Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hitler bekoor SA bokser op Spele

Die dapper en hardkoppige Suid-Afrikaanse bokser Robey Leibbrandt is deur Adolf Hitler en die Nazisme bekoor tydens die Olimpiese Spele van 1936 in Duitsland, skryf Albert Blake in dié verkorte uittreksel uit Robey Leibbrandt: ’n Lewe van fanatisme.

Robey Leibbrandt in sy Springbokkleure in 1934. Foto: Jonathan Ball Uitgewers

Die Berlynse Olimpiese Spele van 1936 sal altyd onthou word as “Adolf Hitler se Spele”. Die Nazi’s het die Olimpiese Spele, wat van 1 tot 16 Augustus plaasgevind het, as ’n ideale geleentheid beskou om hul Fascistiese ideale verder te versprei.

Onder leiding van Joseph Goebbels, die berugte minister van propaganda wat ook die president van die Duitse Olimpiese reëlingskomitee was, is die geleentheid gebruik om subtiel en soms blatant propaganda vir die nasionaal-sosialisme te maak. Goebbels het die bekwame rolprentvervaardiger Leni Riefenstahl ingespan om propagandarolprente van die Spele te maak. Vir die eerste keer is ’n Olimpiese Spele gebeeldsend en radiouitsendings het ’n rekordaantal lande bereik.

Ultramoderne sportgeriewe is spesiaal vir die Spele gebou. ’n Splinternuwe stadion is opgerig met sitplek vir 100 000 toeskouers en langsaan ’n swembad met plek vir 20 000. Die boksgevegte is in die moderne Deutschlandhalle gehou wat die vorige jaar geopen is. ’n Moderne Olimpiese dorp met ’n internasionale eetsaal, gimnasiums en ’n swembad is vir die verskillende lande se spanne gebou.

Die Duitsers wou ten alle koste by die Spele presteer en die Duitse atlete het inderdaad die Spele oorheers. Dit is tot op hede nog die enigste keer dat Duitsland met die meeste goue medaljes by ’n Olimpiese Spele weggestap het. Daar was egter bewyse dat die Duitse atlete anaboliese steroïede en testosteroon gebruik het. Die Spele word ook om ’n ander rede onthou – die swart Amerikaner Jesse Owens se vier goue medaljes in gesogte baanitems, wat die rassistiese Nazi-filosofie oor Ariese meerderwaardigheid weerlê het.

Deur Hitler betower

Ná die neerdrukkende depressiejare van die vroeë 1930’s het Berlyn ’n welkome beeld van vooruitgang uitgestraal. Op die oppervlak het Berlyn nog die vrygeestigheid gehandhaaf waarvoor dit in die 1920’s bekend was. Daar was steeds ’n lewendige naglewe, gekenmerk deur talle kabaretvertonings. ’n Joviale gees is uitgedra met paartjies wat helder oordag spontaan by die vele straatkafees en restaurante gedans het. Toeriste is verwelkom en het tuis gevoel in Berlyn.

Tydens die Spele het die Nazi’s die meer ekstreme aspekte van hul Herrenvolk-filosofie en die aggressiewe militaristiese karakter van die Nazi-staat verbloem. Hul antisemitiese agenda is tydelik versag om ’n beeld van ’n vreedsame en verdraagsame Duitsland uit te dra. Agter hierdie skyn het die Duitse propagandamasjien egter steeds volstoom geloop. Die vervolging van Jode en ander “ongewenstes” sou ná die Spele aansienlik verskerp word.

Sommige Engelssprekende spanlede het nie Leibbrandt se bevele in Afrikaans verstaan nie.

Met die verbymars van die Suid-Afrikaanse Olimpiese span tydens die openingseremonie van die Spele was Leibbrandt in so ’n vervoering dat hy amper ’n konsternasie veroorsaak het. Hy is vooraf opdrag gegee om die Suid-Afrikaanse span vir die verbymars af te rig. Sodra hulle die stadion betree, moes hulle op sy bevele reageer.

Die span het die stadion netjies in gelid binnegestap en gewag op sy bevel om op die gepaste tyd hul koppe regs na Hitler te draai. Toe hulle by Hitler kom, het Leibbrandt hierdie bevel en dié wat daarop gevolg het in Afrikaans pleks van Engels gegee. Sommige Engelssprekende spanlede het hom nie verstaan nie.

“Ek wou aan hom in die taal van genl. [Christiaan] De Wet vertel dat hier voor hom nasate van ’n heroïese volk verbymarsjeer. Ek het toe reeds geweet dat Adolf Hitler ’n besonder hoë dunk van genl. De Wet en die Boerevolk oor die algemeen gehad het,” het hy later sy optrede verduidelik.

Net soos Hitler miljoene Duitsers meegevoer het, het hy Robey Leibbrandt betower. “Vandag nog weet ek nie wat met my op daardie oomblik gebeur het nie . . . Soos ’n standbeeld het hy daar gestaan, sy regterarm skuins in die lug voor hom uitgestrek as erkenning van ons eerbewys. Ek het stip na hom gekyk. Meteens is ek deur ’n vreemde gewaarwording beetgepak. Of dit sy nederige drag of sy magnetiese persoonlikheid was wat my geboei het, weet ek nog steeds nie, maar dit was vir my kompleet of ’n hipnotiese krag my bemeester het.”

‘Man uit wildernis’ gryp verbeelding aan

Die amptelike Olimpiese nuusblad het Robey Leibbrandt se vreemde oefenmetodes en gewoonte om op die grond te slaap, uitrgebeeld. Foto: Jonathan Ball Uitgewers

Leibbrandt se openlike belangstelling in die Duitse politiek en uitgesprokenheid daaroor het hom in konflik met die Engelssprekende spanbestuur en veral die spanbestuurder gebring. Die historiese wrywing tussen Afrikaners en Engelssprekendes was ook in hierdie ongemaklike verhouding ter sprake.

’n SS (Schutzstaffel)-offisier was die Suid-Afrikaanse span se gids en gasheer. Hy het gou agtergekom dat Leibbrandt oop is vir die nasionaalsosialistiese ideologie en het toe moeite gedoen om hom te akkommodeer en het hom aan invloedryke Nazi-amptenare bekend gestel.

Terselfdertyd het daar stadig maar seker ’n verandering in Leibbrandt se weerstand teen mediese behandeling ingetree. Hy het by die Olimpiese hospitaal gaan aanklop om hulp vir sy beseerde elmboog. Nadat hy uitstekende behandeling by van die beste Duitse dokters ontvang het, het die besering in so ’n mate herstel dat hy met gemoedsrus na sy deelname uitgesien het.

In sy gretigheid om goed voor te berei het Leibbrandt egter 'soos ’n besetene geoefen' wat veroorsaak het dat hy ooroefen was.

Nog voordat die Spele begin het, het Leibbrandt met die Duitse beroepswaargewigboksers in die oefenkryt gemaak soos hy wil. Die Duitse sportskrywers was baie beïndruk en het hom beskou as die gunsteling uit die 26 mededingers om die ligswaargewigtitel te verower. Hulle het ook breedvoerig berig oor sy vasgewoontes, dieet en vreemde gewoonte om op die vloer te slaap. Een Duitse spotprent het hom uitgebeeld waar hy in stede van ’n slaansak met ’n pampoen wat aan ’n tou hang, oefen. Die Duitse publiek se verbeelding is aangegryp deur “die man wat uit die wildernis kom”.

Leibbrandt was elke aand vroeg in die bed. In sy gretigheid om goed voor te berei het hy egter “soos ’n besetene geoefen” wat veroorsaak het dat hy ooroefen was. “Die doellose verkwisting van energie het my moeg en senuweeagtig gemaak,” het hy later geskryf.

Toe hy sy oefenmetodes wou aanpas, het hy weer met die spanbestuurder gebots. Dié het selfs gedreig om hom aan die Spele te onttrek en na Suid- Afrika terug te stuur. Leibbrandt het hom oudergewoonte nie aan dié dreigemente gesteur nie en sy eie kop gevolg.

Dramatiese gevegte

Robey Leibbrandt poseer vir die kamera in sy Springbokkleure in 1934. Foto: Jonathan Ball Uitgewers

As Leibbrandt se geveg teen Brennan tydens die Rykspele in Londen opspraakwekkend was, het sy gevegte tydens die Olimpiese Spele ’n nuwe dramatiese hoogtepunt bereik. In boks was die pad na ’n Olimpiese medalje besonder taai. ’n Bokser moes aand ná aand al sy gevegte wen om vir die eindronde te kwalifiseer. Leibbrandt kon die druk aanvoel om die ligswaargewigtitel te verower.

Reeds met die eerste gevegte op Maandagaand 11 Augustus was die atmosfeer in die Deutschlandhalle gelaai. Hoewel Leibbrandt sterk teenstand van die Noorweër Jarl Johnsen gekry het, was die beslissing eenparig dat hy al drie die rondes gewen het. Tog het Leibbrandt grootmoedig opgemerk: “Na my mening was hy die beste ligswaargewigbokser op die Olimpiese Spele. Ek was net gelukkig, dis al.”

’n Verblindende pyn het deur sy hand geskiet. In sy hoek het sy helpers die ongekende ervaar dat Leibbrandt van pyn gekerm het.

Die volgende aand het hy te staan gekom teen die Egiptenaar Mohammed Amin wat in sy eerste geveg sy Amerikaanse opponent uitgeslaan het. Leibbrandt het die geveg maklik gewen en tong in die kies gespog dat hy “die afstammeling van een van Farao se knegte met die kous oor die kop na sy mede-kameelruiters teruggestuur het”.

Ná ’n blaaskans die Woensdag het hy die Donderdagaand teen Frantisek Havelka van Tsjeggo-Slowakye te staan gekom. Dit was ’n geveg wat Leibbrandt om die verkeerde redes vir altyd sou onthou. Aan die einde van die tweede ronde het hy Havelka met ’n moorddadige regterswaaihou teen die kop getref. ’n Verblindende pyn het deur sy hand geskiet. In sy hoek het sy helpers die ongekende ervaar dat Leibbrandt van pyn gekerm het. Al wat hulle kon hoor, was “my hand, my hand”.

Toe die klok weer lui, moes Leibbrandt takties op die aanval bly. Hy vertel sy hand het so gepyn dat hy skoon vergeet het om moeg te word. Die ronde het oneindig lank gevoel: “Ek het meer teen die pyn geworstel as teen die houe wat my getref het. Die klok se gelui het soos ’n heerlike droom tot my deurgedring.”

Leibbrandt het egter genoeg gedoen om die geveg in sy guns te beklink.

Leibbrandt helpers geweier

Daardie aand het hy rondgerol van die pyn. Die oggend was sy beddegoed nat van die sweet. Die spanbestuurder het sy dik geswelde hand opgemerk en geweier dat hy daardie aand teen die Franse kampioen Roger Michelot om ’n plek in die halfeindronde veg.

Maar Leibbrandt was nie van plan om sy Olimpiese droom prys te gee nie. Hy is hospitaal toe vir elektriese behandeling wat die pyn effens verdoof het, maar die swelsel wou nie sak nie. Op ’n manier het Leibbrandt daarin geslaag om die mediese toets te slaag deur die dokter te flous dat sy hand net effens verstuit was.

Leibbrandt se hand was só geswel dat hy nie die agt-ons-bokshandskoen kon aankry nie. Sy helpers moes dit eers oopsny en toe weer met hegpleister toeplak nadat dit oor sy hand getrek is. Hy sou die grootste geveg van sy loopbaan met net een bruikbare hand moes aanpak, maar hy was soos altyd skynbaar vreesloos.

Toe die spanbestuurder hoor Leibbrandt gaan steeds deelneem, het hy woedend geweier dat enige helpers hom in die kryt bystaan. Die nuus dat Leibbrandt daardie aand die geveg sonder helpers sou aandurf, het gou deur die Olimpiese dorp versprei. Vir ’n bokser kan so ’n ongekende situasie fataal wees.

In sy desperaatheid het hy twee Duitse mediese studente wat hul hulp kom aanbied het vir ’n kokaïeninspuiting gevra. Die gevare van hierdie verdowingsmiddel was in daardie tyd nog nie juis bekend nie. Dit was egter te laat vir die studente om die kokaïen in die hande te kry.

Leibbrandt se hand was só geswel dat hy nie die agt-ons-bokshandskoen kon aankry nie. Sy helpers moes dit eers oopsny en toe weer met hegpleister toeplak nadat dit oor sy hand getrek is. Hy sou die grootste geveg van sy loopbaan met net een bruikbare hand moes aanpak, maar hy was soos altyd skynbaar vreesloos.

Sowat 10 000 luidrugtige toeskouers het die Vrydagaand die Deutschlandhalle volgepak. Die atmosfeer was elektries toe die Fransman vermakerig in die kryt klim. Dit het Leibbrandt nie beïndruk nie en toe hy die kryt betree, het die skare se gejuig gewys hy is hul gunsteling.

Michelot, wat teen dié tyd die storie gehoor het dat Leibbrandt se regterhand nutteloos was, het dit beskou as ’n set om hom in ’n lokval te lei. Dit was immers ondenkbaar dat iemand die Olimpiese halfeindronde met ’n gebreekte hand sou ingaan. Gevolglik het Michelot nie Leibbrandt se gebreekte hand geteiken nie en dit het die Suid-Afrikaner gepas. Leibbrandt het van die binnegevegte weggebly en Michelot met sy linker gepeper. “In my hele boksloopbaan het ek selde so lekker met my linkerhand geboks,” het hy later opgemerk.

Aan die einde van die laaste ronde was Leibbrandt en sy helpers, asook die toeskouers, oortuig dat hy gewen het.

Toe die uitslag aangekondig word, het die saal se dak byna gelig soos die skare hul misnoeë te kenne gegee het. Die beslissing was egter finaal – Leibbrandt het met ’n enkele punt verloor.

* Robey Leibbrandt: ’n Lewe van fanatisme word deur Jonathan Ball uitgegee en kos R260.

Meer oor:  Adolf Hitler  |  Albert Blake  |  Robey Leibbrandt  |  Berlyn  |  Olimpiese Spele  |  Boks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.