Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Het SA gebaat by 25 jaar van demokrasie?

Het die demokrasie in Suid-Afrika aan die verwagtinge voldoen? wonder Pieter Labuschagne 25 jaar nadat alle Suid-Afrikaners vir die eerste keer kon stem.

Minder kiesers stem deesdae in Suid-Afrika. Foto: Argief

Winston Churchill, ’n voormalige Britse premier, het die stelling gemaak dat “Democracy is the worst form of government, except all the other forms that have been tried from time to time.”

Wat Churchill met dié stelling bedoel het, is dat demokrasie ondanks al sy tekortkominge en by gebrek aan ’n beter alternatief steeds die beste manier is waarop regeer kan word.

Het die demokrasie in SA geslaag?

Vir dekades lank is daar ’n bitter stryd in Suid-Afrika gevoer om die wit minderheidsregering met ’n inklusiewe demokrasie te vervang. Dit het uiteindelik in 1994 ’n werklikheid geword.

Is die nuwe inklusiewe Suid-Afrikaanse demokrasie, in die woorde van die voormalige Amerikaanse president Abraham Lincoln, werklik ’n regering van die mense, vir die mense en deur die mense?

Die verwysing na basiese menseregte is egter net een van die morele dimensies van ’n demokrasie.

Daar bestaan min twyfel dat demokrasie, op ’n morele simboliese vlak ná dekades onder ’n immorele apartheidstaat, geregverdig was. Die eksklusiewe apartheidstelsel het die meerderheid van mense van hul menseregte en menswaardigheid beroof.

Die verwysing na basiese menseregte is egter net een van die morele dimensies van ’n demokrasie. Die amptelike erkenning van menseregte beteken nie dat al die substantiewe aspekte van burgerskap in plek is om materiële deelname aan ’n demokrasie te waarborg nie.

Dit is belangrik om tussen prosedurele demokrasie (wat ons tans het) en substantiewe demokrasie (wat nodig is) te onderskei.

Prosedurele demokrasie en substantiewe demokrasie

Hoop op ’n beter toekoms of bloot stemvee? Kiesers staan in ’n ry om hul stemme uit te bring. Foto: Argief

Kiesers aan die Weskus het onlangs in onderhoude hul frustrasie uitgespreek omdat hulle politici net elke vyf jaar sien en daarna nie weer nie – en dat niks ná die verkiesings verander nie.

Die frustrasie tydens diensleweringsbetogings asook die groot wegblystem tydens verkiesings, is almal simptome van die huidige frustrasie met prosedurele demokrasie.

Die probleem met prosedurele demokrasie is dat dit geen substantiewe inhoud het nie – kiesers word net elke vyf jaar gebruik om vir die party te stem. Die klem is dus op die party en die politikus en nie op die mense nie.

’n Substantiewe demokrasie is die direkte teenpool, want die klem word op die belang van die kiesers geplaas. Die basiese uitgangspunt is dat demokrasie net sinvol kan wees as daar op ’n sinvolle manier probeer word om landsburgers se basiese sosio-ekonomiese lewensbehoeftes te verbeter.

Het Suid-Afrika werklik ’n demokrasie of word daar net elke vyf jaar na kiesers se stemme gesoek waarna hulle in armoede agtergelaat word?

Substantiewe demokrasie gee burgers die kans om as bemagtigde kiesers deel van die demokrasie te wees.

Op die oomblik skaad uiterste armoede burgers se waardigheid en word hulle ontmagtig. Landsburgers wat in armoede leef, is gestroop van sinvolle mag, het beperkte toegang tot magsmiddele en is geïsoleer van demokratiese interaksie.

Die armoedesyfer van 70% met amper 30% van Suid-Afrikaners wat werkloos is, laat dus die vraag ontstaan of kiesers werklik burgers is wat bemagtig word en die demokrasie ten volle ervaar?

Het Suid-Afrika werklik ’n demokrasie of word daar net elke vyf jaar na kiesers se stemme gesoek waarna hulle in armoede agtergelaat word?

De facto eenpartystaat

Kleiner partye het met vanjaar se verkiesing hul ontevredenheid met die uitslag te kenne gegee. Daar word ook gevra of opposisiepartye se stemme ernstig genoeg opgeneem word in die Suid-Afrikaanse demokrasie. Foto: Felix Dlangamandla

Die ANC het die eerste verkiesing van 1994 gewen en regeer ná 25 jaar steeds.

Hoewel die ANC se steun heelwat gedaal het van 67% tot 57%, is dit onwaarskynlik dat hy sy parlementêre meerderheid in die volgende vyf tot tien jaar sal verloor en dat hy vir meer as 30 jaar die regerende party in die land sal wees.

Die ANC-regering word deur baie as ’n vorm van meerderheidstirannie beskou omdat hy die afgelope 25 jaar nie gehuiwer het om sy numeriese meerderheid in die parlement en in komitees te gebruik om besluite deur te voer nie.

’n Inklusiewe demokrasie streef eerder na kompromieë en konsensus.

Is dit hoe demokrasie veronderstel is om te werk? Veronderstel demokrasie nie meer inklusiwiteit nie en ook die insette van al die mense via hul politieke partye nie?

Bevrydingsbewegings kan meestal nie as inklusiewe politieke partye regeer nie. Dié meerderheidstirannie negeer sodoende een van die belangrike aspekte van demokrasie.

’n Inklusiewe demokrasie streef eerder na kompromieë en konsensus. Dit moet “regering deur die volk (demokrasie)” wees. Die eise en belange van die breër gemeenskap, veral die minderhede, behoort in ag geneem te word.

De facto eenparty-regering

Die gesig van oudpres. Jacob Zuma pryk op ’n plakkaat van die ANC wat in die verkiesing van 2014 gebruik is. Foto: Argief

In ’n dinamiese funksionerende demokrasie is daar ’n realistiese verwagting dat die regering binne ’n redelike tyd deur ’n opposisieparty in ’n volgende verkiesing vervang sal kan word.

In die meeste Westerse demokrasieë bied die amptelike opposisie ’n skadu-regering met woordvoerders in elke portefeulje. Die opposisie is in werklikheid ’n “regering in afwagting” omdat daar wel ’n realistiese kans is dat die regerende party net vir ’n beperkte tydperk sal regeer.

In Brittanje het die Konserwatiewe Party onder Margaret Thatcher en later John Major wel vir amper 15 jaar in die regeringsbanke gesit. Die wisseling tussen die regering en die opposisie vind egter gewoonlik in korter siklusse plaas.

Die probleem met de facto eenparty-regerings, soos die ANC, is dat hulle toenemend onsensitief vir die belange van lede van die opposisiepartye en ander kiesers raak. Dit is deel van politieke arrogansie omdat die party steeds genoeg steun het ondanks sy swak regering.

Die de facto eenparty-regering frustreer ook die essensie van die parlement as ’n “mededingende ruimte”, waar uiteenlopende belange bymekaar kan kom en kan meeding.

Die oogmerk van ’n demokrasie is om ’n kompromie te vind tussen die uiteenlopende beskouinge van opponerende partye.

Die ANC se oorheersing van dié ruimte laat bitter min ruimte hiervoor.

Die wettiging van politieke verskille

Die wetgewende gesag (parlement) vervul ’n belangrike institusionele funksie deurdat dit ’n fisieke “verskil-ruimte” skep waar beleid, besluite en kwessies gedebatteer kan word. Die parlement is die demokratiese ruimte waar debatte gevoer en kernaspekte deeglik uitgetrap word.

In die meeste Westerse demokrasieë kan die geldigheid van argumente só sterk en dwingend wees, dat lede van die regerende party (sogenaamde agterbankers) “rebelleer” deur buite stemming te bly of die opposisie te steun.

Pieter Labuschagne

In Suid-Afrika se de facto eenparty-regering is daar nie sprake van ’n agterbank-rebellie nie. Die interne gom in die regerende ANC is só sterk dat selfs irrasionele besluite of oënskynlik korrupte politici – soos oudpres. Jacob Zuma – steeds gesteun word.

Die meerderheidstirannie in ’n de facto eenparty-regering frustreer die volle werking van ’n demokrasie ook op ander vlakke.

In ’n demokrasie kan gesê word dat die parlement (wetgewende gesag) die wette maak, die uitvoerende gesag (kabinet) dit uitvoer en die regsprekende gesag juridies toesig hou oor die uitvoering daarvan.

In Suid-Afrika word die opposisiepartye se deelname voordurend in die parlement frustreer en moet geldige rasionele argumente en teenargumente bloot swig voor die meerderheidsparty se numeriese oorwig.

Ten einde geregtigheid te verkry, word die gefrustreerde opposisiepartye gedwing om die geskil vanaf die wetgewende ruimte na die regsprekende ruimte te verskuif. Hierdie wettiging van politieke dispute hou natuurlik ’n inherente bedreiging vir die skeiding van owerheidsgesag in.

Geskille behoort in die parlement besleg te word nie en daar moet nie van howe verwag word om dit te doen nie.

Die grootse probleem is dat regsprekende beamptes fyn moet trap, omdat hulle kan deurloop onder kritiek dat hulle hulle as onverkose amptenare op die politieke terrein begewe.

Regslui het hulle tot dusver onberispelik gedra en uitsprake streng op regsgronde gemaak om slaggate te vermy.

Die wettiging van politieke verskille frustreer ook die werking van ’n demokrasie. Die geskille behoort in die parlement besleg te word nie en daar moet nie van howe verwag word om dit te doen nie.

Die pseudo demokrate

Liberale waardes soos vryheid en die regsbeginsel dat iemand onskuldig is totdat hy of sy skuldig bevind word, skep ongelukkig ruimte vir die sogenaamde pseudo demokrate om die demokrasie te korrupteer.

Pseudo demokrate soos Zuma buit na bewering as ampsdraers demokratiese vryhede uit om hulself te verryk. Ná die institusionele diefstal, word die mantra van “onskuldig tot skuldig bewys word” maksimaal uitgebuit, met uitstel tot uitstel van hofsake en appèl tot appèl.

Het demokrasie nuwe daeraad gebring?

Die koms van die demokrasie was beslis nodig vir die land se inwoners ná dekades van onderdrukking onder die apartheidsregering.

Die vraag bly egter of die demokrasie werklik die nuwe daeraad vir die land gebring het. Is dit nie eerder ’n geval van prosedurele demokrasie en elite-verryking met die regering wat hom nie steur aan die sosio-ekonomiese behoeftes van 70% van die land se burgers nie?

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Anc  |  Konserwatiewe Party  |  Jacob Zuma  |  Margaret Thatcher  |  John Major  |  Suid-Afrika  |  Demokrasie  |  Apartheid  |  Menseregte  |  Eenpartystaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.