Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Grond: Waar lê die 'honger'?

Grondhervorming is deesdae ’n nuttige politieke slagspreuk, maar die waarheid daaroor word nie altyd aan die groot klok gehang nie. Theuns Eloff bekyk ’n paar mites oor grondhervorming van nader.

Theuns Eloff

Grondhervorming, veral van landbougrond, word deesdae amper ’n sjibbolet vir die Suid-Afrikaanse politiek.

Die redenasie van die gepaardgaande retoriek het gewoonlik die volgende elemente: “Grond is welvaart, en as ’n mens eers grond besit, kan jy met daardie welvaart al die ander goeie dinge koop.”

En hiermee word meestal landbougrond bedoel.

“Histories het wit mense swart mense se grond afgevat en dit moet teruggegee word.”

“Swart mense besit ná 24 jaar van demokrasie steeds net 9,8% van die bewerkbare grond in SA.”

“Daar is ’n grondhonger vir landbougrond onder ons mense, soos in Zimbabwe, en as ons nie daaraan gehoor gee nie, sal ons die pad van grondbesetting en -konfiskasie volg.”

Onderliggend aan hierdie argumente is dat niks of baie min sedert 1994 gebeur het en dat radikale stappe nodig is om (landbou)grond aan swart mense terug te gee, soos om grond sonder vergoeding te onteien.

Wat is egter die ware prentjie?

Die tabel hieronder gee die grondoppervlak van Suid-Afrika, asook die grootte van die landbou- en bewerkbare (arable) grond. Dit wys ook dat amper 50% van Suid-Afrika as woestyn (minder as 200 mm reën per jaar) of baie droog (minder as 400 mm per jaar) beskou word.

Grondhonger gaan nie oor plaasgrond

Sondag was daar twee artikels in Rapport oor landbougrond. In die eerste word berig dat die jongste navorsing op landbou.com toon dat daar die afgelope 20 jaar baie meer kommersiële grondtransaksies plaasgevind het as waarvan pres. Jacob Zuma ons vertel, en dat swart boere tans 34,5% (33,5 miljoen ha) van alle beskikbare landbougrond (insluitend kommunale grond) teenoor wit boere se 65,5% besit.

In die tweede word oor ’n hele aantal suksesvolle vennootskappe tussen wit en swart boere en laasgenoemde se sukses in die kommersiële sektor berig.

Volgens landbou.com se navorsing is daar in vyf provinsies swart mense wat 40% en meer van die landbougrond besit, wat daarop dui dat kopers grond op sekere plekke verkies waar dit makliker is om te boer.

Om hierdie prentjie verder te ontwikkel: Die Noord-Kaap (meestal woestyn, droog en nie grond waarop maklik kommersieel geboer kan word nie) is 37,2 miljoen ha groot. Indien hierdie syfer van die totaal van 97 miljoen ha afgetrek word, dan is die grootte van die landbougrond in Suid-Afrika 59,8 miljoen ha.

Indien ook die grond (2,1 miljoen ha) wat swart mense volgens landbou.com in die Noord-Kaap besit van die totale besit van landbougrond deur swart mense van 33,5 miljoen ha aftrek, dan besit swart mense 31,4 miljoen ha van die landbougrond in Suid-Afrika.

Dit gee ’n persentasie van 52,5%. Dit is heelwat meer as die misleidende 9,8% van die president. Selfs sonder om die Noord-Kaap uit die prentjie te haal, is die persentasie landbougrond wat deur swart mense besit word reeds 34,5%.

Na raming is Suid-Afrika nou ongeveer 65% verstedelik. Twee uit drie Suid-Afrikaners woon in stede.

Maar daar is ’n ander, en groter, probleem. Die ideologiese slagspreuk dat grond welvaart is, tesame met die opvatting dat daar ’n landbougrond-honger is, veroorsaak dat die debat hoofsaaklik oor landbougrond gaan. Maar dis nie waar die “grondhonger” lê nie. Na raming is Suid-Afrika nou ongeveer 65% verstedelik. Twee uit drie Suid-Afrikaners woon in stede.

Die Centre for Development and Enterprise het in die laat 1990’s ’n peiling onder 4 000 Suid-Afrikaners van alle rasse en samelewingsvlakke gedoen en dit het gewys dat net 6% van respondente nou of eendag wou boer. Dis te betwyfel of hierdie statistieke vandag anders sal lyk.

Zuma het self gekla dat 90% van grondeisers eerder die kontant as die grond gevat het.

Regering moet skuld kry vir grondlose stedelinge

Trouens, met die huidige moeilike boerdery-omstandighede sal die aantal mense wat wil boer eerder laer wees. Om in Suid-Afrika te boer, is nie maklik nie. Dit neem meestal lank om winsgewend te word en groot kapitaalbedrae is nodig om te begin.

’n Bestaansboerdery mag dalk ’n ander saak wees, maar as dit die norm word, is voedselsekerheid daarmee heen.

Grondhonger vir landbougrond as groot emosionele kwessie is ’n mite. Die ware grondhonger is vir grond om ’n eie huis op te bou en ’n woonplek van te maak.

Die punt is: Grondhonger vir landbougrond as groot emosionele kwessie is ’n mite. Die ware grondhonger is vir grond om ’n eie huis op te bou en ’n woonplek van te maak.

Die miljoene mense wat in informele nedersettings rondom ons stede bly, is genoeg bewys daarvan. En die feit dat hierdie Suid-Afrikaners nie ’n titelakte het vir die grond waarop hulle woon nie, kan nie in die eerste plek voor die deur van witmonopoliekapitaal of die boeregemeenskap gelê word nie, maar moet vierkantig op die regering se eie skouers geplaas word.

Die grond wat hiervoor die mees geskikte is, is munisipale grond rondom dorpe en stede. Dis die regering wat meer as 20 jaar hiermee gesloer het. Gelukkig lyk dit of sommige stadsrade nou met hierdie proses ’n begin maak.

Dis gevaarlik en onverantwoordelik om die honger-na-landbougrond-monster te voed. Hoekom dit gedoen word, wissel van onkunde tot ’n gebrek aan belangstelling vir feite wat nie met my ideologie strook nie, of gewone leuens omdat dit vir my stemme sal bring.

Maar dis nie op feite gegrond nie en voed ’n gevaarlike persepsie oor landbougrond.

Natuurlik moet verder gevorder word met grondhervorming in terme van landbougrond. Art. 25 (2) van die Grondwet bevat twee kernsake, naamlik die beskerming van privaat-eiendomsreg en die noodsaaklikheid van grondwetlik gebaseerde grondhervorming.

Daar is baie gewilligheid onder boere en die georganiseerde landbou om grondhervorming op ’n volhoubare manier verder te neem. Maar dan moet twee sake dringend aandag geniet: ’n Ordentlike grondoudit moet gedoen en gepubliseer word – en deur gesprek moet die regering oortuig word om dit as basis vir beleidsontwikkeling te aanvaar.

Tweedens sal dit baie help as ’n gesaghebbende agentskap weer vir Suid-Afrikaners vra: Wil jy boer of wil jy ’n huis bou?

So lyk Suid-Afrika se landbougrond

Totale grondoppervlak: 122 miljoen hektaar

Potensiële landbougrond: 97 miljoen hektaar (Wêreldbank)

Bewerkbare en verboubare landbougrond: 12,5 miljoen hektaar (Wêreldbank)

Deel van landbougrond as “woestyn” beskryf: 27,8 miljoen hektaar (22,7%)

Deel van landbougrond as “droog” beskryf: 30 miljoen hektaar (24,5%)

* Eloff is die voormalige rektor van die Noordwes- Universiteit en tans uitvoerende direkteur van die FW de Klerk Stigting.

Meer oor:  Theuns Eloff  |  Landbougrond  |  Grondhervorming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.