Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Hoe Covid-19 ons drome beïnvloed

Die Covid-19-pandemie beïnvloed ook ons drome en in dié tyd van spanning en angs deel mense al meer hul drome met mekaar, skryf Rosie Gibson.

Dit is glad nie vreemd as jou drome tydens die Covid-19-pandemie meer intens as gewoonlik is nie. Foto: Gallo Images

’n Interessante verskynsel in die tyd van die koronavirus-pandemie is hoeveel mense intense drome beleef.

Baie beskryf hul ervarings op blogs en sosiale media.

Hoewel sulke drome verwarrend of ontstellend kan wees, is dit normaal om te droom en kan dit mense ook help om dít wat in hul wêreld aangaan te verwerk – ’n omgewing wat vir baie deesdae glad nie normaal is nie.

Terwyl ons slaap

Dit is baie belangrik vir volwassenes om terwille van hul gesondheid goed te slaap. Foto ter illustrasie. Foto: Gallo Images

Daar word aanbeveel dat volwassenes sewe tot nege uur per nag slaap om optimale gesondheid te verseker.

Ons slaap gaan in die nag deur verskillende fases. Dit sluit in ligte slaap, diep slaap en ’n tydperk van vinnige oogbeweging (rapid eye movement of REM), wat gewoonlik in die tweede helfte van die nag voorkom.

’n Mens kan in enige van die stadiums droom, maar REM word beskou as die fase waarin hoogs emotiewe en visuele drome voorkom.

Die slaper gaan gewoonlik deur verskeie REM-drome deur die nag, maar ons onthou nie noodwendig die ervaring of die inhoud daarvan nie.

Die wêreldwye pandemie en gepaardgaande beperkings kan ’n impak hê op hoe en wanneer ons slaap.

Navorsers het verskeie unieke REM-eienskappe geïdentifiseer wat ons help om ons buie, werkverrigting en kognitiewe funksionering te reguleer.

Sommige sê drome is soos ’n verdedigingsmeganisme vir ons geestesgesondheid omdat dit ons ’n skyn-geleentheid gee om deur ons vrese te werk en vir stresvolle gebeure in ons wakker oomblikke te repeteer.

Die wêreldwye pandemie en gepaardgaande beperkings kan ’n impak hê op hoe en wanneer ons slaap. Dit het positiewe gevolge vir sommige mense en negatiewe gevolge vir ander. Albei situasies kan daartoe lei dat drome beter onthou word.

Slaap wat ontwrig word en drome

Studies wat gedurende die pandemie in China en Brittanje gedoen is, dui daarop dat mense se angsvlakke hoër is en dat hulle korter tye slaap of dat hul slaap meer ontwrig word.

Om die pandemie net voor slaaptyd te bespreek, hetsy regstreeks of via die media, kan dalk daartoe lei dat jy nie ontspan en ’n goeie nagrus kry nie. Dit kan ook materiaal vir jou drome verskaf.

Wanneer ons van slaap ontneem word, neem die druk vir REM-slaap toe en kom ’n sogenaamde terugsprong in REM-slaap voor. Dit blyk dat drome gedurende dié tyd meer intens en emosioneel as gewoonlik is.

Meer tyd in die bed

Ander studies wys daarop dat mense tydens die pandemie meer slaap en minder rondbeweeg. As jou werkure of studietye dus weens jou inperking tuis verander het omdat jy nie die verkeer hoef aan te durf nie, beteken dit ook dat jy later kan slaap.

Jy onthou jou drome beter wanneer jy langer slaap en ná REM-slaap ’n meer natuurlike ontwaking het.

As jy saam met ander woon, is jy verseker van ’n gehoor en is daar ook tyd in die oggend om drome uit te ruil.

In ’n tyd waarin ons baie meer waaksaam is en waarin sosiale norme verander het, het ons breine baie meer om tydens slaap en drome te verwerk.

Ons onthou drome beter as ons dit met ander deel.

Dit kan ons ook in staat stel om drome in die toekoms beter te onthou.

Dit lei waarskynlik daartoe dat mense in dié tyd hul drome beter onthou en meer daarin belangstel.

Kommer oor die pandemie

Die Covid-19-pandemie sal ’n invloed op ons drome hê – net soos wat ander tye van angs en onsekerheid ons drome beïnvloed. Foto: Reuters

Drome kan ons help om ons omstandighede wanneer ons wakker is, op ’n geestelike vlak beter te hanteer terwyl dit ook werklikhede en bekommernisse kan weerspieël.

In ’n tyd waarin ons baie meer waaksaam is en waarin sosiale norme verander het, het ons breine baie meer om tydens slaap en drome te verwerk.

Dit is te verwagte dat die inhoud van ons drome meer stresvol sal wees as ons angstig of gestres oor die pandemie of ons werk- en gesinsomgewings is.

Daarom is daar meer berigte van drome waarin vrees, verleentheid, sosiale taboes, werkstres, verdriet en verlies en familielede wat buite bereik is, voorkom sowel as meer letterlike drome oor besmetting of siekte.

Diegene wat reeds aan angsversteurings ly of trauma eerstehands ervaar, sal waarskynlik ander drome droom.

’n Toename in ongewone of intense drome en nagmerries is nie ’n verrassing nie.

Sulke ervarings is voorheen opgeteken ten tyde van skielike verandering, angs of trauma – soos in die nagevolge van die 9/11-terroriste-aanvalle in die VSA in 2001 of van natuurrampe of oorloë.

Diegene wat reeds aan angsversteurings ly of trauma eerstehands ervaar, sal waarskynlik ander drome droom.

Maar sulke veranderinge is ook waargeneem by diegene wat gebeure soos 9/11 tweedehands of via die media gade geslaan het.

Probleme opgelos in drome

Een teorie is dat drome ons help om die emosionele eise van ons daaglikse lewe te hanteer, om ervarings in die geheuebank te berg, om probleme op te los, aan te pas en te leer.

Dit word bereik deur die heraktivering van spesifieke dele van die brein tydens REM-slaap en die konsolidering van neurale verbindings.

Tydens REM-slaap word dele van die brein wat vir emosies, geheue, gedrag en visie verantwoordelik is (in teenstelling met dié wat nodig is vir logiese denke, redevoering en beweging wat in ’n staat van rus bly), heraktiveer.

Die bedrywighede tydens drome sowel as die verbindings wat gemaak word, word klaarblyklik gerig deur dromers se ervarings waaraan hulle blootgestel is en dit wat stres veroorsaak wanneer hulle wakker is.

Neurale bedrywighede is veronderstel om ons vermoë om te leer en ons geheue te sintetiseer. Die eintlike droom-ervaring is meer van ’n newe-effek daarvan wanneer ons probeer om ’n meer logiese narratief te skep wanneer die oorblywende deel van die brein probeer inhaal en met dié bedrywigheid redeneer wanneer ons wakker word.

Gaan slaap . . . asseblief

As slaap wat ontwrig word of drome jou verontrus of vir jou ’n probleem is, probeer vasstel hoe jou slaappatrone- en gedrag sedert die pandemie verander het. Dalk moet jy raad soek oor hoe om in dié tyd beter te slaap en te voel.

Ek en my kollegas het verskeie kaarte met inligting oor slaap gedurende die pandemie opgestel. Jy kan dit hier lees.

* Gibson is ’n navorser by die Sleep/Wake-navorsingsentrum by die gesondheidskollege van Massey- universiteit. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.


Meer oor:  Covid-19-Pandemie  |  Angs  |  Slaap  |  Geestesgesondheid  |  Drome
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.