Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hierdie ‘mafia’ kan SA red

Die regering moet sakelui soos Johann Rupert se kennis en ervaring en kontakte gebruik om die land op die herstelpad te kry, sê Pieter du Toit, skrywer van The Stellenbosch Mafia, aan Gert van der Westhuizen.

Die geweldige ekonomiese ongelykheid in Suid-Afrika is die belangrikste gesprek van ons tyd, sê Pieter du Toit, skrywer van The Stellenbosch Mafia: Inside the Billionares’ Club (uitgegee deur Jonathan Ball).Foto: simon sonnekus

Pieter du Toit sê hy het The Stellenbosch Mafia geskryf omdat hy wou uitvind wie dié sogenaamde mafia is, hoe hul netwerke lyk en wat hulle doen.

“Ek het nie die boek vir Stellenbosch geskryf nie, ek het hierdie boek vir die breër Suid-Afrika geskryf. Die Stellenbosch Mafia het ’n skelwoord geword en ek wou kyk of dit ’n skelwoord moet wees of nie.”

Du Toit, adjunkredakteur van dieptenuus by News24, was in Stellenbosch op skool en universiteit en sê hy is steeds mal oor dié dorp waar hy steeds baie vriende het.

“Stellenbosch is nie die werklike Suid-Afrika nie,” sê hy egter. “Stellenbosch het die afgelope klompie jare baie selfvoldaan geraak, hy het baie beïndruk met homself geraak.

“Stellenbosch bestaan ter wille van Stellenbosch. Ek dink Stellenbosch het ’n manier gekry om homself te isoleer van die res van Suid-Afrika. En jy kan nie in hierdie land in isolasie bly nie.

“Mense in Stellenbosch hoef nie te verstaan wat die dinamika in Diepsloot is nie, net soos mense van Johannesburg nie kan verstaan wat die dinamika in Kayamandi is nie.

“Maar ons almal moet verstaan dat ons deel is van hierdie lappieskombers en ons is diep betrokke by mekaar. As Suid-Afrika vou, gaan Stellenbosch vou, maar as Stellenbosch sukkel, gaan dit ’n impak hê op Suid-Afrika ook gegewe die sakeryke wat vanuit die dorp bestuur word.”

G’n engeltjies, ook nie ’n mafia

Wat hy wel geleer het met die skryf van sy boek, is dat die Stellenbosch Mafia (hy praat van die sogenaamde Stellenbosch Mafia) nie ’n skeldwoord behoort te wees nie.

Hy dink dit is saam met sogenaamde witmonopoliekapitaal ’n skeldwoord gemaak deur onder meer Bell Pottinger en die waninligting-veldtog van mense wat aan die voorpunt van staatskaping gestaan het.

“Kyk, ek sê nie die mense is engeltjies nie. Maar mense het vooropgestelde idees oor iets soos die Stellenbosch Mafia.

“Ek kom agter dat daar in uiteenlopende kringe teleurstelling oor die boek is. Diegene wat glo in witmonopoliekapitaal en radikale ekonomiese transformasie sal sê: ‘Hoekom lees ons nie oor die miljarde rande wat hierdie mense steel nie? Hoekom lees ons nie oor hoe Johann Rupert (voorsitter van Richemont en een van die rykste mense in Suid-Afrika) vir pres. Cyril Ramaphosa soos ’n poppemeester speel nie?’

“Lede van die sogenaamde mafia is weer woedend omdat hulle enigsins saamgegroepeer word onder ’n frase soos dié.

“Dié term het ’n politieke vloekwoord geword wat verwys na ’n kabaal Afrikaners wat die land wil uitbuit . . . verder wil uitbuit, want hulle het mos nou reeds, wat op ’n onbehoorlike manier invloed uitoefen op die politiek, wat swart mense wil onderdruk.”

Die Steinhoff-skandaal is wel nog ’n rou wond in Stellenbosch. Dit het gewys dat korrupsie nie tot regeringskringe beperk is nie, en Du Toit glo die suksesvolle vervolging van die skuldiges is noodsaaklik om te wys dat landswette op almal van toepassing is.

Maar wat vir Steinhoff gegeld het, geld nie vir die res van die sakelui in Stellenbosch nie. Ondanks die mafia-skeldwoord is hier ook, soos met alles in die lewe, twee kante van ’n saak.

“Neem nou iemand soos Johann Rupert. Daar is nie ’n sweempie van ’n gerug oor enigiets agterbaks of onderduims nie, daar’s nie sprake van skewe of onbehoorlike saketransaksies of geld wat verdwyn of iets in sy persoonlike lewe wat tot skinder kan lei nie.

“Hy is ’n moeilike ou, hy kan oorkom as bombasties en hy kan oorkom as iemand wat daarop uit is om sy sin te kry. Maar dit is omtrent die omvang van die kritiek wat ek op hom kon kry.

“Rupert het die maatskappy wat hy by sy pa geërf het, verder uitgebou en groter gemaak, maar dit is nie die beeld wat die Bell Pottinger-veldtog en die Malemas en die BLF’s van hom die wêreld wil instuur nie. En ek dink dit is vir hulle moeilik om te aanvaar dat hierdie ou ’n legitieme sakeman is wat in die omgewing van ’n miljard rand per jaar bestee aan opleiding en beurse en opheffingsprojekte.

“Dit strook nie met die beeld daarbuite nie. Met die een onderhoud het hy byvoorbeeld teruggekom van Kayamandi af. Hy het self soontoe gery om te gaan kyk wat daar aangaan, want hy het gehoor die mense daar is ontevrede.”

Die les van apartheid

Volgens Du Toit het Rupert ook aan hom gesê hy is spyt hy, die Ruperts en Rembrandt het nie meer gedoen om apartheid tot ’n einde te bring nie. Sakeleiers het eers in ’n laat stadium betrokke geraak by pogings om ’n einde aan apartheid te maak – in die laat 1980’s toe Suid-Afrika op die rand van die afgrond was.

Hulle moet dié les nou ter harte neem en besef dit het weer tyd geword vir die sakesektor om sy stem te laat hoor saam met dié uit die burgerlike samelewing, akademiese kringe en die media teen regeringsvergrype.

“Hulle sal dit prominent moet doen, en hulle moet weet en aanvaar daar sal ’n koste daaraan verbonde wees. Hulle sal hulself moet versoen daarmee, want die groter prentjie is belangriker as winste op kort termyn.

“Uit my gesprekke met hierdie ouens, en dit is óók nie wat mense wil hoor nie, het ek die gevoel gekry dat hulle betrokke wil raak.

“Hulle soek ’n manier om dit te doen, want hulle vertrou nie die staat nie. Jy kan hulle nie daarvoor blameer nie. Jannie Durand, Remgro se uitvoerende hoof, sê byvoorbeeld hy sukkel om ’n afspraak met die DA-burgemeester van Stellenbosch te kry. Maar as hy Zambië toe gaan, praat hy met die minister van finansies. Dáár weet mense hulle bring besigheid en gaan werk skep.”

Die sakesektor hoef sy betrokkenheid nie aan die groot klok te hang nie, sê Du Toit. Die Millennium Trust ondersteun reeds inisiatiewe soos amaBhungane (vir ondersoekende joernalistiek), Freedom Under the Law en Corruption Watch.

Wantroue teen wit sakelui

Daar sal altyd wantroue uit sekere oorde wees teen wit sakelui wat betrokke is by sulke inisiatiewe, meen Du Toit. Dié wantroue is iets wat Rupert al so moedeloos gemaak het dat hy dit selfs oorweeg om die land te verlaat, dat hy sy betrokkenheid by pogings om die land in die buiteland te bevorder wil staak.

“Dit is ’n enorme verlies en ek weet nie of Cyril Ramaphosa dit besef nie. Jy hoef nie van Rupert te hou nie, en die Bell Pottinger-projek het sy naam skade berokken, maar die netwerk wat hy het, die invloed wat hy oorsee het, is iets wat jy nie kan geringskat nie.

“Dit is baie duidelik uit die huidige nasionale diskoers dat wit sakelui – veral wit en Afrikaans en van Stellenbosch – net te veel bagasie dra in hierdie ongelooflike spanningsvolle tydvak waarin ons is.”

Suid-Afrikaners moet egter nie soos moedelose Bybelse karakters hul klere skeur elke keer as gille van witmonopoliekapitaal uit die geledere van veral die EFF, BLF en sekere faksies in die ANC gehoor word nie. Hulle verteenwordig nie die breë gevoel in die land nie, sê Du Toit.

Sulke gille sal ook nie ophou nie omdat daar steeds geweldige ekonomiese ongelykhede in die land is.

“Dit is die belangrikste gesprek van ons tyd. Nie of die Inkomstediens se rampokker-eenheid bestaan het of nie en wie ’n spioen was of nie, maar hoe ons die ekonomie aan die gang kan kry sodat ons werk kan skep, sodat ons die welvaartsgaping kan vernou.

“Rupert het sy pa (Anton) se bekende uitspraak herhaal: ‘As my buurman nie eet nie, dan kan ek nie rustig slaap nie.’ Daarom moet die regering sakelui soos Rupert se kennis en ervaring en kontakte uitbuit. Maar te midde van die ANC wat besig is om in te plof, te midde van die beleidsonsekerheid binne die party, te midde van harde ekonomiese besluite wat uitgestel en afgestel word deur die ANC-regering, vorder ons nie.

“En dan kry jy mense soos Rupert wat moed verloor en sê as ek nie hier kan help nie, dan gaan bly ek in Genève en Londen en dit is ’n bleddie jammerte. Hoekom gebruik ons nie hierdie ouens nie?”

  • Van der Westhuizen is Netwerk24 se Stemme-redakteur.
Meer oor:  Pieter Du Toit  |  Johann Rupert  |  Herstelpad  |  Skrywer  |  Boek  |  Regering  |  Sakelui
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.