Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hoe China Covid-19 oorwin het

Die impak van Covid-19 in China is minimaal in vergelyking met wat in sommige ander lande gebeur. Gert Grobler kyk na die redes vir die Chinese se suksesvolle bekamping van dié gevreesde virus.

’n Voorstelling van China se stryd teen die Covid-19-pandemie met die onlangse feesvieringe in Beijing wat die 100-jarige bestaan van die Chinese Kommunistiese Party gedenk het. Foto: Getty Images

Op ’n gerieflike Chinese hoëspoedtrein (wat by tye teen 300 km/h voortsnel) op pad terug na Jinhua van ’n driedaagse besoek aan Beijing, tel ek onwillekeurig my seëninge om ’n bykans “Covid-vrye” omgewing in China te kan beleef.

Sedert my terugkeer na China in Maart vanjaar was ek, veral gegewe die uitdagings van die virus waarmee Suid-Afrika steeds te doen het, verstom om te sien in welke mate die alledaagse lewe in China feitlik ten volle genormaliseer het.

Hoewel die Chinese steeds uiters begaan is oor die verspreiding van die virus, is die bedreiging van Covid-19 nie meer ’n beduidende faktor in die land nie.

Maskers bly in hierdie stadium slegs verpligtend in openbare geboue en op openbare vervoer.

Mense gaan toenemend weer in massas ongesteurd met hul daaglikse bestaan voort. Winkelkomplekse, restaurante, teaters en sportbyeenkomste (met toeskouers!) gedy.

By die universiteit waar ek doseer, gee ek van tyd tot tyd klas vir 100 tot 200 studente en die dra van maskers is nie meer verpligtend nie.

Dit is tans vakansietyd in China en ’n mens word omtrent letterlik op die stasies en lughawens vertrap deur miljoene Chinese wat nou die land deurkruis. Daar word verwag dat tussen 500 en 600 miljoen Chinese in die volgende vier tot ses weke binnelandse reise gaan onderneem.

Maskers bly in hierdie stadium slegs verpligtend in openbare geboue en op openbare vervoer.

Die land se grense is steeds vir buitelanders gesluit.

Sedert die uitbreking van die virus in die stad Wuhan in die Hubei-provinsie teen die einde van 2019, teister die virus steeds groot dele van die wêreld met verreikende en deels katastrofale gevolge.

Passasiers op ’n trein in Beijing. Dit is steeds verpligtend om ’n masker te dra as jy van openbare vervoer in China gebruik maak. Foto: Getty Images

Terwyl die omstredenheid voortwoed oor die hoe en waar die virus ontstaan het en talle lande steeds met die verspreiding daarvan worstel, het China se pres. Xi Jinping op 8 September 2020 reeds aangekondig dat China Covid-19 “oorwin” het.

Die vraag word tans nog dikwels gevra oor hoe China daarin geslaag het om hom binne ’n tydperk van nege maande “Covid-vry” te kon verklaar.

china

Volgens Chinese statistiek, bevestig deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), was daar sedert die begin van 2020 sowat 93 000 kumulatiewe gevalle van mense wat met die virus besmet is en 4 800 sterftes.

In die tydperk sedert my terugkeer na China vroeër vanjaar dui die statistiek wat gereeld uitgereik word op enigiets van tussen 15 en 30 nuwe daaglikse gevalle – en dít in ’n land met ’n bevolking van 1,4 miljard mense.

Dis merkwaardig gegewe die 35 miljoen Covid-gevalle in die VSA, 31 miljoen in Indië en 19 miljoen in Brasilië.

Wat was China se geheim met die suksesvolle bekamping van die verspreiding van die virus sedert die begin van 2020?

Suksesvolle bekampingsmaatreëls

’n Vrou neem ’n foto van ’n model van die koronavirus op ’n uitstalling in Wuhan. Foto: Getty Images

In die eerste plek het China ’n uiters doeltreffende gesentraliseerde gesondheidstelsel. Trouens, die gesondheid van sy mense is ’n saak van die hoogste prioriteit vir die Chinese regering en aansienlike hulpbronne word daaraan bestee.

Die Chinese het ook waardevolle lesse uit die Ears-epidemie (Ernstige akute respiratoriese sindroom) van 2002-’03 geleer toe 65% van die 8 000 wêreldwye sterftes in China voorgekom het.

Trouens, die Ears-virus het China met sy broek op sy knieë gevang, maar die land het intussen die meeste van die gebreke in sy gesondheidstelsel deeglik uitgestryk.

Groot dele van die land was ook onderwerp aan 'nasionale verpligte huis-isolasie' wat ongeveer 80 dae geduur het.

Tweedens het die Chinese deur doelgerigte en omvattende Covid-19-bekampingsmaatreëls, wat baie vinnig landwyd ingestel is, die grondslag vir die uiteindelike suksesvolle bekamping van die virus gelê.

Die hooffokus van die bekampingstrategie was gerig op die spoedige identifisering van die bron van die infeksies asook om die ketting van oordrag te breek. Deur maatreëls, wat baie buitelanders soms as “drakonies” bestempel het, het die owerhede Wuhan (11 miljoen inwoners) en die Hubei-provinsie (58 miljoen) letterlik van Januarie tot Julie 2020 van die res van China geïsoleer.

Groot dele van die land was ook onderwerp aan “nasionale verpligte huis-isolasie” wat ongeveer 80 dae geduur het.

Maskers en sosiale distansiëring was van meet af verpligtend, met deur-tot-deur-gesondheidsbeheer en hommeltuie toegerus met luidsprekers wat oor die hele provinsie en elders ontplooi is om die maatreëls af te dwing.

Slegs een lid van ’n huishouding is toegelaat om elke drie dae noodsaaklike inkopies te gaan doen.

’n Militêre orkes met die onlangse feesvieringe in China wat die 100-jarige bestaan van die Chinese Kommunistiese Party gedenk het. Foto: Getty Images

In daardie eerste klompie maande is ook 14 000 gesondheidsbeheerpunte oor die land heen aangebring om die beweging van die bevolking met ’n “zero-toleransie” vir enige oortredings te reguleer.

Intussen is miljoene mense met groot dringendheid getoets.

Dié wat simptome getoon het of positief getoets het, is nie huis toe gestuur nie, maar in spesiale Covid-hospitale opgeneem ten einde te voorkom dat hul families of vriende aangesteek word.

China het in hierdie tyd ’n aantal nuwe hospitale gebou, waarvan sommige binne tien dae voltooi is.

Verder het die Chinese ’n uiters doeltreffende digitale meganisme vir kontakopsporings ingestel wat nougeset in ’n iedere en elke geval van infeksie benut is om verdere verspreiding te voorkom.

Dit is steeds wetlik verpligtend om te alle tye die vereiste “groen gesondheidskode” op jou selfoon op versoek aan die owerhede te toon ten einde onder meer toegang tot openbare geboue, winkelkomplekse en dies meer te kry.

Daar was ook ’n sterk samehorigheidsgevoel, geanker in ’n diepgesetelde trots en patriotisme, wat tot noue samewerking met die owerheid in die bekamping van die virus gelei het.

In die derde plek is daar die menslike element wat ’n aansienlike, miskien selfs deurslaggewende, rol in die suksesvolle bekamping van die virus gespeel het.

Chinese, soos ander Asiatiese nasies, is veel meer kollektief ingestel in teenstelling met die individualistiese “ek-kom-eerste”-benadering wat ’n mens in baie Westerse lande kry.

Dit was derhalwe geen uitdaging om die Chinese bevolking so ver te kry om aan die drastiese gesondheidsmaatreëls gehoor te gee nie.

Gegrond op hul Confusiaanse waardestelsel, beskou Chinese dit as ’n vanselfsprekende en onbaatsugtige gebaar teenoor hul medeburgers en in wyer belang van die gemeenskap en hul land.

Daar was ook ’n sterk samehorigheidsgevoel, geanker in ’n diepgesetelde trots en patriotisme, wat tot noue samewerking met die owerheid in die bekamping van die virus gelei het.

Inentings en sluiting van grense

Gert Grobler kry sy eerste dosis van die Sinovac-entstof in Mei vanjaar op die kampus van die Zhejiang-normaal-universiteit in Jinhua. Foto: Verskaf

Die voortgesette hoë vlak van paraatheid met betrekking tot nuwe infeksies in die land is prysenswaardig. Sedert die pandemie amptelik in September oorwin is, duik nuwe infeksies egter nog sporadies in sommige streke op. In sodanige gevalle word doelgerig en vinnig deur die owerhede se gesentraliseerde gesondheidsopset opgetree.

Stede of dorpe word onverwyld afgesonder, hele dorpe of stede se bevolkings word getoets en nougesette kontakopsporing word in werking gestel om enige verdere verspreiding in die kiem te smoor.

In een só geval is tussen 4 en 5 miljoen mense op een dag in Guangzhou getoets!

China het in April vanjaar in alle erns met sy inentingsveldtog begin deur sy Sinovac- en Sinopharm- entstowwe, wat onlangs deur die WGO goedgekeur is, gratis en geredelik beskikbaar te stel.

Sy doelwit is om teen die einde van vandeesmaand tussen 40% en 50% van die bevolking ingeënt te hê.

Die daaglikse lewe in Wuhan, waar die koronavirus die eerste keer uitgebreek het, is stadig maar seker besig om na normaal terug te keer. Foto: Getty Images

Die nasionale omvattende bekampingsmaatreëls het ook die algehele sluiting van China se grense behels. Dit is reeds van begin 2020 van krag. Daar is steeds duisende buitelanders met sake-, studie- en ander verbintenisse met China wat onverhoeds deur die sluiting van die grense betrap is en tot vandag toe nog nie daarin kon slaag om visums vir hul terugkeer te bekom nie.

Dit het uiteraard internasionale toerisme van en na China effektief tot stilstand gedwing. As ’n mens in ag neem dat meer as 130 miljoen Chinese in 2018 oorsee gereis het en die land in dieselfde jaar meer as 50 miljoen buitelandse besoekers ontvang het, is die negatiewe invloed op toerisme voor die hand liggend.

Ek was oor die afgelope paar dae in Beijing waar daar onder die derduisende Chinese toeriste opvallend minder buitelanders te sien was.

Die Chinese het hul regering oorweldigend gesteun om die virus met “wetenskap en mediese beginsels” te bekamp.

China is bestem om die Winter- Olimpiese Spele in Februarie 2022 aan te bied en daar word, gegewe die uitdagings wat tans in Tokio by die Olimpiese Spele ervaar word, reeds erg gewroeg oor die vooruitsigte; ook gegewe die steeds uitkringende pandemie in baie wêrelddele.

Chinese in die buiteland het uiteraard die reg om na hul land terug te keer. Hulle en buitelandse burgers wat tans op ’n selektiewe grondslag toegelaat word om China binne te kom, word almal aan ’n twee weke lange kwarantyn onderwerp in ’n hotel wat die regering by die poort van binnekoms aanwys.

Dit word gevolg deur ’n verdere week van “isolasie tuis met mediese waarneming” op die finale bestemming voordat ’n mens normaal met jou alledaagse bedrywighede kan voortgaan.

Entstowwe en ekonomiese herstel

Sinopharm-entstof in Teheran, Iran. China het reeds sy entstof aan meer as 100 lande verskaf. Foto: Getty Images

Die Chinese is vanselfsprekend in hul noppies dat die verspreiding van Covid-19 deur uiters doeltreffende maatreëls, onderlinge solidariteit en met ’n benadering van “ons wil die virus elimineer, eerder as om te leer om daarmee saam te leef”, onder beheer gebring is.

Trouens, die Chinese het hul regering oorweldigend gesteun om die virus met “wetenskap en mediese beginsels” te bekamp.

Lancet, die gesaghebbende Britse mediese joernaal, het met verwysing hierna soos volg berig: “China het nie die soort luidrugtige anti-inentings, anti-masker, anti-wetenskapsbewegings en gepaardgaande oproer ondervind soos in die geval van die VSA en elders nie.”

Intussen het die ekonomie, wat aanvanklik ’n beduidende knou deur die virus toegedien is, teen ’n merkwaardige spoed tot verhaal gekom.

China is ook sterk daartoe verbind om ander lande, veral ontwikkelende lande, in die bekamping van Covid-19 by te staan. Tot op hede is Chinese entstowwe aan meer as 100 lande, waarvan 35 in Afrika, gelewer.

Intussen het die ekonomie, wat aanvanklik ’n beduidende knou deur die virus toegedien is, teen ’n merkwaardige spoed tot verhaal gekom met ’n groeikoers van tussen 8% en 9% wat in 2021 verwag word.

China is tans ’n beduidende positiewe faktor in die wêreldwye ekonomiese herstelproses. In die geheel gesien, is China se Covid-deurbraak ’n verdere bewys van die land se snel-ontwikkelende ekonomiese, wetenskaplike en tegnologiese vermoë en kapasiteit oor die afgelope dekades wat onder meer onlangs gevorderde landings van ruimtetuie op die “verre kant” van die maan asook op Mars moontlik gemaak het.

Grobler is ’n voormalige ambassadeur en is ’n besoekende dosent aan die Instituut vir Afrikastudies aan die Zhejiang-Normaal-Universiteit in Jinhua, China. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Wêreldgesondheidsorganisasie  |  Xi Jinping  |  China  |  Wuhan  |  Beijing  |  Covid-19  |  Entstowwe  |  Ekonomie  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.