Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Grootste digitale veldslag in die geskiedenis

Dit lees soos ’n moderne, digitale James Bond-verhaal. In Nederland is onthul hoe Nederlandse digitale spioene hul Russiese eweknieë ore aangesit en bewyse gekry het van Russiese inmenging in die Amerikaanse politieke proses. Leopold Scholtz berig.

Pres. Wladimir Poetin van Rusland wou hê Donald Trump moes die Amerikaanse presidentsverkiesing wen. Foto: Getty Images

Op ’n goeie dag in die somer van 2014 sit ’n digitale spioen agter ’n rekenaar in die hoofkantoor van die Algemene Inligtings- en Veiligheidsdiens (AIVD) in Den Haag en tuur na sy skerm. Sy vingers flits oor die toetsbord.

As werknemer van dié organisasie, die Nederlandse spioenasie- en teenspioenasiediens, is dit sy taak om by die rekenaars van die Russiese veiligheidsdienste in te dring.

Opeens sit hy regop. Hy het deur al die beskermingsmure gedring en sit nou by wyse van spreke binne-in die rekenaarstelsel van die Russiese Buitelandse Intelligensiediens, die SVR – en dit sonder dat die Russe dit weet!

Dié onthulling is onlangs deur die Nederlandse gehaltedagblad De Volkskrant en die televisie-aktualiteitsprogram Nieuwsuur ná maande se ondersoek gedoen.

Die volgende dae en weke dring die Nederlander en sy kollegas al hoe dieper by die SVR se rekenaarstelsel in en laai honderde stukke hoogs geheime inligting af.

Hulle aanskou hoe die Russe die rekenaarstelsel van die Amerikaanse departement van buitelandse sake binnedring.

Maar dan gaan hul hare regop staan. Hulle kan alles wat die Russe doen, intyds volg – en wat sien hulle daar? Hulle aanskou hoe die Russe die rekenaarstelsel van die Amerikaanse departement van buitelandse sake binnedring.

Dis politieke dinamiet. Amerika berei hom voor op die verdelendste presidentsverkiesing tot nog toe, met twee uiters omstrede kandidate – die Republikein Donald Trump en die Demokraat Hillary Clinton – wat albei in die Withuis wil gaan woon.

Dis algemene kennis dat die Kremlin nie veel ooghare vir Clinton het nie. Pres. Wladimir Poetin meen hy sal eerder sake met Trump kan doen.

In Amerika is dit al lankal bekend dat die Russe allerlei Amerikaanse netwerke digitaal probeer binnedring. Twee bedreigings word geïdentifiseer: Die een kry die kodenaam Cozy Bear, die ander Fancy Bear.

Maar wie is hulle? En waar sit hulle presies?

Een Russiese aanval ná die ander gefnuik

Die Amerikaners tas in die duister – tot die Nederlandse AIVD se deurbraak deur in te breek by Cozy Bear se rekenaars.

Daar word vasgestel dat Cozy Bear deel vorm van die hoogs geheime Buitelandse Intelligensiediens (SVR) en dat daar meestal tien digitale spioene doenig is.

Meer nog: Die Nederlanders kry toegang tot die beveiligingskamera wat registreer wie Cozy Bear se kantore binnegaan en verlaat en slaag daarin om elkeen individueel te registreer.

Die algemene gevoel is dat pres. Donald Trump in elk geval die Amerikaanse presidentsverkiesing sou gewen het, selfs al het die Russe nie probeer om aan sy kant in te meng nie. Foto: AP

Nou sien hulle nie alleen wát die Russe doen nie, maar ook presies wié dit doen. Elke persoon se foto word vergelyk met data in Westerse spioenasiedienste se argiewe en binne ’n paar dae kan name by elke gesig geplaas word.

In November 2014 vind die eerste grootskaalse digitale veldslag in die geskiedenis plaas. Die Nederlanders kom agter dat die Russe hulle voorberei vir ’n digitale aanval op die Amerikaanse departement van buitelandse sake.

Hoe die Russe dit doen, is interessant. Hulle begin deur die e-posadresse van amptenare en hul aanmeldkodes te versamel. Maar dis nie genoeg om buitelandse sake se rekenaarnetwerk binne te dring nie.

’n Volle 24 uur lank duur die veldslag voordat die Russe eindelik tou opgooi.

Intussen waarsku die Nederlanders hul Amerikaanse kollegas in die National Security Agency (NSA), wat op digitale spioenasie konsentreer. Saam aanskou hulle hoe die Russe eers langs dié weg, dan langs daardie weg, buitelandse sake se netwerk probeer binnedring. Omdat die NSA egter gewaarsku is, kan die een aanval ná die ander gefnuik word.

Dan plaas die Russe rekenaarvirusse in die Amerikaanse netwerk. Die idee is dat die virusse inligting na Moskou sal stuur. Maar telkens sny die Amerikaners, intyds in kontak met die Nederlanders, die toegang af.

Dan probeer die Russe ’n ander manier, maar word weer gefnuik – want telkens word die Amerikaners deur die Nederlanders gewaarsku die oomblik wanneer die Russe hul taktiek verander.

’n Volle 24 uur lank duur die veldslag voordat die Russe eindelik tou opgooi. Hulle kan agterkom dat die Amerikaners hulle keer, maar van die belangrike Nederlandse aandeel in die oorlog het hulle geen benul nie.

Russe kry selfs toegang tot Obama se e-pos

Die Amerikaners word gedwing om hul rekenaarnetwerk ’n naweek lank af te sluit om hul beveiliging te verbeter.

Hillary Clinton en haar man, die voormalige Amerikaanse president Bill, onlangs by ’n funksie ter ere van die popgroep Fleetwood Mac. Foto: Getty Images

Nietemin – so blyk dit later – behaal die Russe één sukses. Hulle stuur ’n e-pos aan ’n Withuis-amptenaar wat meen dit kom van ’n kollega by buitelandse sake.

In die e-pos is ’n skakel. Hy klik daarop en ’n virus word geplant wat die Russe toegang tot die Withuis gee.

Die Russe kry selfs tydelik toegang tot pres. Barack Obama se e-pos (ofskoon nie die hoogs geheime boodskappe wat deur ’n spesiale kanaal hanteer word nie) – totdat die Nederlanders die NSA weer eens waarsku, waarna die Russe opnuut afgesny word.

Maar dis nie die einde van die verhaal nie. Die Russe weet steeds nie dat die Nederlandse AIVD toegang tot hul diepste geheime het nie en in die daaropvolgende maande en jare lewer dit ’n skat van inligting oor die doelwitte, metodes en belange van die Russiese spioenasiediens se leiers op.

Leopold Scholtz

Die AIVD se aandeel is intussen blykbaar, om redes wat nie vermeld is nie, verby. Wat wel duidelik is, is dat die Amerikaners die saak verder geneem het.

Vermoedelik berus die drie Amerikaanse intelligensiedienste – die FBI, CIA en NSA – se vaste oortuiging dat die Russe in 2016 die presidentsverkiesing probeer manipuleer het, op die inligting wat hulle hierna in die Russiese rekenaarnetwerke kon opspoor.

Die vraag is natuurlik wat die Amerikaners met dié kennis gemaak het. Luidens die rekonstruksie van De Volkskrant en Nieuwsuur het die NSA die Demokratiese Party gewaarsku dat die Russe die party se e-posse “steel”, maar die Demokrate het op hul hande gesit en nie veel gedoen om dit te keer nie. Vermoedelik was hulle versigtig om die FBI toegang tot hul e-posse te gee in die lig van die FBI-ondersoek na Hillary Clinton se byna misdadig onversigtige gebruik van haar persoonlike e-posadres vir amptelike korrespondensie terwyl sy minister van buitelandse sake was.

Die saak kan egter ook vorentoe politieke implikasies hê. Luidens die onthulling in De Volkskrant vorm die affêre waarskynlik belangrike bewysmateriaal vir die ondersoek van Robert Mueller na die beweerde Russiese inmenging in die verkiesing en die vraag of die Trump-kamp daarmee saamgespan het.

’n Laaste vraag is natuurlik of die Russiese inmenging verantwoordelik is vir Trump se oorwinning. Die algemene gevoel is nee, Trump sou in elk geval gewen het.

En tog sorg die saak steeds vir wye politieke opwinding.

* Dr. Scholtz is 'n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon.

Meer oor:  Donald Trump  |  Leopold Scholtz  |  Wladimir Poetin  |  Rusland  |  Amerika  |  Nederland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.