Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hier is ons nou – op die rand van afgrond

Die regering het vir té lank die gevare van ’n fiskale afgrond geïgnoreer, skryf Jannie Rossouw en Fanie Joubert.

Waarskuwings dat Suid-Afrika op ’n fiskale afgrond afstuur, word al jare lank geïgnoreer.

Die aanvullende begroting wat in Junie ter tafel gelê is, het aangedui dat die land se haglike fiskale posisie net besig is om te vererger.

Die Fiskale Afgrond-studiegroep (FCSG), ’n groep akademici waarvan ons lede is, waarsku al sedert 2014 dat die land se openbare finansies op ’n onvolhoubare manier bestuur word. Die groei in staatsinkomste hou nie tred met die koers van besteding nie. Dit het die staat se finansies nou tot op die rand van die spreekwoordelike afgrond gedryf.

Hoewel daar nie ’n duidelike akademiese definisie is van wat presies ’n “fiskale afgrond” is nie, is die term in 2012 deur die destydse voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserweraad, Ben Bernanke, gebruik om die impak op die Amerikaanse ekonomie te beskryf van verskeie belastingaansporings wat saam tot ’n einde sou kom.

Dit verteenwoordig dus dié punt waar probleme in die staat se finansies na die werklike ekonomie oorspoel.

staatskuld

Nadat ons studiegroep soortgelyke moontlike probleme in Suid-Afrika geïdentifiseer het, het ons die begrip van ’n “fiskale afgrond” begin gebruik om daardie punt te beskryf waar die staat se besteding aan maatskaplike toelaes, salarisse en rente op staat­skuld die regering se totale belastinginkomste gaan oorskry. Al drie hierdie bestedingsitems het die afgelope dekade sterk gegroei – en dit in ’n tydperk waarin ekonomiese groei meestal onderpresteer het.

Ons fokus val dus op finansiële volhoubaarheid eerder as op die belang of waarde-vir-geld-aspekte van die items.

Weens lae ekonomiese groei en die gepaardgaande lae groei in staatsinkomste het die regering teruggekeer na outydse, Keynesiaanse tekorte-besteding, wat beteken dat die regering geld leen in die hoop om die ekonomie uit sy insinking te probeer bestee.

Dit beteken dat die staat geen reserwevermoë of “spaargeld” vir toekomstige uitbreiding (of skokke) geskep het nie.

Hierdie strategie is die teenoorgestelde van besparingsbegrotings (austerity budgets), wat ten minste ’n gebalanseerde begroting behels. Die gevolg is dat Suid-Afrika die afgelope dekade jaarliks ??groot begrotingstekorte gehad het van gemiddeld 5% meer as die bruto binnelandse produk (’n syfer wat die totale opbrengs of produksie van die hele ekonomie verteenwoordig).

Dit beteken dat die staat geen reserwevermoë of “spaargeld” vir toekomstige uitbreiding (of skokke) geskep het nie. Die rede vir hierdie groot tekorte is onder meer die verkeerde ekonomiese groeiprojeksies deur die nasionale tesourie. In die afgelope dekade het die land se jaarlikse ekonomiese groeipotensiaal van 2,5% tot ongeveer 1,5% afgeneem. Die daling word toegeskryf aan verskeie faktore, waaronder onseker regeringsbeleid en strukturele uitdagings, terwyl staatskaping en korrupsie ons slegte ekonomiese prestasie net verder vererger het.

Boonop is die afname in potensiële groei nie betyds deur die nasionale tesourie geïdentifiseer nie en dit het gelei tot die oorskatting van die regering se inkomste uit belasting. Totale staatsuitgawes het gelyktydig sterk gestyg, waarskynlik geregverdig deur die ooroptimistiese vooruitskattings van wat die inkomste sou wees. Uiteindelik het dit ’n skerp toename in staatskuld veroorsaak omdat meer geld geleen moes word om die tekorte aan te vul.

Data uit hierdie begroting toon dat Suid-Afrika nou die fiskale afgrond bereik het wat ons al so lank voorspel.

Ons het nog ’n kommerwekkende probleem geïdentifiseer: Die drie groot bestedingsitems in die begroting wat ons vroeër genoem het – toelaes, salarisse en rentebetaling – is almal uitgawes wat geen toekomstige bates (en dus ’n moontlike inkomste) genereer nie.

Die regering het uitgebreid gefokus op steun vir verbruiksbesteding in sy poging om die ekonomie te stimuleer, terwyl die styging in skuldbetalings bloot ’n boekhoukundige oefening geword het namate die skuldvlak gestyg het. Dit is ’n verdere bewys dat die regering die afgelope dekade nie besparingsbegrotings aanvaar het nie.

Die aanvullende begroting vir 2020 is uit noodsaak ter tafel gelê in reaksie op die ekonomiese impak van die Covid-19-krisis.

Data uit hierdie begroting toon dat Suid-Afrika nou die fiskale afgrond bereik het wat ons al so lank voorspel. Die totaal van toelaes, salarisse en rentebetalings in die geldjaar 2020-’21 gaan meer as 100% van die belastinginkomste beloop. Dit dui op ’n beduidende verswakking in vergelyking met die posisie in die Februarie-begroting, toe hierdie verhouding nog 75,5% van die belastinginkomste was.

As gevolg van die Covid-19-beperking sal die regering se inkomste vanjaar met ongeveer R300 miljard daal.

As ons verder terugkyk, is die posisie nog kommerwekkender, want hierdie verhouding was ongeveer 55% in die 2007-’08-geldjaar. Die verhouding het dus die afgelope dekade byna verdubbel, terwyl dit vir die regering onmoontlik was om die afwaartse kurwe te stuit.

Nodeloos om te sê maak die sterk styging in dié uitgawes dit onmoontlik om enige geld te bestee aan goed soos die instandhouding van en investering in nuwe infrastruktuur.

As gevolg van die Covid-19-beperking sal die regering se inkomste vanjaar met ongeveer R300 miljard daal.

As sy inkomste in die volgende geldjaar kan verbeter (of ten minste terugkeer na die vlak voor die krisis), kan dit vir enkele jare ruimte skep om van die fiskale krans terug te tree.

Drastiese optrede deur die regering sal egter nodig wees om volkome te kan herstel.

Die regering het nou ’n klein geleentheid om van die afgrond terug te tree, maar dan moet uitgawes erg besnoei word. Ekonomiese bedrywighede moet vinnig herstel tot minstens die potensiële groeivlak van 1,5% per jaar om volgehoue  groei aan regeringsinkomste te verseker.

Indien dit nie gebeur nie, dui ons ontleding daarop dat die land nóg ’n fiskale afgrond teen 2029 of selfs vroeër gaan bereik.

In daardie geval sal die probleme meer permanent wees, met onvermydelike besparings in uitgawes vir maatskaplike toelaes en die vergoeding van staatsamptenare die enigste oorblywende opsies.

Jare van ongebreidelde besteding het gelei tot dié situasie waarin die land realisties gesproke slegs ’n besparingsbegroting kan bekostig te midde van een van die grootste ekonomiese krisisse waardeur hy die afgelope eeu in die gesig gestaar word.

Prof. Jannie Rossouw is tussentydse hoof van die Wits Sakeskool.

Dr. Fanie Joubert is senior lektor in ekonomie aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Meer oor:  Ekonomie  |  Staatskuld  |  Bbp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.