Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hierdie taai klappe sal Trump nie laat lê nie

Pres. Donald Trump het die laaste tyd ’n paar stewige houe op die kennebak gekry. Maar jy sou ’n fout maak as jy dink hy is uitgeslaan, meen Leopold Scholtz. 

Ter illustrasie.

‘As ek president is, gaan ons só baie wen dat jy skoon moeg van al die oorwinnings sal raak,” het pres. Donald Trump tydens sy verkiesingsveldtog in 2016 beloof. Met die narratief van meesteronderhandelaar wat hy rondom hom opgebou het, het miljoene Amerikaners dit geglo.

Maar vir ’n man wat self spog dat wen álles en kompromieë vir sissies is, het hy die laaste tyd ’n paar houe gevat wat hom nogal geskud het.

Eers was daar die kleinerige nederlaag teen die speaker van die huis van verteenwoordigers, Nancy Pelosi, oor sy staatsrede.

Pelosi het hom laat weet dat hy nie sy gebruiklike jaarlikse staatsrede in die kongres kan hou solank die gedeeltelike sluiting van die owerheid voortduur nie. Trump het by wyse van spreke met sy vuis op die tafel geslaan en daarop aangedring dat dit wél moet gebeur, maar aangesien Pelosi die baas van die kongres is, het sy gewen.

’n Veel groter nederlaag was die kwessie van die owerheid­sluiting self. Trump het naamlik geëis dat die begroting – wat deur albei huise van die kongres goedgekeur moet word – $5,7 miljard vir die bou van ’n muur op die grens met Mexiko moet bewillig om onwettige immigrasie en smokkelary te keer.

In ’n gesprek in sy kantoor met Pelosi en die senior Demokratiese senator Chuck Schumer (wat regstreeks op televisie uitgesaai is) het Trump gesê hy aanvaar eienaarskap van die owerheidsluiting.

’n Jaar gelede het Pew Trump se steun onder wit mans sonder tersiêre kwalifikasies op 54% gemeet, terwyl 37% sy optrede afgekeur het.

Daarmee het hy in ’n strik getrap wat die Demokrate vir hom gestel het. Die feit is naamlik dat 800 000 federale amptenare nie hul salarisse betaal is nie.

Namate die tyd aangestap het (uiteindelik sowat vyf weke) het ook allerlei ander ondernemings wat van die amptenare se klandisie afhanklik is, daaronder begin ly.

Die FBI kon nie meer sake ondersoek nie. Lugverkeerbeheerders op lughawens kon nie meer werk nie, en die lugverkeer het – soos in groot dele van die land – tot stilstand geknars.

Peilings het gewys dat maklik twee derdes van die Amerikaners net een man blameer: Donald Trump.

Hardekwas soos hy maar is, het Trump aanvanklik gemeen hy moet net lank genoeg uithou; die Demokrate sal verdeeld raak en ingee.

Maar hy het nie rekening gehou met Pelosi (78), ’n ervare krokodil, nie. Sy kon haar troepe bymekaarhou, en uiteindelik was dit Trump wat ingegee het.

Hy het toegegee aan die eis wat die Demokrate al van die eerste dag af aan hom gestel het: Heropen die owerheid; dan kan ons oor die geld onderhandel.

Ter illustrasie.

Die toegewing geld in beginsel vir drie weke, en ofskoon hy al klaar gedreig het om die owerheid wéér te sluit, is die aanduidings dat selfs die Republikeine in die kongres hom dié keer nie gaan toelaat nie.

Die vraag is nou: Hoe beïnvloed dit die Amerikaanse politiek en die magsewewig?

Trump se harde ondersteuners het verdeeld gereageer.

Sean Hannity, ’n kommentator van Fox News wat Trump onkrities steun, het gesê die president is ’n “hardnekkige vegter” wat bloot sy strategie verskuif, nie sy doelwitte nie.

“Ek het geen twyfel dat die president net so hard, indien nie harder nie, vir die geld vir die muur gaan veg.”

Die probleem is dat Trump nie die steun van die meeste Amerikaners het nie. Luidens een peiling meen twee derdes dat ’n muur nie onwettige immigrasie of dwelmsmokkelary sal keer nie. Nog erger: Sy stoere ondersteuners is gereed om in opstand te kom.

Een van sy luidste aanhangers, die TV-kommentator Ann Coulter, het hom in ’n twiet ’n “wimp” genoem, en in ’n radio-onderhoud gesê sonder die muur sal sy steun verdamp en sal hy waarskynlik nie sy termyn voltooi nie en beslis nie tot ’n tweede termyn verkies word nie.

Sonder die muur sal die Trump-presidentskap “ ’n grap wees wat Amerikaners ’n tyd lank bedrieg het, maar hy sal hoegenaamd geen erfenis nalaat nie”.

Nog ’n regse kommentator, Mike Cernovich, het Trump gekap: “Trump is ’n gebreekte man. Dis verby met hom.”

En vroeër het die Republikeinse sen. Lindsay Graham gesê as Trump nie sy muur kry nie, is dit klaarpraat met sy presidentskap.

Peilings onder Trump-stemmers bevestig dit op die oog af.

Luidens een kan byna die helfte hom in die steek laat as hy oor die muur besgee.

In dié peiling het sy ondersteuners hom 6,77 punte uit 7 gegee – ’n besonder hoë syfer. Maar as hy toegee oor die muur, volgens die peiling, sak sy punt tot 3,88.

Die feit is dat die muur, een van Trump se sentrale beloftes in 2016, ’n simboliese betekenis verkry het wat veel groter is as wat dit intrinsiek regverdig.

Trump se dalende syfers geld nie net vir sy harde ondersteuners nie; dit kan ook landwyd gesien word.

Sy gemiddelde goedkeuringsyfer (luidens die gemiddelde van alle peilings, soos gepubliseer op die webwerf RealClearPolitics) het, toe dié woorde geskryf is, op 41,2% gestaan en sy afkeuringsyfer op 55,2%.

Volgens die hoogs gerespekteerde Pew-navorsingsentrum is Trump se steun ook in groepe wat tradisioneel agter hom staan, besig om weg te kalwe.

’n Jaar gelede het Pew Trump se steun onder wit mans sonder tersiêre kwalifikasies op 54% gemeet, terwyl 37% sy optrede afgekeur het.

Vandeesmaand het dit tot 50% goedkeuring en 48% afkeuring verander, wat vir Trump onrusbarend moet wees.

Verskeie ander peilings bevestig dié basiese neiging, ook onder ingeskrewe Republikeine, fundamentalistiese Christene en voorstedelike wit mans.

Wat verwagte stemgedrag betref, kan Trump ook nie te gerus wees nie. Die Marist-Instituut vir Openbare Mening het bevind dat 57% van die respondente “beslis” téén Trump sou stem as daar nou ’n verkiesing sou wees, teenoor 30% wat “beslis” vír hom sou stem.

Onder wit mense sonder tersiêre opleiding sou 42% weer vir hom stem en 44% vir iemand anders. En in die agtergrond kom die einde van Robert Mueller se ondersoek na moontlike samespanning met Rusland ook nader. Niemand weet wat daarin onthul gaan word nie.

Beteken dit alles dat Trump maar afgeskryf kan word?

Wel, die volgende verkiesing is ’n volle 22 maande ver. Die gesegde lui dat ’n week in die politiek ’n baie lang tyd is, en dus is 22 maande ’n leeftyd. Enigiets kan in dié tyd gebeur.

En onthou, Trump is ’n straatvegter wat vuil kan veg as hy wil. Dinge lyk nóú sleg vir Trump.

Meer as dit kan jy nie sê nie.

  • Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Pres. Donald Trump  |  Vsa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.