Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Het die Amerikaanse demokrasie Trump oorleef?

Hoe lyk die Amerikaanse demokrasie ná vier jaar van uiterste polarisering? Leopold Scholtz probeer ’n antwoord vind.

Pres. Donald Trump van Amerika nadat hy die naweek het ná ’n besoek aan Camp David by die Withuis aangekom. Foto: Reuters

Een van die pilare waarop die liberale demokrasie, soos ons dit in die Weste ken, staan, is dat vrye en regverdige verkiesings gehou word; dat die regerings wat daaruit voortkom, die uitslae weerspieël; en dat ’n gladde magsoordrag plaasvind indien die sittende regering uitgestem word.

Aan die begin van die eeu is dié pilaar in Kaapstad deeglik getoets. Toe het die ANC, wat onder leiding van burgemeester Nomaindia Mfeketo, aan die bewind was, maande lank weerstand gebied teen die verkiesingsuitslag, wat ’n meerderheid aan die DA gegee het.

Uiteindelik moes sy bes gee, en tot vandag regeer die DA in Kaapstad.

Nou ja, ’n mens wil amper sê jy verwag niks beters van die ANC nie. Jy verwag wel beter van die moeder van alle moderne demokrasieë – Amerika, die eerste demokrasie met ’n geskrewe grondwet.

In Amerika het pres. Donald Trump weke lank ná sy duidelike neerlaag by die stembus geweier om die uitslag te aanvaar. Die rede wat hy aangegee het, het hy al maande tevore begin propageer, naamlik dat sy opponente kierang en die verkiesingsuitslag “steel”.

Vir hom is ’n leuen nie ’n leuen nie. Dis bloot wat hy dink.
Dan Coats, hoof van die Amerikaanse intelligensiedienste

Nou moet ’n mens, om mee te begin, Trump se persoonlikheid verstaan. Op bl. 69 van Bob Woodward se uitstekende boek, Rage, lees ’n mens van ’n gesprek tussen twee hooggeplaaste mense wat Trump goed leer ken het.

Genl. James Mattis, (afgedankte) minister van verdediging, ’n brok integriteit as daar ooit een was, sê aan Dan Coats, hoof van die Amerikaanse intelligensiedienste: “Die president het geen morele kompas nie.” Coats antwoord: “Dis waar. Vir hom is ’n leuen nie ’n leuen nie. Dis bloot wat hy dink. Hy ken nie die verskil tussen die waarheid en ’n leuen nie.”

En op bl. 81 word Mattis só aangehaal: “Al die oorwinnings is ondergedompel in hierdie veranderlike, willekeurige twietende vorm van besluitneming.” En: “Die waarheid bepaal nie meer die Withuis-verklarings nie. Niemand glo nie – selfs die mense wat in hom glo, glo op ’n manier in hom sonder om te glo wat hy kwytraak.”

Ondersteuners van pres. Donald Trump in Florida wat net soos hy glo dat die verkiesing “gesteel” is. Foto: Reuters

Sy eie niggie, die sielkundige dr. Mary Trump, skryf in haar boek Too Much and Never Enough dat die president deur sy vader, Fred Trump, geleer is om nóóit ’n nederlaag toe te gee nie. Dat die enigste manier om ’n teenslag die hoof te bied, is om te lieg, bedrieg, te intimideer en te bluf.

“Donald is nie bloot swak nie,” skryf sy, “sy ego is ’n breekbare ding wat elke oomblik versterk moet word omdat hy diep binne-in weet hy is niks wat hy beweer hy is nie.”

As sakeman het dit gewerk, al het Trump daardeur skuld van meer as $400 miljoen opgebou. Elke keer kon hy geldskieters se arm draai om hom tog weer te red.

As president werk dit nie noodwendig nie. Nou het hy te make met politieke opponente wat sy polarisering en voortdurende beledigings met ’n verterende haat beantwoord.

Hy het ook te make met ’n grondwet wat hy nie summier van die tafel kan vee nie. Die syfers is duidelik: Hy het meer as ses miljoen stemme mínder as sy opponent, die Demokraat Joe Biden, behaal.

Dokumente en meineed

Rudy Giuliani, regsverteenwoordiger van pres. Donald Trump, aan die woord voor ’n beleidskomitee van Pennsilvanië se senaat. Foto: AP

Getrou aan sy persoonlikheid, beantwoord Trump dié uitslag op drie verskillende vlakke.

Ten eerste het hy herhaaldelik hertellings geëis in die swaaistate wat die deurslag gegee het. Dit het gebeur, maar in die meeste gevalle het dit sy agterstand selfs marginaal vergroot.

Tweedens het hy tientalle hofsake begin om die Biden-oorwinning ongeldig te verklaar. Sy regspanne, onder leiding van Rudy Giuliani, het deelstaat- en federale howe tientalle kere genader, maar die sake is – met die uitsondering van een of twee ondergeskikte kwessies – elke keer uitgegooi.

Giuliani-hulle het op nuuskonferensies met dik pakke dokumente, na bewering beëdigde verklarings, opgedaag wat op grootskaalse, sentraal-geleide verkiesingsbedrog sou dui.

Vrye, regverdige verkiesings is die lewensbloed van ons demokrasie.
Regter Stephanos Bibas

Daar was egter ’n probleem daarmee: Bitter min van dié dokumente is ooit aan die regters voorgelê. En wanneer die advokate deur die regters ondervra is, het hulle ietwat skaapagtig toegegee dat hulle nie verkiesingsbedrog beweer nie, slegs bona fide-foute.

Hulle kon ook nie anders nie, want anders sou hulle hul aan meineed skuldig maak.

In een geval, in Pennsilvanië, het regter Matthew Brann, ’n Republikein, gesê die Trump-kamp se saak is “soos Frankenstein se monster lukraak aanmekaargenaai”. En in die appèlsaak (voor ’n regbank van drie regters, al drie Republikeine) wat hierop gevolg het, het regter Stephanos Bibas – nogal ’n Trump-aanstelling – losgetrek: “Vrye, regverdige verkiesings is die lewensbloed van ons demokrasie. Klagte van bedrog is ernstig. Maar om ’n verkiesing onregverdig te nóém máák dit nie so nie. Klagte vereis spesifieke bewerings en dan bewyse. Ons het niks daarvan hier nie.”

‘Ek het gewen. Ek het gewen. Ek het gewen.’

Pres. Donald Trump glo blykbaar steeds vas dat hy die verkiesing gewen het. Foto: AP

Die derde vlak waarop Trump hom verset, is om die arm van Republikeinse leiers in die swaaistate te draai om ’n teoretiese reg wat die grondwet aan hulle gee te gebruik. Daarmee moet hulle dan die uitslag negeer en self Trump-ondersteuners benoem in die kieskollege wat op 14 Desember formeel die president aanwys.

Tot hul krediet, het al die Republikeinse leiers tot dusver Trump se druk weerstaan. Soos Georgia se (Republikeinse) staatsekretaris, Brad Raffensperger, dit gestel het: “Ek dink nie ek het ’n keuse nie. My plig is om die wet toe te pas. Ons gaan nie geïntimideer word nie. Integriteit maak steeds saak.”

Trump het soos die kranksinnige Engelse koning George III, verwoed rondgeloop en gemompel: 'Ek het gewen. Ek het gewen. Ek het gewen.'

Trump het intussen toestemming gegee dat die voorbereidings vir die magsoordrag kan begin, nadat hy dit drie weke lank teengehou het. Maar, getrou aan sy persoonlikheid, weier hy steeds om sy verwerping deur die kiesers te aanvaar.

The Washington Post het in die naweek ’n lang rekonstruksie, gegrond op onderhoude met 32 senior Trump-amptenare, geplaas. Dit wys ’n president wat heen en weer tussen woede, selfbejammering en onbewysbare beskuldigings van komplotte teen hom slinger.

Een raadgewer het vertel dat Trump, soos die kranksinnige Engelse koning George III, verwoed rondgeloop en gemompel het: “Ek het gewen. Ek het gewen. Ek het gewen.”

Skade nie onherstelbaar

Joe Biden het as nuwe president die taak om Amerikaners se vertroue in die demokrasie te herstel. Foto: AP

Hoe nou vorentoe?

Wel, daar kan geen enkele twyfel hoegenaamd wees nie: Die verkiesing was vry en regverdig, en Trump het verloor. Op 14 Desember sal die kieskollege Biden formeel as president aanwys, en om 12:00 op 20 Januarie sal hy as sodanig beëdig word.

Dit sal egter hoogs verbasend wees as Trump, soos goeie maniere vereis, sy opwagting daar maak. Trouens, daar word gegis dat hy presies op die oomblik van die beëdiging sy kandidatuur vir die verkiesing van 2024 bekend sal maak.

Hy sal dan natuurlik eers ’n paar struikelblokke moet oorkom.

Leopold Scholtz

As sy onaantasbaarheid as staatshoof iets van die verlede is, wag verskeie hofsake op hom – allerlei klagte van bedrog, verkragting, ensovoorts. Sy skuldeisers, kan verwag word, gaan ook op hom toesak, en dis glad nie onmoontlik dat hy bankrot uit die kwessie kan kom nie.

Voorts sal hy heelparty Republikeinse mededingers, wat popel van ongeduld om in 2024 president te word, in die party se voorverkiesings uit die pad moet stoot. En ten slotte, as hy al dié hekkies oorkom, sal hy die breë kieserspubliek moet oortuig dat hulle pas ’n fout gemaak het deur Biden te kies.

Die kans is goed dat sy gebrekkige persoonlikheid, die belangrikste oorsaak vir sy pas afgelope neerlaag, weer teen hom sal tel. Maar die tyd sal leer.

Intussen is die uitslag ’n bevestiging dat die Amerikaanse grondwet en demokrasie teen Trump se aanslag bestand was. Hy het die stelsel wel deeglik beskadig, maar onherstelbaar was dit nie.

Dis wel ’n vraag of die littekens kan toegroei – en, indien wel, hoe vinnig.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike ontleder wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.