Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Harry se onmoontlike keuse: Jou land of jou vrou

Is prins William regtig ’n boelie? En sal prins Harry regtig sy geboortereg én ouma opgee om sy heil saam met sy vrou op ’n ander vasteland te soek? Arlene Prinsloo vertel.

Vriende van Harry meen, berig The Times, dat Harry hartgebroke sal wees as hy móét kies tussen sy land en sy vrou. Volgens dié vriend is Meghan ook vasbeslote om weg te breek van die koninklike familie.

Tog, die kloof tussen die heir en die spare wat hul lewe lank baie na aanmekaar was, is nou feitlik onoorkombaar.

Vriende van die twee lap met fyn bewoorde aanhalings die broers se gevoelens en versugtings in die media uit ... net soos hul ouers, prins Charles en Diana, gedoen het in die jare voor hul egskeiding. Die media-oorlog het nie verniet as die War of the Waleses bekend gestaan nie.

Selfs William, wat vriendelik versigtig met die media omgaan, het ’n vriend toegelaat om aan The Times te vertel hoe hartseer hy oor die stand van sake is en dat hy en sy broer twee verskillende mense is.

“Ek kon ons hele lewe nog my arms om my broer sit, ek kan nie meer nie,” was William se hartroerende woorde wat Sondag ook die hoofopskrif van The Times was.

Die broers se wedywering

Prins Harry en Meghan in Sydney tydens hul koninklike toer in 2018. Foto: Reuters

Gissings dat die twee broers, wat albei die fel media-kollig op hulle verpes, se mededingende geaardhede tot die huidige stand van sake gelei het, het al verlede jaar die rondte begin doen toe daar sprake was dat Harry en Meghan met sabbatsverlof sou gaan. Daar is gehoop dat sodanige sabbatsverlof die spanning en mededinging tussen die broers sou laat afneem.

Kleintyd al het Harry aan William gesê: “Jy gaan eendag koning word, maar ek kan enigiets word wat ek wil.”

En nou lyk dit of dit presies is wat hy wil doen. ’n “Progressiewe” manier vind om sin aan hom en sy vrou se lewe te gee en die koningshuis verder te moderniseer.

Tog sê ’n bron uit Harry se vriendekring in The Times dat nie Harry of Meghan werklik hul rug op hul familie en Brittanje wil draai nie. “Ek dink dit sal werklik Harry se hart breek.”

Dieselfde vriende sê die feit dat die twee al vir twee jaar “aanhoudend moet hoor waar hul plek in die rangorde (van die koninklike gesin) is, aanhoudend moet hoor wat hulle nie mag doen nie en aanhoudend geboelie word (hul siening), het Meghan laat dink ‘dit is banaal. Hoekom sal enigiemand dit verduur?”.

Die broers het Maandagmiddag dié deel van die Times-berig ten sterkste ontken

Meghan het in die verreikende onderhoud wat die joernalis Tom Bradby met haar en Harry tydens hul toer na Suider-Afrika gevoer het, gesê sy bestaan kwalik.

Vir ’n selfstandige vrou wat vir jare geveg het om uit die ongelukkige omstandighede van ’n gebroke ouerhuis én rassevoorkeure te ontsnap, moes die beperkende paleismure inderdaad later soos ’n tronk gevoel het.

Gerugte van onweer

Koningin Elizabeth in Julie 2018 saam met Meghan, hertogin van Sussex, en prins Harry op die balkon by Buckinghampaleis.Foto: Getty Images

William het, soos dit ’n ouer broer betaam, Harry se halsoorkop verhouding met Meghan bevraagteken en sy broer herinner aan hul ma se woorde dat sy hul pa skaars geken het voordat hulle getroud is. Charles en Diana het mekaar 13 keer ontmoet voordat hulle getroud is.

William het Catherine sewe jaar laat wag - en haar die onvleiende bynaam Waity Katy besorg - voordat hy sy ma se einste saffier-en-diamantring aan haar vinger gesteek het.

Harry kon ná jare se versugting om soos sy ouer broer ook nes te skop uiteindelik dié wens van hom vervul toe hy Meghan op ’n toe-oë-afspraak ontmoet het. Die koeël was deur die kerk ...

Volgens vriende voel Harry die koninklike familie - uitgesluit die koningin en prins Philip - was nie verwelkomend genoeg teenoor Meghan nie, veral William, berig The Times.

Harry het Meghan glo kort ná hul ontmoeting aan die Cambridges voorgestel, hoewel die kinders (toe nog net George en Charlotte) haar eers later ontmoet het toe die Cambridges besef het die verhouding is ernstig.

Media-aandag

Harry se natuurlike aanklank by mense - en veral kinders - was duidelik te sien toe die paartjie in Oktober 2017 hul eerste groot oorsese toer na Australië aangepak het. Hier het die paartjie kinders tydens ’n besoek aan Dubbo in Australië ontmoet. Foto: Getty Images

Meghan is, net soos Catherine voor haar en selfs Camilla, tweede vrou van Charles, deur die mediasif gesif én gesif. Die feit dat sy Amerikaans én geskei was, het herinneringe aan daardie Amerikaanse vrou opgeroep: Wallis Simpson, die geskeide Amerikaanse vrou wat die Britse monargie in die 1930’s op sy knieë gedwing het en waarvoor Edward VIII sy kroon in 1936 opgegee het.

Meghan se gemengde herkoms is gesien as ’n welkome diversiteit-inspuiting wat die koningshuis die 21ste eeu sou inlui.

Omdat sy as TV-aktrise gewoond was aan die rooi tapyt en media-aandag het dit ’n gerusstelling gebring dat sy die koninklike kollig sou kon trotseer ... toe nie.

Familie van skandes

Doria Ragland, Meghan se ma, het alleen in die kerkbank gesit. Foto: Getty Images

Meghan het net twee familielede na haar troue genooi. Haar ma en pa, wat toe in die valstrik van ’n poniekoerant getrap het en daarmee permanent ’n plek in sy dogter se lewe kwyt is.

Voeg daarby ’n halfsuster wat ’n kraan van snedige aanmerkings bykans nooit kan toedraai nie, niggies en nefies wat (vir geld) foto’s van Meghan se kinderdae en staaltjies deel ... en die poniepers lag al die pad bank toe.

Meghan is toe alleen die trappe en paadjie van die St. George-kapel op, met Charles wat haar die laaste paar treë na die altaar vergesel het en haar stil en elegante ma, Doria Ragland, wat alleen in die familie-kerkbank gesit het.

Begin van die einde

Die Cambridge- en Sussex-egpaar op Kersdag 2018. Catherine moes haar Kersvakansie saam met haar ouers prysgee sodat die viertal saam in die openbaar kon verskyn. Foto: Getty Images

Meghan se swangerskap enkele maande ná hul troue het saamgeval met die paartjie se eerste groot koninklike toer: Australasië. Die toer was ’n reusesukses. Die nuwe hertogin ’n absolute ster.

Toe begin die stories agter paleismure uitlek ... Meghan is “moeilik”, sy bombardeer vroegoggend haar personeel met idees en opdragte, sy het Catherine tot trane gedryf toe hulle stry gekry het oor Charlotte se blommemeisierok vir Harry en Meghan se troue, hoe Meghan onbeskof was met een van die Cambridges se personeellede en Catherine haar daaroor aangespreek het.

In ’n poging om die skinderstories van onmin te besweer het die Cambridges nie soos beplan in 2017 Kersfees saam met haar ouers deurgebring nie, maar saam met Harry en Meghan na die kerkie op Sandringham gestap sodat “Fab Four” soos hulle deur die media gedoop is, saam gesien kon word.

William, wat net soos sy ma ’n ysige houding kan inslaan, het op die trappies buite die kerk homself met sy serp besig gehou en só vermy om met Meghan te praat.

Steeds, toe aangekondig word dat die twee paartjies se paaie sal skei en elkeen hul eie stigting sal bedryf, is dit gesien as ’n natuurlike verwikkeling van ’n koning in wording wat sy eie rigting moet inslaan en ’n jonger broer wat nou saam met sy vrou hul eie ding kan doen.

Groot trek

Die Sussexe se besluit om nie in die wooneenheid langs die Cambridges in Kensingtonpaleis in te trek nie, was seker die grootste teken dat ’n wig tussen die twee broers ingedryf is. Nie net het hul vroue nie genoeg raakpunte gehad om ’n vriendskap te vorm nie, maar die broers kon nie eens langs mekaar woon nie.

Die groot trek na Frogmore Cottage het die Sussexe geweldige kritiek op die hals gehaal. Miljoene pond (waarvoor die Britse belastingbetalers moes opdok) is bestee om die huis op te knap. Nou beplan hulle om steeds dié huis as hul Britse basis te gebruik.

Al het hulle self opgedok vir die meubels en binnenshuise versiering, het die gemor oor die koste van dié restourasiewerk ’n konstante mymering geword wat kort-kort in die media opgehaal word.

Archie, regtig?

Drie dae ná sy geboorte het Meghan en Harry hul seun aan die media in Windsorkasteel gewys. Die kleinding se naam is kort ná dié mediakonferensie bekend gemaak, Archie Harrison Mountbatten-Windsor.Foto: AP

Harry se verbete pogings om besonderhede oor die geboorte van hul eersteling van die media weg te hou, kan by nabetragting gesien word as die paartjie se pogings om dinge op hul “progressiewe manier” te doen.

Daar was geen fotogeleenthede buite die hospitaal soos die gebruik is nie, maar eerder ’n opgewonde Harry wat voor die perdestalle in Windsorkasteel ’n klein mediagroepie oor die geboorte van sy seun ingelig het. Oor die nie koninklike naam, Archie, was die tonge omtrent los, maar Archie Harrison Mountbatten-Windsor is ’n eg Amerikaanse-Britse mengsel.

Meghan is uit alle oorde geprys vir haar besluit om eers drie dae ná die geboorte haar gesig te wys met haar bondeltjie vreugde in haar arms.

Met hul besluit om geen titel vir Archie te aanvaar nie, het die paartjie ook reeds aangedui dat hulle hul seun ’n normale, dog bevoorregte opvoeding wil gee.

So wat is die vooruitsig?

Die ingang na Sandringham in Norfolk, waar die koninklike beraad Maandag plaasvind. Foto: Getty Images

Met Harry wat Maandag saam met sy geliefde ouma, pa en ouer broer in een vertrek gaan wees, is die hoop dat almal se kante gehoor sal word en dat daar uit die lesse van die verlede geleer sal word.

Die valbyl van ’n dreigende onderhoud deur die Sussexe - waarin die koningshuis moontlik as seksisties en rassisties uitgebeeld kan word - hang Maandag oor die krisisberaad in Sandringham wat die koningin byeengeroep het.

Na verwagting sal daar aan die meeste van Harry en Meghan se eise - om in die buiteland te woon en finansieel onafhanklik te wees - toegegee word. Die fynere besonderhede, soos die toelae wat hy by die koningin en sy pa ontvang, sal later uitgewerk word.

Harry en Meghan is ’n te kosbare juweel om te verloor - en die koningin besef dit. Daar sal gepoog word om hulle - binne perke - die vryheid te gee om werk te doen wat nie die monargie se beeld sal skaad nie, maar steeds as senior lede van die gesin aan te bly, moontlik met minder amptelike verpligtinge.

Broers bly broers

In Harry se agterkop is die wete dat hy een van die belangrikste klankborde van ’n volgende koning kan wees. Hy moet, soos protokol bepaal, altyd ’n tree agter sy broer stap. Sy vrou ook. Net sy broer weet hoe hul ma se ontydige dood hulle geruk het en die invloed wat sy steeds op hul lewe het.

Ook Diana wou uit die koninklike kou ontsnap, maar is tragies dood toe die motor waarin sy was van steelfotograwe probeer wegkom het.

Moontlik sal die lesse van die verlede Maandag gewigtig genoeg wees om die dreigement van ’n moontlike onderhoud, soos Harry se nie-amptelike spreekbuis Bradby die afgelope naweek gesê het, af te weer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.