Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hieroor moet die wêreld bekommerd wees in 2020

Die wêreld gaan ’n onstabiele en onsekere tydperk binne met klimaatsverandering wat groot risiko’s inhou, skryf Theo Venter nadat hy die Globale Risiko-verslag vir 2020 ontleed het.

Verwoestende bosbrande het al vroeg in die nuwe jaar gewys dat klimaatsverandering een van die grootste probleme van 2020 gaan wees. Foto: Getty Images

Die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) wat elke jaar in Davos, Switserland, plaasvind, is een van die hoogtepunte van netwerkskakeling en meningsvorming in die wêreld.

Dit gaan nie net meer oor ekonomiese en finansiële netwerke nie, maar is reeds geruime tyd ook die plek waar wêreldleiers mekaar elke jaar sien.

In 2018 was dit ’n hoogtepunt vir pres. Cyril Ramaphosa, toe pas verkies as nuwe leier van die ANC en kort voor hy by Jacob Zuma as staatshoof oorgeneem het. Rampahosa was ook in 2019 in Davos, maar het vanjaar besluit om Tito Mboweni, minister van finansies, van 21 tot 24 Januarie met dié verantwoordelikheid op te saal.

In 2019 het pres. Donald Trump van Amerika, pres. Emmanuel Macron van Frankryk en Theresa May, die voormalige premier van Brittanje, nie hul opwagting gemaak nie.

Die Globale Risiko-verslag bepaal tot ’n groot mate die agenda vir verskeie gesprekke tydens Davos

Trump sal wel vanjaar by Davos opdaag om ’n bietjie asem te skep voor die senaatsverhoor oor sy staat van beskuldiging!

Van Trump kan ons tipies verwag dat hy die trom baie hard sal slaan oor die pas ondertekende handelsooreenkoms tussen die VSA en China (wat eintlik net ’n voorlopige skietstilstand is) en baie min sal kwytraak oor klimaatsverandering wat in 2020 die oorheersende tema is. 

Davos word voorafgegaan deur die bekende WEF Mededingendheidsverslag wat gewoonlik aan die einde van September in die voorafgaande jaar gepubliseer word. Aan die einde van 2019 het Suid-Afrika se posisie in dié verslag met sewe plekke verbeter tot 60ste uit 141 lande wat geëvalueer is vir hul ekonomiese en institusionele mededingendheid.

Die Globale Risiko-verslag, wat jaarliks sowat ’n week voor die Davos-byeenkoms gepubliseer word, is egter van groter belang.

Die verslag bepaal tot ’n groot mate die agenda vir verskeie gesprekke tydens Davos – nie net omdat die groot wêreldwye vraagstukke daarin vervat word nie, maar veral omdat dit geprioritiseer word in terme van die waarskynlikheid dat dit wel sal gebeur en wat die impak daarvan sal wees.

Die verslag is vanjaar vir die 15de keer gepubliseer.

Onbestendige en onseker wêreld

Die wêreld sal die situasie in Iran angstig dophou ná die Amerikaanse sluipmoord op Iran se topbevelvoerder genl.maj.Kassem Soleimani. Foto: AP

Die Risiko-verslag vir 2020 het ’n aantal interessante nuwe benaderings om ’n beter begrip van wêreldwye risiko’s moontlik te maak.

Voorbeelde daarvan is dat die algemene siening weergegee word, maar jong meningsvormers se persepsie van toekomstige risiko’s word ook weerspieël. Verder word risiko’s ook verdeel tussen onmiddellike bedreigings of vraagstukke en kwessies wat op lang termyn (10 jaar) sal ontplooi.

Die verslag wys daarop dat die wêreld ’n onbestendige tydvak betree het as gevolg van kragtige ekonomiese, demografiese en tegniese verskynsels wat die politieke magsbalans beïnvloed. Die resultaat is, luidens die verslag, ’n onbestendige geopolitieke orde waarin lande soek na geleenthede en groei in eiebelang en eensydig optree eerder as om die gevestigde multilaterale wêreldorde te probeer bestendig.

Hoewel dit nie eksplisiet genoem word nie, is die Trump-adminstrasie in Amerika beslis een van lande waarna verwys word. Die gevaar van ekonomiese nasionalisme word uitgewys as een van die faktore wat tot ekonomiese ontkoppeling kan lei.

Die meeste ontledings van globale risiko gebruik ’n model met vyf sektore of faktore: geopolitieke, ekonomiese, maatskaplike, tegnologiese en die omgewing.

Geopolitieke faktore

Die oë van die wêreld sal vanjaar oudergewoonte op pres. Donald Trump van Amerika wees. Hy is in ’n staat van beskuldiging geplaas en die Amerikaanse presidentsverkiesing vind vanjaar plaas. Foto: AP

Wêreldwye risiko’s word dikwels eendimensioneel as politieke probleme gesien en daar is goeie voorbeelde van sulke probleemgebiede. Vanjaar se verslag doen dit nie, maar ter wille van volledigheid moet ’n paar van die grootste internasionale politieke risiko’s egter genoem word. Dit sluit die volgende lande, streke of gebiede in:

* Amerika, Iran, Israel en die Persiese Golfgebied.

* Oekraïne, die Krim-skiereiland en Rusland.

* Sirië, Turkye en die Koerdiese vraagstuk.

* Afganistan en Irak.

* Jemen.

* Ethiopië en Somalië.

* Libië.

* Amerika en die Noord-Koreaanse situasie.

* Kasjmir met Indië en Pakistan as teenstanders.

* Venezuela se ekonomiese ineenstorting.

Die mees onlangse gebeure tussen veral Amerika en Iran het hierdie kwessies weer op die voorgrond geplaas en wys ook dat Suid-Afrika in die groter geopolitieke situasie baie ver in die agtergrond is.

Omgewing as grootste risiko in 2020

Die verslag van 2020 maak dit baie duidelik dat ’n versameling van omgewingsfaktore soos klimaatsverandering, gebrek aan beleide oor klimaat en uiterste weerpatrone wêreldwyd die grootste risiko inhou.

As die afgelope tien jaar in ag geneem word, is dit duidelik dat omgewingsfaktore en die impak van tegnologie (veral kuber- en dataveiligheid), by ekonomiese en geopolitieke risiko’s oorgeneem het as die vernaamste prioriteite.

Die waarskynlikheid van risiko’s met betrekking tot water het egter deurlopend ’n risikofaktor gebly.

Ekonomiese faktore soos finansiële sekerheid en werkloosheid het van 2010 tot 2014 oorheers, maar sedertdien het omgewingsfaktore soos klimaatsverandering en veranderende weerpatrone ook oorheersende vraagstukke geword.

Geopolitieke kwessies was deurlopend op die radarskerm asook die impak van ’n gebrek aan water en migrasiepatrone, veral oor die laaste vyf jaar.

Jong meningsvormers se persepsies

Sonder uitsondering is jong meningsvormers se bekommernisse oor dié wêreldwye risikofaktore baie meer intens as dié van die gemiddelde respondent.

Op kort termyn is die verskille nogal merkwaardig met hittegolwe, die vernietiging van ekostelsels en die impak van besoedeling wat die jonger meningsvormers die meeste kwel. Daarteenoor is die gemiddelde respondent begaan oor ekonomiese konflik, politieke polarisasie en dan eers uiterste weerpatrone.

Dit is ook opvallend dat die gemiddelde respondente of deelnemers baie meer begaan is oor potensiële probleme in die kuberruim terwyl die jong meningsvormers dit nie as ’n groot probleem beskou nie, aangesien hulle in die Vierde Industriële Revolusie leef en werk.

Gesien op lang termyn (10 jaar) is die persepsies ook baie interessant en verskillend.

Die jong omgewingsaktivis Greta Thunberg van Swede. Foto: Reuters

Die multibelanghebbendes beskou die omgewing as die grootste risiko in terme van waarskynlikheid en impak terwyl die jong meningsvormers in dié opsig met hulle saamstem, maar geopolitieke en ekonomiese vraagstukke as minder ernstig beskou. Vir hulle is die omgewing en maatskaplike faktore op lang termyn die grootste risiko’s.

Baie word ook in die verslag gemaak van die wêreld se afhanklikheid van fossielbrandstowwe en die omgewingsimpak daarvan.

Ek is seker Mboweni gaan sy hande in Davos vol hê om nie alleen Eskom se finansiële probleme te verduidelik nie, maar waarom Suid-Afrika so traag is om hernubare energiebronne te ontwikkel, terwyl dit voor die handliggende oplossings bied.

Dit verteenwoordig ’n tipiese mislukking in regeringsbeleid met betrekking tot klimaatsverandering.

Individuele vraagstukke en risikofaktore

Naas die verskillende sektore wat in die verslag ontleed is, is daar ook gekyk na individuele risikofaktore en wat die meer as 1 000 deelnemers aan die ondersoek die meeste bekommer het.

Twee ander ekonomiese faktore haal ook die toptien-lys, proteksionistiese handelsbeleide en die moontlikheid van ’n wêreldwye ekonomiese resessie.

Die moontlikheid van ’n handelsoorlog tussen die groot moondhede het meer as 78% van die respondente gekwel en polarisasie in die plaaslike omgewing was tweede op die lys.

Meer as 75% van die deelnemers het hittegolwe en die vernietiging van ekostelsels as probleme aangedui met risiko’s in die kuberruim en datadiefstal ook groot bekommernisse. Twee ander ekonomiese faktore haal ook die toptien-lys, proteksionistiese handelsbeleide en die moontlikheid van ’n wêreldwye ekonomiese resessie.

Wat is die risiko’s in SA

Aan die einde van 2019 het die WEF die volgende vyf risikofaktore met betrekking tot Suid-Afrika geïdentifiseer. Werkloosheid in al sy vorme as die grootste risiko geïdentifiseer. Die moontlikheid van watertekorte en die gehalte van water as ’n hulpbron was in die tweede plek. In die derde plek word die mislukking van nasionale regering as ’n risiko aangedui en vierdens iets wat daarmee saamloop: die moontlikheid van maatskaplike onbestendigheid. In die vyfde plek was die ineenstorting van kritieke infrastruktuur.

Onbestendige wêreld

Theo Venter

Die 15de Globale Risiko-verslag maak dit duidelik dat ons in ’n onbestendige en onsekere wêreld leef wat na binne fokus en dat ekonomiese nasionalisme en proteksionisme groot risiko’s inhou vir die wêreldwye ekonomie.

Ekonomiese en geopolitieke strydpunte kan maatskaplike onbestendigheid aanvuur en faktore soos onvolhoubare migrasiepatrone tot gevolg hê, wat weer ander maatskaplike vraagstukke ontketen, soos wat Brexit reeds bewys het.

Klimaatsverandering slaan vinniger en harder toe as wat in die vooruitsig gestel is en die vernietiging van biodiversiteit is meer omvangryk.

Die fragmentering van die digitale wêreld het ook omvangryke gevolge vir die Vierde Industriële Revolusie en dit het ook etiese, politieke en ekonomiese gevolge.

In die laaste plek wys die verslag daarop dat gesondheidstelsels wêreldwyd onder druk verkeer en dat dit ook benadeel word deur klimaatsverandering, besoedeling en mensgemaakte- en natuurrampe.

* Venter is ’n ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit se besigheidskool. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Cyril Ramaphosa  |  Donald Trump  |  Amerika  |  Iran  |  Davos  |  Ekonomie  |  Klimaatsverandering  |  Werkloosheid  |  Handel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.