Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Grond: Wat sê die alternatiewe verslag?

Kort voordat die presidensiële adviespaneel oor grondhervorming en landbou hul finale verslag aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig het, het dit bekend geword dat twee van die tien paneellede – Dan Kriek, president van Agri SA, en die megaboer Nick Serfontein van die Vrystaat – ’n alternatiewe verslag saamgestel het.

Maar hoe sien dié verslag en aanbevelings daaruit? Philda Essop doen verslag.

Waarom ’n alternatiewe verslag?

Terwyl Kriek en Serfontein aanvoer dat hulle ordelike en volhoubare grondhervorming ten volle ondersteun en die noodsaaklikheid daarvan erken dat die spoed en skaal daarvan versnel moet word, verskil hulle sterk met sommige van die materiële bevindinge en aanbevelings in die verslag van die paneel.

Die meeste paneellede, insluitende Kriek en Serfontein, het omvattende skriftelike kommentaar gelewer op die konsepverslag sowel as ander weergawes daarvan.

Die doel van die alternatiewe verslag is om duidelik uiteen te sit watter voorstelle en aanbevelings in die paneelverslag hulle steun en watter hulle verwerp.

Watter voorstelle word gesteun?

Van die voorstelle in die finale paneelverslag wat Kriek en Serfontein steun, sluit in:

* Die erkenning van die rol wat korrupsie en onbekwaamheid gespeel het in die mislukking van grondhervorming, en die voorneme om in die vervolg daaraan aandag te gee.

* Die skep van ’n grondregister of databasis van alle staats- en openbare grond.

* Die vrystelling van staatsgrond vir hervormingsdoelwitte.

* Produksie-ondersteuning vir nuwe boere.

* Om onbenutte grond in produksie te plaas wat reeds versprei is, sowel as kommunale grond in die voormalige tuislande.

* Die stigting van ’n grondhervormingsfonds sowel as ’n landbou-ontwikkelingsagentskap; en

* Die totstandkoming van ’n ombudsman vir grond, oftewel ’n grondbeskermer.

Met watter voorstelle het Kriek en Serfontein nie saamgestem nie

Kriek en Serfontein het nie saamgestem met die voorstel oor wie almal grond behoort te skenk vir grondhervorming nie. Die paneel het voorgestel dat grond (vrywillig) geskenk word deur onder meer kerke, mynmaatskappye, grond wat onteien is van afwesige eienaars, munisipale en meentgrond, staatsgrond wat nie voordelig benut word nie, insluitende grond wat aan staatsentiteite behoort, stedelike grondeienaars, kommersiële boere insluitende wildboere, en bosbou- en agriondernemings en grondhervormingsplase in nood en wat na aan mislukking is.

Hulle het gevoel dat daar geen regverdiging is om kommersiële boere hierby in te sluit nie.

Bevindinge en voorstelle waaroor daar geen konsensus is nie

* Die verslag lui dat daar groot klem op die maatskaplike kwessies in die paneel se verslag is – wat verstaanbaar is, sê Kriek en Serfontein. Daar moet egter ’n balans wees tussen die maatskaplike en ekonomiese dinamiek in die land. Grondhervorming kan nie alleen fokus op die sosio-ekonomiese impak nie.

“Daar moet meer van ’n fokus op kommersiële voedselproduksie en nasionale voedselsekerheid wees. Sonder ekonomiese groei en voedsel om die stedelike bevolking te voed, sal ons nie in staat wees om die driedubbele uitdagings van armoede, werkloosheid en ongelykheid te pak nie.”

* Die voorstel dat die beginsel van gewillige koper-verkoper afgeskaf word, word nie ondersteun nie.

“Die staat het die afgelope 23 jaar reeds die mag van onteiening gehad. Die staat het duidelik genoeg geld gehad en kon sekerlik meer geld beskikbaar gemaak het deur middel van begrotings, maar het eenvoudig daarin misluk om dit te doen. Dit moet uitgewys word dat die regering nie verplig was om plase teen opgeblase pryse te koop nie.”

* Wat plaasbewoners betref, lui Kriek en Serfontein se alternatiewe verslag dat ’n moratorium op uitsettings “ongrondwetlik” sal wees. “Regsmenings wat in die verlede van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming verkry is, het dié mening bevestig. Die verantwoordelikheid vir die voorsiening van behuising ingevolge die Grondwet is ’n funksie van plaaslike regering. Dié funksie kan nie op individuele grondeienaars van toepassing gemaak word nie.”

* Oor die voorstel dat ’n grondbelasting op landbougrond ondersoek word, wys die alternatiewe verslag daarop dat boere reeds swaar belas word. Boere betaal onder meer munisipale belasting. ’n Styging in boerderykoste tel onder die negatiewe gevolge van só ’n belasting.

“ ’n Grondbelasting bo en behalwe munisipale eiendomsbelasting kan nadelig wees vir eienaars wat nie in staat sal wees om genoeg inkomste te skep om albei die belastings te kan betaal nie.”

* Grond op sigself sal nooit ’n goeie lewenstandaard verseker nie. “Titelaktes mag inderdaad ’n bydrae lewer om welvaart te skep, eenvoudig omdat mense ’n aansporing sal hê om hul eiendom te verbeter, en omdat hulle in staat sal wees om die eiendom as kollateraal te gebruik. Blote toegang tot grond sonder titelaktes, ondersteuning of dienste hou die risiko in om ’n armoedestrik te word. Ons verstaan egter dat die herstel van grond ook te make het met mense se menswaardigheid.”

Wat van die wysiging van die Grondwet?

Die wysiging van art. 25 – die eiendomsklousule in die Grondwet – word onder geen omstandighede gesteun nie. Die afneem van grond teen nul-vergoeding word nie gesteun nie.

“Ons verstaan dat daar beperkte omstandighede mag wees waar nul-vergoeding billik en regverdig is. Dit moet egter aan die howe oorgelaat word om hieroor te besluit. Die ekonomiese impak van ’n nul- of beperkte vergoeding sal rampspoedig wees.”

Die alternatiewe verslag steun nie ’n benadering waar ’n vergoedingsbeleid vergoeding dikteer nie. Elke situasie moet op sy eie meriete beoordeel word wat alle relevante faktore in ag neem. Daar kan geen een-grootte-pas-almal-formule vir vergoeding wees nie.

Onteiening sonder vergoeding

Daar was volgens die alternatiewe verslag bykans geen fokus (in die finale paneelverslag) op die potensiële negatiewe impak van onteiening teen lae of geen vergoeding op voedselsekerheid en die ekonomie nie.

“Daar moet kennis geneem word dat ’n verswakking in die erkenning van eiendomsreg investering in gevaar sal stel in die kapitaalverbetering van grond deur die primêre en sekondêre landbousektor.”

Swart boere sal ook nie kan ontsnap van die negatiewe gevolge van onteiening teen lae of geen vergoeding nie.

Onteiening sonder vergoeding en beleidsekerheid oor landbougrond, kan lei tot ’n daling in voedselproduksie omdat boere nie in staat sal wees om hul skuld te delg nie, wat daartoe sal lei dat banke boere sal uitverkoop weens hul uitstaande skuld.

Waar produksie afneem sal die hele voedselstelsel in Suid-Afrika onder ernstige druk kom en die land vinnig tot ’n situasie lei waar kos ingevoer sal moet word. Kos sal nie net onbekostigbaar word vir miljoene arm mense nie, maar Suid-Afrika sal voedsel-onseker word, lui die alternatiewe verslag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.