Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Henri sal nooit weer ’n gewone 23-jarige wees’

Hier was geen slopemmers of snesies soos tydens die Oscar Pistorius-verhoor nie. Willemien Brümmer het na regter Siraj Desai se uitspraak gaan luister in die Van Breda-verhoor.

Henri van Breda word geboei en deur twee hofordonnanse na die selle onder die hof begelei.Foto: Peter Abrahams

Toe Henri van Breda kort ná tien in Hof 1 van die Kaapse Hooggeregshof instap, voel dit soos ’n swaardgeveg in Romeinse tye.

Swerms fotograwe skrum om die beste kiekie van die 23-jarige beskuldigde te kry ná ’n uitmergelende verhoor van 68 dae.

Die gehoor soek bloed.

Henri, in ’n vlootblou pak en silwer das, staar byna emosieloos voor hom uit in die beskuldigdebank en maak vlugtig oogkontak met Stefan van der Westhuizen langs my, wat homself as ’n “familievriend en Marli se eks-kêrel” beskryf.

Van der Westhuizen, wat deurlopend op sy foon met ’n nabye familielid in kontak is, begin huil. “Henri was my beste vriend,” sê hy.

Geen onbekende besoekers het deur die toegangsbeheerde hoofhek van die De Salze-landgoed gekom nie, geen alarms is geaktiveer nie en geen oortreders is binne die landgoed gevind nie.

Om 10:10 kom regter Siraj Desai en sy assessor, Annette de Lange, in en die hofgangers staan op. Binne minute is dit duidelik waarop die uitspraak afstuur.

“Die hof stem saam dat dit hoogs onwaarskynlik is dat die sekerheidsmaatreëls oortree is deur ’n oortreder van buite die landgoed,” sê hy.

Geen onbekende besoekers het deur die toegangsbeheerde hoofhek van die De Salze-landgoed gekom nie, geen alarms is geaktiveer nie en geen oortreders is binne die landgoed gevind nie. Die beweerde “inbrekers” het niks uit die huis gesteel nie.

Hier’s geen groen slopemmers of snesies soos in die Oscar Pistorius-saak nie. Henri bly onemosioneel, behalwe dat hy ’n paar keer sy oë toemaak, asof hy sou verkies om hom aan die sagte arms van Morphius oor te gee. Dit lyk asof hy ’n kalmeerpil gedrink het voor die verrigtinge begin het.

Desai stu voort en praat in sy sagte stem oor die oudio-opname van Henri se 25 minute lange oproep aan die nooddienste om 07:12 die oggend nadat drie van sy familielede met ’n byl vermoor is. Martin van Breda, sy vrou Teresa, en hul seun Rudi is na raming tussen 04:00 en 04:24 op 27 Januarie 2015 vermoor terwyl sy suster Marli met dodelike kopbeserings agtergelaat is.

“Die gebrek aan dringendheid en die houding van die aangeklaagde was hoogs ongewoon vir ’n getraumatiseerde slagoffer,” sê Desai.

Hy het nie enige van die noodnommers op die yskas gebel nie, hy het nie die bure gevra vir hulp nie en hy het nie die sekerheidsdienste op die landgoed self gekontak nie.

“Die aangeklaagde was vol selfvertroue, onemosioneel en kalm.”

Die optrede van die aangeklaagde ná die moorde was onverklaarbaar, gaan hy voort. Hy het nie enige van die noodnommers op die yskas gebel nie, hy het nie die bure gevra vir hulp nie en hy het nie die sekerheidsdienste op die landgoed self gekontak nie. Hy het nie vir sy sterwende gesinslede mediese bystand gegee nie en hy het nie sy ma en suster gewaarsku dat daar ’n inbreker in die huis was nie.

Links van my sê die Rapport-joernalis Julian Jansen, wat die boek The De Zalze Murders oor “die storie agter die bylaanvalle” geskryf het, dat Desai moeg lyk. “Hulle vas mos nou. Jy kan sien aan sy mond hy word moeg.”

Hy wys met sy kop na Henri se meisie, Danielle Janse van Rensburg, heel agter met haar wit hemp en blou serp.

“Dis die eerste keer dat Danielle in die hof is. Sy’t baie gewig verloor,” sê hy.

Die graad van geweld wat teenoor die oorledenes en Marli gebruik is was buitensporig.

Die hof word weer om 11:50 hervat ná ’n kort breuk en die reën val al harder op die dak. Ons sukkel om die regter te hoor.

“Die graad van geweld wat teenoor die oorledenes en Marli gebruik is was buitensporig,” sê Desai.

“Die aanval op die beskuldigde het nie dieselfde intensiteit gehad as die ander aanvalle nie.”

En toe later: “Daar kan geen twyfel wees dat die aanvaller die bedoeling gehad het om vir Marli ook te vermoor nie. Marli se beserings het haar lewe bedreig.”

Die reën drup tot op die grys mat van Hof 1. Van der Westhuizen skryf langs my iets in rooi. Daar is ook ’n rooi hartjie in sy notaboek wat hy later doodtrek.

Vyftien minute van roem

Henri en sy meisie, Danielle Janse van Rensburg in die Kaapse Hooggeregshof. Foto: Peter Abrahams

Van der Westhuizen strengel sy vingers in mekaar in en Henri bly onemosioneel ná die middagpouse.

“Niks in die forensiese getuienis sluit kategories vir Henri uit van die aanval nie,” sê regter Desai.

Hy vra hoekom só ’n meedoënlose moordenaar sou weghardloop saam met ’n medeaanvaller en nie eers die beskuldigde sou doodmaak nie.

“Hoekom sou die moordenaar ’n hele gesin uitwis en net een persoon los?”

Hy kyk vir ’n oomblik vir Henri in die oë. “Toe die beskuldigde die nooddienste bel, was dit vreemd dat hy nie probeer het om die bloed wat uit Marli se wonde gestroom het te stop nie. Hy het ’n lang telefoongesprek gehad terwyl elke sekonde belangrik was om die lewens van sy gesin te red.”

Sy antwoorde was vaag oor moeilike kwessies teenoor ander aspekte waaroor hy in detail kon getuig.

Henri het ’n vreemde gebrek aan empatie met die slagoffers openbaar, sê hy. Verder was hy “buitengewoon onindrukwekkend as ’n getuie”.

“Aan die begin het hy baie selfvertroue gedurende sy goed geoefende getuienis getoon, maar minder so toe hy deur die staat gekruisondervra is. Sy antwoorde was vaag oor moeilike kwessies teenoor ander aspekte waaroor hy in detail kon getuig.”

Al kon Henri dalk ’n epileptiese aanval gehad het in die tyd toe hy op die trap was ná die moorde, was hy ten volle by sy bewussyn tydens die moorde en het hy geweet wat hy doen.

Om presies 16:10 kom twee hofordonnanse die hof binne en neem stelling in die beskuldigdebank agter Henri in. Die een glimlag breed en die ander een lyk nors. Dis hulle 15 minute van roem.

“Die hof vind dat die beskuldigde genoegsame tyd gehad het om te peuter aan die toneel en homself uit te beeld as ’n slagoffer,” sê Desai.

Toe hy die beskuldigde vra om asseblief op te staan, haal bykans niemand in die gehoor asem nie.

“Die hof het geen twyfel dat sy wonde self toegedien is nie.”

Toe hy die beskuldigde vra om asseblief op te staan, haal bykans niemand in die gehoor asem nie. Die mense in die galery leun vorentoe. Adv. Pieter Botha, vir die verdediging, neem ’n sluk water.

“As gesinsman is hierdie baie moeilik vir my om te sê,” sê die regter. Hy sluk swaar. Hy bevind vir Henri skuldig aan die moord op sy ouers en sy ouer broer Rudi. Hy bevind hom verder skuldig op aanklagte van poging tot moord op sy suster Marli en aan regsverydeling deurdat hy die moordtoneel só gemanipuleer het dat hy nie as verdagte gesien kan word nie.

Van der Westhuizen langs my en Janse van Rensburg agter in die hoek begin huil. Henri kyk vir ’n oomblik na sy hande. Die uitdrukking op sy gesig is onleesbaar, maar iewers wil jy dink hy het dit verwag. Hy lyk net soos ’n gewone 23-jarige wat per ongeluk aan die verkeerde kant van die geskiedenis gekom het.

Maar hy sal nooit weer ’n gewone 23-jarige wees nie. En dalk sal niemand ooit weet wat werklik dié aand in Goskestraat nommer 12 gebeur het nie.

Meer oor:  Marli Van Breda  |  Henri Van Breda  |  Siraj Desai  |  Bylmoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.