Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
25 jaar oud: Grondwet die produk van ‘baie spesiale tye’

Die Grondwet wat vandag (Saterdag) 25 jaar gelede aanvaar is, was die produk van “baie spesiale tye”, het dr. Leon Wessels, destyds ondervoorsitter van die Grondwetskrywende Vergadering, aan Gert van der Westhuizen gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa en Leon Wessels staan weerskante van oudpres. Nelson Mandela toe hy die Grondwet in 1996 onderteken het. Foto: Gallo Images

“Wag, ek moet jou dit wys,” sê Wessels voordat hy in ’n tas met boeke en dokumente rondsoek waar ons in ’n restaurant in sy ou kiesafdeling aan die Wes-Rand gesels. Hy haal die boek One Law, One Nation: The Making of the South African Constitution uit en begin daarin rondblaai op soek na ’n foto.

Ná ’n rukkie kry hy ’n foto van homself voor ’n groot muurhorlosie. Die wysers staan op tussen 03:30 en 03:35.

Dié foto wys hoe hard daar destyds gewerk is om ’n grondwet vir die land klaar te skryf net meer as twee jaar ná die eerste demokratiese verkiesing van April 1994.

“Dit was komitees en subkomitees en dit was armdruk en baklei en bilaterale gesprekke en so meer,” som Wessels die grondwetskrywende proses op.

“Ek het nie die Grondwet geskryf nie, maar ek het ’n baie spesiale sitplek gehad toe al hierdie ander mense aan die Grondwet gewerk het. Dit het my plesier verskaf om te sien hoe hulle bou en worstel, blokkie vir blokkie vir blokkie, en dat ek twee minute oor twaalf die middag van 8 Mei 1996 kon sê: ‘Die verrigtinge is nou afgesluit.’ ”

Thabo Mbeki het gesê om betyds klaar te maak, sal ’n geweldige positiewe boodskap uitstuur.

Wessels vertel van ’n gesprek in ’n stadium toe die sperdatum nader gekruip het, waarin gesê is die grondwetskrywers moet net praat as hulle bang is hulle gaan nie betyds klaarkry nie. Maar toe bring pres. Cyril Ramaphosa, destyds voorsitter van die Grondwetskrywende Vergadering, ’n boodskap van die adjunkpresident in 1996, Thabo Mbeki.

“Volgens hom het Thabo Mbeki gesê om betyds klaar te maak, sal ’n geweldige positiewe boodskap uitstuur. ‘Julle moet skouer aan die wil sit, julle moet wikkel.’ En dis hoe daai nagte verloop het. Dit is hoe ons by twee minute oor twaalf op 8 Mei 1996 uitgekom het.”

Nadat die konsepgrondwet op 8 Mei aanvaar is, was die proses tot die finale ondertekening op 10 Desember glad nie so veeleisend nie, hoewel dit volgens Wessels steeds baie betekenisvol was. Die publiek en belangegroepe kon byvoorbeeld verdere voorleggings maak wat oorweeg is.

“Ondanks daai valbyl van twee minute oor twaalf het die debatte voortgegaan en hou dit nog steeds aan,” sê Wessels.

Cyril en Roelf

’n Geskiedkundige dag. Oudpress. FW de Klerk en Nelson Mandela stap saam met Zanele Mbeki (vrou van oudpres. Thabo Mbeki), pres. Cyril Ramaphosa en Leon Wessels na die parlement op die dag wat die Grondwet aanvaar is. Foto: Gallo Images

Hy glo as die Grondwet vandag ter sprake kom, kan ’n mens nie in isolasie na die afgelope 25 jaar kyk nie. Daar moet ook gekyk word na die 25 jaar wat daardie dag op 8 Mei 1996 voorafgegaan het en ook na die volgende 25 jaar wat op Suid-Afrika wag.

“Die mense wat uiteindelik die Grondwet geskryf het, is geslyp in daardie 25 jaar voor 1996. In 1971 het die Nasionale Party (NP) nie ’n beleid ten opsigte van stedelike swart mense gehad nie, hulle het ook nie ’n beleid gehad oor hoe om die tuislande behoorlik te konsolideer nie. Ons het aan die vooraand gestaan van belangrike gebeure in Suider-Afrika.

“Daar was ’n hele generasie jong Afrikaner-studente wat aan die begin van die sewentigerjare onvergenoegd geraak het met die NP en uiteindelik almal rolle gespeel het in die skryf van die Grondwet.”

Onder dié mense tel vername regsgeleerdes soos Frans Venter, Johan Kruger, Lourens du Plessis, Ig Rautenbach, Rassie Malherbe, Jan Heunis, Gerrit Erasmus, Johann van der Westhuizen en Christof Heyns. Dan was daar ook aktiviste soos Fink Haysom, Halton Cheadle, Sandy Liebenberg en John Dugard.

Hulle het net eenvoudig geglo daar is geen probleem waarvoor daar nie ’n oplossing is nie.

Later het mense uit ANC-geledere soos Albie Sachs en Kader Asmal, wat volgens een storie om ’n lendelam kombuistafel in Dublin aan ’n konsep vir ’n handves van menseregte gewerk het, bygekom.

Politici het ook hul deel gedoen: Tony Leon, Pieter Mulder, Dene Smuts, Sheila Camerer, Valli Moosa . . .

Wessels sê mense in administratiewe kantore en die raadgewers van politieke partye moet ook nie vergeet word nie, maar hy het ná ’n kwarteeu steeds net die grootste lof vir wat Ramaphosa en Roelf Meyer, die ANC en NP se hoofonderhandelaars, vermag het.

“Hulle het net eenvoudig geglo daar is geen probleem waarvoor daar nie ’n oplossing is nie. Ek dink nie hulle kry genoeg lof vir wat hulle destyds reggekry het nie.”

‘Ons wou mekaar doodmaak’

’n Nuwe era van konstitusionalisme breek in 1996 aan en politici kon uiteindelik breed glimlag. Van links is oudpres. FW de Klerk, pres. Cyril Ramaphosa, oudpres. Nelson Mandela, Leon Wessels en Kobie Coetsee. Foto: Gallo Images

Daar kan volgens Wessels ook nooit vergeet word dat van die mense wat so hard aan die Grondwet gewerk het mekaar in die kwarteeu voor 1996 wou doodmaak nie.

“Die skrikwekkende ding vir my is hoe ons probeer het om Frank Chikane dood te maak. Ons het Albie Sachs probeer doodmaak.

“En 25 jaar later het almal hergroepeer. Maar dit is nie waar dit opgehou het nie. Vandag is ek en Frank Chikane in dieselfde dampkring met die Defend Our Democracy-veldtog. Albie Sachs en ek is saam deel van die Constitional Hill Trust wat die grondwetlike dokumente wil bewaar en beveilig.

“Mense soos Lawson Naidoo, Geoff Budlender en Kate O’Regan is saam met ons in Casac (Council for the Advancement of the South African Constitution) en ons is besig om ons reg te maak om hierdie Grondwet nou te verdedig.”

Jy kan nie ’n grondwet van persketyd tot ewigheid skryf nie, jy kan nie ’n grondwet in watte toedraai nie; hy moet oop wees vir debat.

Wessels sê dit is ook verblydend dat jong aktiviste en mense wat niks van die Grondwet wou weet nie (“grondwet-afvalliges” noem hy hulle) dit nou gebruik om hul doelwitte te probeer bereik.

“Hulle stem nie met elke komma en punt in die Grondwet saam nie, maar hulle gebruik dit om hul doelwitte te bereik. Dit is wonderlik. Hulle wil nie net binne die raamwerk van die Grondwet hul ideale bevorder en hul doelwitte bereik nie, maar wil ook die Grondwet dienooreenkomstig probeer wysig.

“Jy kan nie ’n grondwet van persketyd tot ewigheid skryf nie, jy kan nie ’n grondwet in watte toedraai nie; hy moet oop wees vir debat en die hindernisse moet beredeneer word, maar dit moet binne die raamwerk van die grondwet gedoen word.”

Die Grondwet maak in elk geval in art. 45 (1) voorsiening vir gereelde hersiening en Wessels verwys in dié verband na die uitspraak van Thomas Jefferson, Amerika se derde president, wat lui dat een generasie nie ’n ander generasie kan bind nie.

“Hy sê as jy mense vir langer as twee dekades wil inbind sonder om hulle te laat inkoop, dwing jy hulle tot onderdanigheid.”

En nou vir die volgende kwarteeu

Leon Wessels toe hy lid was van die Menseregtekommissie. Foto: Gallo Images

Die land se grootste bedreiging vir die volgende 25 jaar sal wees as die grondwetlike droom van sosiale geregtigheid nie werklikheid word nie – iets wat net kan gebeur as korrupsie uitgeroei word, die onderwysstelsel drasties verbeter word en geweldsmisdaad bekamp word. Alles kwessies waarvoor die Grondwet ingespan kan word.

“Die kragtigste komponente van ons Grondwet is die voorrede wat lui: ‘Kyk, dis waar ons vandaan kom en dis hoe ons is en dis hoe ons wil wees.’ En dan is daar die hele idee van regsoewereiniteit en die regstaat wat verskans word.

“Die Grondwet skep ook ruimte vir verdere ontwikkeling en verdere debat, hetsy oor taal of selfbeskikking.

Slegte mense kan ’n goeie grondwet vernietig.

“Die dilemma is egter dat ’n grondwet woorde op papier is. Goeie mense kan ’n slegte grondwet goed laat lyk en slegte mense kan ’n goeie grondwet vernietig. En as dit nie vir die Nkandla-uitspraak was nie, het (oudpres. Jacob) Zuma en sy kornuite met ons weggehardloop.”

Daar moet dus steeds met die Grondwet in die een hand gewaak word teen magsmisbruik en korrupsie. Die land is wel nie nou op ’n baie goeie plek nie, gee Wessels toe, maar ons as Suid-Afrikaners is beslis ook baie beter af as wat ons op 12 Junie 1986 was toe ’n algemene noodtoestand afgekondig is.

Daarom beskaam die hoop van 8 Mei 1996 nog nie.

“Ek stem saam met die Stellenbosse ekonoom prof. Johan Fourie wat sê dis nou ’n goeie tyd om gebore te word, dat dit nou ’n goeie tyd is om te lewe.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.