Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Harry & Meg: ’n Kwessie van koek

Hulle moet een van die twee kies – en kan nie albei tegelyk hê nie. (Maar wil ons almal nie?) vra Tom McTague.

19 Mei 2018: Meghan Markle word deel van die firma. Foto’s: Getty Images

Toe François Hollande, destyds president van Frank­ryk, in Januarie 2014 in Engeland arriveer vir samesprekings met premier David Cameron oor militêre samewerking, het niemand in die Britse media ’n snars omgegee oor die amptelike rede vir sy besoek nie.

Destyds is daar pas onthul dat Hollande ’n affair met ’n Franse aktrise het – dit terwyl sy meisie saam met hom in sy ampswoning bly. Britse joernaliste het onophoudelik hieroor gepraat en kon nie wag vir die oomblik om hom uit te vra nie.

Op die mediakonferensie wou Christopher Hope van The Telegraph by die president weet of sy private lewe ’n “internasionale grap” van Frankryk maak, of hy steeds die affair het, en of hy gewens het sy minnares is nou by hom in Engeland.

Hollande wou nie antwoord nie. Die Franse joernaliste, wat hierdie nuushoek vermy het, was ná die tyd buite hulself van opwinding en nuuskierigheid. Hulle wou by ons (ek het destyds vir die Daily Mirror gewerk) weet: Het die Britse regering ons opgesteek? Nee, hulle het nie.

Harry kan nie heeltemal ontkom aan die gevolge van sy keuses nie.

Dit was ’n kwessie van twee verskillende kulture. In Frankryk word ’n dik rooi streep getrek tussen private en openbare sake. In Brittanje nie.

Vir die Britse media is persoonlike wangedrag veelseggend omdat dit politieke leiers se karaktereienskappe onthul. En omdat politici oor ons regeer, het ons die reg om te weet.

In Brittanje is skynheiligheid die ergste aanklag, die grootste sonde van alle sondes. Die regering van John Major is in 1997 uitgestem – deels weens sy veldtog van “terug na die basiese”, wat ’n beroep gedoen het op ’n terugkeer na tradisionele waardes. Dit het dadelik die media meer ammunisie gegee om die regering se “smet” te teiken.

5 September 1997: Prins Charles, Harry en William kyk na huldeblyke vir Diana die dag voor haar begrafnis.

Ed Miliband van die Arbeidersparty is eindeloos gespot omdat hy sosialisme gepredik het terwyl hy twee kombuise in sy huis het.

En David Cameron, wat nie geweet het wat ’n brood kos nie omdat hy kwansuis ’n “broodmaker” tuis gehad het, was voorbladnuus – hy was uit voeling met die mense vir wie hy gemaan het om spaarsamig te leef.

Op dieselfde vraag het Boris Johnson geantwoord: “Ek kan jou wel sê wat ’n bottel sjampanje kos, hoe klink dit?” Die reaksie hierop was geamuseerde applous – nie venyn nie.

Hoekom? Dit het gewys Johnson is wel méér uit voeling as sy voorgangers, maar darem nie so skynheilig nie.

In Brittanje is skynheiligheid die grootste sonde van alle sondes.

(Brittanje het ironies genoeg nou ’n premier verkies wat ’n geskiedenis van ontrouheid, ’n onbekende aantal kinders en ’n saamwoon-vriendin het.)

En hier is ons nou by prins Harry en Meghan, die hertog en hertogin van Sussex, wat aangekondig het hulle staan terug as senior lede van die koninklike familie, met minder pligte, maar terwyl hulle voortgaan om die koningin “ten volle te ondersteun”.

Die paartjie wil in Brittanje en Noord-Amerika woon sodat hulle meer tyd kan bestee aan “saak-gedrewe” kwessies en groter beheer kan oorneem oor hul openbare afsprake.

Diana en klein Harry. “Prinses van harte”, maar ook net ’n gewone liefdevolle ma.

Johnson, wat op ’n keer sy beleid oor die spreekwoordelike koek beskryf as “pro–having it and pro–eating it”, het blykbaar mede-koekiste in die Sussex-paartjie.

Dit verg nie ’n koninklike kriminoloog om uit te werk dat jy nie kan afstand doen van jou pligte én die persoon wat die pligte uitdeel ten volle ondersteun nie. Jy kan ook nie die voorregte van ’n apolitieke instelling behou én sake bevorder wat aan die politiek raak nie.

Dit is soos as ek aan my redakteur voorstel dat ek wil terugstaan van my daaglikse pligte as joernalis, terwyl ek sy visie ten volle ondersteun om stories te publiseer en my steeds te betaal.

Dis maklik om met Harry en Meghan te simpatiseer. Wie op aarde sou nie graag sy koek eet en dit nog oorhê nie? Wat die politiek betref, byvoorbeeld, is almal koekiste: Niemand wil meer belasting betaal nie, maar almal wil beter dienste hê. Die Konserwatiewe Party staan selfstandigheid en min staatsinmenging voor – maar nie hul ondersteuners nie, wat universele staatsvoordele verkies. Jong liberale, aan die ander kant, trompetter oor die herverdeling van rykdom – solank dit na hul kant toe vloei.

Diana en klein Harry.

Maar net omdat almal skynheilig is, beteken dit nie skynheiligheid is ’n deug nie. En, soos baie sondes, is skynheiligheid soms nogal duur – en baie mense kan dit nie bekostig nie.

Die meeste mense het byvoorbeeld nie geld om in ’n private straler te vlieg nie en sal daarom onwaarskynlik klimaataktiviste wees én gereeld in luukse stralers rondvlieg. (Harry en Meghan word hiervan beskuldig.)

En dít was onlangs die kern van die Britse komediant Ricky Gervais se punt by die Golden Globes-toekenningsgeleentheid oor die skynheiligheid in Hollywood. Hier vanuit Londen gesien had Gervais se monoloog ’n besondere Britse gevoel. Is enige ander land so obsessief oor skynheiligheid?

Miskien is ons Britte so omdat ons dit so goed ken: Ons maak deels ons geld deur beleggings van lande te ontvang wat ons beskou as skelm of haatlik; ons sê ons is trots op ons goeie maniere en gematigde temperament, maar ons is een van die gewelddadigste lande in Europa. Ons het ryk geword deur te plunder.

Wat ons weer bring by Harry en Meghan. Wat ís dit waarvoor hulle vra?

Hulle vertel ons hulle het “gekies om ’n oorgang te maak”, wat hulle in staat sal stel om ’n “progressiewe rol uit te kerf” binne die “instelling”.

Onthou: Daardie “instelling” is die monargie – die stelsel waar gesag oor­geërf word – asook titels, rykdom, eiendom en grond. Harry is ’n hertog en Meghan ’n hertogin – dis nie juis klassieke progressiewe posisies nie.

En dit is miskien die mees problematiese deel van hul plan: Hulle wil deel van die koninklike familie bly, die titels van Engeland se aristokrasie behou, asook die huise wat gerestoureer word met belastingbetalersgeld, maar hulle wil afstand doen van die pligte, wat deel is van al hierdie voorregte.

Om darem redelik te wees teenoor hulle: Harry en Meghan kon die potensiële probleem met hul plan raaksien en het verklaar hulle wil “finansieel onafhanklik” word.

Kan hulle dit egter doen sonder om op die rug te ry van die instelling waarvan hulle wil terugstaan? Dit lyk nie so nie. Soos my kollega Helen Lewis uitgewys het: Die domeinnaam van hul nuwe webwerf is SussexRoyal.com.

Nog ’n probleem wat die paartjie skynbaar nie verstaan nie is hul behoefte om progressief te wees, maar klaarblyklik sonder die omstredenheid en kritiek wat volg wanneer ’n mens standpunt inneem oor kwessies.

Dis onduidelik of Harry en Meghan besef dat om progressief te wees nie apolitiese optrede is nie. Klimaatsverandering is nie apolities nie. Selfs geestesgesondheid is nie apolities nie.

Hierdie kwessies, waaroor die paartjie al menings gelug het, kom saam met belangrike politieke vrae.

Oor die klimaat: Dis een ding om te sê dis belangrik, dis ’n ander ding om te sê wat daaraan gedoen moet word. Wie presies moet byvoorbeeld betaal om klimaatsverandering te bekamp?

Geestesgesondheid behels ook onbeantwoorde op politieke vrae: Wie moet vir behandeling betaal? En moet dit net soveel geld kry soos fisieke gesondheid?

Geen van dié vrae het antwoorde waarmee almal saamstem nie, want dis polities.

In Brittanje behoort die koningshuis en politiek nie te meng nie. Die monargie het ’n gedefinieerde grondwetlike rol as die “waardige” deel wat die staat deur seremonie en pligsbesef simboliseer. Die regering is die “doeltreffende” deel, wat die land bestuur deur die parlement, wat verkies word.

Die twee kan nie meng nie. Die een is apolities en verenigend, die ander is polities en inherent verdelend.

Die koningshuis se webwerf stel dit duidelik: “As hoof van die staat moet die koningin absoluut neutraal bly oor politieke kwessies.”

Harry en Meghan se gewildheid is deels te wyte aan hierdie verenigende neutraliteit. Om polities iewers in te gryp, is dalk lekker vir ’n kort rukkie, maar dit kalwe die fondament van hul gewildheid weg. Die oomblik wanneer hulle begin optree soos gewone burgers met gewone menings, sal mense hulle begin behandel soos gewone burgers.

Natuurlik verstaan ’n mens Harry en Meghan se behoefte om onafhanklik te wees, om te sê wat hulle glo, om hulself iets te gee om te doen en iets om in te glo. Maar vra enige politikus: Dit kom teen ’n prys.

Wat die aanklag van koekisme teen die twee kompliseer is dat Harry nie ’n keuse gehad het nie.

Hy is nie die enigste man ter wêreld wat in rykdom gebore is nie, maar hy het geen sê gehad in die koninklike rol wat hy gekry het nie. Soos almal van ons kan Harry smag na privaatheid, dit haat as sy vrou gekritiseer word, sy kind wil beskerm, rou oor sy ma en die mense verag wat haar deur die strate van Parys gejaag en foto’s van haar geneem het terwyl sy besig was om te sterf. Hy kan lief wees vir sy land, sy familie en selfs die instelling waarvan hy wil terugstaan, terwyl hy terselfdertyd verlang na die vryheid wat hy in Noord-Amerika saam met sy vrou gesmaak het. Ja, hy kan probeer om dit alles te behou – en miskien kry hy dit dalk reg.

Maar hy kan nie heeltemal ontkom aan die gevolge van sy keuses nie.

Die tonge gaan klap oor sy vrou, oor hul skynheiligheid of gulsigheid of vroomheid.

Van die kommentaar sal onredelik en kwetsend en seksisties en rassisties wees – soos dit inderdaad al was. Sommige kritiek sal ongevraagd, lasterlik en ’n skending van hul privaatheid wees.

Maar sommige kritiek sal geregverdig wees.

Die lewe wat hulle nou gekies het, beteken dat hulle meer oop is vir geldige kritiek as tevore.

Soos Gervais by die Golden Globes snedig aan die room van Hollywood gesê het: “Julle sê julle is woke, maar die maatskappye vir wie julle werk (in China) slaan my dronk.”

Hy was reg deur te sê Hollywood is pro-koek-hê en pro-om-dit-te-eet.

Net so, lyk dit, is Harry en Meghan.

  • Hierdie artikel het in The Atlantic verskyn.
Meer oor:  Meghan  |  Prins Harry  |  Brittanje  |  Koninklikes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.