Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Harry en Meghan se versugting na ’n lewe in Afrika

Prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, se uitlatings in ’n nuwe dokumentêre program wys duidelik waar hul harte lê, maar hul emosies oorskadu die doel van die dokumentêr, skryf Arlene Prinsloo.

Prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, lig in ’n nuwe dokumentêre program die sluier oor hul emosies. Foto: Reuters

Hy sal nie geboelie word om dieselfde speletjie te speel wat tot sy ma se dood gelei het nie, het die prins gesê in ’n wydlopende onderhoud wat Sondagaand in Brittanje uitgesaai is.

Tog herinner sy uitlatings in Harry and Meghan: An African Adventure, geweldig aan dié wat sy ma, Diana, in haar lewe gemaak het. Sy het, net soos Harry, in die openbaar oor die intense mediabelangstelling in haar lewe as lid van die Britse koninklike gesin gepraat. Diana het in 1993 selfs so ver gegaan as om haar gedeeltelike onttrekking aan die openbare lewe aan te kondig, ’n besluit wat mediabelangstelling net nóg meer aangevuur het.

Maar terug by Harry en Meghan, wie se “avontuur” in Afrika eerder as ’n sielsopenbarende klaaglied gesien kan word.

Nie maklik nie

Meghan sê sy het geweet “hierdie ding” gaan nie maklik wees nie, maar sy het gedink dit sal regverdig wees. “Dís die deel waarmee ek sukkel om vrede te maak. Ek neem alles nou dag vir dag,” het Meghan gesê.

Toe sy en Harry, of H, soos sy hom liefdevol noem, in ’n verhouding betrokke geraak het, het haar vriende haar gewaarsku dat die Britse poniepers haar gaan “verslind”.

Ek is ontsettend lief vir hom [William], maar broers het goeie en slegte dae.
Prins Harry

Die paartjie was ná hul warrelwind-romanse, troue en suksesvolle toer na Australasië in September verlede jaar op die kruin van hul gewildheid. Toe begin die skinderstories uitlek uit die paleis: Die een ná die ander personeellid van die Sussexe bedank. Meghan is moeilik. Meghan is veeleisend. Meghan en Catherine, vrou van prins William, was kort voor Meghan en Harry se troue in Mei verlede jaar haaks. Catherine was in trane . . . En toe, oplaas, William en Harry het vasgesit.

Die broedertwis

Die Sussexe en Cambridge-egpaar op Buckingham-paleis se balkon. Harry sê in die nuwe dokumentêre program dat broers goeie en slegte dae het. Foto: Getty Images

Harry ontken nie in die dokumentêr dat hy en sy broer vasgesit het nie. Op die vraag van Tom Bradby of daar ’n kloof tussen hulle is, het Harry sonder omhaal geantwoord dat hy en William tans op verskillende paaie is. “Ek is ontsettend lief vir hom, maar broers het goeie en slegte dae. Ek sal altyd daar wees vir hom, soos hy altyd daar vir my sal wees.”

Oor sy gesin is Harry beslis: “Ek sal altyd my gesin beskerm.” (Die onmin het glo begin toe William die vinnige verloop van Harry en Meghan se verhouding bevraagteken het.)

Geestesgesondheid

In Huambo, Angola, het prins Harry in sy ma se voetspore geloop. In 1997 was dié straat in Huambo ’n veld vol landmyne. Die werk van die Helo-trust het gehelp om die gemeenskap in staat te stel om ondernemings langs die pad te open en huise te bou. Foto: Getty Images

Harry is pynlik eerlik oor sy gemoedstoestand. Volgens hom het dit voor die wind gegaan totdat alles (sy ma se dood) hom weer getref het.

Die rooikop-prins is saam met sy broer en hul vroue groot voorstanders dat mense openlik moet praat oor kwessies wat hul geestesgesondheid raak.

Die geboorte van sy en Meghan se eersteling, Archie, kon moontlik die trauma van sy ma se dood weer oopgekrap het. Wie weet, maar dit maak sin dat sy besoek aan veral Angola ongelooflik emosioneel vir hom was. Vandaar die stelling dat alles hom aan sy ma herinner. Die intense mediabelangstelling, kameraflitse en die klank van kamerasluiters herinner hom aan die donker deel van sy ma se lewe. (Diana was in haar leeftyd een van die mees gefotografeerde vroue ter wêreld.)

Hul lewenstaak

Uit die dokumentêre program blyk dit ook dat daar by Harry geen onduidelikheid oor sy en Meghan se lewenstaak is nie. Hy meen met sowat 19 Statebondslande op die vasteland het hulle baie werk om in Afrika op die gebied van die omgewing, bewaring en opheffingswerk te doen.

Dit is die vasteland wat hom ná sy ma se dood (in 1997) aangeneem het. Hy wil sy liefde vir Afrika aan sy seun oordra, vertel hy.

Meghan sê prontuit dat dit nie genoeg is om net te oorleef nie.

Dit is amper asof ’n mens as kyker sy frustrasie kan aanvoel omdat hul droom om in Afrika te kan woon en werk, nie tans ’n werklikheid kan word nie.

Kaapstad, waar die paartjie met hul toer begin het, is ongelooflik, sê Harry. Die stad sal as ’n ongelooflike basis kan dien vir hul werk in Afrika, maar met alles wat daar (in Kaapstad, Suid-Afrika) aangaan, is dit nie tans ’n moontlikheid nie. Hy verwys dan ook vlugtig na die kritiek wat hulle moontlik kan kry as hulle sou besluit om Brittanje te verlaat.

’n Mens kan nie net bestaan nie

Dit is duidelik dat albei met die fel mediakollig en die alewige stories oor hulle sonder meriete sukkel.

Meghan sê prontuit dat dit nie genoeg is om net te oorleef nie. “Dit is nie die punt van die lewe nie. Jy moet kan floreer en gelukkig wees.”

Die paartjie het met hul en Archie se kuiertjie by die struggle-ikoon “Arch” Desmond Tutu stralend gelukkig gelyk. Maar die gekrap en die aanhoudende negatiewe beriggewing is besig om hulle onder te kry. “Ek vat dinge maar dag vir dag,” sê Meghan na aan trane. “Ek het my baba en ek het my man.”

Die stywe bolip

Harry se spreekwoordelike stywe Britse bolip wou-wou bewe in die dokumentêre program, en Meghan is eerlik dat sy nie dié eienskap kan aanleer nie. “Ek het hierdie Britse stywe-bolip-ding probeer, maar dit is ongesond vir jou. Ek’t nooit gedink hierdie ding gaan maklik wees nie, maar ek het gedink dit sal regverdig wees – dis die deel waarmee ek sukkel om vrede te maak.”

Of dié program die regte tyd en plek vir die Sussexe was om hul kwesbaarheid só ten toon te stel, is ’n ope vraag.

Selfs William, wat geleer het om sy emosies soos koningin Elizabeth, sy ouma, vir homself te hou, het al by geleentheid gesê die stywe bolip het ’n tyd en ’n plek, maar mense moet begin ontspan en praat oor hul emosies omdat geen mens ’n robot is nie.

’n TV-dokumentêr is dalk nie die plek waar jy jou bolip moet ontspan en jou hart skoonmaak nie. Jy ontbloot jou siel te veel, nie net voor die onderhoudvoerder nie, al is dié hoe simpatiek, maar ook voor die wêreld.

Afrika as agtergrond

Die Sussex-gesin: Meghan, prins Harry en klein Archie, wat op versoek van sy ouers nie ’n titel het nie. Foto: Getty Images

Die eintlike rede vir die dokumentêre program was om Harry en Meghan se avontuur in Suider-Afrika – die opruim van landmyne in Angola, die bewaring van woude as deel van die Queen’s Canopy en die fantastiese opheffingswerk wat onder gemeenskappe gedoen word – te belig. Dít alles word in die dokumentêre program vir ’n amper koninklike terapiesessie op die agtergrond geskuif.

Daar is ’n tyd en ’n plek vir alles. Of dié program die regte tyd en plek vir die Sussexe was om hul kwesbaarheid só ten toon te stel, is ’n ope vraag.

Op sosiale media is daar natuurlik lof én kritiek.

Aan die een kant is diegene wat meen dat Harry en Meghan innerlike krag wys deur só eerlik oor hul gevoelens te praat. Ander meen weer dat hulle so vinnig as moontlik van die toneel af moet verdwyn.

Kritiek op al die nuwelinge

Dít sal natuurlik nie maklik wees nie. Harry se posisie op die rangorde van moontlike troonopvolgers is eenvoudig té hoog. As seun van die volgende koning van Engeland sal hy en sy gesin eenvoudig dan en wan gesig móét wys.

’n Tweede tuiste in Afrika sal ideaal wees.

Meghan is ook nie die eerste nuwe lid van die koninklike familie wat in die Britse poniepers deurloop nie. Daar is ’n rits ander. So kon ook nie Camilla, Catherine óf Fergie die poniepers se aanslae vryspring nie. (Dis egter veel makliker vir die manlike “inkommers”.)

’n Tweede tuiste in Afrika sal ideaal wees. ’n Plek van waar die Sussexe hul humanitêre en bewaringswerk op die vasteland kan voortsit sonder dat hulle alewig vir die paparazzi se kameras moet koes.

Tot tyd en wyl Afrika hierdie heenkome vir Harry en Meghan kan bied, sal hulle eenvoudig ’n middeweg moet vind. William en Catherine kon.

Meer oor:  Meghan  |  Prins William  |  Prins Harry  |  Prinses Diana  |  Angola  |  Afrika  |  Kaapstad  |  Paparazzi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.