Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Heroïese man styg uit bo gek maatreëls

Wat kan ons leer van ’n man wat gebore is voor nylon, televisie, straalenjins, fakse, koordlose fone, FM-radio, mikrogolfoonde, bandopnemers, outomatiese ratkaste en elektriese tikmasjiene (om van rekenaars nie te praat nie).

Baie.

Maar eers moet ’n mens iets sê oor die ontslape Richard Maponya (99) se wêreld en oor sy persoonlike ondervindings.

Richard Maponya: Gevierde entrepreneur. Foto: Gallo Images

Min mense het destyds besef – en amper niemand weet dit nou nie – hoe absoluut gek apartheid was. Nie hoe sleg nie, maar hoe verbysterend absurd.

Maponya het geweet.

Met waardigheid en die wys­heid wat sy generasie swart entrepreneurs gekenmerk het, het hy dit oorleef en vooruit geboer.

Toe ek hom 50 jaar gelede ontmoet het, was ek ’n studente­aktivis en hy het ’n klein winkeltjie in Soweto gehad. Onder die gek wette wat destyds gegeld het, kon geen “swart” winkel groter as ’n klein kamertjie wees nie – 35 m². Hy kon slegs bederfbare produkte verkoop – geen toiletpapier, seep, haarborsels of gereedskap of potte nie.

Maponya was, wat ’n ander heroïese entrepreneur, dr. Sam Motsuenyane, genoem het, ’n “swart kapitalis sonder kapitaal”.

Hy kon nie meer as een klein winkel besit nie. Hy moes ook die alleeneienaar wees en geen maatskappye of vennootskappe was toelaatbaar nie. Hy moes altyd in sy winkel aanwesig wees – geen bestuurders nie.

“Radius-wetgewing” het hom verbied om ’n winkel oop te maak binne 6,5 km van ’n ander winkel – nêrens naby ’n stasie, taxistaanplek of bushalte waar ’n ander winkel reeds was nie.

Sy gedwonge winkelure was tussen 08:00 en 18:00 – wanneer die meeste van sy kliënte by die werk was. Sy winkel was oop wanneer daar geen kliënte was nie en gesluit as almal wou koop.

My herinnering is dat hy en sy buitengewone vrou, Marina, ’n gemeenskapswerker, kalm en vasberade was met geen van die woede wat ek gehad het oor die situasie nie.

Maponya was, wat ’n ander heroïese entrepreneur, dr. Sam Motsuenyane, genoem het, ’n “swart kapitalis sonder kapitaal”.

Swart mense kon nie grond besit nie, dus het hulle geen toegang tot finansiering gehad nie. Hulle kon ook niks vervaardig nie, so geen ondernemings wat diefwering of meubels of kussings maak nie. Ook geen koekblikke nie, want niemand mag bak nie.

Ek was bevoorreg om saam met Maponya en ander helde van die entrepreneuriese stryd te werk teen “die stelsel”.

Ná daardie donker dae van apartheid, is die gek maatreëls verslap tot die punt waar hy grond kon besit en Maponya Mall kon bou – die eerste belangrike winkelsentrum in ’n “swart” gebied. En hy kon selfs vir hom ’n resiesperd koop.

(Dinge het regtig vreemd geword gedurende die skemerjare van apartheid. Ou amptenare het ou wette toegepas en nuwes het “hervormings” geïmplementeer wat veronderstel was om swart mense te bemagtig. Ek onthou hoe Maponya en die meubelvervaardiger Habakuk Shikwane vertel het hoe amptenare “onwettige” voorraad en masjinerie sou konfiskeer, net om deur ánder amptenare gevolg te word wat gehelp het om nóg voorraad en masjinerie te finansier.)

Uiteindelik vry van apartheid, was Maponya se gevorderde ouderdom geen belemmering nie. Hy het voortgestoom en een van ons mees gevierde entrepreneurs geword. Voorheen het hy gewroeg oor apartheid se onderdrukking, ná 1994 was hy bekommerd oor postapartheid-afhanklikheid.

Gedurende sy laaste jare het hy gekla oor wat hy sien as die twee groot struikelblokke tot swart bemagtiging: ’n Klaarblyklike gebrek aan waagmoedige entrepreneurskap en ’n tsoenami van beklemmende regulasies.

Hy was bekommerd oor die risikovrye afhanklikheid van gunste en gawes van die regering en patronaatskap. Sy siening van die regering was soortgelyk aan ’n moeder wat haar baba met die een hand voed terwyl sy hom met die ander hand verwurg.

Ontluikende entrepreneurs, het hy geglo, moet geleer word: Nie net tegniese vaardighede soos boekhou, voorraadbestuur, bemarking en begroting nie, maar ook entrepreneurskap.

Sy voorbeeld was ’n kultuur van selfversorging, die loop van risiko’s, ’n vasberadenheid om te herstel van teenspoed, innovering en besparing.

Hy wou hê dat die regering besef dat talle wette en praktyke ontluikende entrepreneurs en klein sakeondernemings viktimiseer. Swart mense, het hy aan my gesê, was dubbele slagoffers: Eers weens die nagevolge van apartheid en nou weens oorregulering en afhanklikheid.

Maponya, soos sy vriende en tydgenote Motsuenyane, Shikwane, Kutumela, Motlana, Lesolang en ander vergete helde van die struggle het die onmoontlike verrig en sukses behaal op maniere wat toekomstige generasies nooit sal verstaan nie.

) Leon Louw is direkteur van die Vryemarkstigting.

Meer oor:  Richard Maponya  |  Soweto  |  Sakeman  |  Entrepreneur  |  Apartheid  |  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.