Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hemels en hel op Wuppertal

Twee jaar ná die verwoestende brand wat die sendingdorpie Wuppertal in puin gelê het, is die mense van die Cederberg weer besig om kop op te tel, skryf Sarie Marais-Nell.

Die 81-jarige oom Woeka (Jurie) van Rooy op die trappe van die historiese Mission Store. Geboue is streng volgens Erfenisstandaarde herstel en vertel opnuut die storie van bouwerk uit die 1830’s. Foto’s: Hendro Hugo

Op 81 gesels oom Jurie van Rooy onderhoudend oor sy lewe, sy winkel en Wuppertal se heropbou ná daardie aaklige dag op 30 Desember 2018 toe hy alles verloor het.

Maar hoe skrikwekkend hierdie vernietiging ook al was, dra hy ook ’n ander, dieper seer waaroor hy nie graag gesels nie.

“Ek sit daai middag op die rantjie en kyk hoe die vlamme nóg ’n gebou vat. En dit bekommer my dat my brein so afgeskakel het, want hoekom sit ek so stil, hoekom gil en raas ek nie?

“Nou net het ek gesien hoe my hele winkel afbrand, my woonhuis ook. Behalwe vir my bakkie, het ek nou totaal en al niks.”

'Ek wil nie op my oudag spyt wees oor verlore tyd nie.’

Op die laaste Sondag van 2018 het Van Rooy – beter bekend as oom Woeka – teen 16:15 uit Kaapstad op Wuppertal aangekom en saam met ’n handlanger R11 000 se voorraad in sy winkel afgelaai. Ná ’n 300 km-rit voel hy haastig, want sy kinders uit Johannesburg en die Kaap kuier net tot môre hier, hulle wil vir oulaas vanaand saam braai. Gedagtig aan die hitte gaan laai hy sy handlanger ’n entjie buite Wuppertal by sy huis af.

“Vyf minute nadat ek die winkeldeur gesluit het, toe ek terugdraai en oor die rivier kyk, sien ek hoë vlamme wat deur Wuppertal jaag. Ek sien my winkel voor my oë afbrand – ek het net twee jaar tevore die onderneming begin, het nog nie versekering gekry nie.

“En toe hardloop die vlamme na ons huise toe.”

Geen wonder mense sou later YouTube-video’s sien waar hierdie winkeleienaar op daardie selfde rantjie sit, in trane omdat hy alles verloor het.

Die historiese Leipoldt-huis wat waarskynlik rondom 1800 gebou is - voor en ná die restourasie. Let op die interessante venstergewel.

Uiteindelik het 53 woonhuise afgebrand en die dorpskern met sy historiese geboue – sommige 200 jaar oud – is verwoes. Uit ’n volksboukundige oogpunt ewenaar hierdie ramp die skade van die Tulbagh-aardbewing.

“Ek het die volgende dag sulke stackies gebrande note in my kluis gekry. En R1 000 se munte. Ons het die munte in bakke vol Coke laat week – ek kon dit sowaar weer gebruik.”

Barmhartige Suid-Afrikaners het bakkievragte met kos, klere en huisware gestuur.

En sedertdien is Wuppertal nie meer dieselfde nie, want tussen vreemde besoekers deur – nuuskieriges, kenners en bouers – het eers tente en later tydelike huise gekom. Dit alles terwyl swartgebrande ruïnes daagliks die inwoners herinner aan die ramp.

Die oudste geboue op Wuppertal ná die restourasie.

Baie gou het ander Suid-Afrikaners besef hoe belangrik die uitgebrande blaasinstrumente vir die Wuppertallers is; watter groot rol die “basuinkoor” in hul gemeenskapslewe speel. Dus het ondersteuners hul bydraes uitgebrei en ook blaasinstrumente ingesamel; sommige Kapenaars het selfs uit Gauteng van vakansie teruggekeer met instrumente, klein en groot.

Oom Woeka en ’n span mans het die taak gekry om herbruikbare items sorgsaam uit die puin van die historiese geboue te herwin.

“Ons moes alles wat weer gebruik kon word, in sakke pak volgens die gebou waaruit dit kom – die Leipoldt-huis, die smidshuisie, die Winkelhuis, die pastorie. Dan kom daai Erfenis-man en wil als weet – waar kom hierdie deurhandvatsel of skarnier vandaan, waar is die ander helfte van die vensterknip? En hy vertel so ernstig dis baie belangrik om alles sorgsaam te bêre sodat die geboue presiés weer dieselfde kan lyk vir ons kinders se kinders.”

Oom Woeka se hele lewe draai om Wuppertal. Dis hier waar hy as een van sewe kinders tot st. 6 (gr. 8) skoolgegaan het voordat hy in verskillende fases van sy lewe met varke, bokke en rooibostee geboer het. Een van sy ambagte was sy werk in Wuppertal se handskoenfabriek. “Die sweishandskoene wat ons vir ’n fabriek gemaak het, was jare lank ons inkomste. Tot ons een Vrydagoggend 10:00 hoor die fabriek sluit. Finaal. Tjoeps, en almal sit sonder werk.

Oom Woeka sê sy winkel is reg vir besigheid oor die groot dae.

“Mens is nie altyd baas van jou eie lewe nie. Ek bid net elke dag dat die Here my geloof meer moet maak.”

Onder die streng hand van eerwaarde Willy Strassberger het oom Woeka op die ou manier gekatkiseer en deeglike Bybelkennis opgedoen – waardes wat steeds sy lewenskompas is.

“Ds. Strassberger was stréng, hier moes altyd orde en goeie maniere heers. Sommige mense het gevoel hy is te kwaai. Sy kleinkinders het mos die skoenfabriek op Clanwilliam begin.”

“Ek en my vrou Malie het ses dogters – o genáde,” sê hy laggend.

“Ons het gesorg dat hulle eendag na hulself kan omsien; almal hoërskool toe gestuur. Elkeen van hulle het goeie werk, maar twee is reeds oorlede.

Die ou kerkwerf is heeltemal verwoes in die brand. Foto: Chris Bornman

“Ek is trots op hulle, maar ek’t te swaar grootgeword om te pronk. Ek het juis ’n probleem met pronkerige mense.”

Op 78 wou oom Woeka graag die dorp se winkelbestuurder raak. Daarvoor moes hy formeel aansoek doen by die Morawiese Kerk se bestuur en vir ’n werkonderhoud aanmeld.

“Die Morawiese Kerk bestuur Wuppertal se sake. Daai winkel was goed vir my. Ná die brand, toe’t ek en my dogter met ’n huiswinkel aangegaan.

“Nou is die Mission Store weer rég, oorgebou en kyk hoe pragtig lyk alles! Die yskaste uit Vredendal is hier en Maandag kon ek oopmaak; net betyds vir die ‘groot dae’. Ons het ’n kafee ingerig wat kan oopbly vir die jongklomp saans.

“Hierdie tyd van die bouery – die Here het vir ons sulke goeie bouers gestuur, mense wat ekstra moeite vir ons doen. Dis my taak om elke oggend 07:00 hier by die bouery te wees, ek hou die sakies dop. Ek mag nie laat wees nie, want ek bring die Boek, dan lees ons hardop ’n teksie voor. Ek kyk die manne so deur, laat hulle beurte maak om te lees en bid, daarna word die dag se werktake uitgedeel.”

Oom Woeka glo daar is voordele ná die 2018-ramp.

“Behalwe vir die vredigheid saans sonder TV, gebruik Boland Bouers lekker baie Wuppertal-manne vir die restourasiewerk. Só het ons manne nuwe vaardighede aangeleer – messel- en klipkapwerk, dakke dek. Baie van hulle kry nou vir die eerste keer in hul lewe ’n salaris.”

Hy buig sameswerend vooroor: “Kan’k jou ’n geheim vertel? Ons het ’n vereniging gestig – die Wuppertal Bouers. Hierdie manne is nou vuur en vlam om ná die Werf klaar is, self te begin bouwerk doen. Dis ’n goeie inkomste; hulle soek ywerig nuwe werk.”’

Dan haal hy diép asem, trek sy skouers nadenkend op. “Ek raak so opgewonde oor al die nuwe moontlikhede, dan moet ek gereeld vir myself sê: ‘Woeka, weet jy hoe oud is jy?’

“Ek raak sommer vies vir die jong mense wat so flou-lou lyk. Daar is soveel nuwe kanse vir hulle, dinge wat nie in my tyd bestaan het nie. Ek wéns die universiteite en kolleges wil die jongklomp leer om broad-minded te wees,” sê oom Woeka as algemeen-aanvaarde opsigter en oudste van die dorp. “Ek wil juis nie op my oudag spyt wees oor verlore tyd nie.”

Openhartige geselsies ten spyt, raak sy woorde min wanneer hy van sy vrou vertel: Malie, wat 11 jaar lank ’n inwoner van Clanwilliam se Sederhof Tehuis vir Bejaardes was ná ’n beroerte.

“Haar verstand was nog helder. Besoek ek haar, dan terg die personeel: ‘net Oupa kry vandag ’n glimlag’. Neem ek vir haar ’n sappie, drink sy dit so gulsig. Toe sterf sy laasjaar op 14 Desember, net voor haar 80ste verjaardag.

“Met my dogter wat altyd hier onder my vlerk gewoon het se sterfte drie maande later in Maartmaand. Borskanker.”

Oom Woeka sluk swaar. “Ek troos my aan één ding – ná die dood begin die régte lewe. Toe Job als verloor het, het hy God vervloek? Nee. Die Here was by my toe dit goed gegaan het – en nou?”

Om die atmosfeer te verlig, vertel oom Woeka van die dag toe hy onwetend Johann Rupert se 90-jarige skoonma ontmoet het: “Hier by die kerktrappies ontmoet ek haar; ’n mooie vrou. Sy en ’n jonger meisie (Johann se skoonsuster) het alleen hierheen gery. Hulle vra my uit, ek vertel van die brand, van my winkel en als wat vernietig is.

“Later nooi hulle my om saam met hulle te eet. Toe ek die piekniekkos sien – als so met toutjies vasgemaak – dink ek: ‘Hier moet jy jou pose hou vandag Woeka, jy’t met grand mense te doen!’

“Eers daardie aand hoor ek saam met wie’t ek gekuier! Hulle het menslik gebly; egte ménse.”

Dan sluit oom Woeka af met ’n oerwysheid, hier waar ons op die stoep van Strassberger se gewese perdestal sit: “As ek só na my lewe kyk, weet ek: Die Here sorg vir Wuppertal.”

Al brand die dorp af, oom Woeka?

Die 81-jarige kop swaai heftig van links na regs: “Ja. Want dis hoe dit moes gewees’t.”

Meer oor:  Wuppertal  |  Brande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.