Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Henri: Kan ’n ma se liefde ooit genoeg wees?

Indien Henri van Breda nie praat nie, sal hy altyd die seun in die voorportaal van volwassenheid bly wat alles gehad het en alles weggegooi het, skryf Willemien Brümmer.

Henri van Breda word na die selle begelei nadat hy Donderdag gevonnis is. Foto: Jaco Marais

Henri van Breda se oë is ingesonke toe hy die laaste keer sy plek in die beskuldigdebank inneem in hof 1 van die hooggeregshof in Kaapstad. Dis dag 70 van die verhoor en hy het dieselfde hemelblou hemp en grys pak aan as met sy vorige hofverskyning. Hy kyk stip voor hom uit, selfs toe sy meisie, Daniellá Janse van Rensburg, in die bank langs hom kom sit en dringend vir hom fluister. Sy’s brandmaer. Brandmaer!

Die falanks fotograwe en televisiekameras sak soos aasvoëls op hom toe.

Eers toe sy prokureur, Lorinda van Niekerk, voor hom kom staan, leun hy vorentoe en konsulteer saggies met haar. Daarna kom nog ’n lid van sy regspan, adv. Matthys Combrink, en skud Henri se hand asof om afskeid te neem.

Van die regter se kamers kom ’n oom van 88, Frikkie Theron, met die joernalis Julian Jansen se boek, Die De Zalze Moorde, onder sy arm ingestap.

“Ek het probeer om met die regter te praat,” sê hy. “Ek glo Henri is onskuldig. Die moordenaar was hier in die hof. Hy was een van die getuies,” sê hy en stap krom tot in die voorste gestoeltes.

Toe die misdade gepleeg is was jou toekoms blink. Jy het ’n familie gehad wat jou ondersteun het, met die middele om jou te steun in toekomstige ondernemings.

Om 10:43 staan die hof soos een man op toe regter Siraj Desai in sy rooi toga inkom. Henri bly staan. Jy kan die atmosfeer met ’n mes sny.

Desai mors geen tyd nie. “Toe die misdade gepleeg is was jou toekoms blink. Jy het ’n familie gehad wat jou ondersteun het, met die middele om jou te steun in toekomstige ondernemings.

“Ek aanvaar die feit dat as ’n twintigjarige jy nie die volwassenheid en lewenservaring van ’n ouer persoon gehad het nie. Jy het ’n skoon rekord gehad en geen vorige neigings tot uitbarstings van geweld nie.”

Die minute tik voort. “Jy het nie vir die hof gesê wat die gebeure voorafgegaan het nie. ’n Onafhanklike ooggetuie het gesê daar was ’n argument, ’n luide een, wat vir ure aangegaan het. Op sy beste kan ons aanvaar die misdade het nie in ’n vakuum gebeur nie, maar dit was die produk van die een of ander misnoegdheid in die familie.”

Dit was koudbloedige moorde. Die geweld was oormatig en sinloos. Jy het duidelik die opset gehad om te moor, ook vir Marli.

Hy beskryf die byna onsêbare geweld van die oggend van die moorde. “Die slagoffers was ongewapen. Hulle het ’n seun en ’n broer in die gesig gestaar wat ’n byl swaai. Jou pa, Martin van Breda, was waarskynlik ’n held. Hy het probeer om vir Rudi met sy liggaam te verdedig. Daar was geen selfverdedigingswonde nie.”

Rudi en Teresa het dieselfde soort beserings gehad. Hulle het probeer om hulself te verdedig met hul hande. Marli se beserings het haar byna haar lewe gekos.

“Hierdie aanvalle toon ’n hoë vlak van innerlike wreedheid en ’n ongeëwenaarde vlak van verontagsaming vir die welstand van jou eie familie, jou ouers en jou broer en suster.”

Hy kyk vir Henri in die oë. “Dit was koudbloedige moorde. Die geweld was oormatig en sinloos. Jy het duidelik die opset gehad om te moor, ook vir Marli. Ons het geen verduideliking vir wat jy gedoen het nie. Jy het geen berou betoon nie. Geen dwingende omstandighede is voor ons gebring nie. Dit wil voorkom asof daar niks was nie.”

Die beskuldigde wat byna nooit gehuil het nie

Die regter se stem is sag dog priemend: “Aanklag een – Rudi van Breda – lewenslank. Aanklag twee – Martin van Breda – lewenslank. Aanklag drie – Teresa van Breda – lewenslank. Aanklag vier – Marli van Breda – vyftien jaar. Aanklag vyf – regsverydeling – twaalf maande.”

As ’n nagedagte staan adv. Pieter Botha, vir die verdediging op, en sê hulle gaan ’n aansoek doen vir verlof om te appelleer teen die skuldigbevinding en die vonnis.

Maar dit sal waarskynlik hierby bly: ’n Nagedagte. Indien Henri nie praat oor hoekom hy op 27 Januarie 2015 een van die wreedste moorde in die onlangse geskiedenis gepleeg het nie, sal hy die emosielose beskuldigde in hof 1 bly wat in die 70 dae van die verhoor byna nooit gehuil het nie. Hy sal die seun, in die voorportaal van volwassenheid, bly, wat alles gehad het en alles weggegooi het. Hy sal ’n voorbeeld bly dat ’n ma se liefde dalk nooit genoeg kan wees nie.

Die ‘waarom’ bly onbeantwoord

Reeds van Dinsdag af was dit asof Henri al stywer in ’n strik vasgetrek is. Hy het nie eens meer gespartel nie.

Die dag se verrigtinge was vreemd gemoedelik.

Eers moes hulle aanvaar hul slim jonger broer, sy vrou en oudste seun is koelbloedig met ’n byl afgemaai.

Voor Desai ingekom het, het Martin van Breda se tweelingbroers, Bailey en André, al skertsend met lede van die media kom praat. Hulle is sewe jaar ouer as hul vermoorde broer; ’n jolige kaalkop tweedledum en tweedledee wat mekaar se sinne klaarmaak. Die een is spitsvondiger as die ander, al kry Bailey nou al vyf jaar chemoterapie vir kolonkanker.

Sedert hul broerskind meer as drie jaar gelede in Goskestraat 12 hul geliefdes vermoor het, moes hulle hardepad loop. Eers moes hulle aanvaar hul slim jonger broer, sy vrou en oudste seun is koelbloedig met ’n byl afgemaai. Toe moes hulle daarmee “vrede maak” dat Martin se jongste seun, vir wie hulle steeds lief is, verantwoordelik was vir die dade. Tussendeur was daar Marli se lang pad na herstel en ’n uitmergelende hofsaak.

’n Gelukkige gesin?

Henri van Breda word geboei nadat hy Donderdag gevonnis is. Foto: Jaco Marais

Die tweeling het saam met die ander hofgangers opgestaan toe Henri Dinsdag om 10:45 uit die hofselle boontoe gebring is. Net soos vandag was die kameras op hom gerig soos gewere. Hy en Daniellá het vlugtig vir mekaar geglimlag.

Sy hare was langer en sy baard weliger as toe ons hom op 21 Mei gesien het. Daar was geen sigbare tekens van die “bakleiery” wat hy skynbaar in die gevangenis gehad het nie.

Die hof was tjoepstil toe Botha ’n paar punte uit ’n voorvonnisverslag deur Arina Smit van Nimro lees ter strafversagting.

Hy’t nie gedragsteuring gehad as kind, of anti-sosiale persoonlikheidsversteuring as volwassene nie. Hy is met depressie en angs gediagnoseer ná die moorde.

’n Prentjie van ’n gelukkige gesin is geskets. Sy pa was nie goed daarmee om sy emosies te wys nie, maar hulle het ’n “intellektuele verhouding” gehad. Sy ma was die ouer met wie hy die nouste band gehad het. Hy het dikwels vir sy ouer broer, Rudi, om raad gevra en hy het sy jonger suster, Marli, gehelp met wiskunde en wetenskap - selfs nadat hy haar vir dood agtergelaat het op daardie noodlottige oggend. Hy’t haar skynbaar soos ’n “prinsessie” behandel.

Hy’t nie gedragsteuring gehad as kind, of anti-sosiale persoonlikheidsversteuring as volwassene nie. Hy is met depressie en angs gediagnoseer ná die moorde.

Hy het verkies om nie emosies te wys in die openbaar nie, maar was nie emosioneel afgetrokke tydens berading nie.

’n Laaste troefkaart

’n Halfuur later was Botha klaar, soos ’n matador wat moeg geraak het. Sy laaste troefkaart is gespeel.

Galloway het opgestaan met argumente ter strafverswaring.

Hy het die aanval gekies toe die slagoffers op hul weerloosste was – nadat hulle gaan slaap het.

“Die beskuldigde was deel van ’n nou verweefde, liefdevolle gesin wat bordspeletjies gespeel het, saam met vakansie gegaan het en gereeld tyd saam deurgebring het.”

Haar stem het so ’n kerf gestyg. “Hy het die aanval gekies toe die slagoffers op hul weerloosste was – nadat hulle gaan slaap het.”

Sy het die hof gevra om dieselfde vonnis op te lê vir die poging tot moord op Marli as vir die ander drie moorde. “Sy was ’n 16 jaar oue weerlose meisie. Die hof moenie vergeet dat sy nie net haar gesin verloor het nie, sy het haar tuiste verloor. Haar lewe sal nooit weer dieselfde wees nie. Sy moet deur die lewe gaan met die kennis dat haar broer haar hele gesin uitgewis en probeer het om haar te vermoor.”

Henri van Breda luister Donderdag hoe regter Siraj Desai hom onder meer drie keer lewenslange tronkstraf oplê. Foto: Jaco Marais

Henri het stip voor hom uitgestaar.

Dit het gelyk asof die regter soek na woorde. “Ek aanvaar dat sy versuim om berou te toon saam met sy bewering aan oorlewende familielede gaan dat hy dit nie gedoen het nie. Maar in hierdie geval soek ek vir iets, vir een of ander menslike faktor, wat die erns van die misdade kan verminder.”

Hy was byna verbouereerd. “Ek pleit by jou om die hof van enige rede te voorsien hoekom die aanvalle plaasgevind het.”

Botha se stem was beleefd. “Niks kom te voorskyn nie”. Desai het gevra of die enigste afleiding wat hy moet maak is dat Henri uit “aangebore boosheid” opgetree het.”

Vir ’n oomblik was alle oë op Henri. Was dit dalk sy laaste kans om iets – enigiets – te sê?

Dis dalk tóé dat ’n mens vir Henri wou jammer kry. Nie omdat jy wou glo in sy onskuld nie, maar omdat hy ’n kind is. ’n Kind geboei deur stilte.

Jy wou ’n toneel sien soos in een van daardie Amerikaanse hofdramas waarin die beskuldigde skielik begin bieg.

Maar Botha het opgestaan, nie heeltemal so vasberade as tevore nie. “Ek’s bevees, u edele, ek kan dit nie verder voer nie. Ek het my kliënt hieroor gepols by verskeie geleenthede, selfs die eerste keer toe ek hom ontmoet het ’n week en ’n half ná die misdaad. So ek moet herhaal dat ek dit nie verder kan voer nie.”

Dis dalk tóé dat ’n mens vir Henri wou jammer kry. Nie omdat jy wou glo in sy onskuld nie, maar omdat hy ’n kind is. ’n Kind geboei deur stilte.

Dit het gelyk asof die regter se wind uit geslaan is. Asof hy ’n toekoms voor hom sien verbysnel.

“Wel, dan sal vonnisverrigtinge relatief eenvoudig wees.”

Meer oor:  Marli Van Breda  |  Henri Van Breda  |  Siraj Desai  |  De Zalze  |  Bylmoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.