Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Gryp nou in, Cyril!

Die president moet bewys dat hy die lot van die land se mense wíl verbeter, skryf Mbhazima Shilowa.

Dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, en pres. Cyril Ramaphosa vier die ANC se 108ste verjaardag vandeesweek in Kimberley. Foto: Masi Losi

Die afgelope week het die ANC sy 108ste bestaansjaar gevier.

In die verlede het die party se 8 Januarie-verklaring ’n toekomsvisie vir Suid-Afrika geskets en ’n program van aksie uitgestippel asook ’n oproep tot aksie om die wêreld aan te spoor om ’n einde aan apartheid te bring.

Ná 1994 is dit die gebruik van die ANC om tydens die geleentheid ’n aksieprogram vir die organisasie en die regering bekend te maak. Deesdae gee net die media en ’n paar politieke kommentators nog aandag aan hierdie vieringe, want vir die meeste mense het dit betekenis verloor. Nou is dit slegs ’n geleentheid vir die party om homself op die skouer te klop en sy suksesse te vier – wat dit ook al beteken.

Dit is duidelik dat die verklarings wat tydens die geleentheid gemaak word – met die uitsondering van die vroeë jare van die Mandela- en Mbeki-era, geen invloed op die regeringsprogram het nie. Dit is asof die party kontak verloor het met die werklikhede wat die land in die gesig staar of geen oplossings daarvoor het nie.

Die land is geregtig op goeie leierskap.

Daar is algemene eenstemmigheid dat Suid-Afrika se grootste probleme hoë werkloosheid en lae of nie-bestaande ekonomiese groei is. Dis ’n situasie wat vererger word deur voortdurende beurtkrag. Hoë misdaadsyfers, veral die moord op vroue en kinders met min arrestasies en lae skuldigbevindingsyfers, korrupsie, wanadministrasie en die misbruik van staatshulpbronne, bly steeds ’n probleem. Ons staatsondernemings is op die punt van ineenstorting weens staatskaping.

Die gehalte van gesondheidsdienste, onderwys en ons infrastruktuur laat veel te wense oor. Openbare vervoer, paaie, water en sanitasie, veral in landelike provinsies, is in ’n toestand van verval.

Treine, elektriese kabels en treinspore word straffeloos beskadig. Hoe verklaar jy die feit dat geen van die werklike belhamels (met die uitsondering van twee tieners) nog in hegtenis geneem is vir die voortgesette brandstigting op Kaapse treine nie? Behalwe vir die verbloeming van hul eie twyfelagtige praktyke het die land se intelligensiedienste niks om te bied nie – ’n perfekte voorbeeld van ’n uitgeholde veiligheidstelsel.

Maande nadat die land van oudpres. Jacob Zuma ontslae geraak het, wag ons steeds vir die nuwe daeraad om te breek. Dis eerder asof die skemer nou eers begin het.

En dit is nie asof enigiemand verwag het dat dinge oornag sal verbeter nie. Dit gaan jare neem om dit wat vernietig is, weer op te bou.

Maar wat ons wel verwag het, is ’n paar rigtingwysers – buiten die retoriek oor ’n radikale nuwe ekonomiese beleid – wat daarop dui dat daar inderdaad ’n nuwe begin gemaak word.

Dit is tyd dat die ANC minder fokus op paleisrevolusies en interne partypolitiek en meer op die uitdagings in die land.

Indien die land se ekonomie in duie stort, gaan ons almal geraak word, ongeag ons politieke affiliasie of sosiale posisie.

Die vraag is dus nie wat om van die 8 Januarie-verklaring te verwag nie, maar wat die president gaan doen om die onheil te voorkom, ongeag wat in die verklaring staan? Vergeet van die geraas wat die opposisie maak. Hulle is net so doelloos as die regerende party. Dit is een ding om die foute uit te wys, maar iets heel anders om ’n omvattende plan voor te stel om die skip se koers te verander.

Tydens die ANC se Nasrec-konferensie was die Cyril-faksie se strydlied “Phakama Ramaphosa”.

“Phakama si ku bone Ramaphosa” (staan ??op en maak jouself sigbaar, Ramaphosa) is ook die land se huidige strydlied.

Sal die kaptein die skip stuur of gaan hy saam met sy bemanning onder die dek skuil terwyl sy skip doelloos ronddobber? Ek hoop vir ons onthalwe dat hy die stuurwiel sal vashou en sal ophou om oor sy skouer te kyk om te sien of iemand anders die wiel van hom probeer wegneem.

Om die skip te stuur, sal ’n konkrete plan nodig wees om die ekonomie oor die volgende 10 tot 15 jaar te laat groei.

’n Ekonomie wat werk kan skep buite mynbou en vervaardiging – sektore wat albei in die vorige eeu tuishoort.

Hy moet aanvaar dat hoewel daar areas van uitnemendheid in gesondheidsvoorsiening, maatskaplike dienste en onderwys is, ons van voor af sal moet begin om leerlinge voor te berei op die uitdagings van die vierde nywerheidsrevolusie – wat dit ook al beteken. Dit is een ding om gratis onderwys te gee en vir leerlinge om matriekeksamens te slaag, maar iets heeltemal anders om seker te maak hulle is gereed vir die arbeidsmark.

Alhoewel die regering en sakesektor baie geraas maak oor nuwe beleggings, is die werklikheid dat dié beleggings dikwels net die heruitrus van bestaande fabrieke of die uitbreiding van produkreekse behels en nie een is in die produktiewe sektor van die ekonomie nie – dis meer ’n fotogeleentheid as enigiets anders.

Dit is tyd dat die regering sowel wortel as stok gebruik om volhoubare beleggings te verseker.

Sonder ’n nuwe sosiale kontrak tussen arbeid, regering en die sakesektor is ons vinnig op pad na nêrens.

Na my mening gaan dit nie oor die loonbeleid nie, maar oor ’n inkomste- en produktiwiteitsbeleid, insluitend winsdeling.

Dit is dieselfde in die openbare sektor. Om teen die vakbonde uit te vaar en salarisse te verminder, gaan nie werk nie. Waarom moet werkers die enigste mense wees wat die las dra van staatskaping as die uitvoerende en senior bestuur voortgaan asof niks gebeur het nie?

Ons loonrekening kan dalk ’n probleem wees, maar dit is moeilik om te sien hoe dit opgelos kan word as ons in werklikheid meer onderwysers, verpleegsters, dokters, maatskaplike werkers en polisielede nodig het.

Waarom word die probleem van die ten volle gefinansierde staatspensioenfonds nie aangepak nie? Die hoofrede waarom ons ’n vol-gefinansierde staatspensioenfonds het, was die vrees dat die ANC-regering sulke hulpbronne sou plunder en werkers sonder dekking laat. Die waarheid is dat die doelwit destyds was om dit net tot op ’n sekere vlak te finansier – nie sodat die fonds nou op berge kontant sit terwyl die staat sit met enorme skuld nie.

Alhoewel dit belangrik is om grondonteiening te bespreek, is die waarheid dat groot dele van die land tans braak lê, of onder die beheer is van die regering en stamhoofde. Dié grond kan onmiddellik beskikbaar gestel word vir kleinboere en arm huishoudings.

As die president dink dat die ontbondeling van Eskom die antwoord is, moet hy óf toesien dat die huidige minister ’n weldeurdagte program vir die implementering daarvan deur die direksie uiteensit, óf ’n nuwe minister kry.

Dit is uiters noodsaaklik dat die Eskom-direksie magte kry en toegelaat word om dit uit te oefen (of afgedank word as hulle misluk).

Ons kan nie op twee stoele sit nie. Ons het op die oomblik ’n regering wat alles wil mikrobestuur en ’n direksie wat kragtens wet verantwoordelik is vir die regruk van die instelling. Wat is die punt daarvan om ’n direksie te hê as dit nie toegelaat word om sy werk te doen nie?

Dieselfde geld vir die wetstoepassingsagentskappe. Dis nie die president se taak om te bepaal wie of watter sake ondersoek en vervolg moet word nie.

Dit is nie te veel vir die land om te verwag dat mense reeds tot verantwoording geroep moes gewees het ná alles wat reeds op die lappe gekom het nie.

Glo ek dat die president opgewasse is vir die uitdaging?

Wat ek dink is nie ter sake. Hy het na die mense gegaan en gevra dat hulle hom moet steun met die belofte dat hy die skip van koers sal laat verander.

Dit is nie ’n kwessie of hy die beste is wat ons het nie.

Dit is die mense wat gepraat het, en hy is dus verplig om te doen wat hy beloof het – of hy sal hul steun in die volgende verkiesing verloor.

Ek wag met ingehoue asem – nie vir wat uit die ANC se 8 Januarie-verklaring gaan kom nie, maar wat Ramaphosa as regeringshoof bereid is om te wys.

Ek hoop dat dit nie alles by praatjies gaan bly nie, maar dat hy vasberade is om die lot van die land se mense te verbeter.

  • Mbhazima Shilowa is ’n voormalige premier van Gauteng en oudleier van Cope.
Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Mbhazima Shilowa  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.