Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Help só kinders na sukses

Sonder basiese vaardighede is ons kinders se kanse om eendag suksesvol in die arbeidsmark opgeneem te word, uiters skraal. En die onderwysstelsel rus nie altyd leerlinge daarvoor toe nie. Greg Marais en Jurie Joubert doen voorstelle aan die hand oor hoe ons self ons kinders kan help.

Juffrou Lizelle van Zijl van die Laerskool Brackenfell onderrig vandeesweek haar nuwe gr. 1-klas. Foto: jaco marais

Ingrypende veranderings is noodsaaklik om die onderwys in Suid-Afrika reg te ruk ter wille van die veral miljoene voorheen benadeelde kinders wat jare lank op die skoolbanke sit sonder om werklik te leer om behoorlik te lees, te skryf en somme te maak.

Sonder dié basiese vaardighede is hul kanse om eendag deel van die ekonomie te word uiters skraal.

Die Britse opvoedkundige John Holt waarsku wat gedoen moet word en wat nie: “Aangesien ons nie kan weet watter kennis in die toekoms benodig gaan word nie, is dit sinloos om ‘daardie’ kennis vroegtydig te onderrig. Ons moet eerder leerlinge voorberei . . . dat hulle in staat sal wees om enigiets te leer wat nodig word.”

Die meeste skole in Suid-Afrika is die produk van ’n vergange tyd en gebruik ’n gestandaardiseerde kurrikulum en verouderde pedagogie. Dit kan net beskryf word as artefakte van ’n vergange tyd. Skole funksioneer nog asof alle kennis in skoolhandboeke opgesluit is.

Ons onderwys het die afgelope dekades agteruitgegaan. Talle verslae is in dié tyd gepubliseer waarin die onderwysdepartement gewaarsku is oor veral die swak onderrig wat aan arm en plattelandse kinders opgedis word. Maar ten spyte van al die waarskuwings en voorstelle het niks eintlik nog verander nie.

Volgens die opvoedkundige Ian Jukes moet kinders vir ons toekoms en nie vir ons verlede voorberei word nie. Albert Einstein het weer gesê: “We cannot solve our problems with the same thinking we used when we created them.”

Dít beskryf ons omstandighede baie goed. Waarom duld ons dit en waarom het die gemeenskap nog niks daaraan gedoen behalwe om privaat skole te stig waarvan die hoofdoel is om geld te maak nie?

‘Kitskos-onderwys’

Navorsing het al talle probleme uitgewys waaraan die departement nog nie aandag gegee het nie (of dalk nooit aandag sal gee nie). Hier is enkeles:

  • Die meerderheid van die leerlinge verlaat skool (ná 12 jaar of selfs heelwat vroeër) sonder genoegsame vaardighede om doeltreffend aan die ekonomie te kan deelneem.
  • Die meerderheid van die onderwysers beskik nie oor die basiese pedagogiese bekwaamhede en kennis om die nodige vaardighede aan leerlinge oor te dra nie.
  • Die onderwysburokrasie verskaf swak en/of onvanpaste ondersteuning aan onderwysers.
  • Die nasionale kurrikulum word voortdurend aangepas of verander.
  • Ons leerlinge het nie ’n kultuur van lees nie.
  • ’n Verlore generasie is nie opgelei nie en het nie werk nie.

Ons onderwysmodel is eintlik “kitskos-onderwys” – onderwysleiers en onderwysopleiers wat skole as monteerbande of fabrieke beskou, waar leerlinge – soos hamburgers wat almal presies dieselfde is – gevorm word.

Dié model se resep standaardiseer alles, gebruik stophorlosies, roetines volg reguit lyne, en onderrig volgens die voorskrifte van voorgeskrewe resepte en enigiets vermy wat uniek, spesiaal of kreatief is. Hierdie fabrieksmodel van uniforme onderrig misluk omdat dit die verskille tussen kinders ignoreer, veral met betrekking tot hul verskillende leerpatrone.

Die gevolg hiervan? Die helfte van die kinders wat in gr. 1 begin, bereik nooit gr. 12 nie.

Kinders is nie hamburgers nie – kom ons doen nou sélf iets!

In die ouerhuis

Ouers, grootouers en die gemeenskap kan ’n reusebydrae lewer om kinders te ondersteun en te lei om suksesvolle leerlinge te wees en hul plek in die samelewing in te neem.

Hier is wat ons kan doen om te voorkom dat kinders deur die onderwysstelsel benadeel word:

Sorg vir die basiese dinge. Verseker dat jou kind genoeg slaap, genoeg voedsame kos kry en goeie higiëne en mediese sorg geniet.

Lees is die sleutel tot sukses. Studies toon dat meer as 70% van die land se gr. 4-leerlinge so te sê funksioneel ongeletterd is.

Navorsing dui oorweldigend daarop dat die een ding wat kan help om jou kind suksesvol op skool te maak, is as jy hulle by die huis leer om te lees en by hulle ’n liefde daarvoor kweek. Lees is die sleutel tot sukses – en dit begin by die kind se eerste onderwysers: sy ouers.

Moenie net vir jou kind lees nie, maar vra vrae waarmee jy die storie met hulle kan bespreek.

Moenie net vir jou kind lees nie, maar vra vrae waarmee jy die storie met hulle kan bespreek.

Dit is ’n goeie manier om jou kind in keuses en gevolge te onderrig. Dit is ook ’n uitmuntende manier om jou kind aan gepaste helde, dapperheid, lojaliteit en goeie karaktereienskappe bloot te stel.

Alledaagse as leergeleentheid. Daaglikse roetines en situasies skep maklike en praktiese leergeleent­hede. Leer jou kind om “waarom?” te vra. Moenie antwoorde gee nie – help jou kind om by hul eie antwoorde uit te kom.

Wat het jy vandag geleer? Kyk na hul opdragte en vra hulle wat hulle by die skool bespreek het.

Blaai deur hul handboeke en praat met hul onderwysers hieroor. Jy kan selfs vra om die onderwyser soms te help, want dan kan jy sien hoe jou kind in die akademiese en sosiale omgewing funksioneer.

Jy kan raad gee, maar moenie jou kind se werk voltooi nie, want dit ontneem hulle van die geleentheid om akademies te ontwikkel.

Doen jou beste, maar . . . Moedig jou kind aan om altyd hul bes te doen, maar aanvaar dat daardie beste nie altyd 80% kan wees nie. En dit is ook reg so.

In ons suksesgedrewe kultuur is dit baie belangrik om die uniekheid van ons kinders te aanvaar en te weet dat elke kind verskillend geskep is. Kinders kan nie alles sommer maklik en natuurlik verstaan en doen nie. Moenie jou kind gebruik om doelwitte te bereik wat jy nie self kon bereik nie.

Wat motiveer jou kind? Bemagtig jou kind om die regte besluite te neem, nie uit vrees vir straf nie, maar omdat hulle die waarde daarvan insien om korrek op te tree.

Dit is nie net goed vir kinders om dit op skool te doen nie, maar ook vir die res van hul lewens.

Dit is nie net goed vir kinders om dit op skool te doen nie, maar ook vir die res van hul lewens. In plaas daarvan om te studeer om baie goed te presteer of om ouers te behaag, leer die kind om meer kennis te bekom en om as ’n mens te groei.

Dissipline en respek tuis. Onderwysers is dit eens dat kinders wat disrespekvol is, een van hul grootste kopsere is. Baie ouers verwag dat die skool dissipline moet toepas, maar dit moet tuis geoefen word. As daar nie van kinders verwag word om tuis op ’n sekere wyse op te tree nie, sal hulle byna verseker disrespekvol optree.

Onthou, jou kind sien jou as ’n voorbeeld en die manier waarop jy tuis praat en optree – in jou huwelik, vriendskappe, sake- of kerkverhoudinge – is jou kind se voorbeeld.

Dikwels toon kinders nie respek teenoor ander nie omdat hulle nie hulself respekteer nie of nie tuis gerespekteer word nie.

Bemoedig en ondersteun. Om ’n kind in staat te stel om goed te vaar op skool, moet hulle in hulself glo en selfvertroue hê.

Selfs al wys die rapporte dat kinders goed presteer, is dit belangrik dat hulle moet glo dat hulle waardevol is en dat hul ouers vir hulle lief is. Hierdie boodskap moet voortdurend, oor en oor, oorgedra word.

Vind uit waarin jou kind goed is en help hulle om hul belangstellings te bevorder en aan te wakker. Jou kinders moet weet dat jy trots op hulle is net soos wat hulle is.

In die gemeenskap

In sekere distrikte is ongeletterdheid onder ouers so hoog as 80%. ’n Sodanige agterstand tuis veroorsaak ’n legio ondersteuningsprobleme vir die kinders.

Hier kan plaaseienaars, verenigings en kerke ’n positiewe verskil maak deur grootskaalse leesprogramme aan te bied.

Kerke, gemeenskapsverenigings en boereverenigings kan op hul eie met volwasse onderrig (lees en skryf) begin, asook om beroepsvoorligting aan kinders te gee, veral in arm gebiede.

Gemeentes en verenigings kan begin om daaglikse leersentrums te bedryf, waar kinders se agterstande aandag geniet.

Kerkgeboue en mense met kundighede is oral in ons buurte – kom ons tree nie af nie, maar kom ons tree op en help kinders met hul toekoms. Soos die Keniaanse spreekwoord lui: “As jy hardloop op ’n pad en dit is die verkeerde een, moet jy omdraai.”

Marais is ’n kenner van rekonstruktiewe onderrig en dr. Joubert ’n onderwyskenner.

Meer oor:  Leerders  |  Sukses  |  Opvoeding  |  Onderwys  |  Skole  |  Onderrig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.