Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Henri van Breda - 'Hoe lank neem bloed om te stol?'

Die byl en mes waarmee Henri van Breda se gesin aangeval is, lê deesdae blink gepoets voor 'n staatsaanklaer en neffens 'n mikrofoon wat dag na dag die stemme opvang en kabellangs uitsaai, skryf Le Roux Schoeman.

Henri van Breda in hof 1 van die hooggeregshof in Kaapstad te midde van die tradisionele uitsaaikameras (links) van televisiekanale en Netwerk24 en News24 se eie, maar ratse opset wat hierdie saak regstreeks uitsaai. Foto: Adrian de Kock

Ons livestream mos nou met twee handycams en ’n mixing desk so groot soos ’n skinkbord die daaglikse gebeure in hof 1 van die hooggeregshof in Kaapstad.

Die Van Breda-saak.

Suiwer op papier beskou, is dit ’n saak met literêre tegnieke wat nie die eerste ronde van terugvoering by ’n misdaadromanskryfskool sou oorleef nie: Gedeeltelike geheueverlies van ’n oorlewende, ’n rolspeler met die van Hitchcock, floutes wat ure duur en die Locard-beginsel . . . “Dis too much,” sou ’n mede- Deon Meyer-aanhanger dalk vir die aspirantskrywer sê, maar nouja, die waarheid is vreemder as ’n storie. Hier trek ons nou reeds by dag iets in die 40 van die verhoor en boonop met hierdie nuutjie dat kykers die saak regstreeks op YouTube kan volg. En sommige doen dit met verstommende uithouvermoë (en buigbare werksure!)

Wel, dis nou op dae wat die sein sy krag mooi hou binne die Kaaps-Hollands-Brutalisties-Deco-echo-of-wat-ook-al-ontwerp wat hof 1 so ’n besonderse akoestieke uitdaging en algemeen WiFi-ontduikende plek vir ’n stukkie livestream maak. Suboptimale ontwerp ter syde, die nuus kan nie agterweë bly met tegnologie nie, daarom span ons maar in wat kerke en skole reeds begin gewild maak het en wat die jongste hoofstuk in die volslae demokratisering van die media is: Die eenman-livestreaming wat nou ook daardie eens eksklusiewe byna mitiese “toringpraktyk” van uitsaai neem uit die hande van voorheen vertroudes (dink paneelwa met satellietskottel op dak en span tegnici wat skarrel tussen drade en kabels) en aan iemand met ’n mobiele toestel en simkaart gee.

Regter Siraj Desai (regs).Skermgreep: Le Roux Schoeman

So, vier lang tree regs van waar Henri van Breda in die bank agter sy advokaat sit en luister na getuie op getuie in die saak wat sy lot sal bepaal, sit een van ons videospan daagliks kromrug voor ’n klein komper wat ons twee kameras se beeldmateriaal meng en via YouTube beeldsend.

Die afgelope paar weke was taamlik meedoënlose tegniese getuienis aan die hand van misdaadtoneelfoto’s wat die leek sal ontstel: Hulle praat bloed en spatsels en sokkies en slaapbroekies en byle en lemme hier in hof 1 en ’n mens kan soms nie hoor wat kapt. Marius Joubert sê nie. Dis nie net omdat hy die einde van sy sinne insluk of omdat die dak meer as ses meter hoog is, sonder matte of gordyne in die groot vertrek, maar bloot omdat jy wonder of ’n bloedspatselkenner in die SAPD wat ’n das met ’n tipe spatselmotief dra, ’n verhoogde of afwesige sin vir ironie het.

Henri kyk voor hom. Sy suster het oorleef, maar sy ouers en broer is dood. Hy is onskuldig, luidens sy ppleitverduideliking wat volgens Botha so deeglik is dat hy nie nodig het om hier te getuig nie. Ons sal dus nie die fors jong man se relaas oor die moordnag hoor opklink teen die dak van hof 1 nie, lyk dit.

Henri, die moordbeskuldigde wat strykdeur die vorige week ’n voorkoms van ietwat slaapontneemde zen-agtigheid in die hofbank agter sy advokaat gehandhaaf het, het Maandagmiddag vooroor geleun.

Wat ’n nag was dit nie – in daai sekerheidskomplekswoning.

Die betrokke byl en die mes lê deesdae blink gepoets vlak voor adv. Susan Galloway, staatsaanklaer, en neffens ons mikrofoon wat dag na dag die stemme opvang en kabellangs uitsaai na vasgenaeldes voor YouTube-skerms, waar ook al in die wêreld.

Wat sou oubaas Locard van dit als sê?

Hy was bekend as die Sherlock Holmes van Frankryk en het, in die deskundige veld van forensiese ondersoek waarin hy diep spore getrap het, ’n beginsel nagelaat wat vandeesweek hier aan die Kaap figureer het.

Dit is naamlik dr. Edmond Locard (1877-1966) en sy beginsel van uitruiling. “Locard se beginsel”, soos Botha tydens kruisondervraging daarna verwys het op dag 40 van die bylmoordsaak, stipuleer dat iemand wat ’n misdaad pleeg, iets van die misdaadtoneel met hom/haar sal saamneem, en iets sal agterlaat. “Every contact leaves a trace,” sê die Wikipedia-inskrywing.

Henri, die moordbeskuldigde wat strykdeur die vorige week ’n voorkoms van ietwat slaapontneemde zen-agtigheid in die hofbank agter sy advokaat gehandhaaf het, het Maandagmiddag vooroor geleun en sy kniekoppe in die rigting gedraai van waar kapt. Joubert aan die woord was. Die SAPD se bloedspatselanalis moes Botha se vrae oor die Locard-beginsel beantwoord. Dit was Locard wat beginsels formuleer het wat gepopulariseer is deur onder meer programme soos CSI, wat misdaadtoneel-ondersoekbeamptes se werk vier en die idee dat dinge as’t ware kan “getuig”, nie net mense nie. Smeersels. Spatsels. Die tipe goed wat kapt. Joubert “lees” om den brode.

Ná plek-plek knorrige ondervraging deur adv. Botha is dit Galloway se beurt om vrae aan Joubert te rig.

Kapt. Marius Joubert, die SAPD se bloedspatselanalis. Skermgreeep: Le Roux Schoeman

“In die lig van jou bevestiging van die Locard-beginsel en die tweerigtingoordrag vanaf ’n misdaadtoneel, kaptein, watter tekens, indien enige, het jy waargeneem hetsy binne of buite die huis wat sou inpas met ’n persoon of persone wat vlug vanaf die misdaadtoneel . . . in die bloedvlekke?”

“Wel, dis baie moeilik om te sê met betrekking tot die hoeveelheid bloed wat op die vloer was in daardie stadium. Die kans om miskien skoenafdrukke te vind sou nie moontlik wees nie, want die bloed moet eers sprei op die vloer self . . . ummm . . . jy sou verwag miskien as hy ’n wapen van soorte sou dra, dat jy ’n paar drupsels sou vind, miskien u edele, ummm, wat van die slagoffer kom of van homself indien hy homself in die proses beseer het,” sê kapt. Joubert, ’n aantreklike man met ’n middelpaadjie en leepoë wanneer hy energie bespaar, byna soos ’n skermskut op ’n rekenaar.

Hoe lank vat dit vir bloed om te stol?

“Het jy sulke aanduidings op die toneel gevind?” wil Galloway weet.

“Nee, u edele,” sê kapt. Joubert in die rigting van regter Siraj Desai.

Galloway volg op: “Watter tekens het jy op die toneel opgemerk van ’n persoon wat vlug met ’n bloedbevlekte onderwerp nadat hy Marli aangeval het aan die bokant van die trappe? Watter tekens het jy gevind in die bloedspatsels in besonder?” wil Galloway weet.

“Geen, u edele.”

Le Roux Schoeman.

Nou vra regter Desai ’n paar van sy eie vrae.

Hoe lank vat dit vir bloed om te stol?

Die proses begin tussen drie en 15 minute, sê Joubert, maar daar is veranderlikes soos humiditeit en temperatuur.

Wat is die volgende grens vir nuustegnologie, noudat ons vierkantig en volledig binne die hofproses staan en soms tot skaamte ongeduldig of selfs verveeld is met die bloedstollende ennui van ’n Bolandse moordraaisel? Sekerlik behels dit ’n tree nader aan die brein van die regter. Die sogenaamde cutting edge sou iets kon wees soos regstreekse toegang tot binne daardie bles en wyse skedel van regter Desai.

’n Regsbrein na aan aftrede, wat vir oulaas moet besluit of hy die man agter die advokaat moet bêre of laat loop.

* Schoeman is Netwerk24 se hoof van multimedia.

Meer oor:  Henri Van Breda  |  Le Roux Schoeman  |  Kaapstad  |  Misdaad  |  Moordverhoor  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.