Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Harry, Meghan se ‘Oprah-biegsessie’: Jy kan dit op M-Net kyk!

Die hertog en hertogin van Sussex se eksklusiewe biegsessie voor die kameraspan van die koningin van kletstelevisie, Oprah Winfrey, het die vitrioelkrane oopgedraai. Arlene Prinsloo probeer beantwoord hoekom daar so ’n herrie oor die onderhoud is.

Intussen het M-Net bekend gemaak hy het die regte bekom om die onderhoud op 8 Maart uit te saai.

Prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, sal in die eksklusiewe onderhoud met Oprah Winfrey praat oor hul ongelooflike moeilike wegbreek uit die “onoorleefbare” koninklike vistenk. Foto: Twitter/Omid Scobie

Die lusmakertjie vir die onderhoud eerskomende Sondag is pure Oprah.

“Het julle stilgebly of is julle stilgemaak?” vra sy met besorgde oë agter haar modieuse dikraambril.

Die Sussexe is nie die eerste koninklike verstotelinge wat hul hart teenoor haar uitstort voor ’n simpatieke Amerikaanse gehoor met diep beursies nie. Harry se aangetroude tannie Fergie was al ’n paar keer oorkant Oprah op die stoel.

Nou borrel die vrae opnuut. Gaan dié onderhoud, wat aanvanklik 90 minute sou duur en nou ’n volle twee uur lank is (met peperduur advertensieverposings, natuurlik!), ’n koninklike blik wurms oopmaak soos Harry se ma, Diana, se omstrede BBC-Panorama-onderhoud jare gelede?

Dié waarnemer dink nie so nie, tensy die gevreesde R-woord (rassisme) in die onderhoud insluip, wat heel moontlik is.

Tot vandag toe is daar mense wat Diana as ’n onskuldige enigma beskou. ’n Lam ter slagting wat net ’n 'heir and a spare' vir die koningshuis moes baar en toe eenkant op die ashoop gegooi is.

Talle koninklike waarnemers meen die “manne in grys in die paleis” – die amptenare wat die monargie se wiele laat draai én sy voortbestaan verseker – was nie gereed vir ’n vrou van gemengde afkoms en boonop een wat gewoond was daaraan om haar stem te laat hoor en haar stempel op alles af te druk nie. Agter paleismure is daar net een hoofspeler en dit is die monarg. Die res van die rolverdeling is byspelers. Punt.

Harry is eenvoudig te ver van die troon om die rotsvaste fondament van die Huis van Windsor te skud. Die gifpyl van Diana se onderhoud was nader aan die hart van die monargie: Sy het gesê haar en prins Charles se huwelik het misluk omdat hy ’n affair met Camilla Parker-Bowles gehad het. Bingo!

Koerante wêreldwyd het dié nuus uitgebasuin, ook in Suid-Afrika. Daarby het Diana ook haar eie ontrouheid met James Hewitt erken én gesê sy dink nie Charles is geskik om koning te word nie. (Hoor jy die fondamente kraak?)

Tot vandag toe is daar mense wat Diana as ’n onskuldige enigma beskou. ’n Lam ter slagting wat net ’n heir and a spare vir die koningshuis moes baar en toe eenkant op die ashoop gegooi is.

Niemand – veral nie Diana nie – is egter sulke eendimensionele karakters nie. Sy was nie net ’n slagoffer nie en het die media gemanipuleer.

Toe sy, soos Harry en Meghan, die koninklike Diana agterlaat en boonop sonder persoonlike beskerming die ongenaakbare regte wêreld betree, was die skrif aan die muur.

Sy is dood nadat haar motorbestuurder van die alomteenwoordige steelfotograwe probeer wegjaag het. Maar die bestuurder op daardie noodlottige dag op 31 Augustus 1997, Henri Paul, was ook dronk agter die stuur.

Die rebel-prins

Diana, prinses van Wallis, en haar seuns, prins William en prins Harry, draai hul gesigte weg van die steelfotogawe wat hulle op ’n skivakansie in Lech, Oostenryk, agtervolg het. Foto: Getty Images

Die verafgoding van Diana, haar slagofferskap en moeilike verhouding met die media moes ’n invloed op die jong Harry gehad het.

Harry leef al te lank in die skadu van sy ouer broer, prins William. Dit is nie wat hul ma wou gehad het nie. Diana het altyd seker gemaak dat haar en Charles se seuns dieselfde behandel word. Haar grootste wens was dat Harry vir William ’n rots sou wees wanneer hy koning word.

Toe nie.

As ’n troonopvolger is William meer deur paleisamptenare beskerm en later jare kon hy steun op die wyse raad van sy vrou, Catherine, asook haar middelklasouers, die Middletons.

Die prinse het as tieners albei wilde partytjies gehad in Charles se plattelandse woning, Highgrove. Tog was dit Harry wat in die moeilikheid beland het ná ’n voorval in die Rattlebone Inn – ’n kroeg naby Highgrove – toe hy as minderjarige ’n woordewisseling met die kroeg se Franse sjef gehad het. Harry het die sjef glo ’n “f***ing frog” genoem en is gevra om die kroeg te verlaat.

Die res is voorbladnuus. Harry moes by sy pa bieg dat hy gereeld drink en nog erger, dagga rook (van Charles se personeellede het hom ingelig oor die daggareuk by Highgrove).

William het met tye saam met Harry in die kroeg uitgehang, maar sy naam is gerieflikheidshalwe uit al dié beriggewing uitgelaat.

Harry is gekarakteriseer as ’n rebel-prins en dit het die Britse poniepers soos ’n handskoen gepas.

Voeg daarby die wagtende media buite die klubs waar Harry in sy jong dae uitgehang het, net om daai foto te kry van ’n swetsende Harry wat voorspelbaar uit die klub steier en ’n fotograaf uit die pad stamp.

(Dit is dalk belangrik om te noem dat minstens twee van Harry se liefdesverhoudings – met Chelsey Davey en Cressida Bonas – skipbreuk gely het minstens gedeeltelik omdat hulle nie kans gesien het vir die media-aandag nie.)

The die was cast. Harry is gekarakteriseer as ’n rebel-prins en dit het die Britse poniepers soos ’n handskoen gepas. Dit was dom om ’n Nazi-swastika tydens ’n kostuumpartytjie te dra (William was ook by dié partytjie), maar sy kaalgat-manewales in Las Vegas het hom net dieper in die harte van sy bewonderaars laat kruip. Hier was iemand wat kon aanjaag, soos ’n gewone jong man.

Kyk, Harry maak ook foute. Hy is opvlieënd en impulsief. Maar hy het bitter hard gewerk om die gewildste lid van die koninklike gesin te word.

Enigiemand wat saam met hom in die weermag gedien het, sal vertel dat hy plat op die aarde is en geen spesiale behandeling verwag het nie. Maar toe hy ná sy verlowing met die Amerikaanse aktrise Meghan Markle publisiteit probeer beheer, het die poniekoerante bloed geruik.

Hy kon op die gebied van bewaring en hulp aan vigs-wesies sy stem laat hoor, maar diep binne hom het die seer oor die dood van sy ma en die rol wat die media daarin gespeel het, gebroei.

In die ITV-dokkie wat met sy en Meghan se besoek aan Suider-Afrika verfilm is, het dié sweer oor Diana oopgebars.

“I will not be bullied into playing a game that killed my mum. Everything that she went through and what happened to her is incredibly raw every single day, and that is not me being paranoid. That is just me not wanting a repeat of the past.”

Het julle stilgebly of is julle stilgemaak?

Meghan stort haar hart teenoor Oprah uit. Foto: Twitter/Omid Scobie

Natuurlik sou Harry Meghan en hul kind wou beskerm, maar toe hy privaatheid begin rondgooi om eers die geboorte van sy seun (amper) geheim te hou en toe later selfs inligting oor Archie se peetouers van die pers weerhou, het die Britse poniekoerante hul dikste lettertipes uitgehaal om die Sussexe te looi.

Boonop moes Meghan, gewoond daaraan om haar eie en boonop gewilde blog, The Tig, in stand te hou en op sosiale media aktief te wees, haar stem op alle platforms smoor toe die verhouding ernstig raak. En hier spook Oprah se woorde weer by dié waarnemer: Het julle stilgebly of is julle stilgemaak?

Meghan, wat van kleins af geleer is om op haar eie voete te staan én figuurlik teen die wêreld se ongeregtighede te baklei, is gewoond daaraan om haar kant van die saak te stel.

Meghan, ’n ouer koninklike bruid, geskei, van gemengde afkoms én boonop uitgesproke, pas in geen koninklike gietvorm nie.

Daar is bykans nie ’n dag dat haar naam nie in ’n Britse koerant opduik nie. Meghan en Harry verkoop, ongeag of dié stories stertjies bykry. G’n wonder Harry sê in sy verskyning op James Corden se The Late Show with James Corden dat hy ’n kleintjie dood het aan mense wat alles glo wat oor hom en sy gesin opgedis word nie. Maar dit daar gelaat.

Meghan, ’n ouer koninklike bruid, geskei, van gemengde afkoms én boonop uitgesproke, pas in geen koninklike gietvorm nie.

Ná skaars twee jaar in die koninklike kollig raak dinge te warm vir haar en Harry. Hulle kan nie doen wat hulle wil nie, hul planne vir ’n nuwe en hervormde koningshuis word afgemaak.

Daar is sprake van dat William agter die planne is om Harry en Meghan vir ’n lang tydperk uit Brittanje te kry vir ’n soort sabbatsverlof. Toe word die praatjies van ’n sabbatsjaar ’n egskeiding, en nie ’n vriendelike een nie.

Uiteindelik, 363 dae ná hul laaste koninklike verpligting verlede jaar tydens die Statebondsdiens in die Westminster-abdy, bied die Oprah-onderhoud aan hulle die geleentheid om hul stem te laat hoor (met dramatiese pouses, natuurlik).

Die groot attraksie is eintlik Meghan, met Harry as ’n byspeler.

Van die Britse koerante se voorblaaie op 9 Januarie verlede jaar, die dag nadat die Sussexe aangekondig het dat hulle as senior koninklikes wil terugstaan. Foto: Getty Images

En al is Oprah ’n simpatieke en vlymskerp onderhoudvoerder, neem dit nie veel om die rooikop-prins oor sy ma se “mishandeling” aan die hand van die media te laat praat nie.

Na verwagting gaan Harry en Meghan die reeds feitlik vals gespeelde slagofferkitaar slaan. Bygesê, Meghan is onnodig deur die Britse media gekasty oor haar vervreemde pa, moeilikheidmakende halfsuster, Samantha, en skandalige halfbroer, Thomas.

Sy het wel haar hofsaak teen die naasgrootste poniekoerant in Brittanje, Daily Mail en sy Sondagpublikasie, The Mail on Sunday, gewen, maar sy het die oorlog teen die media verloor.

Enigiets wat sy of Harry sê of doen, word nie net onder ’n vergrootglas geplaas nie, dit word tot in die fynste besonderhede ontleed.

Dit is glad nie ’n verrassing dat die Diana-invalshoek die trekpleister vir die onderhoud is nie.

Kyk! Meghan dra tydens die Oprah-onderhoud opale in ’n lotusvorm om haar nek (’n teken van rustigheid, goeie geluk én selfregenerasie!), en vir nog meer impak: Diana se Cartier-diamant-armband.

Dit is glad nie ’n verrassing dat die Diana-invalshoek (het jy enigsins iets anders verwag?) die trekpleister vir die onderhoud is nie. Diana het self daarvan gedroom om te ontsnap na Amerika, waar “regte koninklikes” ademloos aanbid word. Al wat haar drome gestuit het, was die wete dat koningin Elizabeth nooit sou toelaat dat sy Harry en William saam met haar neem nie.

Nou het haar seun sy heil in Amerika gaan soek en vir sy en Meghan se Archewell-stigting en produksiemaatskappy het hulle skenkers met diep sakke nodig – botter vir hul spreekwoordelike organiese brood.

Anders sal hulle nie kan oorleef nie, en wat gaan die pers dán sê?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.