Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hitler se spioene in Suid-Afrika

Evert Kleynhans se boek, Hitler’s Spies, lig die sluier oor Suid-Afrikaners wat tydens die Tweede Wêreldoorlog vir die Nazi’s gespioeneer het. Gert van der Westhuizen het met hom gesels.

’n Saamtrek van die Ossewabrandwag. Foto: Verskaf

Die geskiedenis is dikwels baie interessanter, veel meer fassinerend en boonop opwindender as fiksie – veral as jy soos dr. Evert Kleynhans in die argiewe vir lang vergete verhale gaan rondkrap.

Dan kan jy soos hy afkom op stories van Nazi-spioene, duikbote van die vyand wat op onheilspellende wyse ongesiens langs die Suid-Afrikaanse kus vaar op soek na prooi, hardekoejawel (dog onsuksesvolle) saboteurs, politieke intriges, ontsnappings uit interneringskampe, polisie-ondersoeke en -soektogte, en dokumente wat (in ’n skynbaar ongesonde Suid-Afrikaanse tradisie) onverklaarbaar verdwyn het sodat selfs deeglike soektogte in die argiewe daarna tevergeefs is.

Dit is op enige dag genoeg stof vir ’n spanningsverhaal wat lesers oneindig kan boei. Maar Kleynhans se Hitler’s Spies: Secret Agents and the Intelligence War in South Africa 1939-1945 (Jonathan Ball Uitgewers) is allesbehalwe fiksie.

Die voorblad van Evert Kleynhans se ‘Hitler’s Spies’. Dit word deur Jonathan Ball uitgegee.

Hy vertel van die onstuimige jare tydens die Tweede Wêreldoorlog in Suid-Afrika toe organisasies soos die Ossewabrandwag (OB) hul bes gedoen het om die regering se oorlogspoging te ondermyn. Van hul lede en simpatiseerders het selfs inligting oor skeepvaart rondom die Suid-Afrikaanse kus ingesamel en dit aan die Duitsers probeer deurgee sodat hul duikbote hier kon toeslaan.

’n Mens wil nou nie te veel van die storie weggee nie, maar Kleynhans (dosent in die departement krygsgeskiedenis aan die fakulteit krygskunde van die Universiteit Stellenbosch) laat verskeie historiese figure weer leef.

Jy lees van die enigmatiese dr. Hans van Rensburg, leier van die OB, die hardkoppige saboteur Robey Leibbrandt maak ’n verskyning, die naam van dr. DF Malan, eerste minister van Suid-Afrika ná die Nasionale Party se oorwinning in die verkiesing van 1948, word gereeld genoem en geen geskiedenisboek oor die Tweede Wêreldoorlog en Suid-Afrika se deelname daaraan kan verskyn sonder om gereeld van genl. Jan Smuts melding te maak nie.

Dan is daar die spioene soos die egpaar Marietjie en Will Radley, Hans Rooseboom, Lothar Sittig (wat twee keer uit interneringskampe ontsnap het), Sittig se Felix-organisasie en die Trompke-netwerk. En uiteraard die mense soos George Cloete Visser wat ondersoek na al die spioenasiebedrywighede en gerugte van spioenasie ingestel het.

Die vermiste verslag

Evert Kleynhans: “As ’n onderwerp jou nie tweeuur in die oggend opgewonde maak nie, moet jy liewers nie daarmee werk nie.” Foto: Gert van der Westhuizen

Die 37-jarige Kleynhans, een van die belowendste en bedrywigste krygshistorici in die land, sê hy het van kleins af ’n passie vir die geskiedenis en veral krygesgeskiedenis. Sy ma is immers ’n geskiedenis-onderwyser en hy onthou nog die stories van Tsjaka (die Zoeloekoning) en die Boere wat sy pa kleintyd in Nelspruit vir hom vertel het.

Hy het as jong luitenant in die weermag in die weermag-argiewe in Pretoria gewerk en dáár beleef wat meninge geskiedskrywer maar net van kan droom.

“Ek het vrye tyd gehad om net te gaan krap . . . dit was open season. Ek kon na enige lêer gaan en enige boks oopmaak en daarin krap, dit was baie lekker. Dit was belangrik vir my vormingsjare as historikus,” sê Kleynhans waar ons in die historikus David Brock Katz se studeerkamer in sy huis in Johannesburg gesels.

Ons kon kwalik ’n beter plek gekies het om oor die militêre geskiedenis te gesels. Ons is van boeke, loodsoldaatjies, modelle van vliegtuie en tenks, uniforms en selfs afdrukke van Suid-Afrikaanse propagandaplakkate uit die Tweede Wêreldoorlog omring.

“Ek het destyds ’n artikel gedoen oor die Duitse duikbote wat langs die kus geopereer het en later besluit om my doktorale verhandeling daaroor te skryf,” sê Kleynhans verder.

“Die spioene-deel het eers later bygekom toe ek begin wonder het hoe die Duitse duikbote hul inligting gekry het.”

Hans Rooseboom is tweede van links in die agterste ry saam met Duitse geïnterneerdes. Foto: Verskaf

Weer het ’n argief ’n belangrike rol gespeel.

Nadat Kleynhans by die weermag bedank het, het hy die pos as die Noordwes-Universiteit se argivaris gekry. Die OB se argief was reg langs sy kantoor.

“Daar het ek ook weer die kans gehad om te kon krap en ek het afgekom op die goed van die Duitse spioene.”

Kleynhans het toe weer Visser se boek OB: Traitors or Patriots? gelees en alles het “mooi met mekaar begin praat”.

Hy het ook in die Nasionale Argief gaan krap en inligting gekry wat nogal deurslaggewend was.

Skepe aan die Suid-Afrikaanse kus tydens die Tweede Wêreldoorlog. Foto: Verskaf

Maar een belangrike dokument het hom ontwyk: Die sogenaamde Barrett-verslag wat vertel van die ná-oorlogse ondersoek na die spioenasiebedrywighede waaroor hy skryf.

Kleynhans het uiteindelik ’n kopie in die Argief vir Kontemporêre Aangeleenthede van die Universiteit van die Vrystaat opgespoor, maar dit was sonder die belangrike aanhangsels wat die kommunikasie tussen Suid-Afrikaanse ondersoekers en geskiedskrywers en onder meer Duitse duikbootkapteins bevat.

“Ek dink in ’48 was soveel van die ouens . . . ek dink Malan was geïmpliseer in die hele ding en ek dink hy wou nie hê daai ding moes op die hofrol kom of deel van ’n verhoor word nie, want hoe sal dit nou lyk as die nuwe eerste minister ewe skielik onder verdenking vir hoogverraad is? Ek dink dit is doelbewus uit die openbare domein verwyder.

’n Foto wat ná die oorlog van Felix Lothar Sittig geneem is. Foto: Verskaf

“Visser sê in sy boek daar was ses kopieë van die Barrett-verslag en aan wie dit behoort het en hoe hulle dit moes teruggee. Ene is teruggegee aan die Nasionale Argief en ek het daai ding probeer opspoor, maar kon dit glad nie kry nie.”

Volgens Kleynhans is dit nie vreemd dat dokumente uit argiewe verwyder word nie. Dit is in 1948 en ook in 1994 gedoen. “Daar is sekere lêers oor lede van die generale staf soos (Dan) Pienaar, (Evered) Poole en (George) Brink wat jy nie meer kan kry nie.

“Ek dink dit is maar iets wat gebeur. Daar is sekere goed wat jy nie wil hê die ouens moet sien nie. Jy kan dit egter nooit heeltemal wegsteek nie. Dis die groot ironie. Ek het op die admin-lêers van die Barrett-missie en die Rein-missie (’n Suid-Afrikaanse ondersoek wat in Duitsland na bewyse gaan soek het) afgekom. Deur daai dokumente te gebruik, kon ek in elk geval die storie aanmekaarsit, al het ek nie die finale verslag gehad nie. Jy kan geskiedenis nooit heeltemal saniteer nie. Daar lê altyd iewers iets rond . . . ”

Vermiste dokumente is in elk geval dalk nie die grootste probleem vir ’n historikus wat in Suid-Afrika navorsing oor die geskiedenis van die Tweede Wêreldoorlog doen nie. Dit is dalk eerder die ontsaglike klomp dokumente wat beskikbaar is. “As jy nie weet waar jy wil begin krap nie en as jy nie genoeg van die oorlog verstaan nie, dan sal jy nie weet waar om te begin soek nie. As daar nie leiding of mense in die argief is wat dit vir jou kan help ontsluit nie, gaan jy nooit by die goed uitkom nie.”

Was dit hoogverraad?

Dr. Hans van Rensburg, leier van die Ossewabrandwag. Foto: Verskaf

Kleynhans sê sy navorsing het hom tot die gevolgtrekking laat kom dat Van Rensburg en die mense wat namens die Duitsers gespioeneer het, wel aan hoogverraad skuldig is, hoewel die OB-leier dit beklemtoon het dat hy nooit inligting aan die Duitsers sou gee wat die lewens van Suid-Afrikaanse soldate kon kos nie.

“Hulle het openlik vyandige spioene gehuisves, hulle ondersteun, inligting help versamel en hulle in kontak met die Duitse regering gebring. Dit móét hoogverraad wees.”

Tog meen Kleynhans dat die spioene nie baie suksesvol was nie.

“Jy moet vir hulle punte gee vir die feit dat hulle hier inligting kon insamel en dit per radio direk aan Berlyn kon stuur. Dit is ongelooflik. Maar die regering het die heel tyd geweet wat hulle doen en daar was niks wat hulle gerapporteer het wat die oorlog in die Duitsers se guns sou swaai nie.

“Een voorbeeld hiervan was die verslag oor die verbruik van aartappels in weermagkampe. Wat doen jy nou dáármee? Hulle het inligting oor skepe deurgestuur, maar teen die tyd wat dit sê nou maar van Durban af via die spoornetwerk tot by Van Rensburg gekom het, en van hom af na Sittig toe, van waar hy op ’n plaas buite Vryburg die inligting versend het, kon dit al twee of drie dae oud gewees het en kon daai skip honderde myle verder gewees het of selfs al in ’n ander rigting gevaar het.”

Stories wat nog nie geskryf is nie

Die radiosender wat die Felix-organisasie gebruik het om inligting na Duitsland te versend. Foto: Verskaf

Hoekom is dit dan belangrik om dié aspek van die oorlog nou weer uit te lig?

“Ek dink net dit was nog nooit rêrig uitgelig nie. Mense weet van die OB en dalk iets van spioene, maar dit het nog nie op hierdie vlak aandag gekry nie. Ek dink dis hoogtyd dat mense ’n bietjie meer daarvan weet en ek ook van die duikbote wat langs ons kus opereer het.”

Boonop dink Kleynhans Suid-Afrika se geskiedenis oor die Tweede Wêreldoorlog is afgeskeep.

“Dit was weens politieke redes. Ek dink amper dit was ’n geval van let bygones be bygones ná die oorlog. Deesdae is die fokus merendeels op Noord-Afrika. As jy Tobruk en Rommel in die titel van jou boek kan sit, sal dit verkoop. Dit is ook die geval met die veldtog in Italië. Maar ander dele van die geskiedenis, soos die veldtog in Madagaskar, kry byna geen aandag nie. Die tuisfront het ook soveel verskillende fasette gehad waaroor nie meer geskryf word nie: die ekonomie, nywerhede . . .

“So ja, ek dink hierdie (Hitler’s Spies) is maar ’n faset van ons geskiedenis, maar ek dink dit is belangrik. Goed wat nie geskryf is nie, moet geskryf word.”

Hitler’s Spies is teen R275 in boekwinkels beskikbaar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.