Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hand in boesem is hoe Afrikaans gedy

Ons moet leer by die kreatiewe bedrywe as ons wil hê die taal moet floreer, skryf Waldimar Pelser.

Die vraag oor Afrikaans se verlies aan status as universiteits­taal is lankal nie bloot hipoteties, ’n paranoïese sprong die distopiese donker in nie – ons is reeds amper daar. Waar Afrikaans nog in lesings aangebied word, beskou die meeste universiteitsowerhede dit as ’n tussentydse maatreël, ’n fraai verversingspos op pad na die eindbestemming van ’n eentaligheid wat haar voordoen as apolities, inklusief en ’n voldonge feit.

Hemingway het gesê mense raak op twee maniere bankrot – geleidelik en dan skielik. So verskraal Afrikaans sedert 1994 in die openbare sfeer ondanks die beste bedoelings van die grondwetskrywers.

Wat dit moeilik maak om te aanvaar, is dat Afrikaans nie in die Wes-Kaap deur Xhosa of in Gauteng deur Zoeloe of Noord-Sotho verplaas word nie – dít sou ’n mens dalk as die volbloed-Afrikanisering van die akademie kon wegverduidelik, ’n dekolonisering waarvan Engels die noodwendige hoofteiken en Afrikaans die toevallige slagoffer sou wees; Afrikaans, die kreoolse, poreuse taal waarin verdrukking destyds gepromulgeer is maar waarin bruin en swart Afrikaanses en ’n paar wit mense ook weldra teen verdrukking gestry en gedig en gepreek het.

Daar waar sprekers van die taal uitgelos word deur die staat, skep hulle betekenisvolle inhoud en kuns in Afrikaans.

Afrikaans word op kampusse verskraal ter wille van Engels, en dikwels ’n bra tweederangse Engels, selfs in die Wes-Kaap, waar Afrikaans die huistaal van 49% van die inwoners is.

Maar belangrik soos dit is om na die stand van Afrikaans op kampusse te kyk, is dít nie die enigste aanduider van hoe dit met die taal gaan nie.

Dankie tog daarvoor.

Want nie alles word al hoe meer Engels nie. Daar waar sprekers van die taal uitgelos word deur die staat, skep hulle betekenisvolle inhoud en kuns in Afrikaans. Hul skeppings lok gehore, kykers en lesers, wat die ANC en die Twitterati ook al daaroor te sê mag hê.

Die lyngrafiek wat die trajek van Afrikaanse kultuurgoedere karteer, is ’n weerbarstige statistiese uitskieter wat doods­tydings oor Die Taal na goedkoop sensasie laat lyk.

In By skryf Nicol Stassen van Protea Boekhuis in Oktober verlede jaar dat Afrikaanse boeke markaandeel in Suid-Afrika wen. In 2004 was sowat 22% van plaaslik gepubliseerde boeke Afrikaans. Teen 2015 het dié syfer op 49% gestaan.

In 2015 was al tien plaaslike topverkoperfiksieboeke in die land Afrikaans, net soos die toptien kinderboeke.

Sowat 2000 nuwe Afrikaanse gedrukte en e-boeke is in 2014 in Suid-Afrika gepubliseer, teenoor sowat 1 300 in Engels en 550 in die nege Afrikatale.

Ook Afrikaanse flieks floreer, ná ’n hele paar insinkings sedert die eerste Afrikaanse fliek, oor die Voortrekkers, in 1916 uitgereik is.

Tussen 1931 (Sarie Marais, die tweede fliek) en die blomtyd van die 1970’s het in die meeste jare darem een of twee flieks verskyn. Maar in 1975 was daar 23 nuwes – ’n rekord wat steeds staan, skryf Leon van Nierop in sy boek Daar doer in die fliek.

Die bodem het behoorlik in die laat 1980’s uitgeval. In 1989, ’95, ’96, ’98, ’99, 2001, 2002 en 2005 is nie een Afrikaanse fliek vervaardig nie, skryf Van Nierop.

Wie sou kon dink dat die tweede renaissance van die Afrikaanse fliek sou aanbreek in 2007, die jaar toe Jacob Zuma president word van die ANC?

Twee Afrikaanse flieks is uitgereik in 2007, drie in 2008, vier in 2009, sewe in 2010 en 2011, agt in 2012, 15 in 2013, en 16 in sowel 2015 as 2016. ’n Nuwe asem terwyl fluisterstemme agter bak hande oor begrafnisreëlings praat. Zuma self het dalk niks hiermee te doen gehad nie, maar die departement van handel en nywerheid het sowat ’n derde van die produksiekoste van baie van hierdie Afrikaanse flieks gedra. Ook kykNET was natuurlik ’n belangrike borg en die Silwerskermfees het volop nuwe Afrikaanse fliektalent help slyp en doen dit steeds.

Ook Afrikaanse teater floreer – nie net op die feeste nie – en word veel meer entoesiasties as Engelse teater ondersteun.

Maar die feit dat dit nou goed gaan met die boeke en die flieks en die musiek en die TV, sê bitter min oor môre, soos wat die Kerskalkoen telkens nét te laat besef.

Wat op skole en kampusse gebeur, sal noodwendig op die ou end op hierdie ­ander gebiede moet manifesteer.

Van Afrikaans as onderrigtaal op universiteit is min oor.

Met die aanvang van die akademiese jaar in 2017 verdwyn Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit van Suid-Afrika, skryf prof. Flip Smit verlede maand in Rapport.

Al is nêrens gevra dat Afrikaans die enigste onderrigtaal moet wees nie, is dié wat pleitbesorgers is en was vir taaldiversiteit sonder meer gebrandmerk as bewakers van wit opperheerskappy. In ’n land so divers soos ons s’n het die vegters vir eenselwigheid en eentaligheid tussen brandende geboue en verskrikte dosente tog hul sin gekry.

Dít selfs al is Afrikaans sowat 7,5 miljoen Suid-Afrikaners se huistaal, waarvan 3,6 miljoen bruin en 2,7 miljoen wit is. Dit is 13,5% van die bevolking. Afrikaans is die huistaal van 76% van bruin mense en 61% van wit mense. Engels, herinner Smit ons, is die huistaal van 2,8% van swart Suid-Afrikaners.

Sowat 140 000 Afrikaanse studente, van wie sowat 60% wit en 40% bruin, studeer tans aan die land se 26 universiteite. Tog is daar van die wil om vir taaldiversiteit op kampusse te veg by universiteitsbesture bloot geen teken nie.

In die skole gaan dit wel ’n bietjie beter, hoewel Engels ook daar veld wen.

Volgens dr. Jaco Deacon van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) bied een uit elke tien skole onderrig in Afrikaans. Al hoe meer skakel wel na parallelmedium oor – iets wat natuurlik dikwels juis die behoud van ’n Afrikaanse stroom op skool kan help verseker deur leerlingtalle op te stoot.

In die Wes-Kaap bied 75% van skole onderrig in Afrikaans, teenoor 12,5% in Gauteng en 14% in die Vrystaat.

Syfers van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) wys voorts dat die helfte van bruin Afrikaanse leerlinge en 15% van wit Afrikaanse leerlinge deesdae in uitsluitlik Engelse skole is.

So ja, skole én universiteite verengels. Die groot verskil is dat alle residensiële universiteite staatsuniversiteite is, terwyl skole ’n groter mate van outonomie geniet en private skole oral opskiet.

Daarom is die kans so skraal dat Afrikaans en die klimaat vir Afrikaans binnekort op kampusse sal verbeter – die afhanklikheid van (en gedienstigheid jeens) die staat is net te groot.

Die digter en aktivis Breyten Breytenbach noem dit wat by voorheen Afrikaanse universiteite, veral Stellenbosch, gebeur, “tekstuur-vernietigend en reaksionêr”. Dis ’n “merker van radikaal teenstrydige sienings van wat ’n universiteit – in die Boland, in Suid-Afrika, in Afrika, in die wêreld – behoort te wees”.

Hy vra: “Wie gaan baat by die uitsluiting wat die afskaling van Afrikaans beteken? Van wanneer af is dit ’n óf-óf-situasie?”

Hy betreur dat op Stellenbosch nie gehoor gegee word nie “aan die legitieme verwagtinge van hulle natuurlike en grotendeels plaaslike opvanggebied soos ’n mens dit van enige universiteit sou verwag wat ernstig is omtrent die dialektiek tussen plaaslike behoeftes en oorkoepelende doelwitte en waardes en moontlikhede”.

’n Verlies aan diversiteit benadeel almal. Taal is op soveel maniere deel van die volle uitlewing van ons “burgerskap en menswees”. Taal is “lewende weefsel”.

So waarom word dié wat vir verdraagsaamheid jeens andersheid pleit, gemuilband?

’n Kollega sê dat om oor Afrikaans op staatsuniversiteite te kla bietjie is soos om langs jou bouvallige huis te staan nadat ’n tsoenami deur die dorp is en te sê: “Dit moes nie gebeur het nie.” Maar dit het. Ons kan tog nie al ons energie daarin stort om Afrikaans op kampusse in stand te hou nie – dis ’n onbegonne taak.

Hoe behoort ons te reageer?

Ons moet by die bedrywe leer wat so floreer. Dít wat Afrikaanssprekendes wil lees in Afrikaans, moet ons self skryf. Die klasse wat ons graag wil bywoon in Afrikaans, moet ons self aanbied. Óns moet die teaters volsit en die boeke en koerante koop.

Óns moet verseker dat daar binne reikafstand van Afrikaanse kinders, bruin en wit, oor hierdie land heen goeie Afrikaanse skole is wat leerlinge lok, nie omdat die skool Afrikaans is nie, maar omdat dit die distrik se beste skool is. Ons moet belê in die opleiding van goeie onderwysers, sodat Afrikaanse kinders wat die skool verlaat, toegerus is vir die kennisekonomie.

Ons moet terselfdertyd besef dat as al die wit Afrikaanse kinders in een skool is en al die bruin Afrikaanse kinders in ’n ander skool, daardie kinders óók kultureel verarm, en daarom moet ons oopkop oor parallelmediumskole wees.

                                                                                                     *****

G’n mens sou die volslae privatisering van die Afrikaanse leefwêreld bepleit het as die regering erns met meertaligheid gemaak het nie.

Tog word “privatisering” en die “skep van ’n parallelle staat” plek-plek gekritiseer – net soos die pogings van pleitbesorgers vir die taal om teen die regering daaroor te litigeer.

Dis verkeerd.

Dit is eng en dogmaties om dié te kasty wat nog nie heeltemal opgegee het nie, wat die verbeelding en moed het om van die staat en die Grondwet nog iets te vra.

Sal dié wat oor inisiatiewe ten bate van Afrikaans gekant is, bereid wees om afstand te doen van hul mediese skema, ADT, Curro-skool, DStv of Netflix en te kyk hoe ver hulle kom as hulle net dít kry wat die staat vir hulle gee.

Gesonde verstand moet dikteer dat die hofsake by Maties en Kovsies nie die enigste inisiatief durf wees om Afrikaans se legitieme aanspraak op ruimtes ’n werklikheid te maak nie, maar dit verdien ook nie veroordeling nie.

Dis nie die Afrikaanses wat vir ’n plek vra wat onverdraagsaam is nie.

Kan Afrikaans floreer as hy sy status as universiteitstaal verloor? In baie ruimtes natuurlik ja. Maar nie ten volle nie.

Geen taal kan sy volle potensiaal bereik of aanhou verwesenlik as hy kunsmatig by die hekke van die akademie gestuit word nie. Dit is boonop moeilik om te sien hoe enigiemand daardeur bemagtig word. Dit sal slegs ’n verskraling eerder as ’n verruiming wees.

As dit is wat die politiek op die ou end onvermydelik maak, as genoegsame steun vir die saak en genoegsame veglus op die ou end afwesig is, sal Afrikaans natuurlik nie sterf nie. Maar regtig floreer? As daar ’n wil is, miskien eendag weer.

  • Dié is ’n geredigeerde weergawe van die Johan Combrink-gedenklesing gelewer op Donderdag 16 Februarie te Stellenbosch.
Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.