onteien word, is misplaas, skryf Elmien du Plessis.

Die redakteur van Rapport waarsku verlede week: “Pres. Malema sal eendag besluit wat jy vir jou grond kry!

Ook die Sunday Times kondig aan: “ANC in Land U-turn Shock”.

Op my selfoon begin die boodskappe van benoude boere instroom wat wil weet: “Wat nou?”

Die voorgestelde wysiging van die Grondwet lees soos volg (die kursief gedrukte woorde is wat ingevoeg word):

Eiendom mag slegs ingevolge 'n algemeen geldende regsvoorskrif onteien word, (b) [o]nderworpe aan vergoeding waarvan die bedrag en die tyd en wyse van die betaling óf deur diegene wat geraak word, aanvaar is óf deur ’n hof bepaal of goedgekeur is; met dien verstande dat ’n hof ingevolge subartikel (3A), waar grond en enige verbeterings daarop onteien word vir die doeleindes van grondhervorming kan bepaal dat die bedrag van die vergoeding nul is.

Uit verslae oor besprekings in die komitee is dit duidelik dat die huidige bewoording ’n konsensus-bewoording is om seker te maak dat die komitee hul werk teen einde Maart sal klaarmaak. Die wysiging is gevolglik nie enige party se standpunt nie.

Dit is ook duidelik gemaak tydens die vergaderings dat politieke partye kans gegun sal word om gedurende die proses vir openbare insae hul standpunt te stel en voorstelle te maak.

Vandaar dan ook die ANC se nasionale uitvoerende komitee se besluit wat lui: “Die lekgotla het die aanbeveling onderskryf dat die bevoegdheid om kwessies rakende onteiening van grond sonder vergoeding vas te stel, in die uitvoerende gesag sou bly.” Sonder verdere besonderhede.

‘Die onkritiese kruisvaart van waninligting is net so onrusbarend.’

In ’n onderhoud op eNCA sê dr. Mathole Motshekga, voorsitter van die ad hoc-komitee wat die Grondwetwysiging oorweeg, dat die minister die besluit om te onteien neem en die prys kan bepaal, en dat dit nie die jurisdiksie van die howe uitsluit nie, want ongelukkige partye kan daarna na die howe gaan en aanvoer dat hulle nie daarmee tevrede is nie. Die notule van die komitee van 8 Desember wys dat dit in die komitee bespreek is.

Dié opmerkings is deur die media vertolk as dat die ANC die howe geheel en al uit die proses wil uitsluit (dit sal ongrondwetlik wees), en dat die onteiening van eiendom sonder vergoeding by die uitvoerende mag berus (dit is reeds so).

En daarop trek ontleders los met waarskuwings van ’n dreigende rooi gevaar, dat dit Ramaphosa se finale doodskoot is, en binne ’n paar stappe onteien Malema (die president) sommer jou eiendom na willekeur – sonder vergoeding.

Ek lees alles in stomme verbasing. Het niemand gaan stilstaan om te kyk wat die bestaande reg sê oor dié aangeleentheid nie? Het niemand die ANC genader en gevra om uitklaring te kry oor presies wát hulle bedoel nie? Het niemand die moeite gedoen om deur die volledige verslag van die proses te lees, of na die klankgrepe te luister om uit te vind of dié kwessie in die ad hoc-komitee bespreek is, en wat die uitkomste was nie?

Iemand soos ’n joernalis, byvoorbeeld?

Nou nie dat ek veel simpatie het met die ANC nie. Deur jare se administratiewe brouspul in grondhervorming (en elders) is die vertroue in ANC-uitsprake besonder laag.

In sulke omgewings is duidelike, ondubbelsinnige kommunikasie van die uiterste belang, veral oor ’n emotiewe saak soos dié. Maar die onkritiese kruisvaart van waninligting, wat soos ’n veldbrand versprei het, is net so onrusbarend.

’n Mens móét omsigtig omgaan met die staat se indringende onteieningsmag. Die Grondwet magtig die staat om eiendom vir openbare doeleindes (of in die openbare belang) te bekom, volgens ’n behoorlike prosedure en teen billike en regverdige vergoeding. Dié vergoeding kan, in beperkte omstandighede, met die opweeg van belange en met alle faktore in ag geneem, nul wees (selfs sonder die wysiging). Wanneer die beperking van regte (soos die reg op eiendom) betrokke is, is daar nog die beperkingsklousule in die Grondwet wat ook beskerming verleen.

Die mag word omskryf in wetgewing wat gewoonlik voorsiening maak dat ’n minister eiendom kan onteien. Die uitvoerende mag (in geheel, insluitende die staatsamptenaar en burokrate wat die werk doen) voer die wetgewing uit.

Ingevolge die Onteieningswet van 1975 lê die onteieningsbevoegdheid by die minister van openbare werke. Dié magte kan ook gedelegeer word na premiers en burgemeesters. Ander wetgewing soos byvoorbeeld die Nasionale Padwet gee bevoegdheid aan die minister van vervoer om eiendom vir die bou van paaie te onteien.

Wetgewing is van kardinale belang in die proses. Dit beperk die staat se indringende magte, en skryf voor hoe dit uitgeoefen moet word. Dit hou die uitvoerende mag aanspreeklik omdat redes vir besluitneming vereis word, en dit vereis dat die berekening van vergoeding regverdig moet wees.

Verbaas? Dalk is die feit dat dié magte die afgelope 25 jaar nog nie gebruik is om te onteien vir grondhervormingsdoeleindes nie, ’n aanduiding dat die probleem nie by die bemagtiging lê nie, maar by die gebrek aan politieke wil.

Die openbare gesprek fokus op die grondwetwysiging. Maar selfs mét die wysiging sal die staat nie in staat wees om eiendom te onteien vir herverdeling sonder dat behoorlike wetgewing wat die staat daartoe bemagtig, gepromulgeer word nie. Dié wetgewing sal moet duidelik maak wát die openbare doel is en wat met die eiendom gaan gebeur ná verkryging. Uniek aan Suid-Afrika hoef die staat nie die eienaar te bly van die onteiende eiendom nie, maar kan (en behoort) dit oorgedra word aan ’n private begunstigde wat ooreenkomstig wetgewing daarvoor kwalifiseer. Om korrupsie, elite-begunstiging en misbruik van mag te voorkom, sal die proses helder en duidelik in wetgewing uitgespel moet word.

Sonder so ’n magtigende wet, kan onteiening nie plaasvind nie.

’n Onteieningswetsontwerp, op 13 Desember 2019 deur die kabinet goedgekeur, moet eersdaags gepubliseer word vir kommentaar. Dié wet sit die proses en die metode van berekening van vergoeding uiteen. Die Grondwet se vergoedingstandaard van “regverdig en billik” bly onveranderd. Volgens die Grondwet vereis dit ’n oorweging van verskeie belange en inagneming van sekere gelyste en ander faktore.

Wat myns insiens implisiet is, is dat daar beperkte gevalle kan wees waar hierdie opweegproses lei tot vergoeding van R0 (of nul). Maar die staat sal dit moet regverdig; dit kan nie net arbitrêre duimsuig wees nie.

Dan is die hele proses onderhewig aan administratiefreg. Met ander woorde, as die onteiening nie vir ’n geldige openbare doel is nie, as die prosedure gebrekkig was, of as die onteiende persoon nie saamstem met die vergoedingsbedrag wat aangebied is nie, kan die howe genader word.

In daardie geval gee art. 25 (2) (b) uitgebreide bevoegdhede aan die howe om die vergoedingsbedrag óf goed te keur óf te bepaal. Die howe het dus die laaste woord in die bepaling van vergoeding, nie die eerste nie. Die wysiging wil dié posisie verander in die geval van geen vergoeding. Die gesprek verskuif dus na of nét die howe die bevoegdheid moet hê om geen vergoeding te bepaal nie?

Omdat nul-vergoeding so ingrypend is, behoort die (aanvanklike) R0-besluit slegs by die howe te wees; of behoort die howe in elke geval eers die besluit te hersien; of behoort die howe slegs daar te wees indien daar ’n dispuut daaroor is (soos tans)?

Maar ook: Wat verhoed die besluitnemer om die vereiste te omseil deur nominale vergoeding aan te bied?

En waar pas die waardeerder-generaal, wie se werk dit is om vergoeding te bereken, in die prentjie?

Met die sistemiese en institusionele probleme in grondhervorming is dit uiteraard ’n wanhoopsdaad om die proses uit die hande van die uitvoerende mag te neem.

Maar om dit alles aan die howe oor te laat is nie sonder probleme nie. Die howe is nie toegerus daarvoor om administratiewe besluite soos dié op ’n daaglikse grondslag te neem nie. Hulle is bemiddelaars van geskille, en lê beginsels neer in die proses wat as riglyne dien vir die besluitnemer-burokrate in die toekoms.

Wigte. Teenwigte. Skeiding van magte. Howe kan nie die besluitnemers, administreerders én arbiters wees nie.

’n Moontlike kompromis is om dit aan ’n onafhanklike tribunaal oor te laat.

Die Grondwet is ’n regsdokument wat die uitkoms is van ’n politieke haak-en-kruk-proses. Die proses is nie liniêr nie, en dit is meermale deurmekaar en onseker.

Soms is al wat ons te doen staan, om seker te maak dat die gesprek feitelik binne die perke van die Grondwet plaasvind.

* Prof. Elmien du Plessis is verbonde aan die regsfakulteit van die Noordwes-Universiteit.

Meer oor:  Mathole Motshekga  |  Grondonteiening  |  Anc  |  Grondhervorming  |  Grondwet  |  Art. 25  |  Grondwetwysiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.