Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Henri: Is hierdie soort moorde bedink en beplan?

Is dit ’n geval van “ons moet oor Henri praat” soos in die topverkoper-roman We Need to Talk about Kevin? Willemien Brümmer het met kenners gesels oor hoekom kinders hul gesinne uitwis.

Henri van Breda op die dag toe regter Siraj Desai hom in die hooggeregshof in Kaapstad aan die moorde op sy ouers, Martin en Teresa, en sy broer, Rudi, skuldig bevind het. Hy is ook skuldig bevind aan ’n poging tot moord op sy suster, Marli, en regsverydeling. Foto: Jaco Marais

Die grusame toneel waarop die paramediese beampte Christiaan Koegelenberg op 27 Januarie 2015 in Goskestraat 12 in De Zalze buite Stellenbosch afgekom het, was die “ergste” wat hy nóg in sy loopbaan van 39 jaar gesien het.

“Toe ons een van die oorledenes skuif, het die bloed soos ’n waterval by die trappe afgestroom,” het hy later, byna apologeties, in die hof getuig.

Op dié noodlottige oggend, nog lank voordat die son agter die Jonkershoekberge opgekom het, gaan haal die 20-jarige Henri van Breda ’n byl uit die spens.

Eers kap hy sy ouer broer, Rudi, nege keer met die byl teen die kop totdat sy liggaam leweloos op die enkelbed neerval. Daarna reën die houe neer op sy pa, Martin, se agterkop totdat die dood genadig gou kom. Hy keer sy ma, Teresa, en tienersuster, Marli, voor toe hulle na die trappe probeer vlug. Die byl tref die agterkant van sy ma se skedel met enorme geweld en tref sy suster aan die regterkant van haar kop. Sy val langs haar ma neer, haar strotaar gedeeltelik afgesny.

“Weens die massiewe en oombliklike trauma was dit asof iemand die toetse control alt delete in haar brein gedruk het,” sê die sielkundige en kriminoloog prof. Gérard Labuschagne. “Toe ek foto’s van haar in die hospitaal sien, kon ek nie glo dat sy dit oorleef het nie.”

Soos in ’n koeng foe-fliek

’n Hofordonnans boei Henri van Breda pas nadat hy in een van die opspraakwekkendste moordsake in die onlangse geskiedenis skuldig bevind is. Foto: Peter Abrahams

Byna twee jaar ná die oggend waarop sy suster wonderbaarlik oorleef het, beantwoord Henri beleefd en in sy privaatskool-Engels vrae wat die staatsaanklaer, adv. Susan Galloway, aan hom stel. Hy wys met ’n swaaibeweging, byna asof hy in ’n koeng foe-fliek is, hoe die “inbreker” die byl op Rudi gerig het. Later wys hy hoe dieselfde “inbreker” sy pa eers met ’n vertikale hou van bo na onder aangeval het. Die tweede hou was meer horisontaal.

Soos gedurende die res van sy uitmergelende verhoor van 68 dae bly hy relatief onemosioneel.

Toe regter Siraj Desai hom voorverlede Maandag aan die moorde op sy ouers en broer, asook op aanklagte van poging tot moord op sy suster en regsverydeling skuldig bevind, was die byna gerubynse gesigsuitdrukking van vroeër weg. Henri met sy wilde baard se oë was diep gesonke onder sy ruie wenkbroue – maar daar was geen slopemmers of snesies soos in die Oscar Pistorius-verhoor nie. Soms het dit gelyk asof hy aan die slaap wou raak. Selfs toe die twee hofordonnnanse soos roofvoëls op hom afpyl en sy hande agter sy rug vasboei, lyk dit byna asof hy onaangeraak is deur die uitspraak. Asof die hofverrigtinge bloot ’n rolprent in vertraagde aksie is.

Moorde ‘bedink en beplan’

Don Steenkamp (17) op die dag toe regter Frans Kgomo hom in Kimberley gevonnis het. Hy is skuldig bevind nadat hy sy ouers, Deon en Christel, en sy suster, Marthella, in 2012 op hul plaas, Naauwhoek, buite Griekwastad doodgeskiet het. Hy het ook sy suster verkrag. Hy was 15 jaar oud toe dié treurspel hom afgespeel het. Foto: Mary-Ann Palmer

Daar is nie ’n bloudruk vir gesinsmoorde nie. Tog is die ooreenkomste met soortgelyke moorde in die onlangse verlede opvallend. Dink maar aan die 15-jarige Don Steenkamp wat in 2014 skuldig bevind is daaraan dat hy sy ouers, Deon en Christel, en sy suster, Marthella, in 2012 op Goeie Vrydag op hul Noord-Kaapse spogplaas, Naauwhoek, doodgeskiet het. Hy is ook skuldig bevind aan die verkragting van Marthella en dat hy regsverydeling gepleeg het.

Of Karl Greyvensteyn, die jong kelner wat sy ouers en sy broer in 2000 koelbloedig in hul luukse huis in Lynwood Glen in hul slaap doodgeskiet het. Die hof het bevind dat die motief waarskynlik geldgierigheid was.

Labuschagne, wat 14 jaar lank hoof van die polisie se gespesialiseerde sielkunde-ondersoekeenheid was, was aanvanklik op die getuielys in die Van Breda-verhoor. Daar’s min opspraakwekkende moordsake waarby dié kaalkop brigadier nié betrokke was nie.

Don Steenkamp en sy pa, Deon. Foto: Verskaf

“Wat ons gesien het by mense soos Don Steenkamp in Griekwastad of Karl Greyvensteyn in Pretoria, lyk dit asof daar ’n algemene gebrek aan emosie was. Van die oomblik van die insident af en daarna is dit opmerklik dat hulle hulle nie gedra soos wat ’n mens sou verwag nie. Hulle huil nie, is nie ontsteld nie en is ook nie kwaad dat hulle van die moord op hul geliefde beskuldig word nie.”

Bronwyn Stollarz, wat nou saam met hom in ’n privaat praktyk werk, was die laaste sielkundige in die polisie se sielkunde-ondersoekeenheid. Sy en Labuschagne het enkele dae ná die moorde die Van Breda-huis besoek. Sy het ná haar betrokkenheid by die Griekwastad-saak soveel dossiere as moontlik oor kinders wat gesinsmoord pleeg, bestudeer.

Daar is veral een ding wat al hierdie sake gemeen het, sê dié kliniese sielkundige. “Nie een van hulle het enige noemenswaardige geskiedenis gehad van gedragsprobleme of gedragstoornisse wat hulle voor die daad onder die owerhede se aandag sou bring nie.

“In ons beroep sien ons dikwels sogenaamde ‘lekkasiegedrag’. Dit is verklikkers dat ’n persoon gewelddadig gaan optree of daaraan dink om tot geweld oor te gaan. Maar in nie een van hierdie gevalle sou ons kon sien dat hierdie sleg gaan eindig nie.”

Nóg ’n ooreenkoms in die dossiere wat sy bestudeer het, is dat daar geen voorval was waarin die jong moordenaars skielik geknak en berserk geraak het nie – die moorde was bedink en beplan.

Indien jy ’n klomp mense wil vermoor, soos byvoorbeeld ’n ma, pa en broer, sal skote waarskynlik die bure wakker maak.

“Wat ons dikwels sien in hierdie tipe gesinsmoorde is dat die gesin aangeval word wanneer hulle slaap of in ’n ontspanne luim is, soos wanneer hulle TV kyk of in die bed ’n boek lees. Dit gee die jong moordenaar die geleentheid om die oorhand te kry,” sê sy.

“Hulle gebruik ’n uiters dodelike wapen waarmee iemand een of twee keer geslaan kan word om hulle uit te skakel.”

Labuschagne en Stollarz was al betrokke by heelparty gevalle waarin byle die moordwapens was. Party van dié gevalle was gesinsmoorde.

“Indien jy ’n klomp mense wil vermoor, soos byvoorbeeld ’n ma, pa en broer, sal skote waarskynlik die bure wakker maak,” sê hy. “’n Byl is ’n kombinasie van ’n stomp geweldsbesering en ’n wond wat diep penetreer. Wanneer jy iemand met ’n byl kap, is hy min of meer onmiddellik bewusteloos. Dis ’n manier om veelvuldige slagoffers op jou eie aan te val op só ’n manier dat jy hopelik met die ander slagoffers kan afreken voordat hulle wakker word.”

’n Draaiboek met ’n tragiese uiteinde?

Die opvatting dat ’n jongeling sonder enige vooraf waarskuwing kil en berekend kan optree en ’n ouer (of gesin) kan uitwis, is omstrede.

Joan van Niekerk, ’n voormalige nasionale koördineerder vir Childline, was in haar loopbaan al by tien ouermoordsake betrokke. Nie een van dié moorde, meestal deur tieners, is in ’n lugleegte gepleeg nie, meen sy. Dit was deur kinders wat bloot gevoel het dat daar geen alternatief – of hoop – is nie.

’n Goue draad in dié verhale is dat baie van dié kinders van kleins af mishandel of verwerp word.

“Gewoonlik is dit amper asof ’n kind ’n draaiboek met dié tragiese uiteinde in die hand gestop is,” sê sy.

“Hierdie gesinne kom dikwels vir ander normaal voor, maar wat in die binnekamer gebeur, is regtig erg problematies.”

’n Goue draad in dié verhale is dat baie van dié kinders van kleins af mishandel of verwerp word.

Labuschagne en Stollarz het in hul ondersoeke na hierdie tipe gesinsmoorde die teenoorgestelde gesien.

Die trefferrolprent “We Need to Talk about Kevin” oor ’n tiener wat sy pa en suster met ’n pyl en boog skiet, waarna hy ’n orgie van geweld in sy skool gaan pleeg. Tilda Swinton vertolk die rol van sy ma, Eva, en Ezra Miller speel die ouer Kevin.

Dit was ook nie soos in die rolprent en gelyknamige roman, We Need to Talk about Kevin, waar jy die ontsaglike intelligensie, die emosielose afsondering en die manipulatiewe gemak van ’n sosiopaat kon sien selfs toe hy nog ’n peuter was nie.

In dié rolprent word Kevin in die tronk gesien nadat hy nege klasmaats, ’n kafeteriawerker en ’n onderwyser in sy skool in die gimnasium afgemaai het. Voordat hy skool toe is, het hy sy pa, Franklin, en sy jonger suster, Celia, met dieselfde pyl en boog geskiet.

In terugflitse raak dit duidelik dat hy sedert sy geboorte afgesonder en moeilik was. Dit wil voorkom dat hy sy ma haat en haar aspris antagoniseer het, en dat sy gesukkel het om ’n emosionele band met hom te smee. Ná Celia se geboorte vermoor hy in ’n stadium haar marmot en veroorsaak dat haar een oog met dreinskoonmaker verblind word.

Sy ma, Eva (Tilda Swinton), wroeg daaroor of sy hierdie monster geskep het. Die groot vraag is of sy aanspreeklik is.

‘Ouers het nie dié monster geskep nie’

Labuschagne sê selfs al het jy verskriklike ouers, pleeg gewone kinders nie ’n gesinsmoord nie. “Selfs fantastiese ouers se kinders kan hierdie dinge doen. Ons wil altyd die vinger wys, dis normaal. Maar ek dink nie dit sou regverdig wees om te sê ‘ouers, julle het hierdie geskep’ nie.”

Die prentjie wat hy en Stollarz skets, is ook nie dié van ’n Kevin wat van kleins af sy draaiboek van verset skryf nie. Dié moorde was onvoorspelbaar en deur selfsug gedryf.

“In die oorweldigende meerderheid van die dossiere wat ek bestudeer het, was daar geen aanduiding van ernstige psigiatriese siektes soos psigose of waansteuring, wat beteken dat hulle uit voeling met die werklikheid is nie,” sê Stollarz. “En in geen van die dossiere kon mens tot die gevolgtrekking kom dat hulle die slagoffers van ernstige mishandeling is nie. In die meeste gevalle sou ek sê ons het te doen met individue wat hul gesinne om selfsugtige redes vermoor het – of dit nou frustrasie met Ma en Pa is, en of dit gaan oor ’n erfporsie waarmee wil doen wat hulle wil.”

Henri se bynaam was glo ‘Druggie’

In Henri se geval sal ons waarskynlik nooit weet wat daardie nag in De Zalze gebeur het nie. Die onus rus nie op die staat om ’n motief te bewys nie.

Dit wat ons wel dink ons weet, is meestal bespiegeling.

Die omslag van die boek, “Die De Zalze-moorde”, oor die “storie agter die bylaanval” deur die joernalis Julian Jansen. Foto: Verskaf

Julian Jansen, die skrywer van Die De Zalze-moorde, skryf daar is skinderstories dat Henri op die universiteit in Melbourne, Australië, in die moeilikheid oor sy dwelmgebruik beland het. Dit was skynbaar die rede waarom hy sy kursus opgeskop het en na sy gesin in Suid-Afrika teruggekeer het. Sy bynaam op universiteit was glo “Druggie”.

Michelle Barnard, ’n vriendin van Teresa, het aan Jansen gesê dat sy die dag voor die moorde gehoor het hoe Teresa aan Henri sê dat sy hom “nie weer ’n sent sal gee nie”.

Jansen skryf ook Martin het in ’n stadium gedreig het om Henri se toelaag te staak. Hy het hoë verwagtinge vir sy kinders gekoester en dit hom ontstel dat Henri nie op universiteit was nie en by die huis leeggelê het.

Die egpaar Joan en Peter Porco saam met hul seun, Christopher, wat hulle in November 2004 in Bethlehem, Amerika, aangeval het. Christopher (toe 21) het hulle met ’n brandweerbyl aangeval. Sy pa het op die toneel gesterf en sy ma, wie se gesig geskend is, het die aanval oorleef. Foto: Wikipedia

Daar was ook gerugte dat Henri se foon glo in die aanloop tot die moorde gebruik is om inligting oor ’n bylmoord in Amerika op te soek.

Dié moord was die bylaanval op Peter en Joan Porco in November 2004 in Bethlehem, Amerika.

Christopher Porco (toe 21) het sy ouers met ’n brandweerbyl aangeval. Sy pa het op die toneel gesterf en sy ma se gesig is geskend, maar sy het die aanval oorleef.

Polisiebronne na aan die ondersoek het glo ook beweer dat Henri die rolprent Romeo Killer: The Chris Porco Story gekyk het. Dié bewerings is egter nooit bewys nie en dit is nooit in die hof genoem nie.

’n Kanker van die persoonlikheid?

Die Van Breda-huis in Goskestraat, De Zalze, buite Stellenbosch. Foto: Verskaf

Wat ons wél weet, is dat dwelms beslis nie kan veroorsaak dat iemand hul gesin uitwis nie, sê Stollarz. “Dit mag hulle dalk net ’n bietjie meer impulsief maak, maar ons moet baie versigtig wees wanneer ons van dwelmmisbruik praat.”

Prof. Dap Louw, ’n buitengewone professor aan die Universiteit van die Vrystaat wat doktorsgrade in sielkunde en kriminologie het, stem saam. “Daar is miljoene kinders wat dwelms gebruik maar nié hul ouers vermoor nie. Dit wil egter nie sê dat ’n geskiedenis van dwelms nie in sekere gevalle ’n rol in ouermoorde speel nie. Maar in sodanige gevalle is dwelms dikwels slegs een van talle faktore wat ’n rol gespeel het. My eie ondervinding is dat dwelms selde die alleenoorsaak is, maar veel eerder ’n simptoom van ’n dieperliggende probleem is.”

Die vraag wat ook dikwels gevra word, is of kinders gebore kan word met ’n bloudruk in hul DNS – ’n plofbare pakket wat met die regte snellers tot ’n reuse-ontploffing kan lei.

Die psigopatie-etiket (’n soort kanker van die persoonlikheid, wat ook anti-sosiale persoonlikheidsteuring genoem word) is erg omstrede. Die tradisionele opvatting is dat psigopatie byna onmoontlik is om akkuraat te diagnoseer by kinders of tieners omdat hul breine steeds aan die ontwikkel is.

Ek dink hy (Don Steenkamp) wou meer vryheid hê en dat hy dinge wou koop wat ander kinders by die skool gehad het, en kort ná die moorde het hy onmiddellik begin om sy lewe so in te rig dat dit hom pas.

In die Griekwastad-saak, waarin Stollarz ter strafverswaring getuig het, het sy gesê Steenkamp “het ontluikende eienskappe van psigopatie weens die aard van die oortreding en die aard van die beserings wat veral sy suster en sy pa opgedoen het”.

“Ek dink hy het gedink sy gesin is te streng,” sê sy. “Ek dink hy wou meer vryheid hê en dat hy dinge wou koop wat ander kinders by die skool gehad het, en kort ná die moorde het hy onmiddellik begin om sy lewe so in te rig dat dit hom pas. Hy was baie manipulatief en wou dinge doen soos wat hy hulle wou doen.”

Die vraag waaroor baie wonder, is of Henri van Breda ’n psigopaat genoem kan word.

“Gewoonlik sou ’n mens reeds baie meer problematiese gedrag op hoërskool gesien ontwikkel het,” sê Labuschagne.

Met Henri is dit makliker om te sê ons sou waarskynlik meer van dié gedrag gesien het as hy ’n 'volbloed psigopaat’ was.

“Dis baie min dat jy iemand van 20 of 30 sien wat skielik psigopatiese gedrag openbaar. Ons praat hier van iemand wat méér as ’n stout kind in die laaste jare van die laerskool en op hoërskool is. Hulle toets heeltyd die grense en dit word erger soos wat hulle ouer word.

“Henri is ’n bietjie ouer as byvoorbeeld Don. Met Henri is dit makliker om te sê ons sou waarskynlik meer van dié gedrag gesien het as hy ’n ‘volbloed psigopaat’ was.”

Die mite dat ’n kind met ’n sogenaamde “moordgeen” gebore word, soos die skynbaar skatlike Rhoda Penmark (8) in William March se blitsverkoper-roman The Bad Seed, is presies dit – ’n mite.

“Jy kan beslis nie sê hierdie kinders is geneties geprogrammeer om gewelddadig op te tree nie,” sê Stollarz. “Hulle kom nie uit gewelddadige gesinne nie, hulle kom nie uit gesinne waar só iets tipies is nie. Daar was in die meeste gevalle geen vroeë tekens van problematiese gedrag nie.”

Is die antwoord dalk ietwat meer ingewikkeld?

Louw (immer die dosent) sê daar word algemeen aanvaar dat gedrag ’n uitvloeisel van die omgewing en kongenitale faktore (faktore wat reeds by geboorte aanwesig was) is.

Die Van Breda-gesin. Agter van links is Henri, sy broer, Rudi, en hul pa, Martin. Voor staan sy suster, Marli, en sy ma, Teresa. Foto: Verskaf

’n Verkleurmannetjie het byvoorbeeld die genetiese potensiaal om groen te word, maar sal nooit groen word as hy nie in ’n groen omgewing beland nie.

“’n Akkedis het nie sodanige genetiese potensiaal nie en sal nooit groen word nie, al plaas jy hom in ’n groen omgewing.”

Die belangrikste om te onthou is dat elke mens uniek is en dat daar nie formules vir die onderskeie vorme van menslike gedrag is nie.

Net soos mense my geval in die media volg, het ek ook altyd ander moordsake gevolg. Maar ek het nóóit gedink dit sou met my gebeur nie.

“Elke geval moet dus op sigself geëvalueer word voor ’n uitspraak gemaak kan word. Maar ja, die genoemde unieke interaksie kan wel in sekere omstandighede tot ’n ‘emosionele ontploffing’ lei.”

Hy aarsel. “Ek het met moordenaars gepraat wat vir my gesê het: ‘Net soos mense my geval in die media volg, het ek ook altyd ander moordsake gevolg. Maar ek het nóóit gedink dit sou met my gebeur nie.”

Net soos wat Henri waarskynlik nooit in sy wildste drome gedink het dat hy hom in hof 1 sou bevind, waar joernaliste van so ver as Duitsland en Australië sou sorg dat sy woorde in die geskiedenis opgeteken word nie.

Maar wie weet watter treurige verhaal hom werklik daardie nag in die Van Breda-binnekamer in De Zalze afgespeel het?

Meer oor:  Don Steenkamp  |  Henri Van Breda
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.