Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Het die doodsklok reeds vir Afrikaans begin lui?

Daar sterf jaarliks ongeveer ses tale uit. Gaan dit met Afrikaans gebeur? Want sodra die hooffunksies van ’n taal geraak word, selfs subtiel, sit dit ’n geleidelike proses van agteruitgang aan die gang, skryf Wannie Carstens. 

"Die grootste taak vir die volle Afrikaanse gemeenskap is om die politieke flaters van die verlede reg te maak." - Wannie Carstens.

Lucia Burger van Johannesburg skryf in ’n brief in Beeld van 1 Julie 2016: “Solank ons Afrikaans praat in ons huise, skole, winkels, universiteite, kerke en op die (sport)veld, sal Afrikaans nooit uitsterf nie.”

Lucia is egter nie heeltemal korrek in haar siening hier bo nie en die situasie is ook nie so eenvoudig nie.

Ja, natuurlik sal Afrikaans nog vir baie jare gebruik word as mense doen wat sy hierbo sê: Práát en gebruik dit beslis daar waar jy is vir watter doel ook al - vir onderwys, om jou in die hof te verweer, om jou godsdiens te beoefen, om jou koerante en tydskrifte te lees, om na die radio te luister en TV te kyk, om die Afrikaanse letterkunde te ervaar, om jou sport te beoefen, as taal in jou werksplek en in die sakewêreld, om boeke daarin te skryf, om jou wetenskap daarin te ervaar en te beskryf, en so meer.

Wees dus gerus dat Afrikaans nog vir baie jare gepraat, geskryf en gebruik gaan word daar waar mense dit nodig het om hul menswees in die taal uit te leef. Dit kan nog tot in die volgende eeu of selfs langer wees.

’n Taal sterf nie sommer net eensklaps uit nie.

Daar is tans ook baie mense wat geen ander taal as Afrikaans kan praat nie en dit sal vir baie jare nog die geval wees. Dit is ook die geval met die sprekers van verskeie Afrikatale in ons land. In landelike gebiede regoor die land is dit so. Hierdie mense ken daardie één taal en lewe hul hele lewe in daardie taal uit. Dit is nie net in Suid-Afrika die geval nie, maar regoor die wêreld.

Taal as entiteit word egter geraak deur gebeure rakende die taal se status, funksies, gebruikspatrone asook die ervaring van sprekers.

Volgens die literatuur sterf daar jaarliks ongeveer ses tale uit. Dit is dus moontlik dat dit met Afrikaans kan gebeur. Maar ’n taal sterf nie sommer net eensklaps uit nie. Niemand staan op ’n dag op en sê: “Van vandag af gaan ons nie hierdie taal verder gebruik nie.”

In die geskiedenis van Suid-Afrika is die tydperk van verengelsing in die 19de eeu ’n goeie voorbeeld hiervan. Ten spyte daarvan dat lord Charles Somerset in 1822 ’n dekreet uitgevaardig het dat Engels die amptelike (en in wese enigste) taal van die land sou wees ná 1827, het dit nie gebeur nie. Hierdie proses sou Afrikaans se vordering en ontwikkeling erg kon strem.

Wannie Carstens.

Hoekom het Afrikaans se ontwikkelingsproses dus nie hier gestop nie? Gewoon omdat die sprekers van die ontwikkelende taal dit nie geduld het nie en hul eie planne gemaak het.

Dit is wat die Afrikaanse gemeenskap vandag ook kan doen: Wees kreatief en ontgin al die beskikbare weë.

Daar is egter vyf onmiddellike gevare wat op die verre horison lê en nie sommer gaan verdwyn nie. Ons sal dom wees as ons op die pad vorentoe nie hiermee rekening hou nie. Hierdie kwessies kan ’n uitwerking hê op Afrikaans se voortbestaan:

1. Die afskaal van funksies

Verskeie kundiges waarsku hoe Afrikaans se funksies afgeskaal gaan word weens die taalbesluite aan universiteite. Die hoogste twee funksies (onderrig in die eie taal en die gebruik van ’n taal vir die beoefening van die wetenskap) hou ongelukkig met mekaar verband. Dit is die hoofrede hoekom daar so geprotesteer word teen die afskaal van Afrikaans aan UV, UP en US.

As die hooffunksies dus geraak word, selfs subtiel, sit dit ’n geleidelike proses van agteruitgang aan die gang.

Net kortliks ter agtergrond oor wat funksies is: Elke taal het die strewe om uiteindelik ’n standaardtaal te word, dus ’n taal wat wyd vir ’n verskeidenheid doeleindes gebruik kan word. Hierdie doeleindes is die funksies wat die taal vir die taalgemeenskap verrig, soos om onderwys in daardie taal te bied, of om jou brood en botter in daardie taal te kan verdien.

Hierdie funksies is ook nie eensklaps daar nie. ’n Taal gaan deur ’n lang proses om tot op daardie vlak te kom. Dit was ook die geval met Afrikaans.

Dit het ná 1925 tussen 30 en 40 jaar geneem voordat Afrikaans oor al hierdie funksies beskik het.

As die hooffunksies dus geraak word, selfs subtiel, sit dit ’n geleidelike proses van agteruitgang aan die gang. En hierdie proses is so stilweg aan die werk dat die huidige geslag nie sommer die verlies sal ervaar nie.

As daar egter oor 20 tot 30 jaar van nou af teruggekyk word, gaan Junie 2016 uitstaan as die tyd toe die proses begin het. Dít is waarteen ons moet waak.

2. Taalvervanging

Soveel Afrikaanssprekende jongmense ervaar onsekerheid vir ’n verskeidenheid redes en oorweeg om die land te verlaat. Baie wonder of hulle nog ’n toekoms hier wil of kan bou. Vir baie van hulle word ’n lewe in die buiteland werklikheid.

Wat dan gebeur, is ’n proses wat ons taalverplasing of taalvervanging noem. Die eie taal word met verloop van tyd met die taal van die nuwe land vervang.

Baie oupas en oumas ervaar hul kleinkinders in Australië, Kanada of Engeland hoofsaaklik deur ’n rekenaarskerm.

Hoe werk dit? Die Afrikaanse jong man of vrou kom in die vreemde land aan, kry ’n werk, begin sosialiseer en ontmoet kort voor lank iemand wat ’n lewensmaat word. Hierdie lewensmaat het in die nuwe land grootgeword en is nie van plan om die land te verlaat nie. Ná die huwelik neem die Afrikaanse jong man of vrou onvermydelik die taal van die nuwe land aan.

As hulle kinders het, leer ook die kinders die nuwe land se taal en binne enkele jare is die verre Afrikaanssprekende oupa en ouma net ’n vae herinnering aan ’n vervloë tyd.

Daar is deesdae seker min Afrikaanse families wat nie ’n geliefde in die buiteland het nie. Baie oupas en oumas ervaar hul kleinkinders in Australië, Kanada of Engeland hoofsaaklik deur ’n rekenaarskerm.

Dit gebeur ook as jong gesinne emigreer, veral as hulle jong kinders het. Binne minder as twee geslagte het die kinders ingeskakel in die nuwe omgewing, en in die meeste gevalle word burgerskap ook aangeneem. Die taalgevolge is duidelik.

3. Politiek

Afrikaans sit met ’n stuk politieke bagasie wat die taal nog baie lank met hom gaan saamdra. Eggo’s hiervan is duidelik gehoor in die taalprosesse by UV, UP en US rakende Afrikaans. Die “Away with Afrikaans”- of “Afrikaans Must Fall”-slagspreuke wat teen mure by hierdie universiteite geverf is, het dit opnuut beklemtoon.

Mense is steeds kwaad vir Afrikaans en Afrikaanssprekendes.

Die grootste taak vir die volle Afrikaanse gemeenskap is om die politieke flaters van die verlede reg te maak en saam ’n nuwe geïntegreerde toekoms te bou.

Ons moet dit goed weet: Die enigste oplossing vir Afrikaans is ’n politieke oplossing. Hoe gaan ons dit regkry? Daaroor moet ons saam praat en saam beplan.

Mense is steeds kwaad vir Afrikaans en Afrikaanssprekendes. Wat kan ons doen om dit te verander?

4. Meertaligheid as verskoning

Ons Grondwet maak voorsiening vir meertaligheid, maar wat gebeur in die praktyk?

Engels word weens lakse politici en amptenare die voorkeurtaal in Suid-Afrika, ongeag die feit dat so baie mens dit swak praat. Dit word ook die eis van aktiviste aan universiteite: Laat ons almal eerder sukkel met ons swak Engels as om die eie taal te gebruik. Dus: Koebaai, Afrikaans/Setswana/Xhosa/Zoeloe!

Dat Suid-Afrika ná 22 jaar van demokrasie nie verder met meertaligheid gevorder het nie, moet voor die deur van ? swak regering en regeringsinstellings gelê word. Dis ’n skande!

Enige intelligente mens kan deur hierdie bedrogspul sien.

En nou gebruik UP en US meertaligheid as ’n gerieflike kapstok om doelbewuste taalvervanging te bewerkstellig. Meertaligheid word egter (doelbewus?) verkeerd verstaan.

Die ontwikkeling van meertaligheid word voorgehou as die rede vir wat nou aan universiteite en skole aan die gebeur is. Waaroor is julle dan so kwaad? Ons bevorder dan meertaligheid om voorsiening vir ’n groter groep te maak. Dit is ook reg so, maar jy bevorder nie meertaligheid deur tale weg te neem nie. Meertaligheid het as vertrekpunt die idee van byvoeg.

Enige intelligente mens kan deur hierdie bedrogspul sien.

5. Verlies van vertroue

Laastens: Die oomblik dat ’n taalgemeenskap die idee kry dat hulle taal nie meer goed genoeg is nie en dat die gebruik van of lojaliteit aan die taal jou sal etiketteer (as rassis of as iemand wat teen transformasie gekant is), begin die gemeenskap stadigaan vertroue in die taal verloor.

Universiteite se boodskap aan Afrikaanssprekendes is duidelik: Die Suid-Afrikaanse gemeenskap het julle nie meer nodig nie. Kies dus ’n ander taal (Engels!) as jy aanvaarbaar wil wees.

Die Afrikaanse gemeenskap durf dit nie toelaat nie. Ons is tog ook deel van die land. Of is daar iets wat ek miskyk?

Kan Afrikaans uitsterf? Ja, enige taal kan uitsterf.

Die vraag is eerder of die Afrikaanse gemeenskap dit gaan toelaat.

* Prof Wannie Carstens is verbonde aan die skool vir tale aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.