Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Grondhervorming: Wat het skeefgeloop?

Grondhervorming maak deesdae die gemoedere gaande, maar wie moet die skuld kry dat daar die afgelope 24 jaar nie daarmee gevorder is nie? vra Theuns Eloff.

Korrupsie is een van die belangrikste redes waarom grondhervorming die afgelope 24 jaar misluk het. Foto ter illustrasie. Foto: Argief

Daar is ’n algemene siening onder sommige Suid-Afrikaners dat ná 24 jaar van demokrasie, minder as 10% van grond in Suid-Afrika aan die meerderheid van die bevolking behoort.

Iemand het die storie begin versprei dat die grootste probleem met die stadige pas van grondhervormimg by die beginsel van gewillige verkoper en gewillige koper lê – en dat dit in die Grondwet staan (wat onwaar is).

Hiermee saam is die tweede grootste struikelblok beskryf as die “billike vergoeding” vir grond, wat wel in art. 25 van die Grondwet voorgeskryf word. En daar het die oproep vir onteiening sonder vergoeding (OSV) ontstaan en momentum begin kry.

Maar wat het werklik skeefgeloop? Wie moet die skuld kry?

Verander art. 25 van die Grondwet, begin grond sonder enige vergoeding teruggee en die “oersonde” sal sommer tjop-tjop verdwyn!

Maar wat het werklik skeefgeloop? Wie moet die skuld kry?

Is dit die grondbesitters wat halsstarrig aan hul (vir sommige gesteelde) grond vasklou? Is dit die eiendomsagente en tussengangers?

Art. 25(5) vereis dat die staat “redelike wetgewende en ander maatreëls (moet) tref om, binne sy beskikbare middele, toestande te skep wat burgers in staat stel om op ’n billike grondslag toegang tot grond te verkry”.

Verder bepaal art. 25(8): “Geen bepaling van hierdie artikel verhinder die staat om wetgewende en ander maatreëls te tref om grond-, water- en verbandhoudende hervorming te bewerkstellig ten einde die gevolge van rassediskriminasie van die verlede reg te stel nie.”

Grondhervorming is dus volgens die Grondwet die staat se verantwoordelikheid.

Korrupsie ’n groot remskoen

Die staat moet die blaam kry vir die mislukking met grondhervorming die afgelope 24 jaar. Foto ter illustrasie. Foto: Argief

Elke Suid-Afrikaner het sy/haar eie mening oor waar dinge skeefgeloop het. Sommiges het eie ervaring, ander grond hul mening op hoorsê en ander het sommer net ’n mening.

Daar is egter ’n besonder gesaghebbende bron wat in November 2017 gepubliseer is. Dit is ’n verslag van ’n ondersoek wat in opdrag van die parlement se Speakersforum gedoen is.

Die mandaat was: Evalueer die wetgewing van die afgelope jare en ondersoek hoe fundamentele verandering in Suid-Afrika versnel kan word.

Die verslag het byna twee jaar geneem om te voltooi en is nagevors en opgestel deur ’n indrukwekkende paneel van 11 prominente Suid-Afrikaners, waaronder oudpolitici, regsgeleerdes, ouditeurs en akademici, onder voorsitterskap van oudpres. Kgalema Motlanthe.

Die verslag beslaan 600 bladsye – waarvan 100 aan grondhervorming afgestaan word. Wat het die paneel, ná maande se navorsing, voorleggings en mondelinge getuienis in elke provinsie bevind?

Vergoeding vir grond is nie die belangrikste beletsel vir grondhervorming nie, maar eerder korrupsie deur amptenare, die wegkering van begrotingsgeld na die elite, die gebrek aan politieke wil by die regering en die gebrek aan opleiding en kapasiteit by die staat.

Grondhervorming is ’n oorhoofse term wat grondherverdeling, grondrestitusie en sekerheid van behoud van grond (“security of tenure”) insluit.

Herverdeling verwys na die proses waar grond wat in die mark kom, deur swart eienaars of die staat bekom word. Restitusie is die proses waar mense wie se grond ná 1913 deur die staat of ander instansies weggeneem is, teruggeëis kan word; en die sekerheid van behoud gaan oor werkers op plase en inwoners van die voormalige tuislande wat al jare lank op hul “eie” grond bly of werk, maar geen formele en individuele eiendomsreg daarop het nie.

Die Motlanthe-verslag kom tot sterk gevolgtrekkings.

Die eerste hiervan is dat vergoeding vir grond nie die belangrikste beletsel vir grondhervorming is nie, maar dat dit eerder korrupsie deur amptenare, die wegkering van begrotingsgeld na die elite, die gebrek aan politieke wil by die regering en die gebrek aan opleiding en kapasiteit by die staat is.

Die verslag toon dat die begroting in 20 jaar nie eens tred gehou het met inflasie nie en ’n skamele 0,4% van die nasionale begroting uitmaak.

’n Tweede faktor is die gebrek aan ’n begroting (as gevolg van die gebrek aan politieke wil) vir grondhervorming.

Die verslag toon dat die begroting in 20 jaar nie eens tred gehou het met inflasie nie en ’n skamele 0,4% van die nasionale begroting uitmaak.

Derdens wys die verslag daarop dat in plaas daarvan om nuwe grondeienaars te bemagtig en te laat vooruit boer, hulle in effek “huurders” van grond by die staat word.

Dit is omdat hulle nie titelaktes vir die grond wat aan hulle toegeken word, kry nie – en daarom ook nie die grond as sekuriteit vir lenings kan gebruik om beeste, saad, voer en implemente te koop nie.

In die vierde plek bevind die verslag dat die regering nie sy grondwetlike magte om grond vir hervormingsdoeleindes aan te wend, effektief gebruik het nie, en ook nie die grondwetlike bepalings dat vergoeding onder sekere omstandighede onder die markwaarde kan wees, gebruik het nie.

Blaam word amper uitsluitlik op staat geplaas

Oudpres. Kgalema Motlanthe het die ondersoek na grondhervorming gelei. Foto: Argief

Vyfdens bevind die verslag dat die staat die regte van benadeelde Suid-Afrikaners in art. 25(5), (6), (7) en (9) nie “genoegsaam bevorder, opgedwing en beskerm” het nie, maar dat hierdie regte eerder onder beleg is deur “beleide en praktyke” wat die voordele van grondhervorming na potensiële politieke alliansievennote en spesifieke elites wil kanaliseer.

Ander redes word ook genoem, wat almal met die uitvoering van die staat se mandaat verband hou.

Benewens korrupsie, is ’n gebrek aan vermoë (lees: swak amptenare), begrotings en titelaktes, swak wetgewing en swak toepassing van bestaande wetgewing die ander groot sondaars.

Natuurlik is korrupsie ’n tweerigtingproses, en die nieregeringsorganisasies en persone het dalk nie so entoesiasties aan grondhervorming meegedoen as wat hulle kon nie, maar die feit bly dat die paneel onder voorsitterskap van ’n voormalige president die blaam vir die stadige en gebrekkige grondhervorming amper uitsluitlik op die staat plaas.

Benewens korrupsie, is ’n gebrek aan vermoë (lees: swak amptenare), begrotings en titelaktes, swak wetgewing en swak toepassing van bestaande wetgewing die ander groot sondaars.

Daarbenewens neem die verslag in sy aanbevelings sterk standpunt in oor ’n wysiging van art. 25. Eerder as om art. 25 te wysig, moet die regering eerder sy onteieningsmagte sterker gebruik op maniere wat die voorsiening van vergoeding in art. 25(3) sal toets, veral met betrekking tot grond wat onbenut of onderbenut is, veral grond wat reeds aan die staat behoort.

Theuns Eloff

Dit is duidelik: Die parlementêr aangestelde onafhanklike paneel beveel aan dat art. 25 nie gewysig moet of hoef te word nie. Dit is hoofsaaklik die staat wat sy plig versaak het om die grondwetlike mandaat oor grondhervorming uit te voer.

Die boodskap is sterk: As die staat sy grondwetlike mandaat reg wil uitvoer, moet die regte wetgewing geskryf word, dit moet reg toegepas word, dit moet effektief en deursigtig toegepas word deur bevoegde amptenare en daar moet genoeg geld daarvoor voorsien word.

Hier is geen sprake van “vinnige” grondgrype deur onteiening sonder vergoeding nie, maar ’n deeglike proses in pas met art. 25 van die Grondwet van Suid-Afrika.

Dit is verstaanbaar dat die EFF nie hierdie boodskap in die parlement sou wou hoor nie.

Dit is egter die verantwoordelikheid van die ANC, wat die party is wat die Motlanthe-verslag geïnisieer het, om fyn na die hoofboodskap daarvan te luister.

Hy is immers totaal ideologies teenoor grondhervorming ingestel en maak OSV sy verkiesingslagspreuk. Dit is egter die verantwoordelikheid van die ANC, wat die party is wat die Motlanthe-verslag geïnisieer het, om fyn na die hoofboodskap daarvan te luister.

Selfs ’n verandering aan art. 25 wat OSV moontlik maak, gaan grondhervorming nie laat gebeur nie – nie as die basiese probleme van ’n gebrek aan ’n wetgewende raamwerk, korrupsie, vermoë, politieke wil en geld nie eers aandag kry nie.

’n Grondwetwysiging is ’n maklike uitweg in vergelyking met die oplos van hierdie probleme. Dít moet dringend aandag kry.

* Eloff is uitvoerende direkteur van die FW de Klerk Stigting. Die stigting se oorhoofse tema vir hierdie jaar is “Grondhervorming en Eiendomsregte”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.