Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Grondverslag slegte nuus vir Ramaphosa-faksie

In die hande van die parlement stip die hoofverslag van die presidensiële adviespaneel oor grondhervorming ’n gevaarlike koers uit, skryf Theuns Eloff.

Die hoofverslag van die presidensiële adviespaneel oor grond en landbou is nie goeie nuus vir die Ramaphosa-faksie nie. Foto: Linda Longhurst

Die verslag van die presidensiële adviespaneel oor grondhervorming en landbou is onlangs aan die publiek beskikbaar gemaak.

Reeds voor hierdie datum het twee paneellede – Dan Kriek, president van Agri SA, en die boer Nick Serfontein – besluit om ’n minderheidsverslag aan die president te oorhandig, wat ná die hoofverslag bekend gemaak is.

Wat is die kernverskille tussen die hoofverslag en die minderheidsverslag? En hoekom het hierdie twee gesiene paneellede dit nodig gevind om ’n minderheidsverslag op te stel?

Die verskille kan in drie groepe saamgevat word: die proses wat die adviespaneel gevolg het, styl en ideologiese kwessies en die inhoud van die verslag.

Die eerste verslag was duidelik ’n “sny-en-plak”-produk.

Oor die proses is die minderheidsverslag taamlik krities. Die onderskeie werkgroepe het te lank geneem om hulle verslae af te handel en daarom kon daar nie betyds en voldoende op die inhoud daarvan kommentaar gelewer word nie. Met ’n spertyd van 31 Maart om ’n verslag aan die interministeriële komitee te oorhandig, was sekere werksgroepverslae op 24 Maart steeds uitstaande. Die eerste konsepverslag is eers laatmiddag op 29 Maart aan paneellede gestuur met ’n spertyd vir kommentaar minder as 48 uur later.

Die eerste verslag was duidelik ’n “sny-en-plak”-produk. Kommentaar deur Kriek en Serfontein is nie in die finale verslag voldoende in ag geneem nie – alhoewel daar wel sydelings melding gemaak word van verskille tussen lede. Die minderheidsverslag se grootste beswaar oor die proses is dat ná twee kollokwiums die standpunte van deelnemers “op ’n manier” deel geword het van die verslag se aanbevelings, sonder dat daar enigsins ’n poging was om konsensus tussen paneellede te kry.

Lees jy die hoofverslag deeglik, is die haas waarmee dit opgestel is, duidelik. Daar is ’n hele paar spel- en grammatikafoute, en baie herhalings.

Dit kan aandui dat daar verskillende outeurs vir verskillende dele was (wat met so ’n verslag nie ongewoon is nie) maar dit is wel duidelik dat daar nie goed geredigeer is om herhalings en veral teenstrydighede te voorkom nie. Die voorwoord van die voorsitter bevat byvoorbeeld ander beklemtonings as die hoofdeel van die verslag (soos die saak van gewillige verkoper, gewillige koper). Die argument in die hoofdeel van die verslag bevat hier en daar aanbevelings, en die hoofstuk met aanbevelings bevat heelwat argumentasie, dikwels herhalend.

Die vraag kan dus tereg gevra word: Indien die skrywers van die minderheidsverslag dit nie gedoen het nie, wie van die paneellede het dan die hoofskryfwerk gedoen? En hoekom is daar nie na konsensus gesoek nie?

Dan Kriek, president van Agri SA, is een van die twee boere wat ’n minderheidsverslag aan die president beskikbaar gestel het.Foto: Willem Law

Onteiening sonder vergoeding

Wat die aanpak, styl en ideologiese kwessies betref, noem die minderheidsverslag die “ontsaglike groot klem” op sosiale kwessies in die verslag, wat volgens hulle nie werklik deel van die mandaat gevorm het nie. Daarmee saam noem hulle die sogenaamde “klas-agenda” ten opsigte van grondhervorming. Hiermee word bedoel dat toegang en besit tot grond as die groot gelykmaker tussen ryk en arm gesien en gebruik moet word. Hulle probleem is dat grondhervorming in landbou sterker klem op produksie, doeltreffendheid en voedselsekerheid moet plaas. Kriek en Serfontein wys daarop dat daar ’n onderliggende aanname in die verslag is dat blote toegang tot grond op sigself ’n beter lewenstandaard vir arm Suid-Afrikaners sal meebring. Hulle sê dat dit gewoon nie waar is nie en dat die geskiedenis dit bewys.

As jy tien sterk leiers oor grondhervorming op een paneel plaas, moet jy aanvaar dat ideologiese sienings oor klas en armoede nie verbloem sal kan word nie. Jy kan wel verwag dat daar dan na groter konsensus gesoek moet word – of minstens dat ander se menings ook moet aandag kry. Die tydsdruk en gebrek aan optimale bestuur van die proses het dit klaarblyklik nie toegelaat nie. Dit is ’n groot jammerte en gebrek wat ooglopend is.

Die grootste verskil lê egter op die terrein van onteiening sonder vergoeding en die wysiging van artikel 25 van die Grondwet.

Die verskille oor inhoudelike kwessies is uiteraard die belangrikste. Hieronder tel die voorgestelde moratorium op afsettings van werkers van plase, omdat dit ook die regte van die grondbesitters in gedrang bring en tot grootskaalse grondbesettings kan lei.

Die minderheidsverslag steun ook nie die voorstel dat daar van die beginsel van gewillige koper-gewillige verkoper afgesien moet word nie, omdat dit in die meeste gevalle steeds ’n belangrike oorweging sal en moet wees.

Die grootste verskil lê egter op die terrein van onteiening sonder vergoeding en die wysiging van artikel 25 van die Grondwet.

Die minderheidsverslag is duidelik hieroor: Die verslag behoort nie enige verwysing na onteiening sonder vergoeding en ’n wysiging van die Grondwet te bevat nie. Daarmee saam moet daar ook nie ’n vergoedingsbeleid opgestel word nie – die beginsel van regverdige en billike vergoeding in art 25(3) moet deur die howe op ’n saak-tot-saak grondslag bepaal word.

Nick Serfontein, ’n megaboer van die Vrystaat, het saam met Dan Kriek die minderheidsverslag opgestel. Foto: Foto24

Wysiging aan die grondwet

Die hoofverslag hanteer onteiening sonder vergoeding op verskillende plekke en dit is nie altyd duidelik wat die primêre aanbeveling is nie. In die voorwoord sê die voorsitter, Dr Vuyo Mahlati, dat die paneel rigting gee oor maniere waarop artikel 25 verander kan word om onder sekere omstandighede voorsiening te maak vir geen (of nul) vergoeding.

In die hoofdeel van die verslag staan daar dat met die huidige bewoording van artikel 25, onteiening sonder vergoeding ongrondwetlik sou wees. As die (politieke) doel van ’n grondwetlike wysiging is om weg te beweeg van ’n verpligtende vergoedingsgebaseerde vereiste, kan ’n nuwe artikel 25(2)(c) lees dat die parlement wetgewing moet daarstel wat gevalle beskryf waar onteiening sonder vergoeding moontlik is vir grondhervorming (soos wat art 25(8) bepaal).

Die paneel het bevind dat as ’n grondwetlike wysiging ten doel het om onteiening sonder vergoeding die reël te maak en op groot skaal sonder voorwaardes toe te pas, dit teen artikel 1 van die Grondwet sal wees – veral die oppergesag van die reg. Maar in die hoofstuk met die aanbevelings staan geskryf dat die paneel die voorgestelde wysiging van die beleid ondersteun om grondwetlike voorskrifte te gebruik om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Uiteindelik lyk dit asof die paneel weifel tussen ’n direkte wysiging van artikel 25(2) en die aanvaarding van die Wysigingswet op Onteiening waarin daar onder sekere omstandighede onteiening sonder vergoeding voorsiening gemaak kan word (soos in die gevalle van grond wat verlate is of wat totaal in skuld gedompel is). Hulle maak wel die aanbeveling dat ’n nuwe onteieningswet na die grondwetlike hof verwys moet word om die grondwetlikheid daarvan te toets.

Theuns EloffFoto: Foto24

Nie alles is slegte nuus nie

Waarmee sit die president nadat hy die paneel se verslag en die minderheidsverslag ontvang het? Dit is nie alles slegte nuus nie. Albei verslae stem saam oor die noodsaaklikheid van vinniger en doeltreffender grondhervorming. Albei bevat en/of onderskryf goeie idees oor hoe om grondhervorming beter toe te pas. Dit sluit ’n grondoudit, ’n nasionale opname oor die aanvraag na grond, ’n omvattende wetsraamwerk vir grondhervorming en ’n fonds vir grondhervorming in. Albei vra ook vir die aanstelling van ’n grondregtebeskermer, hulle beklemtoon die belangrikheid van stedelike grondhervorming, en miskien die mees drastiese – ’n “agentskap vir grond en landelike hervorming” en die wegneem van daardie funksie by die huidige departemente.

Daar is ook konsensus oor die foute wat die regering oor die afgelope 25 jaar ten opsigte van grondhervorming gemaak het, die korrupsie wat uitgeroei moet word en die beter stelsels vir die bepaling van begunstigdes wat gevind moet word.

President se poging nie geslaagd nie

Aan die ander kant belig die minderheidsverslag en veral die verskille oor artikel 25 en onteiening sonder vergoeding dat die president se poging om deur die aanstelling van ’n paneel kundiges die warm patat van grondonteiening te ontlont en ’n grondwetlike wysiging dalk onnodig te maak, nie heeltemal geslaag het nie. Die aanbevelings van die hoofverslag is wel sagter as ’n radikale en omvattende wysiging van artikel 25 en onteiening sonder vergoeding as die reël.

Dié verslag wys daarop dat sodanige wysiging teen die agtergrond van die hele grondwetlike raamwerk gedoen sal moet word (en daarom ’n 75%-meerderheid vir goedkeuring sal benodig).

In die hande van die parlement (waar die Zuptas steeds invloed het en die EFF met skuim in die mond agiteer vir nasionalisering) is dit steeds ’n gevaarlike koers.

Maar die hoofverslag beveel nietemin direk of indirek aan dat onteiening sonder vergoeding moet gebeur – óf deur ’n wysiging van artikel 25 óf deur uitsonderings op die grondwetlike reël van regverdige en billike vergoeding in die onteieningswet te bepaal.

Dis nie goeie nuus vir die Ramaphosa-faksie nie. In die hande van die parlement (waar die Zuptas steeds invloed het en die EFF met skuim in die mond agiteer vir nasionalisering) is dit steeds ’n gevaarlike koers. En daar is genoeg geskryf en gesê (onlangs weer deur oud-president Kgalema Motlanthe) dat enige onteiening sonder vergoeding vir die land en die ekonomie katastrofies sal wees.

*Theuns Eloff is voorsitter van die Adviesraad van die FW de Klerk-stigting. Die opinies in dié rubriek is dié van die skrywer en is nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.