Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hanlie vs. Kallie oor Tumi: 'Móég vir skurk-wees'’

'n Storm het losgebars nadat AfriForum die Jacaranda-omroeper Tumi Morake van rassisme aangekla het. Hanlie Retief het hul hoof, Kallie Kriel, hieroor uitgevra.

Kallie Kriel

Morake het in haar oggendprogram die nadraai van apartheid vergelyk met boelies wat ’n fiets steel, maar eerder om die dief te straf, word die slagoffer gevra om die fiets te deel.


Hoekom kla julle haar aan?
Afrikaners is keelvol, want hulle word politieke slaansakke en uitgekryt as boelies.


Was dit haatspraak of bloot ’n mening in ’n robuuste radiodebat?
Sy is geregtig op haar mening, maar só het luisteraars ook die reg om te sê daar is onbillik opgetree. Dis ’n basiese beginsel dat jy in so ’n debat verskillende standpunte laat hoor wat nie strydig is met die uitsaai-
kode nie.


Morake sê sy het nooit gesê wit mense moet hulle vir hulself skaam nie. Sy vra: As Afrikaners nié boelies is nie, hoekom val hulle haar aan?
Hoekom kan sy háár standpunt stel, maar ontsteld raak as ander ook oop en eerlik sê hulle is keelvol vir die dubbele standaarde en narratief dat Afrikaners altyd die skurke is?


Morake wonder hoekom wit mense dink dis teen hulle gemik elke keer as mense oor apartheid praat.
Wie is die boelies na wie sy verwys het, wat gestraf moet word?

Ons koop nie haar argument nie.
Sy sê die “fiets” is bloot ’n analogie om swart mense se emosies te verduidelik.
Sy het die verkeerde analogie gebruik. Sy moes ’n groot deel van die luisteraars se gevoelens gerespekteer het, nes sy verwag mense moet haar gevoelens respekteer. As dit oor ’n radiostasie was waar ’n wit persoon swart mense beledig het, sou almal gesê het die reg moet sy gang gaan. Ons vra net vir ewewigtigheid. Toe Darren Scott swart mense beledig het, het Jacaranda hom dadelik afgedank. Nou is hier ’n omroeper wat sê wit mense is boelies.


Morake meen ons land sal nie vooruitgang maak as ons nie dié ongemaklike gesprekke voer nie.
Dié soort gesprek is nodig. Maar Tumi is ’n meningsvormer en sy het die ekstra verantwoordelikheid om gebalanseerd op te tree. Tumi kon natuurlik sê hoe sy voel, maar dit was nie nodig vir haar om Afrikaners as boelies uit te beeld nie.


Jy het haar nou genooi vir ’n gesprek. Wil julle haar steeds by die uitsaaiowerheid aankla?
Dis voortydig om te sê. ’n Klag beteken nie daar is nie ruimte vir gesprek nie.


Die joernalis Jo-Ann Floris meen julle neem nie die werklike pyn van slagoffers van apartheid in ag nie.
Ek sal met haar wil gesels daaroor. Ek glo nie in die konsep van kollektiewe skuld nie. ’n Hele gemeenskap kan nie instaan en voortdurend jammer sê nie. Ek persoonlik respekteer haar standpunt en het empatie daarvoor. Maar sy moet ook empatie hê met mense wat voortdurend uitgebeeld word as boosaards en hul frustrasie ook erken.


Is AfriForum se verwysing na “sogenaamde apartheid” nie die simptoom van ’n toondoofheid oor die verlede nie?
Dit is nie AfriForum se woordeskat nie. Dié term het ’n hele paar jaar gelede verkeerdelik in ’n dringende hofaansoek van ons ingesluip. Ek het dit al in ’n debat met Pieter du Toit (redakteur van Huffington Post SA) op rekord geplaas dat dit nie ons standpunt is nie. Ons opponente sal dit uiteraard aanhou gebruik.


En die kritiek dat AfriForum toondoof is oor die verlede?
Nee, ons is eerder omgekrap dat rasseboelies die verlede misbruik om Afrikaners in die hede politieke slaansakke te maak. As ons durf waag om te sê ons voel ons word verkeerd behandel, is die eerste reaksie ons is rassiste en ons het geen simpatie vir hul gevoelens nie.

Om simpatie met mense te hê beteken nie jy kan nie jou eie gevoelens opper nie.

Meer oor:  Kallie Kriel  |  Tumi Morake  |  Afriforum  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.