Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Het Langenhoven 'n 'liefdeskind' gehad?

Daar is geen dokumentêre bewyse dat die skrywer C.J. Langenhoven ’n buite-egtelike kind gehad het nie. Neelsie sou dit egter beslis in ’n goeie spookstorie kon gebruik, skryf Willemien Brümmer.

’n Foto van C.J. Langenhoven by sy werk. Foto: Brümmer-argief

My pa is met die helm gebore, en hy het soms terwyl ons op ons familie-erfplaas in Ladismith gekuier het, “spoke gesien”.

Hy het die mooiste blou oë, en wanneer hy soggens vertel het van ’n gestorwe familielid wat ’n gasvertoning kom lewer het langs sy bed, was daar altyd ’n tikkie ondeundheid te bespeur. (Natuurlik nie genoeg dat ’n verbeeldingryke kind hom nie sou glo nie.)

In die Karoo, waar hy grootgeword het, en op ons plasie, Toorvoet, was dit stories wat jou laat vergeet het van die droogte en die winterkoue. Hoe meer ’n storie oorvertel is, hoe meer “sout” het hy bygekry.

Só het ek al as die “reine waarheid” vir besoekers aan Toorvoet vertel dat my oupagrootjie C.J. Langenhoven se pleegvader, “Pappie”, stelselmatig in die studeerkamer hier vergiftig is. (Die tameletjie is net, daar is hoegenaamd geen bewyse hiervoor nie.)

Wat my by nóg ’n skinderstorie bring . . . naamlik dat Langenhoven en sy 'Sub', Sarah Goldblatt, ’n kind gehad het.

Díé storie val min of meer in dieselfde kategorie as die skinderstorie dat Neelsie se pa ’n Joodse smous was – of dat hy die regte pa van die skrywer Etienne Leroux was (Leroux was sy peetkind).

Wat my by nóg ’n skinderstorie bring . . . naamlik dat Langenhoven en sy “Sub”, Sarah Goldblatt, ’n kind gehad het.

Sarah was my pa se peetma, en ook dié van my en my drie broers (hulle het haar “tante Peet” genoem). Sarah was veel nader aan die Langenhovens en die Brümmers as aan haar eie familie – maar mettertyd, namate die Langenhoven-industrie so skel soos ’n Karoo-donderstorm geword het, was daar al hoe meer kompleksiteite. My ouers het Sarah egter tot aan die einde ondersteun en my ma was dikwels aan haar sy in die Stikland- psigiatriese hospitaal, waar sy gesterf het.

Sy was nie, soos onlangs beweer is, ’n moederfiguur vir my pa nie, hoewel hy as alleenkind op Beaufort-Wes baie na haar besoeke vanuit die Kaap uitgesien het omdat sy interessante boeke en plate gebring het.

As ek al hierdie grys gebiede ten volle kon verstaan, sou ek waarskynlik beter insig in my pa en sy verlede gehad het – maar helaas is hierdie voortyd vir my so onbereikbaar soos ’n droom.

‘Blou duiwels’

Wat weet ek van hierdie sogenaamde “liefdeskind”? In kort dat daar hoegenaamd geen dokumentêre bewyse hiervoor is nie.

Sarah Goldblatt in 1952 by die vertaling van ‘Die Stem’. Foto: Brümmer-argief

Die tye van “oneer en skande” is lankal verby – en nie een van Langenhoven se nasate sou enige probleem daarmee hê as ons nog “skim-familie” gehad het nie.

Dit maak my grootjie net interessanter – en dit werp ’n noodsaaklike lig op die verhouding met Sarah. Dit sou ook kon verklaar hoekom sy so jaloers en obsessief gewaak het oor sy nalatenskap, veral in die jare toe sy ná sy dood in 1932 die administratrise van sy letterkundige nalatenskap geword het.

Maar daar is helaas ’n baie groot verskil tussen feite en verdigsel. Soos Wium van Zyl onlangs op LitNet skryf: “Van horen zeggen liegt men veel.”

’n Brief van Langenhoven aan Sarah van 1 Oktober 1924. Foto: Brümmer-argief

Om mee te begin, is daar selfs in die duisende briewe tussen Langenhoven en Saartjie geen klinkklare bewyse dat hulle meer as net “intieme vriende” was nie. Wanneer my oupagrootjie vanuit Oudtshoorn in Kaapstad was vir parlementsittings of vir onderhandelinge met Die Burger en Nasionale Pers, het hy meestal by Sarah tuisgegaan. Sy biograaf J.C. Kannemeyer skryf in Langenhoven ’n Lewe hoe sy hom telkens met eindelose geduld en teerheid uit die ellendes van sy verslawing moes red deur van kroeg tot kroeg te ry om hom te gaan soek. Sy moes hom letterlik in haar huis indra, uittrek, skoonmaak en verpleeg. Sy het glo by geleentheid aan Anna Neethling-Pohl gesê: “I gave up my good name to drag him out of the gutters.”

Kersfees 1931: Van links na regs is Engela en Niko Brümmer, Vroutjie, Sarah en Langenhoven op Arbeidsgenot. Die onderskrif agterop die foto wat Sarah hier gemaak het is: 'Engela hier vir my verjaardag en ek vir myne.' Foto: Brümmer-argief

Hy was immers ’n alkoholis, ’n kwaal wat ten nouste saamgehang het met sy skrywerskap en die bergpieke en skeurvalleie waartussen die beste kreatiewe geeste moet slinger.

Aldus Kannemeyer was Langenhoven so desperaat om van sy “blou duiwels” te ontsnap dat hy hom tot die hof gewend het. Kragtens art. 93 van die Drankwet het hy hom deur die landdros tot “dronkaard” laat verklaar, sodat alle drankwinkels in die distrik Oudtshoorn verbied is om enige “versterking” aan hom te verkoop.

Dit het egter meer as een maal gebeur dat Langenhoven op die trein na Kaapstad só dronk geword het dat hy nie in staat was om uit te klim nie.

Geen ‘vlindervriendskap’ nie

’n Mens wil vra hoekom ’n Jodin van Oos-Europese afkoms wat skaars (dalk geen) Afrikaans kon praat toe sy in 1912 as Langenhoven se assistent aangestel is by die Oudtshoornse koerant Het Zuid-Westen, so baie vir hom opgeoffer het?

Kannemeyer som dit só op: “In Sarah het Langenhoven ’n geestelike maat gevind wat ’n mens in dié mate selde in die lewe toebedeel kry. Sarah was die persoon buite sy huislike kring wat sy hartstog vir al sy ideale begryp het, wat sy kunstenaarpsige verstaan en vertroetel het en vir wie hy ten volle met sy werk kon vertrou.”

Haar vriendskap met hom, só sê sy in ’n brief van 19 Junie 1924, is nie ’n “vlindervriendskap” nie. Dit is die soort vriendskap “wat eenmaal in ’n lewenstyd gegee word, sonder keuse en sonder balansstate”.

Maar was daar iets meer? Heel waarskynlik.

Sy het 'seergekry', skryf sy, want elke brief 'hou ’n intieme skakel uit die verlede voor my oë, en dit vind dadelik ’n weerklank in my geheue en hart'.

Kannemeyer het reeds in 1995 oor sekere “kodes” in hul briewe geskryf wat volgens hom moes dui op ’n romantiese verbintenis. In ’n brief van 11 Januarie 1926 skryf Sarah dat sy alle briewe van hom weer noukeurig deurgegaan het. Dié wat te doen het met manuskripte, die pers en die politiek, het sy behou en die ander tot niet gemaak. Sy het “seergekry”, skryf sy, want elke brief “hou ’n intieme skakel uit die verlede voor my oë, en dit vind dadelik ’n weerklank in my geheue en hart”.

Sarah Goldblatt en Engela Brümmer in Oktober 1968 by ’n borsbeeld van Langenhoven op Arbeidsgenot. Foto: Brümmer-argief

Hierna was daar tog sekere terugkerende kodes in die soms daaglikse behoue korrespondensie wat nie begryp kan word as dit nie op ’n intieme verhouding van toepassing gemaak word nie, skryf Kannemeyer.

Op 16 Junie 1925 was daar weer een van hierdie kodes toe Langenhoven aan Sarah skryf: “Maar ek kan nie vir jou skryf nie, want oor die een ding waar my hart van vol is, moet ek nie skryf nie.”

Naggesprek

Boonop was daar die los praatjies en herinneringe. Die enigste “bewys” wat my pa gehad het van so ’n verhouding was die “naggesprek” tussen sy ma, Engela Brümmer, en haar ma, Lenie (of Vroutjie) Langenhoven, wat hy afgeluister het toe hy ongeveer 11 of 12 jaar oud was.

Niko Brümmer, destyds burgemeester van Beaufort-Wes, sy vrou, Engela, en Sarah Goldblatt. Dié foto is in 1937 geneem en was ’n geskenk van Sarah aan Vroutjie. Foto: Brümmer-argief

Die twee vroue het laat een nag in Engela se slaapkamer op Beaufort-Wes gesels oor Langenhoven se verhouding met Saartjie en dit was vir my pa baie duidelik dat hulle al vantevore daaroor gepraat het.

Engela het gevra hoekom haar ma bereid was om alles te verduur, en Vroutjie het geantwoord: “Ek het hom liefgehad.” Selfs dit was nie genoeg om hulle uitmekaar te dryf nie, selfs nie die keer toe Vroutjie haar man en Saartjie in Arbeidsgenot op heterdaad in die bed betrap het nie.

Langenhoven se vrou, ’Vroutjie’, oftewel Maria Magdalena Hugo. Sy was tien jaar ouer as Langenhoven en het ses kinders uit ’n vorige huwelik gehad. Foto: Brümmer-argief

My ouma (Engela) het glo uitgebars: “Maar dis Godskreiend! As dit ek was, sou ek hom vrekgemaak het. Ek sou die lampetbeker langs die bed geneem en sy kop ingeslaan het.”

My pa se ouma (Vroutjie) het hierop rustig geantwoord dat haar liefde vir haar man haar in staat gestel het om met sy swakhede saam te leef. Sy was oortuig van sy liefde vir haar.

Vroutjie

Dat daar ’n durende liefde tussen Langenhoven en sy Vroutjie was, staan soos ’n paal bo water. Die verhouding was nie sonder probleme nie. In briewe uit die vroeë 1900’s, toe hy onsuksesvol probeer het om as advokaat naam te maak in die Kaap terwyl Vroutjie in Oudtshoorn was saam met haar baba, Engela, het veral sy alkoholmisbruik tot onenigheid gelei. Dié briewe, in ’n hoofse, blomryke Engels (die enigste briewe waartoe Kannemeyer nie toegang gehad het nie) getuig terselfdertyd van iemand wat steeds die skoot baie hoog deur gehad het. Hy kon nie lewe sonder sy “Vonkies” (sy bynaam vir haar weens haar rooi hare) nie.

In ’n roerende brief van 10 Maart 1932, kort voor sy dood, verklaar hy weer eens sy liefde: “Maar die Vroutjie weet, ten spyte van alles en alles, dat jy nooit ’n man kon gehad het wat jou meer liefgehad het as ek nie.”

Een van die briewe uit die blou lêer waarin C.J. Langenhoven aan Vroutjie skryf. Hy het haar Vonkies genoem oor haar rooi hare. Hierdie brief is later deur Sarah oorgetik vir haar eie argief. Foto: Brümmer-argief

Sarah bring self in ’n radiopraatjie van 30 Mei 1950, kort ná Vroutjie se dood, hulde aan haar en die bydrae wat sy tot haar man se werk gelewer het (Vroutjie het baie van sy gedigte, sowel as lang passasies Shakespeare, uit haar kop geken). By Vroutjie, vertel Sarah, kon Langenhoven altyd sy “troos en sterkte” vind. Van sy noodsaaklike besoeke elders kon hy altyd “na hierdie vrede” terugkeer en nêrens “anders op aarde was hy so gelukkig as by haar nie”.

‘Liefdeskinders’

Ek kan nie onthou wanneer my pa die eerste keer vir my van die onbevestigde gerugte van die “liefdeskind” vertel het nie. Dit moes in die pylvak van sy lewe gewees het, toe sy gewone presiesheid begin plek maak het vir ’n vae duisternis, en karakters uit die hede en die verlede begin saampraat het in sy kop.

Nie een van my drie ouer broers onthou iets daarvan nie. Dis net my broer Kerneels wat op sy ondeunde manier vertel: “Hy het wel vroeër jare vir my mooi verduidelik hoe om nie my eie liefdeskinders te verwek nie.”

Sarah Goldblatt en Engela Brümmer in Oktober 1968 by ’n borsbeeld van Langenhoven op Arbeidsgenot. Foto: Brümmer-argief

Demensie is reeds jare gelede by albei my ouers gediagnoseer en my geliefde ma is in Mei 2019 aan kanker dood. My pa is nou 85 en Die Groot Vergeet het hom toegespin in sy eie kokon.

Iewers moes ’n saadjie by hom geplant gewees het van ’n moontlikheid van ’n “kind”, maar hy sou dit nooit in die openbaar noem nie. Hoewel hy die beste storieverteller was wat ek ken, was hy ook ’n gerekende wiskundige en hy het die feite tot sy beskikking altyd obsessief nagegaan.

Met sy vrugbare verbeelding het hy gewonder of dit nie dalk die sogenaamde 'liefdeskind' kon gewees het nie, maar hy het ook besef dit kon net sowel een van haar talle studente gewees het.

Hy het ook sy oupa se werk sowel as sy briewe goed geken, en hy het ’n fotografiese geheue gehad. Ek vermoed die oorsprong was vae bespiegelings oor ’n Magdalena-tehuis. Dit kon ook iets gewees het wat hy by die beeldhouer wyle Naomi Jacobson, ’n dogter van Sarah se broer Israel, gehoor het.

Toe hy agt jaar oud was, het hy in 1942 vir minder as drie maande by Sarah gewoon terwyl sy ma ná die groot vloed in Beaufort-Wes in ’n verpleeginrigting in Kaapstad was. In dié tyd was daar soms ’n seun wat kom kuier het.

Met sy vrugbare verbeelding het hy gewonder of dit nie dalk die sogenaamde “liefdeskind” kon gewees het nie, maar hy het ook besef dit kon net sowel een van haar talle studente gewees het.

‘Die enigste kind van my liggaam’

Laurie Anderson het gesing: “When my father died it was like a whole library had burned down” en die argief van my pa se brein is helaas nou tot niet. Wat egter taamlik seker is, is dat daar hoegenaamd geen sprake was van ’n volwaardige swangerskap tussen 1924 en 1926 nie – die jare wat in ’n pas verskene boek oor Sarah ter sprake kom.

’n Handgeskrewe brief voor in die eerste uitgawe van 'Herrie op die Ou Tremspoor' in 1925, waarin Langenhoven vir Engela skryf sy is die 'enigste kind uit my liggaam'. Die geestelike kinders na wie hy verwys, is sy boeke. Dié brief is ook in Latyn vertaal voorin hierdie uitgawe van 'Herrie op die Ou Tremspoor'. Foto: Brümmer-argief

My broer Stefaans se vrou, Karen, het onlangs ’n paar kratte vol Langenhoven-briewe, boeke en dokumente by ons afgelaai. In een van die kratte is die eerste eksemplaar van Herrie op die ou Tremspoor met ’n brief wat Langenhoven in 1925 vir Engela geskryf het. Die Latynse vertaling is ook voorin die boek afgedruk. Hy het die boek met my ouma se naam daarop self in leer oorgetrek, binne ’n beeldskone leerkissie met ’n olifant daarop.

Die vraag is hoekom hy hier na Engela sou verwys as “die enigste kind van my liggaam” as hy toe reeds ’n kind by Sarah verwek het?

Hy begin dié brief as volg: “Aan Engela, my dogter, Groete! Liefste, jy is die enigste kind van my liggaam. Ja, ek het ’n klompie ander uit my gees voortgebring. . .”

Hy gaan dan voort om die menigvuldige “slegte eienskappe” van sy geesteskinders (sy boeke) te beskryf en om hierdie “kindjie” (die boek) aan Engela op te dra – “jou eie seun, jou vader se kindskind, nie as die aangenome kind van ’n vreemde man nie”.

Die vraag is hoekom hy hier na Engela sou verwys as “die enigste kind van my liggaam” as hy toe reeds ’n kind by Sarah verwek het?

Briewe in pienk strikkies

Daar is nóg ’n krat wat onlangs eers my aandag getrek het. Dis ’n lywige krat vol afgerolde briewe van Langenhoven aan Sarah. Elke afsonderlike pakkie is in ’n pienk strikkie toegedraai, met die datums by, wat my laat vermoed die persoon wat die kopieë gemaak het, was Sarah self.

Dit getuig van ’n byna obsessiewe briefwisseling, maar benewens die relatief dun gesaaide kodes is daar geen sprake eers van ’n liefdesverhouding nie. In die briewe tussen 1924 en 1926 skryf hy 95% van die tyd vir haar oor werk (sy was toe ’n soort sekretaresse vir hom) en dit bevat meestal instruksies oor publikasies en onderhandelinge wat sy namens hom met die uitgewers of koerant moes voer.

Sy eie gesondheidstoestand loop soos 'n goue draad deur die hele korrespondensie.

Destyds het sy “Aan Stille Waters”, die dubbelkolomrubriek op die hoofartikelblad wat op Maandae verskyn het, nie naby ’n subredakteur se tafel gekom nie. Wanneer hy in die Kaap was, het hy Sondagaande dikwels self (en as hy nie daar kon wees nie, was dit Sarah) na Keeromstraat gekom om die proewe te hersien. Die setwerk is ook onder haar waaksame oë gedoen.

Sy eie gesondheidstoestand loop soos 'n goue draad deur die hele korrespondensie. Elke dan en wan is daar ’n opmerking oor háár gesondheid, soos: “Ek is baie, baie jammer dat jy nie fris is nie”, maar ná ’n tussenpose voel sy weer “fris”. In ander vra hy om verskoning nadat hy op besoek aan die Kaap was, soos: “Regtig sub, ek voel met skaamte dat ek weer ’n bittere beproewing was.” Hier verwys hy vermoedelik na sy “blou duiwels” of sy “siekteswak” terwyl hy by haar gekuier het.

’n Ligte mistykie

Uit die soms daaglikse briefwisseling (behalwe wanneer hy in die Kaap is) is dit ook duidelik dat sy in dié tydperk deurgaans aanhou werk het by die Victoria Training College of elders en dat sy self na Die Burger moes gaan om met Frederik Rompel (eertydse "tegniese redakteur") of iemand anders te gesels oor sy werk of om verbeterings aan te bring. Hy verwys tydens skoolvakansies na haar “vakansie” en hy gee soms raad oor haar loopbaan (byvoorbeeld wanneer sy dit oorweeg om by die Training College te bedank en elders aansoek te doen).

In die 1920’s sou dit tog sekerlik nie gebeur het dat ’n swanger, ongetroude vrou sou aanhou skoolhou nie? Ek twyfel selfs of sy by Nasionale Pers toegelaat sou word om met mans te onderhandel oor die werk van die “pa” van haar buite-egtelike kind. 

Die enigste naam wat in die pas verskene boek genoem word in die hoofstuk “Waar is die kind?”, is dié van dr. C.P. van der Merwe. Dit  wil voorkom asof die skrywer hier bespiegel dat hy die sogenaamde kind kon wees.

Ek sal nie my kop op ’n blok sit nie, maar daar was niks uit my ondersoeke wat daarop gedui het dat sy kinders gehad het nie.
Dr. C.P. van der Merwe

Sy praat hier van dr. C.P. (Carel Petrus) van der Merwe, Sarah se huisdokter en in ’n stadium ook dié van my ouers. Daar is net een “ligte mistykie” en dit is dat C.P. nog leef – en dat hy deur Langenhoven se spook moes verwek gewees het. Neelsie is in 1932 dood, en C.P. is eers in 1936 gebore!

As Sarah se huisdokter twyfel Van der Merwe dat sy ooit swanger kon gewees het. “Ek sal nie my kop op ’n blok sit nie, maar daar was niks uit my ondersoeke wat daarop gedui het dat sy kinders gehad het nie,” het hy oor die foon gesê.

’n Opgawe van briewe van C.J. Langenhoven aan Vroutjie in die blou lêer waartoe Langenhoven se biograaf, J.C. Kannemeyer, nie toegang gehad het nie omdat dit van ’n intieme aard was. Dit dateer uit die tyd toe Langenhoven onsuksesvol probeer het om as advokaat naam te maak in die Kaap en was lank voordat hy vir Goldblatt ontmoet het. Foto: Brümmer-argief

Kannemeyer het in die vroeë 1990’s baie nou met my pa saamgewerk terwyl hy gewerk het aan Langenhoven ’n Lewe en hy het al die briewe en dokumente in ons besit gesien, benewens die paar in ’n blou lêer, wat ek eersdaags aan die Universiteit Stellenbosch gaan skenk. Dit is die intieme briewe uit die vroeë 1900’s tussen Langenhoven en Vroutjie, sowat ’n dekade voordat hy vir Sarah sou ontmoet.

Ek weet nou dat Kannemeyer, ná jare se navorsing, aldus sy vriend en kollega Wium van Zyl “hoegenaamd nie van die bestaan van so ’n kind geweet het nie”.

Dalk het hy nooit die skinderstorie gehoor nie of (en dis baie meer waarskynlik) hy het besef dis belangrik om feit en fiksie van mekaar te onderskei.

Kannemeyer het gemeen dis ’n “gesonde wetenskaplike uitgangspunt om ’n verslag sover moontlik op dokumente te grond en mondelinge inligting slegs te betrek waar dit sonder enige sweem van twyfel, en dan slegs deur die verifiëring van verskeie persone – aangewend kan word”.

Hy skryf: “Die groot probleem waarmee ’n biograaf van Langenhoven vandag te kampe het, is dat hy enersyds met ’n vertekende en eensydige beeld van die skrywer te make het, ’n beeld wat grotendeels oor ’n tydperk van meer as 40 jaar deur Saartjie opgebou is ten einde haar geliefde ‘Chief’ op ’n voetstuk te plaas en aan hom ’n heroïese gestalte te gee. In dié proses het sy baie dinge verswyg en selfs nie geaarsel om sekere aangeleenthede opsetlik te verdraai nie.”

Die galery van heiliges

Hoe baie sy ook al gedoen het om Langenhoven se boeke te verkoop, het sy toenemend ná sy dood ’n beeld van hom verkondig wat helaas nie by hom gepas het nie. Al was hy tot en met sy dood in 1932 self 'n nasionalis, het hy ’n afsku gehad aan die “hoë here” en tog het sy hom deur hulle as “die groot vaderlander” en “skynende lig van die establishment” laat uitbeeld.

’n Boomplantingseremonie ter ere van Langenhoven in die gedenktuin van Ou Mutual in Pinelands in 1971 wat deur Sarah Goldblatt gereël is. Toe Langenhoven se kleinseun, Guillaume Brümmer, weier om by dié geleentheid op te tree, het Goldblatt vir mev. Tini Vorster, die vrou van die destydse eerste minister, John Vorster, en die weduwees van drie vroeëre eerste ministers van Suid-Afrika ingespan om te kom optree. Foto: Brümmer-argief

Sy het in vandag se terme elke liewe hoogwaardigheidsbekleër van die NP op speed dial gehad – van burgemeesters tot by B.J. Vorster – en tydens die Langenhoven-eeufeesjaar in 1973 het sy van die regering tot provinsiale rade, uitgewers, die SAUK, rolprentwese, skole, universiteite, kerke en kultuurverenigings op sleeptou gehad. Mense wat haar geken het, sou gelag het oor die bewering dat sy deur die establishment verstoot is. 

By herhaling is die sekretaris van die eerste minister gebel om presies te reël watter aandeel die staat in haar begrafnis sou hê.

Sy was tot en met haar dood ’n fanatiese ondersteuner van die Nasionale Party. Om die waarheid te sê; sy het haar eie “staatsbegrafnis” uit haar sterfbed probeer reël.

Kannemeyer skryf: “By herhaling is die sekretaris van die eerste minister gebel om presies te reël watter aandeel die staat in haar begrafnis sou hê.”

Sarah Goldblatt by die boomplant-seremonie by Ou Mutual waar sy die geleentheidspreker was. In die meer as 40 jaar ná Langenhoven se dood waartydens sy die administratrise van sy letterkundige nalatenskap was, was daar ’n eindelose reeks praatjies, huldigings, kransleggings, onthullings van standbeelde, vlaghysings en ander seremonies. Sy het haarself die alleenreg voorbehou om uitsprake oor Langenhoven te maak. Foto: Brümmer-argief

My pa het op sy beurt toenemend geweier om Saartjie se “handpop” te wees by openbare plegtighede waar sy oupa volgens hom misbruik is vir die bevordering van “ ’n domastrante politieke uitkyk wat in elk geval nie by Langenhoven gepas het nie”.

’n Hoofartikel in Die Burger op 11 Augustus 1973, tydens die Langenhoven-eeufeesvieringe, som dit dalk die beste op: “Dit is net nie te glo dat hierdie stroom-op ketter met ’n genadige oog sou gekyk het na die liefdevolle plasing van homself in die galery van heiliges nie. Teen soveel ernstige lof en vrome bewieroking sou hy nie anders kon as stroom-op ketters te reageer nie; nie woedend nie – dit was nie sy aard en sy genie nie – maar in reinigende spot.”

’n Spookstorie

In nog een van die baie kratte wat my skoonsuster hier kom aflewer het, was nóg ’n interessante vonds. Dis ’n verbruinde kartonlêer met prokureursbriewe uit 1966 wat verwys na die huis waarin ons nou woon in Rhodeslaan, Mowbray, destyds bekend as Loeloeraai. Dit gaan oor ’n katterige stryd oor dié huis met die mense met wie Sarah dit vir ’n jaar gedeel het, ’n mnr. Peter N. Phillips en sy vrou, Mary, waarin Sarah vra of sy die huis aan hulle kan verkoop “to avoid any further friction and unpleasantness”.

Dit moet dieselfde Mary Phillips wees wat in 1975 slegs dae ná Sarah se dood met die verslaggewer Gordon Winter gepraat het vir sy berig met die opskrif: “Langenhoven had a Jewish mistress”.

Ek het veral gehoop Sarah kom lewer in die middernagtelike ure ’n gasvertoning langs my bed.

Phillips het met Winter gepraat oor Sarah se “beautiful but tremendously sad love affair”.

Sedertdien het ek al baie gewens die mure kon praat. Ek het veral gehoop Sarah kom lewer in die middernagtelike ure ’n gasvertoning langs my bed. Daar is so baie dinge wat ek haar sou vra.

Oor een ding is ek egter seker – en dis dat sy sou sê die storie oor die kind is min of meer net so akkuraat soos ’n goeie Langenhoven-spookstorie.

• Willemien is Langenhoven se agterkleindogter en Goldblatt se peetkind. Neelsie het een dogter gehad, Engela, en sy het een seun gehad, prof. Guillaume Brümmer. Hy was ná Goldblatt se dood die administrateur van sy oupa se letterkundige nalatenskap.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.